A m o s 1
1 Die woorde van Amos, een van die skaapboere uit Tekóa, wat hy gesien het
aangaande Israel in die dae van Ussía, koning van Juda, en in die dae van
Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel, twee jaar voor die aardbewing.
2 En hy het gesê: Die HERE brul uit Sion en verhef sy stem uit Jerusalem, sodat
die weivelde van die herders treur en die top van Karmel verdor.
3 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Damaskus, ja, oor vier, sal Ek dit
nie afwend nie; omdat hulle Gílead met ysterdorssleë gedors het.
4 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die huis van Hásael, en dit sal die paleise
van Bénhadad verteer.
5 En Ek sal die grendel van Damaskus verbreek en die inwoners uit die laagte van
Awen uitroei en die wat die septer dra, uit Bet-Eden, en die volk van Aram sal
in ballingskap gaan na Kir, sê die HERE.
6 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Gasa, ja, oor vier, sal Ek dit nie
afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking in ballingskap weggevoer het om dit
aan Edom uit te lewer.
7 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Gasa, en dit sal sy paleise
verteer.
8 En Ek sal die inwoners uit Asdod uitroei en die wat die septer dra, uit
Askelon; en Ek sal my hand teen Ekron uitstrek, en die oorblyfsel van die
Filistyne sal omkom, sê die Here HERE.
9 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Tirus, ja, oor vier, sal Ek dit nie
afwend nie; omdat hulle 'n ganse bevolking as ballinge aan Edom uitgelewer het
en nie gedink het aan die broederverbond nie.
10 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in die muur van Tirus, en dit sal sy paleise
verteer.
11 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Edom, ja, oor vier, sal Ek dit nie
afwend nie; omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel
verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid
behou.
12 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Teman, en dit sal die paleise van Bosra
verteer.
13 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van die kinders van Ammon, ja, oor vier,
sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die swanger vroue van Gílead oopgesny het
om hulle grondgebied uit te brei.
14 Daarom sal Ek 'n vuur aansteek in die muur van Rabba, en dit sal sy paleise
verteer, met krygsgeskreeu op die dag van stryd, in 'n storm op die dag van die
orkaan.
15 En hulle koning sal in ballingskap gaan, hy en sy vorste tesame, sê die HERE.
2
1 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie
afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het.
2 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van Kérijot
verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal.
3 En Ek sal die regeerder onder hulle uitroei en al hulle vorste saam met hom
doodmaak, sê die HERE.
4 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie
afwend nie; omdat hulle die wet van die HERE verwerp het en sy insettinge nie
onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter
aan geloop het.
5 Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Juda, en dit sal die paleise van Jerusalem
verteer.
6 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie
afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige
vir 'n paar skoene.
7 Hulle wat daarna hyg dat die stof van die aarde op die hoof van die armes kom,
en wat die weg van die ellendiges buig; en die man en sy vader gaan na dieselfde
jongedogter om my heilige Naam te ontheilig.
8 En hulle strek hul uit op verpande klere by elke altaar, en die wyn van die
wat beboet is, drink hulle in die huis van hul god.
9 En tog het Ék die Amoriet voor hulle uit verdelg wie se hoogte was soos die
hoogte van die seders, en hy was sterk soos die eikebome; maar Ek het sy vrug
daarbo en sy wortels daaronder verdelg.
10 Ook het Ek julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank in die
woestyn gelei, om die land van die Amoriet in besit te neem.
11 En Ek het uit julle seuns profete en uit julle jongelinge nasireërs verwek.
Is dit nie so nie, o kinders van Israel? spreek die HERE.
12 Maar julle het die nasireërs wyn laat drink en aan die profete bevel gegee en
gesê: Julle mag nie profeteer nie!
13 Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos 'n wa kraak wat vol gerwe is;
14 sodat die wat gou is, nie kan ontvlug nie, en die sterke sy krag nie kan
ontwikkel en die held sy lewe nie kan red nie.
15 En die boogskutter sal nie bly staan en die wat gou is op sy voete, nie
vrykom nie, en die perderuiter sal sy lewe nie red nie.
16 En die dapperste onder die helde sal op dié dag naak wegvlug, spreek die
HERE.
