P r e d i k e r 1
1 Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.
2 Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!
3 Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die
son?
4 Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.
5 En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy
opgaan.
6 Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en
die wind keer na sy kringloop terug.
7 Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek
waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.
8 Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry
nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.
9 Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur,
en daar is glad niks nuuts onder die son nie.
10 Is daar iets waarvan 'n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal
daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.
11 Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte
wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.
12 Ek, Prediker, was koning oor Israel in Jerusalem.
13 En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur
alles wat onder die hemel gebeur. Dit is 'n moeilike taak wat God aan die
mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.
14 Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was
alles tevergeefs en 'n gejaag na wind.
15 Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie.
16 Ek het met myself gespreek en gesê: Kyk, ék het groot en altyd groter wysheid
verwerf bo almal wat voor my oor Jerusalem gewees het, en my hart het baie
wysheid en kennis gesien.
17 Maar toe ek my hart daarop gerig het om wysheid en kennis, onverstandigheid
en dwaasheid te leer ken, het ek ingesien dat dit ook 'n gejaag na wind is.
18 Want by baie wysheid is baie verdriet, en wie kennis vermeerder, vermeerder
smart.
2
1 Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel;
geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs.
2 Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit?
3 Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik--terwyl my
hart my met wysheid sou lei--en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou
sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel
gedurende die getal van hulle lewensdae.
4 Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my
wingerde geplant.
5 Ek het vir my tuine en parke aangelê en daar allerhande vrugtebome in geplant.
6 Ek het vir my damme gemaak om daaruit 'n bos met jong bome te besproei.
7 Ek het slawe en slavinne gekoop en ook dié verkry wat in my huis gebore is; ek
het ook 'n groot besitting van beeste en kleinvee gehad, meer as almal wat voor
my in Jerusalem gewees het.
8 Ek het vir my ook silwer en goud versamel, en 'n eiendom van konings en
provinsies; ek het vir my sangers en sangeresse verskaf en die genoeëns van die
mensekinders: lieflinge in menigte.
9 En ek het groot en altyd groter geword bo almal wat voor my in Jerusalem
gewees het; ook het my wysheid by my gebly.
10 En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van
geen enkele vreugde teruggehou nie, want my hart het hom verheug vanweë al my
moeitevolle arbeid, en dit was my deel van al my moeitevolle arbeid.
11 Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die
moeitevolle arbeid wat ek verrig het--en kyk, dit was alles tevergeefs en 'n
gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.
12 Daarna het ek my begewe om wysheid en onverstandigheid en dwaasheid in
oënskou te neem, want wat sal die mens kan doen wat ná die koning kom? Wat
lankal gedoen is!
13 Wel het ek gesien dat die wysheid die voorkeur het bo die dwaasheid soos die
lig die voorkeur het bo die duisternis:
14 die wyse het sy oë in sy hoof, maar die dwaas wandel in die duisternis. Maar
ek het óók ingesien dat een en dieselfde lot hulle almal tref.
15 Daarom het ek in my hart gesê: Dieselfde wat die dwaas tref, sal my ook tref;
waarvoor was ek dan so buitengewoon wys? En ek het in my hart gespreek dat dit
ook tevergeefs is.
16 Want daar sal op die duur net so min gedagtenis wees van die wyse as van die
dwaas, omdat in die dae wat kom, alles lankal vergeet is; en hoe sterf die wyse
net soos die dwaas!
17 Daarom het ek die lewe gehaat, want die werk wat onder die son gedoen word,
het my mishaag, omdat alles tevergeefs is en 'n gejaag na wind.
18 En ek het gehaat al my arbeid wat ek onder die son met moeite verrig het, dat
ek dit moet oorlaat aan 'n mens wat ná my sal kom.
19 En wie weet of hy 'n wyse sal wees of 'n dwaas? Tog sal hy heers oor al my
arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook
dit is dan tevergeefs.
20 Daarom het ek my begewe om my hart aan wanhoop oor te gee vanweë al die
arbeid wat ek met moeite verrig het onder die son.
21 Want daar is 'n mens wat hom met wysheid en kennis en bekwaamheid vermoei
het; tog moet hy dit as deel oorgee aan 'n mens wat daaraan geen moeite bestee
het nie. Ook dit is tevergeefs en 'n groot euwel.
