D a n i ë l 1
1 In die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het
Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.
2 En die Here het Jójakim, die koning van Juda, in sy hand gegee, met 'n
gedeelte van die voorwerpe van die huis van God, en hy het hulle na die land
Sínear gebring in die huis van sy god, en die voorwerpe het hy in die skathuis
van sy god gebring.
3 Daarop het die koning aan Aspenas, die owerste van sy hofdienaars, bevel gegee
om uit die kinders van Israel, uit die koninklike geslag sowel as uit die
edeles, te bring:
4 jong seuns aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van
aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig
in wetenskap, en wat bekwaam was om in die paleis van die koning te dien; en om
hulle die skrif en die taal van die Chaldeërs te leer.
5 En die koning het vir hulle 'n daaglikse porsie bestem uit die spys van die
koning en van die wyn wat hy gedrink het; om hulle so drie jaar lank op te voed,
sodat hulle aan die einde daarvan voor die koning kan dien.
6 En onder hulle was uit die kinders van Juda: Daniël, Hanánja, Mísael en
Asárja.
7 Maar die owerste van die hofdienaars het hulle ander name gegee: Daniël het hy
Béltsasar genoem, en Hanánja Sadrag, en Mísael Mesag, en Asárja Abednégo.
8 En Daniël het hom voorgeneem om hom nie te verontreinig met die spys van die
koning of met die wyn wat hy gedrink het nie; daarom het hy die owerste van die
hofdienaars vergunning gevra dat hy hom nie hoef te verontreinig nie.
9 En God het aan Daniël guns en barmhartigheid verleen by die owerste van die
hofdienaars.
10 En die owerste van die hofdienaars het aan Daniël gesê: Ek vrees my heer die
koning, wat julle voedsel en julle drank vasgestel het; want waarom moet hy sien
dat julle aangesigte meer vervalle is as dié van die jong seuns wat van julle
leeftyd is, sodat julle my hoof by die koning met skuld sou belaai?
11 Maar Daniël het aan die bediende gesê wat die owerste van die hofdienaars oor
Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja aangestel het:
12 Stel tog u dienaars tien dae lank op die proef, en laat hulle ons van die
groente gee om te eet en water om te drink;
13 laat daarna ons voorkoms en die voorkoms van die jong seuns wat die spys van
die koning eet, deur u besigtig word; handel dan met u dienaars soos u bevinding
sal wees.
14 Hy het toe na hulle geluister in hierdie saak en hulle tien dae lank op die
proef gestel.
15 En aan die einde van tien dae het hulle voorkoms beter en hulle voller van
vlees gelyk as al die jong seuns wat die spys van die koning geëet het.
16 So het dan die bediende hulle spys en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem
en aan hulle groente gegee.
17 En hierdie vier jong seuns--God het aan hulle wetenskap en verstand in
allerhande geskrifte en wysheid gegee; ook het Daniël verstand gehad van
allerhande gesigte en drome.
18 En aan die einde van die dae wat die koning vasgestel het om hulle in te
bring, het die owerste van die hofdienaars hulle voor Nebukadnésar gebring.
19 En die koning het met hulle gespreek, en onder hulle almal is daar niemand
gevind soos Daniël, Hanánja, Mísael en Asárja nie. So het hulle dan voor die
koning gedien.
20 En in enige saak van wyse insig waarin die koning hulle ondervra het, het hy
bevind dat hulle al die geleerdes en besweerders in sy hele koninkryk tien maal
oortref het.
21 En Daniël was daar tot die eerste jaar van koning Kores.
2
1 En in die tweede jaar van die regering van Nebukadnésar, het Nebukadnésar 'n
droom gehad, sodat sy gees onrustig geword het en dit met sy slaap gedaan was.
2 Toe het die koning bevel gegee om die geleerdes en die besweerders en die
towenaars en die Chaldeërs te roep, om vir die koning sy droom uit te lê. Toe
hulle kom en voor die koning gaan staan,
3 sê die koning vir hulle: Ek het 'n droom gehad, en my gees is onrustig om die
droom te verstaan.
4 Toe het die Chaldeërs met die koning gespreek Aramees: Mag die koning vir
altyd lewe! Vertel u dienaars die droom, en ons sal die uitlegging te kenne gee.
5 Die koning het geantwoord en aan die Chaldeërs gesê: Die saak staan by my vas:
as julle die droom en sy uitlegging nie aan my bekend maak nie, sal julle in
stukke gekap en van julle huise mishope gemaak word.
6 Maar as julle die droom en sy uitlegging te kenne gee, sal julle geskenke en
gawes en groot eer van my ontvang; gee my daarom die droom en sy uitlegging te
kenne.
7 Hulle het vir die tweede maal geantwoord en gesê: Laat die koning die droom
aan sy dienaars vertel; dan sal ons die uitlegging te kenne gee.
8 Die koning het geantwoord en gesê: Ek weet verseker dat julle tyd wil win,
omdat julle sien dat die saak by my vasstaan;
9 want as julle my die droom nie bekend maak nie, is julle vonnis een en
dieselfde; julle het naamlik afgespreek om 'n leuenagtige en bedrieglike woord
voor my te spreek totdat die tyd weer verander; daarom, vertel my die droom, dan
sal ek weet of julle my sy uitlegging kan te kenne gee.