3
1 Hoor hierdie woord wat die HERE oor julle gespreek het, o kinders van Israel,
oor die hele geslag wat Ek uit Egipteland laat optrek het, naamlik:
2 Julle alleen het Ek geken uit al die geslagte van die aarde; dáárom sal Ek by
julle besoeking doen oor al julle ongeregtighede.
3 Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afgespreek het?
4 Sal 'n leeu brul in die woud as hy geen prooi het nie? Sal 'n jong leeu sy
stem uit sy lêplek laat hoor as hy niks gevang het nie?
5 Sal 'n voël in 'n net val op die grond as daar vir hom geen strik gestel is
nie? Sal 'n wip van die grond af opspring as dit glad nie gevang het nie?
6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal
daar 'n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?
7 Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die
profete, geopenbaar het nie.
8 Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie
sal nie profeteer nie?
9 Roep dit uit oor die paleise van Asdod en oor die paleise van Egipteland en sê:
Versamel julle op die berge van Samaría, en aanskou die groot beroering in die
midde van die stad en die verdrukking daarbinne.
10 Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die HERE--hulle wat geweld en
verdrukking opstapel in hulle paleise.
11 Daarom, so sê die Here HERE: 'n Vyand! En dit rondom die land; en hy sal jou
vesting van jou af neerwerp, en jou paleise sal geplunder word.
12 So sê die HERE: Soos 'n herder 'n paar pote of 'n oorlappie red uit die bek
van 'n leeu, net so sal gered word die kinders van Israel wat daar in Samaría in
die hoek van 'n bed of op die damás van 'n rusbank sit.
13 Hoor en waarsku die huis van Jakob, spreek die Here HERE, die God van die
leërskare,
14 dat Ek in die dag as Ek die oortredinge van Israel aan hom besoek, ook
besoeking sal doen oor die altare van Bet-el, sodat die horings van die altaar
afgekap sal word en op die grond val.
15 Dan sal Ek die winterhuis saam met die somerhuis tref, en die huise van ivoor
sal te gronde gaan, en baie huise sal verdwyn, spreek die HERE.
4
1 Hoor hierdie woord, koeie van Basan, wat op die gebergte van Samaría is! Wat
die armes verdruk, die behoeftiges hard behandel; wat aan hulle here sê: Bring
aan en laat ons drink!
2 Die Here HERE het gesweer by sy heiligheid: Kyk, daar sal dae oor julle kom
dat hulle julle met hake sal optrek en die wat van julle oor is, met vishoeke.
3 En julle sal deur bresse in die muur uittrek, elkeen sonder om weg te kyk, en
julle sal weggewerp word na Harmon, spreek die Here HERE.
4 Kom na Bet-el, en sondig! Na Gilgal, sondig nog meer! En bring julle
slagoffers in die môre en julle tiendes al om die derde dag.
5 En laat van wat gesuurd is, 'n lofoffer rook, en roep vrywillige offers uit,
laat dit hoor! Want so is dit na julle sin, kinders van Israel, spreek die Here
HERE.
6 Alhoewel Ék julle reinheid van tande gegee het in al julle stede en
broodsgebrek in al julle woonplekke--nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie,
spreek die HERE.
7 Alhoewel Ék die reën van julle teruggehou het toe dit nog drie maande voor die
oestyd was en op die een stad laat reën maar op die ander nie laat reën het nie,
die een stuk land reën gekry het, maar die ander waarop geen reën geval het nie,
verdor het;
8 en twee, drie stede na een stad geslinger het om water te drink sonder om die
dors te les--nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
9 Ek het julle met brandkoring en met heuningdou swaar getref, baie van julle
tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan
verslind--nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
10 Ek het die pes onder julle gestuur, op die manier van Egipte; Ek het julle
jongmanne met die swaard gedood saam met die wegvoering van julle perde; en Ek
het die stank van julle laer laat opstyg, ja, tot in julle neus--nogtans het
julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
11 Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle
soos 'n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is--nogtans het julle jul tot
My nie bekeer nie, spreek die HERE.
12 Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel--maak
jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel!
13 Want kyk, Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy
gedagte bekend maak, wat die dageraad duisternis maak, wat op die hoogtes van
die aarde wandel, HERE, God van die leërskare, is sy Naam!