22 Want wat het die mens vir al sy arbeid en vir die strewe van sy hart waarmee
hy hom vermoei onder die son?
23 Want al sy dae is smarte, en sy bemoeienis is verdriet; selfs snags rus sy
hart nie. Dit is dan ook tevergeefs.
24 Dit is nie 'n goed wat in die mens kleef dat hy eet en drink en sy siel die
goeie laat geniet by sy moeitevolle arbeid nie. Ek het gesien dat dit ook kom
uit die hand van God.
25 Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?
26 Want aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig, gee Hy wysheid en
kennis en vreugde, maar aan die sondaar lê Hy die taak op om bymekaar te maak en
te versamel, om dit dan te gee aan een wat welgevallig is voor die aangesig van
God. Ook dit is tevergeefs en 'n gejaag na wind.
3
1 Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar 'n tyd:
2 'n tyd om gebore te word en 'n tyd om te sterwe, 'n tyd om te plant en 'n tyd
om uit te roei wat geplant is,
3 'n tyd om dood te maak en 'n tyd om gesond te maak, 'n tyd om af te breek en
'n tyd om op te bou,
4 'n tyd om te ween en 'n tyd om te lag, 'n tyd om te weeklaag en 'n tyd om van
vreugde rond te spring,
5 'n tyd om klippe weg te gooi en 'n tyd om klippe bymekaar te maak, 'n tyd om
te omhels en 'n tyd om ver te wees van omhelsing,
6 'n tyd om te soek en 'n tyd om verlore te laat gaan, 'n tyd om te bewaar en 'n
tyd om weg te gooi,
7 'n tyd om te skeur en 'n tyd om aanmekaar te werk, 'n tyd om te swyg en 'n tyd
om te spreek,
8 'n tyd om lief te hê en 'n tyd om te haat, 'n tyd vir oorlog en 'n tyd vir
vrede.
9 Watter voordeel het hy wat werk, daardeur dat hy hom vermoei?
10 Ek het die taak gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle
daarmee te kwel.
11 Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê
sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.
12 So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te
wees en om goed te doen in die lewe.
13 En ook--dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle
arbeid; dit is 'n gawe van God.
14 Ek het ingesien dat alles wat God doen, vir ewig sal bestaan; daar kan niks
bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en God het dit so gemaak dat
hulle moet vrees voor sy aangesig.
15 Alles wat is, was alreeds; en wat sal wees, was alreeds; en God soek weer op
wat verbygegaan het.
16 Verder het ek ook gesien onder die son die plek van die gereg--daar was onreg,
en die plek van geregtigheid--daar was onreg.
17 Ek het in my hart gesê: Gód sal die regverdige en die goddelose oordeel, want
dáár is 'n tyd vir elke saak en vir elke werk.
18 Ek het in my hart gesê: Ter wille van die mensekinders gebeur dit, dat God
hulle kan beproef, en dat hulle kan insien dat hulle in hulleself vee is.
19 Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het
een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal
het dieselfde asem, en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie;
want alles is tevergeefs.
20 Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof
terug.
21 Wie bespeur dat die asem van die mensekinders opgaan boontoe, en dat die asem
van die veediere neerdaal ondertoe in die aarde?
22 So het ek dan gesien dat daar niks beters is as dat die mens hom verheug in
sy werke nie, want dit is sy deel; want wie sal hom daartoe bring dat hy kan
sien wat ná hom sal wees?
4
1 Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en
kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en
aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen
trooster nie.
2 Daarom het ek die dooies wat lankal gesterf het, gelukkig geprys bo die
lewendes wat nog lewe,
3 en gelukkig bo hulle altwee hom wat nog nie gewees het en die verkeerde werk
wat onder die son plaasvind, nie gesien het nie.
4 Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by
die werk naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is tevergeefs en 'n
gejaag na wind.
5 Die dwaas vou sy hande en eet sy eie vlees op.
6 Een handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite en gejaag na wind.
7 En weer het ek 'n vergeefse moeite gesien onder die son:
8 Daar is een allenig sonder 'n tweede, ook het hy geen seun of broer nie; tog
is daar geen einde aan al sy moeitevolle arbeid nie, sy oë kry ook nie genoeg
van rykdom nie. Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly aan die
goeie? Ook dit is tevergeefs en 'n verkeerde saak.