10 Die Chaldeërs het voor die koning geantwoord en gesê: Daar is geen mens op
die aardbodem wat die koning se saak sou kan te kenne gee nie; daarom het dan
ook geen koning, groot of magtig, ooit so iets van enige geleerde of besweerder
of Chaldeër verlang nie.
11 Ja, die saak wat die koning verlang, is swaar, en daar is niemand anders wat
dit voor die koning sou kan te kenne gee nie, behalwe die gode wie se woning nie
by die vlees is nie.
12 Hieroor het die koning toornig en baie kwaad geword en bevel gegee om al die
wyse manne van Babel om te bring.
13 Toe die bevel uitgevaardig is en die wyse manne gedood sou word, het hulle
ook Daniël en sy metgeselle gesoek om gedood te word.
14 Daarop het Daniël aan Ariog, die owerste van die koninklike lyfwag wat
uitgetrek het om die wyse manne van Babel dood te maak, 'n slim en verstandige
antwoord gegee.
15 Hy antwoord en sê vir Ariog, die bevelhebber van die koning: Waarom is die
bevel van die kant van die koning so streng? Toe het Ariog aan Daniël die saak
meegedeel.
16 Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om
die uitlegging aan die koning te kenne te gee.
17 Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy
metgeselle, die saak bekend,
18 en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor
hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse
manne van Babel nie sou ombring nie.
19 Daarop is in 'n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die
God van die hemel geloof.
20 Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van
ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne.
21 Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings
aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;
22 Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister
is, en die lig woon by Hom.
23 U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen,
en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die
koning het U ons bekend gemaak.
24 Daarom het Daniël ingegaan na Ariog, wat die koning aangestel het om die wyse
manne van Babel om te bring; hy het gegaan en vir hom só gesê: Moenie die wyse
manne van Babel ombring nie; bring my in voor die koning, dan sal ek aan die
koning die uitlegging te kenne gee.
25 Toe het Ariog Daniël haastig voor die koning ingebring en só vir hom gesê: Ek
het 'n man onder die ballinge van Juda gevind wat die koning die uitlegging
bekend sal maak.
26 Die koning het geantwoord en aan Daniël, wie se naam Béltsasar was, gesê: Is
jy in staat om aan my die droom wat ek gesien het, en sy uitlegging bekend te
maak?
27 Daniël het in teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: Die geheim
waarna die koning vra, kan die wyse manne, die besweerders, die geleerdes, die
waarsêers nie aan die koning te kenne gee nie.
28 Maar daar is 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning
Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en
die gesigte van u hoof op u bed was dit:
29 Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal
gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur.
30 En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur 'n wysheid wat in
my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die
uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart
kan ken.
31 U, o koning, het 'n gesig gehad--kyk, daar was 'n groot beeld; hierdie beeld
was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms
was vreeslik.
32 Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van
silwer, sy buik en sy lendene van koper,
33 sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.
34 U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die
beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het.
35 Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud
fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die
wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die
beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.
36 Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê:
37 U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die
koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het,
38 en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere
van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor
hulle almal aangestel het--ú is die hoof van goud.
39 En ná u sal daar 'n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna 'n
ander, 'n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;
40 en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles
fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles
fynstamp en vergruis.
41 En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei
en deels van yster was--dit sal 'n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid
van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien
het.
42 En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is--'n
gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees.
43 Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het--hulle sal deur menslike
gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie,
net soos yster nie met klei meng nie.
44 Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek
wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan
geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en
daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan--
45 net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg
af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud
verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal
gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.
46 Toe het koning Nebukadnésar op sy aangesig geval en Daniël aanbid en bevel
gegee om aan hom 'n spysoffer en reukoffers te bring.
47 Die koning het Daniël geantwoord en gesê: Waarlik, julle God is die God van
die gode en die Here van die konings en die Openbaarder van geheimenisse, daarom
was jy in staat om hierdie geheim te openbaar.
48 Toe het die koning Daniël verhef en hom baie, groot geskenke gegee en hom
aangestel as heerser oor die hele provinsie Babel en as hoofowerste oor al die
wyse manne van Babel.
49 En op versoek van Daniël het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo aangestel
oor die bestuur van die provinsie Babel, maar Daniël was in die paleis van die
koning.
3
1 Koning Nebukadnésar het 'n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy
breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie Babel.
2 Daarna het koning Nebukadnésar die landvoogde, die bevelhebbers en die
goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en
al die bestuurders van die provinsies laat versamel, dat hulle moes kom na die
inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het.
3 Toe het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die raadsmanne,
die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die bestuurders van die
provinsies bymekaargekom by die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar
opgerig het, en hulle het voor die beeld gaan staan wat Nebukadnésar opgerig
het.
4 En 'n uitroeper het hardop geroep: Julle word aangesê, o volke, nasies en
tale,
5 sodra julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak en
van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue beeld aanbid
wat koning Nebukadnésar opgerig het.
6 En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende
vuuroond gegooi word.
7 Daarom het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit,
siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die volke, nasies
en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.
8 Op grond daarvan het tegelykertyd Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode
aangeklaag.
9 Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesê: Mag die koning vir
ewig lewe!
