E s t e r 1
1 En in die dae van Ahasvéros--dit is die Ahasvéros wat geregeer het van
Indië af tot by Kus, honderd sewe en twintig provinsies--
2 in dié dae toe koning Ahasvéros op sy koninklike troon in die vesting Susan
gesit het,
3 in die derde jaar van sy regering, het hy 'n maaltyd berei vir al sy vorste en
sy dienaars; die leërmag van Persië en Medië, die vername manne en die vorste
van die provinsies was voor hom;
4 waarby hy die rykdom van sy koninklike heerlikheid en die skitterende prag van
sy grootheid baie dae, honderd en tagtig dae lank, vertoon het.
5 En toe dié dae verby was, het die koning vir al die mense wat in die vesting
Susan aanwesig was, van die grootste tot die kleinste, 'n maaltyd berei, sewe
dae lank, op die voorplein van die tuin van die koninklike paleis.
6 Linne--, katoen-- en pers stowwe was met linne-- en purperrooi bande vasgemaak
aan silwerringe en marmerpilare! Goue en silwerrusbanke op 'n plaveisel van
malachiet en van witmarmer en perlemoensteen en gevlekte marmer!
7 Daarby het hulle laat drink uit goue bekers, en die een beker was verskillend
van die ander beker, en daar was koninklike wyn in oorvloed, eg koninklik!
8 En hulle het gedrink volgens voorskrif: niemand het gedwing nie; want so het
die koning bevel gegee aan al die hoë beamptes van sy paleis, dat hulle na
elkeen se sin moes handel.
9 Ook het die koningin Vasti 'n vrouemaaltyd aangerig in die koninklike paleis
van koning Ahasvéros.
10 Op die sewende dag, toe die hart van die koning vrolik was van die wyn, het
hy aan Mehúman, Bista, Harbóna, Bigta en Abágta, Setar en Karkas, die sewe
hofdienaars wat voor koning Ahasvéros gedien het, gesê
11 dat hulle koningin Vasti met die koninklike kroon op voor die koning moet
bring om haar skoonheid aan die volke en die vorste te toon, want sy was mooi
van aansien.
12 Maar koningin Vasti het geweier om te kom op die bevel van die koning deur
middel van die hofdienaars aan haar oorgebring. Toe het die koning baie kwaad
geword, en sy woede het in hom ontvlam.
13 En die koning het aan die wyse manne, die kenners van die tye, gesê--want só
word die sake van die koning aan al die kenners van wet en reg voorgelê;
14 en die naaste aan hom was: Karséna, Setar, Admáta, Tarsis, Meres, Marséna,
Memúgan, die sewe vorste van die Perse en Meders wat die aangesig van die koning
gesien het, wat vooraan gesit het in die koninkryk--
15 wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti, omdat sy die bevel van
koning Ahasvéros, deur middel van sy hofdienaars, nie opgevolg het nie?
16 Toe sê Memúgan voor die koning en die vorste: Nie alleen teen die koning het
koningin Vasti misdaan nie, maar ook teen al die vorste en al die volke wat in
al die provinsies van koning Ahasvéros is.
17 Want die geval van die koningin sal by al die vroue bekend word, sodat dit
hulle manne in hul oë veragtelik sal maak as daar gesê word: Koning Ahasvéros
het bevel gegee om koningin Vasti voor hom te bring, maar sy het nie gekom nie.
18 Dieselfde dag nog sal die vorstinne van die Perse en Meders, as hulle die
geval van die koningin hoor, dit aan al die vorste van die koning vertel; en dan
sal dit genoeg veragting en gramskap afgee!
19 As die koning dit goedvind, laat daar 'n koninklike woord van hom uitgaan en
beskrywe word in die wette van die Perse en Meders, sodat dit onherroeplik is,
dat Vasti nie meer voor koning Ahasvéros mag kom nie; en laat die koning haar
koninklike waardigheid aan haar naaste gee wat beter is as sy.
20 As dan van die bevelskrif van die koning gehoor word wat hy in sy hele
koninkryk--want dit is groot--uitvaardig, sal al die vroue aan hulle manne eer
bewys, van die grootste tot die kleinste.
21 En die woord was goed in die oë van die koning en van die vorste, en die
koning het gehandel volgens die raad van Memúgan.
22 En hy het briewe gestuur aan al die provinsies van die koning, aan elke
provinsie volgens sy eie skrif en aan elke volk volgens sy eie taal, dat elke
man in sy huis baas moet wees en sy volkstaal praat.
2
1 Toe ná die dinge die woede van koning Ahasvéros bedaar het, het hy aan Vasti
gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is.
2 Toe sê die jongmanne van die koning wat hom dien: Laat hulle vir die koning
jongmeisies soek wat mooi van aansien is;
3 en laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat
hulle al die jongmeisies wat mooi van aansien is, bymekaar laat kom in die
vesting Susan, in die vrouehuis, onder toesig van Hegai, die hofdienaar van die
koning, die bewaker van die vroue; en laat hulle skoonheidsmiddele aan hulle
gee.