5
1 Hoor hierdie woord wat Ek oor julle as klaaglied aanhef, o huis van Israel!
2 Die jonkvrou van Israel het geval, sy sal nie weer opstaan nie; neergewerp lê
sy op haar land, niemand rig haar op nie.
3 Want so sê die Here HERE: Die stad wat met duisend uitgetrek het, hou honderd
oor; en die wat met honderd uitgetrek het, hou tien oor vir die huis van Israel.
4 Want so sê die HERE aan die huis van Israel: Soek My, dan sal julle lewe!
5 Maar soek Bet-el nie, en kom nie na Gilgal nie en trek nie deur na Berséba nie.
Want Gilgal sal gewis in ballingskap gaan, en Bet-el sal tot niks word nie.
6 Soek die HERE, dan sal julle lewe, sodat Hy nie teen die huis van Josef
uitbreek soos 'n vuur wat verteer sonder dat iemand dit vir Bet-el kan blus nie.
7 Julle wat die reg in wilde-als verander en die geregtigheid teen die grond
gooi!
8 Hy wat die Sewe-ster en die Oríon gemaak het en die duisternis in môrelig
verander en die dag tot nag verduister, wat die waters van die see roep en dit
uitgiet oor die oppervlakte van die aarde--HERE is sy Naam!
9 Hy wat verwoesting laat aanblits oor die sterke, en verwoesting kom oor die
vesting!
10 Hulle haat die man wat in die poort die reg handhaaf, en hulle het 'n afsku
van hom wat in opregtheid spreek.
11 Daarom, omdat julle die arm man vertrap en van hom 'n heffing van koring neem,
het julle huise van gekapte klippe gebou, maar julle sal nie daarin woon nie;
julle het pragtige wingerde geplant, maar julle sal die wyn daarvan nie drink
nie.
12 Want Ek weet dat julle oortreding menigvuldig en julle sondes geweldig is,
julle wat die vyande is van die regverdige, wat omkoopgeld aanneem en die
behoeftiges wegstoot in die poort.
13 Daarom swyg die verstandige in so 'n tyd, want dit is 'n onheilspellende tyd.
14 Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die HERE,
die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.
15 Julle moet haat wat sleg is en liefhê wat goed is, en handhaaf die reg in die
poort--miskien sal die HERE, die God van die leërskare, Hom ontferm oor die
oorblyfsel van Josef.
16 Daarom, so sê die HERE, die God van die leërskare, die Here: Op al die pleine
weeklag! En op al die strate sal hulle sê: Ag, ag! En hulle sal na die landbouer
roep om te treur, en te weeklaag na die wat verstaan om treurliedere te sing.
17 Ook sal daar in al die wingerde weeklag wees wanneer Ek in jou midde deurtrek,
sê die HERE.
18 Wee die wat na die dag van die HERE verlang! Wat sal tog die dag van die HERE
vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie.
19 Soos wanneer iemand vlug vir 'n leeu, maar 'n beer loop hom raak; of hy kom
in die huis en leun met sy hand teen die muur, en 'n slang byt hom!
20 Is die dag van die HERE nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder
'n ligstraal?
21 Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye
nie.
22 Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar
geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie
met welgevalle aan nie.
23 Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe
wil Ek nie luister nie.
24 Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos 'n
standhoudende stroom.
25 Het julle aan My slagoffers en spysoffers gebring veertig jaar lank in die
woestyn, o huis van Israel,
26 en ook gedra Sakkut, julle koning, en Kewan, julle beelde, julle stergod wat
julle vir julle gemaak het?
27 Daarom sal Ek julle anderkant Damaskus in ballingskap wegvoer, sê die HERE
wie se Naam God van die leërskare is.
6
1 Wee die gerustes in Sion en die sorgelose op die berg van Samaría, die
vernames van die eerste onder die nasies, na wie die huis van Israel kom!
2 Trek deur na Kalne en kyk, gaan van daar na Hamat, die groot stad, en trek af
na Gat van die Filistyne! Is hulle beter as hierdie koninkryke? Of is hulle
grondgebied groter as julle grondgebied? --
3 julle wat die dag van onheil veraf stel en die setel van geweld nader skuiwe!
4 Wat op bedde van ivoor lê en uitgestrek lê op hulle rusbanke en die lammers
van die kleinvee en die kalwers uit die stal eet!