10 U, o koning, het 'n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing,
fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor,
moet neerval en die goue beeld aanbid;
11 en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond
gegooi moet word.
12 Daar is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel
het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u nie
gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig het, aanbid
hulle nie.
13 Toe het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en
Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring.
14 En Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag,
Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat ek
opgerig het, nie aanbid nie?
15 As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp
en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val
en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie,
sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die
God wat julle uit my hand kan verlos?
16 Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons
ag dit nie nodig om u hierop 'n antwoord te gee nie.
17 As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit
die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;
18 maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal
dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.
19 Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander
teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond
sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was.
20 En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee
om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te
gooi.
21 Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande
en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi.
22 Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit
was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo
opgeneem het, doodgebrand.
23 Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die
brandende vuuroond geval.
24 Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy
raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur
gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning!
25 Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel
sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos
dié van 'n godeseun.
26 Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en
daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan
uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan.
27 Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die
raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen
mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en
dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan
hulle gekom het nie.
28 Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag,
Mesag en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom
verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame
oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.
29 Daarom word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig
spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van sy huis
'n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so kan verlos nie.
30 Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die
provinsie Babel.
4
1 Koning Nebukadnésar aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde
woon: Mag julle vrede groot wees!
2 Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen
het, te verkondig.
3 Hoe groot is sy tekens, en hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n ewige
koninkryk, en sy heerskappy is van geslag tot geslag!
4 Ek, Nebukadnésar, het rustig in my huis gelewe en was voorspoedig in my
paleis.
5 Ek het 'n droomgesig gesien wat my verskrik het--droombeelde op my bed en die
gesigte van my hoof het my verontrus.
6 Daarop is deur my bevel gegee om al die wyse manne van Babel voor my te bring,
dat hulle my die uitlegging van die droom bekend kan maak.
7 Toe het die geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs en die waarsêers gekom,
en ek het hulle die droom vertel, maar hulle het sy uitlegging my nie bekend
gemaak nie;
8 totdat eindelik Daniël voor my ingekom het, wie se naam Béltsasar is, na die
naam van my god, en in wie die gees van die heilige gode is; en ek het hom die
droom vertel:
9 Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die
heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die
droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.
10 Wat nou die gesigte van my hoof op my bed betref--ek het gesien, en kyk, daar
was 'n boom in die middel van die aarde, en sy hoogte was groot.
11 Die boom het groot geword en sterk, en sy hoogte het tot aan die hemel
gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.
12 Sy blare was mooi en sy vrugte baie, en aan hom was vir alles voedsel; onder
hom het die diere van die veld skaduwee gesoek, en in sy takke het die voëls van
die hemel gewoon, ja, alle vlees is daardeur gevoed.
13 Ek het in die gesigte van my hoof op my bed gesien, en kyk, 'n bode, naamlik
'n heilige, het uit die hemel neergedaal;
14 hy het hardop geroep en só gesê: Kap die boom om en kap sy takke af, trek sy
blare af en verstrooi sy vrugte; laat die diere onder hom uit wegvlug en die
voëls uit sy takke.
15 Maar laat sy penwortel in die aarde staan, en dit met 'n band van yster en
koper in die groen gras van die veld; en laat hy deur die dou van die hemel
natgemaak word en saam met die diere deel hê aan die plante van die aarde.
16 Laat sy hart anders word as dié van 'n mens en 'n dierehart aan hom gegee
word, en laat sewe tydperke oor hom heengaan.
17 Op 'n besluit van die bodes berus die bevel, en 'n woord van die heiliges is
die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag
het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige
onder die mense daaroor aanstel.
18 Dit is die droomgesig wat ek, koning Nebukadnésar, gehad het; en jy,
Béltsasar, sê my die uitlegging, omdat al die wyse manne van my koninkryk my die
uitlegging nie kon bekend maak nie; maar jy is daartoe in staat, want die gees
van die heilige gode is in jou.
19 Toe het Daniël, wie se naam Béltsasar was, 'n oomblik verstom gestaan en sy
gedagtes het hom verskrik. Die koning het daarop gespreek en gesê: Béltsasar,
laat die droom en die uitlegging jou nie verskrik nie. Béltsasar het geantwoord
en gesê: My heer, mag die droom u haters en sy uitlegging u teëstanders oorkom.
20 Die boom wat u gesien het--wat groot en sterk geword het, en waarvan die
hoogte tot aan die hemel gereik het en wat vir die hele aarde sigbaar was,
21 en waarvan die blare mooi en die vrugte baie gewees het, en waar voedsel vir
alles aan was, waaronder die diere van die veld gehou en in die takke waarvan
die voëls van die hemel gewoon het--
22 dit is u, o koning, wat groot en sterk geword het, wie se grootheid toegeneem
het en reik tot aan die hemel en u heerskappy tot aan die einde van die aarde.