4 En die jongmeisie wat die koning geval, moet in die plek van Vasti koningin
word. Hierdie woord dan was goed in die oë van die koning, en hy het so gedoen.
5 Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van Mórdegai, die
seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet,
6 wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes
gaan saam met Jegónja, die koning van Juda, wat Nebukadnésar, die koning van
Babel, weggevoer het.
7 En hy was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want
sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte
en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai
haar as sy dogter aangeneem.
8 En toe die bevel van die koning en sy wet bekend gemaak is, en baie meisies in
die vesting Susan onder toesig van Hegai byeengebring is, het hulle Ester ook
saamgeneem na die paleis van die koning, onder toesig van Hegai, die bewaker van
die vroue.
9 En die meisie het hom geval en guns by hom gevind; daarom het hy gou gemaak om
haar die nodige skoonheidsmiddele en die regte ete te gee en haar die sewe
uitgesoekte meisies uit die paleis van die koning te verskaf; en hy het haar met
haar meisies verplaas na die beste gedeelte van die vrouehuis.
10 Ester het haar volk en haar afkoms nie te kenne gegee nie, omdat Mórdegai
haar beveel het om dit nie te vertel nie.
11 En Mórdegai het dag vir dag voor die voorhof van die vrouehuis gewandel om te
verneem na die welstand van Ester en wat met haar sou gebeur.
12 En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasvéros in te gaan,
nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel
is--want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met
mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddele van die vroue--
13 as die meisie dan so na die koning ingaan, word alles wat sy sê, aan haar
gegee, dat dit saam met haar uit die vrouehuis na die koninklike paleis kan
gaan.
14 As sy in die aand ingaan en in die môre terugkom na die tweede vrouehuis
onder toesig van Saäsgas, die hofdienaar van die koning wat die byvroue bewaak,
dan mag sy nie weer by die koning ingaan nie, behalwe as die koning behae in
haar vind en sy by die naam geroep word.
15 Toe die beurt van Ester, die dogter van Abígail, die oom van Mórdegai, wat
haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks
verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue
bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien
het.
16 Ester is toe by koning Ahasvéros in sy koninklike paleis opgeneem in die
tiende maand, dit is die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering.
17 En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en
welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die
koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak in die plek van
Vasti.
18 En die koning het 'n groot maaltyd aangerig vir al sy vorste en sy dienaars,
die maaltyd van Ester; en hy het 'n vrye dag bepaal vir die provinsies en
geskenke gegee, eg koninklik!
19 En toe die jongmeisies vir die tweede keer versamel is, terwyl Mórdegai in
die poort van die koning sit--
20 Ester het haar afkoms en haar volk nie te kenne gegee nie, soos Mórdegai haar
beveel het; en Ester het die bevel van Mórdegai opgevolg soos toe sy by hom
opgevoed is--
21 in dié dae dan, terwyl Mórdegai in die poort van die koning sit, het Bigtan
en Teres, twee hofdienaars van die koning, drumpelwagters, kwaad geword en
getrag om die hand aan koning Ahasvéros te slaan.
22 Maar Mórdegai het dit te wete gekom en dit aan koningin Ester meegedeel; en
Ester het dit uit naam van Mórdegai aan die koning gesê.
23 Toe die saak ondersoek en so bevind is, is hulle twee aan 'n galg opgehang;
en dit is in die kroniekboek voor die koning beskrywe.
3
1 Ná hierdie dinge het koning Ahasvéros Haman, die seun van Hammedáta, die
Agagiet, groot gemaak en hom verhoog en sy setel hoër gestel as dié van al die
vorste wat by hom was.
2 En al die dienaars van die koning wat in die poort van die koning was, het
gebuig en voor Haman neergeval; want so het die koning aangaande hom bevel
gegee; maar Mórdegai het nie gebuig of neergeval nie.
3 En die dienaars van die koning, in die poort van die koning, het aan Mórdegai
gesê: Waarom oortree jy die gebod van die koning?
4 En toe hulle hom dit elke dag sê, en hy nie na hulle luister nie, het hulle
dit aan Haman meegedeel om te sien of die handelwyse van Mórdegai sou standhou,
want hy het hulle te kenne gegee dat hy 'n Jood was.
5 Toe Haman sien dat Mórdegai nie buig en voor hom nie neerval nie, was Haman
met woede vervul.
6 Maar hy het dit vir hom te gering geag om die hand aan Mórdegai alleen te
slaan; want hulle het hom die volk van Mórdegai te kenne gegee. Daarom het Haman
daarna gesoek om al die Jode wat in die hele koninkryk van Ahasvéros was, die
volk van Mórdegai, te verdelg.
7 In die eerste maand, dit is die maand Nisan, in die twaalfde jaar van koning
Ahasvéros, het hulle die Pur, dit is die lot, voor Haman gewerp vir elke dag en
vir elke maand, twaalf in getal, dit is die maand Adar.