9 Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle
arbeid.
10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder
dat daar 'n tweede is om hom op te tel.
11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm
word?
12 En as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en 'n driedubbele
lyn word nie gou verbreek nie.
13 Beter is 'n behoeftige maar wyse jongman as 'n ou maar dwase koning wat nie
meer weet om hom te laat waarsku nie.
14 Want daardie een het uit die gevangenis uitgegaan om koning te word, alhoewel
hy as 'n arme in die koninkryk van die ander gebore was.
15 Ek het gesien hoe al die lewendes wat onder die son wandel, aan die kant van
die jongman was, van die tweede, wat sy opvolger sou word;
16 daar was geen einde aan al die mense, aan almal aan wie se hoof hy gestaan
het nie. Tog sal die nageslag hulle nie oor hom verbly nie; so is dit ook
tevergeefs en 'n gejaag na wind.
17 Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, want om nader te kom en te
hoor, is beter as dat dwase 'n slagoffer bring; want hulle het geen verstand nie,
sodat hulle kwaad doen.
5
1 Wees nie haastig met jou mond nie, en laat jou hart nie gou 'n woord uitbring
voor die aangesig van God nie; want God is in die hemel, en jy op die aarde.
Daarom moet jou woorde min wees.
2 Want soos die droom kom deur baie drukte, so die gepraat van die dwaas deur
baie woorde.
3 As jy 'n gelofte aan God gedoen het, stel nie uit om dit te betaal nie, want
daar is geen welgevalle in dwase nie. Betaal wat jy belowe.
4 Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie.
5 Laat jou mond nie toe om op jou liggaam 'n sondeskuld te laai nie, en sê nie
voor die gesant van God: Dit was 'n vergissing nie. Waarom moet God toornig word
oor jou stem en die werk van jou hande verwoes?
6 Want soos daar baie drome is, so is daar ook nietige woorde in menigte, maar
vrees God!
7 As jy verdrukking van die arme en berowing van reg en geregtigheid sien in die
land--verwonder jou nie oor die saak nie, want 'n hoër een loer op die hoë, en
die hoëres weer op hulle.
8 Maar 'n voordeel vir 'n land onder alles is dit: 'n koning wat aan die landbou
diensbaar word.
9 Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie
van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.
10 As die goed baie word, word die eters baie; watter voordeel het die besitter
dan daarvan, behalwe dat sy oë dit aanskou?
11 Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die
oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie.
12 Daar is 'n smartlike onheil wat ek onder die son gesien het: rykdom wat deur
sy besitter bewaar word tot sy eie ongeluk.
13 Gaan hierdie rykdom verlore deur 'n ongeval, en het hy 'n seun verwek, dan
besit dié niks nie.
14 Soos hy uit die skoot van sy moeder uitgegaan het, gaan hy naak weer heen
soos hy gekom het; en hy sal vir sy moeitevolle arbeid niks wegdra wat hy met
hom kan saamneem nie.
15 So is dit dan ook 'n smartlike onheil: net soos hy gekom het, so sal hy
heengaan; watter voordeel het hy dan dat hy hom vermoei het vir wind?
16 Ook eet hy sy lewe lank in duisternis en het baie ergernis; daarby sy lyding
en toorn!
17 Kyk, wat ek as 'n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand
eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder
die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy
deel.
18 Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat
stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle
arbeid, is dit 'n gawe van God.
19 Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie, omdat God hom laat besig wees met
die vreugde van sy hart.
6
1 Daar is 'n onheil wat ek gesien het onder die son, en wat swaar druk op die
mensdom:
2 'n Man aan wie God rykdom en skatte en eer gee, sodat hom niks ontbreek van
alles wat hy kan begeer nie, maar God stel hom nie in staat om daarvan te geniet
nie, want 'n vreemde geniet dit; dit is vergeefse moeite en 'n bitter lyding.
3 As 'n man honderd kinders verwek en baie jare lewe en die dae van sy jare baie
is en sy siel nie genoeg kry van die goeie en hy ook nie 'n begrafnis het nie,
dan sê ek: 'n Misgeboorte is beter as hy,
4 want in nietigheid kom dit, en in duisternis gaan dit heen, en met duisternis
word die naam daarvan bedek;
5 ook het dit die son nie gesien of geken nie. Dit het meer rus as hy.