23 En dat die koning 'n bode, naamlik 'n heilige, uit die hemel sien neerdaal
het met die woorde: Kap die boom om en verwoes hom, maar laat sy penwortel in
die aarde staan, en dit met 'n band van yster en koper in die groen gras van die
veld, en laat hy deur die dou van die hemel natgemaak word en sy lot saam met
die diere van die veld wees totdat sewe tydperke oor hom heengegaan het--
24 dit is die uitlegging, o koning, en dit is die besluit van die Allerhoogste
wat oor my heer die koning kom:
25 Hulle sal u uit die mensdom verstoot, en u woning sal saam met die diere van
die veld wees, en hulle sal u soos die beeste plante laat eet; en u sal deur die
dou van die hemel natgemaak word, en sewe tydperke sal oor u heengaan totdat u
erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee
aan wie Hy wil.
26 En dat hulle bevel gegee het om die penwortel van die boom te laat staan--u
koningskap sal vir u bestendig wees vandat u erken het dat die hemel heers.
27 Daarom, o koning, laat my raad u welgevallig wees en breek met u sondes deur
geregtigheid en met u ongeregtighede deur genade te bewys aan die ellendiges as
daar verlenging van u rus moet wees.
28 Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom.
29 Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel
rondwandel,
30 het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou
het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot
verheerliking van my majesteit nie?
31 Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar 'n stem uit die
hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê--die koningskap word jou ontneem;
32 en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die
diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe
tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor
die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil.
33 Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar--hy is
uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou
van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die
vere van arende, en sy naels soos dié van voëls.
34 En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en
my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat
ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap
van geslag tot geslag is.
35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die
leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand
kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?
36 In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my
koningskap betref--my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my
raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel,
en buitengewone grootheid is my toegevoeg.
37 Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy
werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle
trotsheid wandel.
5
1 Koning Bélsasar het 'n groot maaltyd berei vir sy duisend maghebbers, en in
teenwoordigheid van die duisend het hy wyn gedrink.
2 By die genot van die wyn het Bélsasar bevel gegee om die goue en
silwervoorwerpe te bring wat sy vader Nebukadnésar uit die tempel van Jerusalem
weggevoer het, sodat die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy byvroue daaruit
kon drink.
3 Toe het hulle die goue voorwerpe gebring wat uit die tempel, uit die huis van
God in Jerusalem weggevoer was, en die koning en sy maghebbers, sy vroue en sy
byvroue het daaruit gedrink.
4 Hulle het wyn gedrink en die gode van goud en silwer, koper, yster, hout en
klip geprys.
5 Op dieselfde oomblik het daar vingers van 'n mens se hand te voorskyn gekom en
teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis
geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het.
6 Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom
verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen
mekaar geslaan.
7 Die koning het hardop uitgeroep om die besweerders, die Chaldeërs en die
waarsêers in te bring. Daarop het die koning gespreek en aan die wyse manne van
Babel gesê: Enigeen wat hierdie skrif lees en my sy uitlegging te kenne gee, hy
sal met purper beklee word, en 'n goue ketting sal om sy hals wees, en as derde
in rang sal hy in die koninkryk heers.
8 Toe het al die wyse manne van die koning ingekom, maar hulle was nie in staat
om die skrif te lees en sy uitlegging aan die koning bekend te maak nie.
9 Toe het koning Bélsasar baie verskrik geword, en sy gelaatskleur het aan hom
verander, ook sy maghebbers was in verwarring.
10 Na aanleiding van die woorde van die koning en van sy maghebbers het die
koningin in die eetsaal ingegaan; die koningin het begin spreek en gesê: Mag die
koning in ewigheid lewe! Laat u gedagtes u nie verskrik en u gelaatskleur nie
verander nie.
11 Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is: in die
dae van u vader is verligting en insig en wysheid soos die wysheid van die gode
in hom gevind; daarom het u vader, koning Nebukadnésar, hom as owerste van die
geleerdes, die besweerders, die Chaldeërs, die waarsêers aangestel--u vader, o
koning! --
12 omdat in hom 'n voortreflike gees en kennis en verstand gevind is om drome
uit te lê en raaisels op te los en knope los te maak--in Daniël aan wie die
koning die naam van Béltsasar gegee het; laat Daniël nou geroep word, dan sal hy
die uitlegging te kenne gee.
13 Toe is Daniël voor die koning gebring; die koning het begin spreek en vir
Daniël gesê: Is jy Daniël wat by die Joodse ballinge behoort, wat die koning, my
vader, uit Juda gebring het?
14 Ek het van jou gehoor dat die gees van die gode in jou is, en dat verligting
en verstand en voortreflike wysheid in jou gevind word.
15 Nou net is die wyse manne, die besweerders, voor my gebring om hierdie skrif
te lees en sy uitlegging aan my bekend te maak; maar hulle is nie in staat om
die uitlegging van die woord te kenne te gee nie.
16 Maar ek het van jou gehoor dat jy uitlegginge kan gee en knope kan losmaak;
as jy nou die skrif kan lees en sy uitlegging aan my bekend maak, sal jy met
purper beklee word, en 'n goue ketting sal daar om jou hals wees, en jy sal as
derde in rang in die koninkryk heers.
17 Toe het Daniël geantwoord en voor die koning gesê: U kan u gawes maar vir
uself hou en u geskenke aan 'n ander gee; nogtans sal ek die skrif vir die
koning lees en die uitlegging aan hom bekend maak.
18 Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die
koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee.
19 En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en
tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het
hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder.
20 Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te
wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom
ontneem.