5 Wat liedjies sing met begeleiding van die harp, wat net soos Dawid vir hulle
musiekinstrumente uitdink!
6 Wat uit offerkomme wyn drink en hulle met die beste soorte olie salf, maar
hulle nie oor die verbreking van Josef bekommer nie.
7 Daarom sal hulle nou op die voorpunt van die ballinge in ballingskap gaan, en
daar sal 'n end kom aan die rumoerige gejubel van die leeglêers.
8 Die Here HERE het by Homself gesweer, spreek die HERE, die God van die
leërskare: Ek het 'n afsku van die trotsheid van Jakob en haat sy paleise;
daarom lewer Ek die stad oor en al wat daarin is.
9 En as daar tien man in een huis oorgebly het, sal hulle sterwe.
10 En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om
die bene uit die huis te verwyder, en aan iemand wat in die agterste vertrekke
is, sê: Is daar nog iemand by jou? en hy antwoord: Nee--dan sal die eerste sê:
Bly stil, want dit is nie gepas om die Naam van die HERE te vermeld nie!
11 Want kyk, die HERE gee bevel, en hulle slaan die groot huis tot 'n puinhoop
en die klein huis tot splinters.
12 Kan perde draf op rotse, of kan 'n mens met osse daarop ploeë? --dat julle
die reg in gif verander en die vrug van geregtigheid in wilde-als.
13 Julle wat bly is oor 'n nietige ding, wat sê: Het ons nie deur ons eie krag
horings gekry nie?
14 Want kyk, Ek gaan teen julle, o huis van Israel, 'n volk opwek, spreek die
HERE, die God van die leërskare, en hulle sal julle verdruk van die ingang na
Hamat af tot by die spruit van die Vlakte.
7
1 Dit het die Here HERE my laat sien--kyk, Hy het sprinkane geformeer toe die
na-gras begin uitspruit het; en kyk, dit was die na-gras nadat die snysels van
die koning af was.
2 En toe hulle al die gewasse van die land afgeëet het, sê ek: Here HERE,
vergeef tog! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
3 Toe het die HERE berou gekry oor hierdie saak. Dit sal nie gebeur nie, het die
HERE gesê.
4 Dit het die Here HERE my laat sien--kyk, die Here HERE roep om 'n regstryd te
voer deur vuur, en dit het die groot watervloed verteer en sou die akkerland
verteer het.
5 Toe sê ek: Here HERE, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein.
6 Die HERE het berou gekry oor hierdie saak. Dit sal ook nie gebeur nie, het die
Here HERE gesê.
7 Dit het Hy my laat sien--kyk, die Here het op 'n loodregte muur gestaan, en
daar was 'n skietlood in sy hand.
8 Toe sê die HERE vir my: Wat sien jy, Amos? En ek het geantwoord: 'n Skietlood.
Daarop sê die Here: Kyk, Ek gaan 'n skietlood aanlê in die midde van my volk
Israel. Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie.
9 En die hoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal
puinhope wees, en teen die huis van Jeróbeam sal Ek met die swaard optree.
10 Toe het Amásia, die priester van Bet-el, Jeróbeam, koning van Israel, laat
weet: Amos het 'n sameswering gesmee teen u midde-in die huis van Israel; die
land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie.
11 Want so het Amos gesê: Jeróbeam sal deur die swaard sterwe, en Israel sal
sekerlik uit sy land in ballingskap gaan.
12 Toe sê Amásia vir Amos: Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar
brood en profeteer daar!
13 Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is 'n
koninklike heiligdom en 'n tempel van die ryk.
14 Toe het Amos geantwoord en aan Amásia gesê: Ek was geen profeet en ook geen
profete-seun nie; maar ek was 'n veewagter en kweker van wildevyebome.
15 Maar die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my
gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel.
16 Hoor dan nou die woord van die HERE! Jy sê: Jy mag nie teen Israel profeteer
nie, en jy mag geen woorde laat druppel teen die huis van Isak nie.
17 Daarom, so sê die HERE: Jou vrou sal in die stad hoereer, en jou seuns sowel
as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel
word, en jy self sal in 'n onrein land sterwe, en Israel sekerlik in ballingskap
uit sy land gaan.