6 Ja, al lewe hy ook twee maal duisend jaar en geniet nie die goeie nie--gaan
nie alles na een en dieselfde plek nie?
7 Al die moeitevolle arbeid van 'n mens is vir sy mond, en tog word die begeerte
nie bevredig nie.
8 Want watter voorkeur het die wyse bo die dwaas, watter voorkeur die arme wat
weet om hom te beweeg onder die lewendes?
9 Die aanskouing met die oë is beter as die geswerf van die begeerte. Ook dit is
tevergeefs en 'n gejaag na wind.
10 Wat hy ook is, lankal is sy naam genoem, en dit is bekend dat hy mens is: hy
kan nie in die gereg gaan met Hom wat sterker is as hy nie.
11 Want hoe meer woorde, des te meer vermeerder hulle die nietigheid; watter
voordeel het die mens daarvan?
12 Want wie weet wat goed is vir die mens in die lewe gedurende die getal dae
van sy nietige lewe wat hy soos 'n skaduwee deurbring? Want wie kan aan die mens
bekend maak wat ná hom sal wees onder die son?
7
1 'n Goeie naam is beter as goeie olie, en die sterfdag beter as die geboortedag.
2 Dit is beter om te gaan na 'n klaaghuis as om te gaan na 'n huis van maaltyd;
want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte
neem.
3 Om verdrietig te wees, is beter as om te lag; want as die gesig droewig is,
gaan dit goed met die hart.
4 Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase
in die huis van vreugde.
5 Dit is beter om te luister na die bestraffing van 'n wyse as dat 'n mens
luister na die lied van die dwase.
6 Want soos die geknetter van doringtakke onder 'n pot, so is die gelag van 'n
dwaas. Dit is dan ook tevergeefs.
7 Sekerlik, afpersing maak 'n wyse dwaas, en 'n geskenk bederwe die hart.
8 Die einde van 'n saak is beter as sy begin; 'n lankmoedige is beter as 'n
hoogmoedige.
9 Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die
boesem van die dwase.
10 Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige?
want nie uit wysheid vra jy hierna nie.
11 Wysheid is net so goed as 'n erfdeel en 'n voordeel vir die wat die son sien.
12 Want wysheid is 'n beskutting, geld is 'n beskutting; maar die voordeel van
kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.
13 Aanskou die werk van God, want wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het?
14 Wees goedsmoeds op die dag van voorspoed, en op die dag van onheil, bedink
dan: Ook hierdie dag het God gemaak net soos daardie, daarom dat die mens ná sy
dood niks meer sal ontdek nie.
15 Alles het ek gesien in die dae van my nietigheid: daar is 'n regverdige wat
ondanks sy regverdigheid omkom, en daar is 'n goddelose wat ondanks sy
goddeloosheid lank lewe.
16 Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy
jouself te gronde rig?
17 Wees nie alte goddeloos, en wees nie dwaas nie: waarom sou jy sterwe voor jou
tyd?
18 Dit is goed dat jy aan die een vashou en ook van die ander jou hand nie
aftrek nie; want die wat God vrees, ontkom aan dit alles.
19 Die wysheid versterk die wyse meer as tien maghebbers wat in die stad is;
20 want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te
sondig nie.
21 Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie, sodat jy nie
hoor dat jou dienaar jou vloek nie.
22 Want jou eie hart weet ook van baie gevalle dat jy self ook ander gevloek
het.
23 Dit alles het ek met wysheid op die proef gestel; ek het gesê: Ek wil wys
word, maar dit het ver van my gebly.
24 Wat bestaan, is ver en baie diep; wie kan dit begryp?
25 Ek het my daartoe gewend en my hart gerig om te weet en na te speur, en
wysheid en 'n slotsom te soek, en om so die goddeloosheid as dwaasheid en die
dwaasheid as onverstandigheid te leer ken.
26 En ek het iets uitgevind bitterder as die dood: die vrou wat strikke is, haar
hart nette, haar hande boeie; hy wat goed is voor die aangesig van God, sal van
haar vryraak, maar die sondaar word deur haar gevang.