21 En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere
geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet
soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy
erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en
daaroor kan aanstel wie Hy wil.
22 Maar u, Bélsasar, sy seun, het u hart nie verneder nie, alhoewel u dit alles
weet;
23 maar u het u verhef teen die Here van die hemel, en die voorwerpe van sy huis
het hulle voor u gebring; en u en u maghebbers, u vroue en u byvroue het wyn
daaruit gedrink; en u het die gode van silwer en goud, koper, yster, hout en
klip geprys, wat nie sien en nie hoor en nie weet nie, maar die God in wie se
hand u asem en voor wie al u paaie is, Hom het u nie vereer nie.
24 Toe is deur Hom die deel van die hand gestuur en hierdie skrif geskrywe.
25 En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín.
26 Dit is die uitleg van die woord: Mené--God het u koningskap getel en daar 'n
einde aan gemaak;
27 tekél--u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind;
28 perés--u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee.
29 Toe het Bélsasar bevel gegee, en hulle het Daniël met purper beklee, met 'n
goue ketting om sy hals, en aangaande hom openlik uitgeroep dat hy as derde in
rang in die koninkryk sou heers.
30 In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood.
6
1 En Daríus, die Meder, was twee en sestig jaar oud toe hy die koningskap
ontvang het.
2 Dit het Daríus behaag om oor die koninkryk honderd en twintig landvoogde aan
te stel wat in die hele koninkryk sou wees;
3 en oor hulle drie ministers, van wie Daniël een was, aan wie dié landvoogde
rekenskap moes gee, sodat die koning nie sou skade ly nie.
4 Toe het hierdie Daniël bo die ministers en die landvoogde uitgemunt, omdat 'n
voortreflike gees in hom was; daarom was die koning van plan om hom oor die hele
koninkryk aan te stel.
5 Toe het die ministers en die landvoogde gesoek om 'n grond vir 'n aanklag teen
Daniël te vind met betrekking tot die regering, maar hulle kon geen enkele grond
vir 'n aanklag of verkeerde handeling vind nie, omdat hy getrou was en geen
nalatigheid of verkeerde handeling by hom te vinde was nie.
6 Daarop het dié manne gesê: Ons sal teen hierdie Daniël geen enkele grond vir
'n aanklag vind nie, tensy ons dit teen hom vind in sy godsdiens.
7 Toe het hierdie ministers en landvoogde die koning bestorm en só vir hom gesê:
Mag koning Daríus vir ewig lewe!
8 Al die ministers van die koninkryk, die bevelhebbers en die landvoogde, die
raadsmanne en die goewerneurs het beraadslaag dat die koning 'n verordening moet
uitvaardig en 'n verbod bekragtig dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n versoek
rig aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil gegooi sal
word.
9 Stel nou 'n verbod vas, o koning, en laat 'n bevelskrif skrywe wat volgens die
onveranderlike wet van Meders en Perse onherroeplik is.
10 Hierom het koning Daríus die bevelskrif en die verbod geskrywe.
11 En net toe Daniël verneem dat die bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis
gegaan; en hy het in sy bo-kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van
Jerusalem, en hy het drie maal op 'n dag op sy knieë geval en gebid en
lofprysinge uitgespreek voor sy God, net soos hy tevore gedoen het.
12 Daarop het daardie manne aangestorm en Daniël gevind terwyl hy bid en voor sy
God om genade smeek.
13 Hulle het toe nader gekom en voor die koning oor die koninklike verbod
gespreek: Het u nie 'n verbod geskrywe dat elkeen wat gedurende dertig dae 'n
versoek doen aan enige god of mens behalwe aan u, o koning, in die leeukuil
gegooi moet word nie? Die koning het geantwoord en gesê: Die saak staan vas
volgens onherroeplike wet van Meders en Perse.
14 Toe het hulle geantwoord en voor die koning gesê: Daniël, een van die Joodse
ballinge, het hom aan u, o koning, en aan u verbod wat u geskrywe het, nie
gesteur nie, maar drie maal op 'n dag doen hy sy gebed.
15 Toe die koning die woord hoor, het dit hom baie mishaag, en hy het planne
beraam om Daniël te verlos, ja, tot sonsondergang toe het hy moeite gedoen om
hom te red.
16 Daarop het daardie manne die koning bestorm en aan die koning gesê: Weet, o
koning, dat dit 'n wet van Meders en Perse is dat elke verbod of verordening wat
die koning vasgestel het, nie verander mag word nie.
17 Toe het die koning bevel gegee, en hulle het Daniël gebring en in die
leeukuil gegooi. Die koning het begin spreek en vir Daniël gesê: Mag jou God wat
jy gedurigdeur vereer, jou verlos!
18 En 'n klip is gebring en op die opening van die kuil gelê, en die koning het
dit met sy ring en met die ring van sy maghebbers verseël, sodat niks anders met
Daniël sou gebeur nie.
19 Toe het die koning na sy paleis gegaan en met vas die nag deurgebring en die
byvroue nie voor hom laat kom nie, en sy slaap het van hom weggevlug.
20 Daarop het die koning die môre vroeg toe dit lig word, opgestaan en haastig
na die leeukuil gegaan.