8
1 Dít het die Here HERE my laat sien--kyk, daar was 'n mandjie met somervrugte.
2 En Hy sê: Wat sien jy, Amos? En ek antwoord: 'n Mandjie met somervrugte. Toe
sê die HERE vir my: Die einde het vir my volk Israel gekom; Ek sal hom verder
nie meer verbygaan nie.
3 En die liedere van die paleis sal in dié dag weeklaag, spreek die Here HERE:
'n menigte lyke; hulle gooi dit oral neer. Stilte!
4 Hoor dit, julle wat die behoeftige vertrap en daarop uit is om die ootmoediges
van die land uit te roei,
5 deur te sê: Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en
die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit--om die efa te verklein en die
sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met 'n valse weegskaal;
6 om die armes vir geld te koop en die behoeftige vir 'n paar skoene; ook die
afval van die koring sal ons verkoop.
7 Die HERE het gesweer by die hoogheid van Jakob: Gewis, Ek sal in ewigheid nie
een van hulle werke vergeet nie.
8 Moet hieroor die aarde nie bewe en elke inwoner daarvan nie treur nie? Ja, dit
sal oprys in sy geheel soos die Nyl en onstuimig opkook en wegsak soos die
rivier van Egipte.
9 En in dié dag, spreek die Here HERE, laat Ek die son op die middag ondergaan
en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is.
10 En Ek verander julle feeste in rou en al julle liedere in klaagsang, en Ek
bring op alle lendene 'n roukleed en op alle hoofde kaalheid. En Ek maak dit
soos by die rou oor 'n enigste kind en die einde daarvan soos 'n bittere dag.
11 Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek 'n honger in die land stuur,
nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van
die HERE te hoor.
12 En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na
die woord van die HERE te soek, maar hulle sal dit nie vind nie.
13 In dié dag sal die mooi jongedogters en die jongmanne van dors beswyk--
14 hulle wat sweer by die skuld van Samaría, en ook sê: So waar as jou god leef,
o Dan! en: So waar as die weg van Berséba leef! En hulle sal val en nie weer
opstaan nie.
9
1 Ek het die Here by die altaar sien staan, en Hy het gesê: Slaan die kapiteel
van die pilaar, sodat die drumpels bewe; en verpletter hulle bo die hoof van
almal! En Ek sal die wat van hulle oorbly, met die swaard ombring: die
vlugteling uit hulle sal nie ontsnap nie, en geen vrygeraakte onder hulle
homself red nie.
2 Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim
hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.
3 En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en
weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van
daar die slang ontbied om hulle te byt.
4 En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die
swaard ontbied om hulle dood te maak; en Ek sal my oog op hulle rig ten kwade en
nie ten goede nie.
5 Ja, dit is die Here HERE van die leërskare wat die aarde aanraak, sodat dit
bewe en almal treur wat daarop woon; en dit sal in sy geheel oprys soos die Nyl
en wegsak soos die rivier van Egipte.
6 Dit is Hy wat sy solders in die hemele bou en sy hemelgewelf bo die aarde
vestig, wat die waters van die see roep en dit uitgiet oor die aardbodem, HERE
is sy Naam!
7 Is julle nie vir My soos die kinders van Kus nie, o kinders van Israel? spreek
die HERE. Het Ek Israel nie laat optrek uit Egipteland en die Filistyne uit
Kaftor en die Arameërs uit Kir nie?
8 Kyk, die oë van die Here HERE is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal
dit van die aardbodem verdelg; maar Ek sal die huis van Jakob nie heeltemal
verdelg nie, spreek die HERE.
9 Want kyk, Ek gee bevel en sal die huis van Israel onder al die nasies skud
soos in 'n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie.
10 Al die sondaars van my volk sal deur die swaard sterwe, die wat sê: Die
onheil sal ons nie bereik en ons nie ontmoet nie.
11 In dié dag sal Ek die vervalle hut van Dawid weer oprig, en Ek sal sy skeure
toebou en sy puinhope herstel, en Ek sal dit opbou soos in die ou tyd;
12 sodat hulle in besit kan neem die oorblyfsel van Edom en al die nasies oor
wie my Naam uitgeroep is, spreek die HERE wat dit doen.
13 Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die
druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die
heuwels daarvan oorvloei sal wees.
14 En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste
stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en
tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.
15 En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit
hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die HERE jou God.