27 Kyk, dit het ek uitgevind, sê die Prediker, deur die een by die ander te voeg,
om 'n slotsom te vind--
28 wat my siel lank gesoek het, maar wat ek nie gevind het nie: een mens uit
duisend het ek gevind, maar 'n vrou het ek onder soveel nie gevind nie.
29 Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle
het baie slim planne gesoek.
8
1 Wie is soos die wyse, en wie weet die verklaring van die dinge? Die wysheid
van 'n mens verhelder sy gesig, en die hardheid van sy gesig word daardeur
verander.
2 Ek sê: Neem die bevel van die koning in ag, en wel ter wille van die eed by
God.
3 Haas jou nie om van hom af weg te gaan nie; laat jou nie in met 'n slegte saak
nie, want alles wat hy wil, doen hy.
4 Want die woord van die koning is magtig, en wie kan vir hom sê: Wat doen u?
5 Hy wat die gebod onderhou, sal geen kwaad ondervind nie; en die hart van 'n
wyse sal die tyd en die regterlike beslissing belewe.
6 Want vir elke ding is daar 'n tyd en 'n beslissing; want die boosheid van die
mens druk swaar op hom.
7 Want hy weet nie wat sal wees nie; want hoe dit sal wees--wie kan hom dit te
kenne gee?
8 Daar is geen mens wat heerskappy het oor die wind om die wind teë te hou nie,
en niemand het mag oor die dag van die dood nie, en daar is geen vrystelling in
die oorlog nie; so sal ook die goddeloosheid hom wat dit begaan, nie red nie.
9 Dit alles het ek gesien deurdat ek my hart gerig het op elke werk wat onder
die son gedoen word, in 'n tyd waarin die een mens heers oor die ander tot sy
ongeluk.
10 So het ek dan die goddelose sien begrawe word en die rus ingaan, terwyl die
wat reg gehandel het, uit die heilige plek moes weggaan en in die stad vergeet
is. Ook dit is dan nietigheid.
11 Omdat die oordeel oor 'n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is
die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen;
12 aangesien 'n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe--alhoewel ek
weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig
vrees,
13 en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng
soos 'n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie.
14 Dit is 'n nietigheid wat op die aarde gebeur, dat daar regverdiges is met wie
dit gaan volgens die dade van die goddelose, en dat daar goddelose is met wie
dit gaan volgens die dade van die regverdiges; so sê ek dan dat dit ook
nietigheid is.
15 Daarom het ek die vreugde geprys, dat daar niks beters is vir die mens onder
die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug, en dat dit hom mag
begelei by sy moeitevolle arbeid gedurende die dae van sy lewe wat God hom gee
onder die son.
16 Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die
dinge wat op die aarde gedoen word--ja, selfs bedags en snags niemand met sy oë
die slaap sien nie--
17 het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word
onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog
niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan--hy sal dit nie
kan uitvind nie!
9
1 Want dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond,
dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is,
liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie.
2 Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en
die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer
en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat
sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir 'n eed.
3 Dit is 'n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en
dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is,
en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na
die dooies toe!
4 Want solank as iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop; want 'n
lewendige hond is beter as 'n dooie leeu.
5 Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks
nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet.
6 Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en
hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.
7 Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike
hart, want God het lankal behae in jou werke.
8 Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie.
9 Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe
wat Hy jou gegee het onder die son--al jou nietige dae; want dit is jou deel aan
die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son.
10 Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen
werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.
11 Weer het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en
die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook
rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en
lotgeval tref hulle almal.
12 Ja, die mens ken ook sy eie tyd nie, soos die visse wat gevang word in die
gevaarlike net, en soos die voëls wat gevang word in die vangnet--soos hulle
word die mensekinders verstrik in die tyd van onheil as dit hulle skielik oorval.
13 Ook het ek dit as wysheid gesien onder die son, en dit was groot in my oog:
14 daar was 'n klein stadjie en min manne daarin, en 'n groot koning het
daarteen gekom en dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou.
15 En daarin is 'n arm wyse man gevind; dié het die stad deur sy wysheid gered,
maar geen mens het aan daardie arm man gedink nie.
16 Toe het ek gesê: Wysheid is beter as heldekrag; maar die wysheid van die arme
word verag, en na sy woorde word nie geluister nie.
17 Woorde van wyse manne, wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu
van 'n heerser onder die dwase.