21 En toe hy nader kom na die kuil, het hy met 'n droewige stem na Daniël
geroep; die koning het gespreek en aan Daniël gesê: Daniël, kneg van die lewende
God, was jou God wat jy gedurigdeur vereer, in staat om jou van die leeus te
verlos?
22 Toe het Daniël met die koning gespreek: Mag die koning vir ewig lewe!
23 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle
my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook
teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie.
24 Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op
te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar 'n letsel aan
hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.
25 En die koning het bevel gegee, en hulle het daardie manne gebring wat Daniël
aangeklaag het, en hulle, hulle kinders en hulle vroue in die leeukuil gegooi;
en hulle het nog nie die bodem van die kuil bereik nie of die leeus het hulle
oorweldig en al hulle bene vermorsel.
26 Toe het koning Daríus aan al die volke, nasies en tale wat op die hele aarde
woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!
27 Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk
moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy
bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy
heerskappy duur tot die einde toe.
28 Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat
Daniël uit die mag van die leeus verlos het.
29 En hierdie Daniël was voorspoedig onder die regering van Daríus en onder die
regering van Kores, die Pers.
7
1 In die eerste jaar van Bélsasar, die koning van Babel, het Daniël 'n
droomgesig gesien en gesigte van sy hoof op sy bed. Toe het hy die droom
opgeskrywe, die hoofsaak vertel.
2 Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die
vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring;
3 en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die
ander.
4 Die eerste was soos 'n leeu, en hy het vlerke van 'n arend gehad; ek het bly
kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos 'n mens
op twee voete neergesit is en daaraan 'n mensehart gegee is.
5 En kyk, 'n ander dier, 'n tweede, het gelyk soos 'n beer, en is aan die een
kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir
hom gesê: Staan op, eet baie vleis.
6 Daarna het ek gesien, en kyk, daar was 'n ander een soos 'n luiperd, en dit
het vier vlerke van 'n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad,
en aan hom is heerskappy gegee.
7 Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was 'n vierde dier,
vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit
het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was
verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings
gehad.
8 Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar 'n ander horinkie tussen hulle op,
en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing
was oë soos mens-oë, en 'n mond wat groot dinge spreek.
9 Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy
kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was
vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur;
10 'n stroom van vuur het gevloei en voor Hom uit gegaan; duisend maal duisende
het Hom gedien, en tien duisend maal tien duisende het voor Hom gestaan; die
gereg het gaan sit, en die boeke is geopen.
11 Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing
gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en
aan die verbranding deur vuur oorgegee is.
12 Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die
lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.
13 Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een
gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en
hulle het Hom nader gebring voor Hom.
14 En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en
nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal
vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.
15 Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my
hoof het my verskrik.
16 Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid
gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge
aan my bekend gemaak:
17 Hierdie groot diere wat vier is--vier konings sal uit die aarde opstaan;
18 en die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap ontvang, en hulle sal
die koninkryk in besit neem tot in ewigheid, ja, tot in alle ewigheid.
19 Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander
verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat
verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het,
20 en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het
en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en 'n mond gehad het
wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander.
21 Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle
oorwin,
22 totdat die Oue van dae kom en aan die heiliges van die Allerhoogste reg
verskaf is en die bepaalde tyd gekom het dat die heiliges die koninkryk in besit
geneem het.
23 Só het hy gesê: Die vierde dier--die vierde koninkryk sal op die aarde wees,
wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal
vertrap en dit verbrysel.
24 En die tien horings--uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en 'n
ander een sal ná hulle opstaan, en hy sal verskillend wees van die voriges en
drie konings neerwerp.
25 En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die
Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle
sal in sy hand oorgegee word gedurende 'n tyd en tye en die helfte van 'n tyd.
26 Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ontneem om dit vir
goed te verdelg en te vernietig.
27 Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke
onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste;
hulle koninkryk is 'n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en
gehoorsaam wees.
28 Hier is die einde van die saak. Wat my, Daniël, betref, my gedagtes het my
baie verskrik en my gelaatskleur het verander aan my, maar die saak het ek in my
hart bewaar.
8
1 In die derde jaar van die regering van koning Bélsasar het aan my, Daniël, 'n
gesig verskyn ná dié een wat die vorige keer aan my verskyn het.
2 Ek het naamlik in die gesig gesien--terwyl ek kyk, was ek in die vesting Susan
wat in die provinsie Elam lê; en ek het in die gesig gesien dat ek my aan die
Ulairivier bevind het.
3 En ek het my oë opgeslaan en gesien, en kyk, daar staan 'n ram voor die
rivier; en hy het twee horings gehad, en die twee horings was hoog, ook was die
een hoër as die ander, en die hoogste het laaste uitgekom.
4 Ek het die ram sien stoot na die weste en na die noorde en na die suide, en al
die diere kon voor hom nie standhou nie, en daar was niemand wat uit sy mag
gered het nie; maar hy het gedoen net wat hy wou, en het magtig geword.
5 Terwyl ek daarop ag gee, kom daar 'n bokram uit die weste aan oor die
oppervlakte van die hele aarde, sonder om aan die grond te raak; en die bok het
'n aansienlike horing tussen sy oë gehad.
6 En hy het na die ram met die twee horings aangekom wat ek voor die rivier sien
staan het, en hom in die woede van sy krag stormgeloop.
7 En ek het hom gesien hoe hy tot by die ram kom en op hom verbitterd word en
die ram stoot en sy twee horings verbreek; en daar was geen krag in die ram om
voor hom stand te hou nie, sodat hy hom teen die grond gegooi en hom vertrap
het, en daar was niemand wat die ram uit sy mag gered het nie.
8 En die bok het uitermate magtig geword; maar toe hy sterk was, het die groot
horing afgebreek, en vier aansienlike horings het in sy plek uitgekom na die
vier windstreke van die hemel.
9 En uit een van dié het 'n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie
groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe.
10 En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die
leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.
11 Selfs tot by die Vors van die leër het dit groot geword, sodat die
voortdurende offer Hom ontneem en sy heilige woning neergewerp is.
12 En 'n leër is aan die horing oorgelewer in goddeloosheid saam met die
voortdurende offer; en dit het die waarheid op die grond neergewerp en in sy
optrede voorspoed gehad.
13 Toe hoor ek 'n heilige spreek; en 'n ander heilige het aan die een wat
spreek, gesê: Hoe lank sal die gesig duur--van die voortdurende offer en die
ontsettende goddeloosheid--sal die heiligdom sowel as die leër aan vertrapping
oorgegee word?
14 En hy het vir my gesê: Twee duisend drie honderd aande en môres, dan sal die
heiligdom in sy regte staat herstel word.
15 En toe ek, Daniël, die gesig gesien het, het ek probeer om dit te verstaan,
en kyk, daar het iemand voor my gestaan wat soos 'n man gelyk het.
16 En ek het 'n mensestem gehoor uit die Ulai wat geroep en gesê het: Gabriël,
laat hierdie een die gesig verstaan!
17 Toe kom hy by my staanplek; en toe hy kom, het ek geskrik en op my aangesig
geval. En hy het vir my gesê: Let op, mensekind, want die gesig sien op die tyd
van die einde.
18 En terwyl hy met my spreek, het ek bewusteloos met my aangesig op die grond
geval; toe het hy my aangeroer en my op my staanplek opgerig
19 en gesê: Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal
gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.
20 Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders
en die Perse.
21 En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat
tussen sy oë was, dit is die eerste koning.
22 En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het--vier koninkryke sal
uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie.
23 Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak
het, sal 'n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.
24 En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon
baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en
ook die volk van die heiliges.
25 En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot
dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen
die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.
26 En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid;
en jy, hou die gesig geheim, want dit sien op 'n verre toekoms.
27 En ek, Daniël, was gedaan en was dae lank siek; daarna het ek opgestaan en
die werk van die koning gedoen; en ek was verstom oor die gesig, maar niemand
het dit gemerk nie.
9
1 In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die
Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs,
2 in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die
getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met
betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.
3 En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as,
my aan gebed en smekinge te wy.
4 En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here,
grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat
Hom liefhet en sy gebooie onderhou,
5 ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom
en van u gebooie en verordeninge afgewyk.
6 En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het
tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land
nie.
7 Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig
soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en
aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U
hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het.
8 Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons
owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het.
9 By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom
opgestaan
10 en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in sy wette
wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie.
11 Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem
geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat
geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom
gesondig.
12 En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en
oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat
onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie;
13 soos in die wet van Moses geskrywe is--al hierdie onheil het oor ons gekom,
en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te
bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie.
14 Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die
HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy
stem geluister nie.
15 Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met 'n sterke hand
uitgelei en vir U 'n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons
was goddeloos.
16 o Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u
stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die
ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk 'n voorwerp van
versmading vir almal rondom ons.
17 Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat
ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê.
18 Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die
stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp
ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote
barmhartigheid.
19 Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U
ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.
20 Terwyl ek nog spreek en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely
en my smeking voor die aangesig van die HERE my God neerwerp, ter wille van die
heilige berg van my God,
21 terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van
vermoeienis, 'n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd
van die aandspysoffer.
22 En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek
heengegaan om jou insig te gee.
23 By die begin van jou smekinge het 'n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit
mee te deel, want jy is 'n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die
gesig.
24 Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die
goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die
ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en
profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.
25 Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem
te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee
en sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote,
maar in tye van benoudheid.
26 En ná die twee en sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar
sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die
heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde
toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.
27 En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die
helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel
van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas
besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.
10
1 In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is 'n woord geopenbaar
aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot
swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig.
2 In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur.
3 Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie;
en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.
4 En op die vier en twintigste dag van die eerste maand, terwyl ek op die wal
van die groot rivier was, dit is die Hiddékel,
5 het ek my oë opgeslaan, en daar sien ek 'n man met linne bekleed, en sy heupe
was omgord met goud van Ufas.
6 En sy liggaam was soos chrisoliet, en sy aangesig soos die geflikker van
bliksem en sy oë soos fakkels van vuur en sy arms en sy voete soos blink
geskuurde koper en die geluid van sy woorde soos die gedruis van 'n menigte.
7 En ek, Daniël, alleen het die gesig gesien, maar die manne wat saam met my
was, het die gesig nie gesien nie; nogtans het 'n groot skrik hulle oorval,
sodat hulle gevlug het om hulle te verberg.