18 Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.
10
1 Dooie vlieë laat die salf van die apteker stink en bederwe; 'n bietjie
dwaasheid weeg swaarder as wysheid, as eer.
2 Die hart van die wyse is na regs, maar die hart van 'n dwaas is na links.
3 Ja, ook as die dwaas op die weg wandel, ontbreek sy verstand; en hy sê aan
elkeen dat hy 'n dwaas is.
4 As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want
bedaardheid voorkom groot foute.
5 Daar is 'n verkeerdheid wat ek onder die son gesien het, 'n dwaling wat van
die maghebber uitgaan:
6 die dwaasheid word op groot hoogtes gestel, en die rykes moet in die
vernedering sit.
7 Ek het slawe te perd gesien en vorste wat soos slawe op die grond loop.
8 Wie 'n kuil grawe, kan daarin val; en een wat 'n muur afbreek, 'n slang kan
hom byt.
9 Wie klippe uitbreek, kan hom daarmee seermaak; wie hout klowe, kan daardeur in
gevaar kom.
10 As die yster stomp geword het, en 'n mens die snykant nie geslyp het nie,
moet hy die kragte meer inspan; maar wysheid is voordelig om iets te laat
beantwoord.
11 As die slang byt voor die beswering, baat die besweerder nie.
12 Die woorde uit die mond van 'n wyse is aangenaam, maar die lippe van 'n dwaas
verslind homself.
13 Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid, en die einde van sy mond
is skadelike onverstandigheid.
14 En die dwaas gebruik baie woorde; maar die mens weet nie wat daar sal gebeur
nie; en wat ná hom sal wees, wie kan hom dit te kenne gee?
15 Die inspanning van die dwaas vermoei hom, omdat hy nie eens weet om na die
stad te gaan nie.
16 Wee jou, o land, as jou koning 'n kind is, en as jou vorste in die môre vroeg
maaltyd hou.
17 Gelukkig is jy, o land, as jou koning 'n edele is, en as jou vorste op die
regte tyd maaltyd hou soos manne en nie soos drinkers nie.
18 Deur allerhande luiheid versak die balkwerk, en deur slapheid van die hande
lek die huis.
19 Vir plesier maak hulle maaltye klaar, en die wyn maak die lewe vrolik, en die
geld verskaf alles.
20 Vloek die koning selfs in jou gedagte nie, en vloek in jou slaapkamer die
ryke nie; want die voëls van die hemel sou die geluid kon wegvoer, en die
gevleueldes die woord te kenne gee.
11
1 Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind.
2 Gee 'n deel aan sewe, ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op
die aarde sal wees nie.
3 As die wolke vol reën is, giet hulle dit uit op die aarde; en as 'n boom na
die suide of na die noorde val, op die plek waar die boom val, daar bly hy lê.
4 Wie op die wind ag gee, sal nie saai nie; en wie na die wolke kyk, sal nie oes
nie.
5 Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot
van 'n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie.
6 Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy
weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed
sal wees nie.
7 Verder, soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou.
8 Want as die mens baie jare lewe, moet hy hom in dié almal verheug en dink aan
die dae van duisternis, dat dit baie sal wees; alles wat kom, is nietigheid.
9 Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die
dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van
jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring.
10 En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale weg van jou liggaam, want die
jeug en die jonkheid is nietigheid.
12
1 En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige
dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie--
2 voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die
wolke terugkom ná die reën,
3 dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word
en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die
vensters kyk, verduister word,
4 en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul
verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied
dof sal word.
5 Ook sal hy bang wees vir 'n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees!
En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite
voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige
huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan.
6 Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en
die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val
7 en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God
terugkeer wat dit gegee het.
8 Alles tevergeefs, sê die Prediker, dit is alles tevergeefs.
9 En behalwe dat die Prediker 'n wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en
het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel.
10 Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe
is--woorde van waarheid.
11 Die woorde van die wyse manne is soos prikkels; en soos spykers, diep
ingeslaan, is die versamelde spreuke; hulle is deur die enige Herder gegee.
12 En buitendien, my seun, wees gewaarsku; aan baie boeke maak kom geen einde
nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.
13 Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want
dit geld vir alle mense.
14 Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge,
goed of sleg.