8 Toe het ék alleen oorgebly en hierdie groot gesig gesien, en geen krag het in
my oorgebly nie, en my gesonde kleur het aan my verander en verdwyn, en ek het
geen krag oorgehou nie.
9 En ek het die geluid van sy woorde gehoor, en toe ek die geluid van sy woorde
hoor, het ek bewusteloos op my aangesig, met my aangesig op die aarde, geval.
10 En kyk, 'n hand het my aangeraak en my op my knieë en op die handpalms
waggelend laat opstaan.
11 En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met
jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En
terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan.
12 Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af
dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou
God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;
13 maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank
teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om
my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.
14 Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van
die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.
15 En terwyl hy hierdie woorde met my spreek, het ek my aangesig na die grond
gedraai en stom geword.
16 En kyk, een wat soos 'n mens gelyk het, het my lippe aangeraak. Toe het ek my
mond oopgemaak en gespreek en aan hom wat teenoor my staan, gesê: My heer, deur
die gesig het krampe my oorval en het ek geen krag oorgehou nie.
17 En hoe kan so 'n geringe kneg van my heer met so 'n heer van my spreek? Wat
my aangaan, bestaan daar nou geen krag in my nie, en geen asem het in my
oorgebly nie.
18 Toe het die een wat soos 'n mens gelyk het, my weer aangeraak en my versterk
19 en gesê: Wees nie bevrees nie, geliefde man, vrede vir jou, wees sterk, ja,
sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed geskep en gesê: My heer kan maar
spreek, want u het my versterk.
20 Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om
te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die
vors van Griekeland.
21 Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid;
en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe
julle vors Mígael.
11
1 En ek, in die eerste jaar van Daríus, die Meder, het ek opgetree as 'n
versterking en beskutting vir hóm.
2 En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan
vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk
is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van
Griekeland.
3 Dan sal 'n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net
soos hy wil.
4 En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier
windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort
en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie--want sy koninkryk sal
verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.
5 En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal
sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal 'n groot heerskappy wees.
6 En ná verloop van jare sal hulle 'n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die
dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om
vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie--hy en sy mag sal
nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring
het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf het.
7 Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die leër
optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen
hulle optree en magtig wees;
8 ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe,
silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning
van die Noorde met rus laat.
9 Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal
na sy land terugtrek.
10 En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en 'n menigte groot leërs
versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en
hulle sal oorlog voer tot by sy vesting.
11 Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die
koning van die Noorde, veg, wat ook 'n groot menigte op die been sal bring, maar
hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word.
12 As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tien duisende
neerslaan, maar nie sterk bly nie.
13 Dan sal die koning van die Noorde weer 'n groter menigte op die been bring as
die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met 'n groot
leër en 'n groot gevolg.
14 En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die
gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om 'n gesig in vervulling te
laat gaan, maar hulle sal omkom.
15 So sal dan die koning van die Noorde kom en 'n wal opwerp en 'n versterkte
stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy
uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie.
16 En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand
sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl
daar verdelging in sy hand is.
17 En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te
kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom 'n jongedogter gee om
die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks
vir hom wees nie.
18 Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar
'n aanvoerder sal aan sy gesmaad 'n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself
laat terugval.
19 Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel
en val en nie meer gevind word nie.
20 En in sy plek sal iemand optree wat 'n geldinsamelaar deur die pragtigste
deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek
word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie.
21 Daarna sal 'n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike
waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk
bemagtig.
22 En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek
word, en ook die vors van die verbond.
23 Want sodra 'n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal
omhoog kom en met min manskappe sterk word.
24 Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal
doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed
sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir 'n
tyd.
25 En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met 'n groot
leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met 'n groot en
baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom
beraam.
26 En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en
daar sal baie gesneuweldes lê.
27 En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan
een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde
sal eers op die vasgestelde tyd wees.
28 En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige
verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.
29 Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die
laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.
30 Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan
sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy
sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.
31 En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting,
ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel
opstel.
32 En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig
maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.
33 En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal
struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.
34 En terwyl hulle struikel, sal hulle met 'n klein hulp ondersteun word; dan
sal baie uit listigheid by hulle aansluit.
35 En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en
reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde--want dit sal nog
duur tot op die vasgestelde tyd.
36 En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo
enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en
hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas
besluit is, sal uitgevoer word.
37 En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van
die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles
groot hou.
38 Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat
sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en
kosbaarhede vereer.
39 So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van 'n vreemde
god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond
as beloning uitdeel.
40 Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing
kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en
perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en
dit oorvloei.
41 Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke
sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van
Ammon.
42 En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie.
43 En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede
van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg.
44 Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy
met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.
45 En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige
Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.
12
1 En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk
staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het
vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk
gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.
2 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot
die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.
3 En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat
baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.
4 En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die
einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.
5 En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant
op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier.
6 En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier
was, gesê: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?
7 Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier
was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by
die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die
heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.
8 En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat
is die uiteinde van hierdie dinge?
9 En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot
die tyd van die einde toe.
10 Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal
goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die
verstandiges sal verstaan.
11 En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende
gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop.
12 Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae
bereik.
13 En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou
bestemming aan die einde van die dae.