8 Toe sê Haman aan koning Ahasvéros: Daar is een volk wat verstrooid en
afgesonderd is tussen die volke in al die provinsies van u koninkryk, en hulle
wette is anders as dié van enige volk; ook hou hulle die wette van die koning
nie, sodat dit die koning nie pas om hulle te laat begaan nie.
9 As die koning dit goedvind, laat daar dan geskrywe word om hulle te verdelg,
en ek sal tien duisend talente silwer afweeg in die hande van die beamptes om
dit by die skatte van die koning te voeg.
10 Toe trek die koning sy seëlring van sy hand af en gee dit aan Haman, die seun
van Hammedáta, die Agagiet, die teëstander van die Jode.
11 En die koning het aan Haman gesê: Die silwer word jou geskenk; ook die volk,
om daarmee te doen soos goed is in jou oë.
12 Toe is die skrywers van die koning geroep in die eerste maand, op die
dertiende dag daarvan, en daar is geskrywe net soos Haman beveel het aan die
landvoogde van die koning en aan die goewerneurs wat oor elke provinsie was, en
aan die vorste van elke volk, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke
volk in sy taal; in die naam van koning Ahasvéros is dit geskrywe en verseël met
die seëlring van die koning.
13 En briewe is gestuur met die hardlopers na al die provinsies van die koning
om al die Jode te verdelg, dood te maak en uit te roei, die seun sowel as die
grysaard, die kindertjies en die vroue, op een dag, op die dertiende van die
twaalfde maand, dit is die maand Adar, en om hulle besittings as buit te
plunder.
14 'n Afskrif van die bevelskrif moes as wet in elke provinsie uitgevaardig en
openbaar gemaak word aan al die volke, om gereed te wees teen daardie dag.
15 Die hardlopers het haastig op bevel van die koning uitgegaan, en die wet is
in die vesting Susan uitgevaardig terwyl die koning en Haman sit en drink; maar
die stad Susan was in verwarring.
4
1 Toe Mórdegai verneem alles wat gebeur het, het Mórdegai sy klere geskeur en 'n
roukleed aangetrek, en daar was as op sy hoof; en hy het uitgegaan dwarsdeur die
stad en hardop en bitter geskreeu.
2 So het hy dan tot voor die poort van die koning gekom; want niemand het met 'n
roukleed aan by die poort van die koning mag ingaan nie.
3 En in al die provinsies waar die bevel van die koning en sy wet ook al aankom,
was daar groot rou onder die Jode met vas en geween en rouklag; baie het sak en
as onder hulle uitgesprei.
4 Toe die meisies van Ester en haar hofdienaars kom en haar dit meedeel, was die
koningin baie beangs, en sy het klere gestuur om Mórdegai dit aan te trek en om
sy roukleed van hom weg te neem; maar hy het dit nie aangeneem nie.
5 Hierop roep Ester Hatag, een van die hofdienaars van die koning, wat hy in
haar diens gestel het, en beveel hom om na Mórdegai te gaan om te verneem wat
dit beteken en waarom dit gebeur.
6 En Hatag het uitgegaan na Mórdegai na die stadsplein wat voor die poort van
die koning gelê het.
7 Toe deel Mórdegai hom mee alles wat hom oorgekom het, en die juiste bedrag van
die silwer wat Haman beloof het om in die skatte van die koning af te weeg as
prys vir die Jode om hulle uit te roei.
8 En hy het hom 'n afskrif gegee van die bevelskrif wat in Susan uitgevaardig
was om hulle te verdelg, sodat hy dit aan Ester kon wys en haar die saak kon
meedeel en haar kon opdra om na die koning te gaan om hom genade te vra en by
hom 'n voorspraak te wees vir haar volk.
9 Daarop het Hatag ingegaan en die woorde van Mórdegai aan Ester meegedeel.
10 Toe sê Ester vir Hatag, terwyl sy hom 'n opdrag gee aan Mórdegai:
11 Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning
weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan,
sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe
wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou
al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie.
12 En hulle het die woorde van Ester aan Mórdegai meegedeel.
13 Daarop sê Mórdegai dat hulle Ester moes antwoord: Verbeel jou nie dat jy
alleen uit al die Jode in die huis van die koning sal vrykom nie.
14 Want as jy nou werklik swyg, sal daar van 'n ander kant af verligting en
redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie
weet of jy nie met die oog op 'n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid
geraak het nie?
15 Toe sê Ester dat hulle Mórdegai moes antwoord:
16 Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my
ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook
met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie
volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om.
17 En Mórdegai het heengegaan en gedoen net soos Ester hom opgedra het.
5
1 Op die derde dag het Ester haar koninklik aangetrek en gaan staan in die
binneste voorhof van die paleis van die koning, teenoor die saal van die koning,
terwyl die koning op sy koninklike troon sit in die koninklike saal, teenoor die
ingang van die saal.
2 En net toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy genade
in sy oë gevind; en die koning het die goue septer wat in sy hand was, na Ester
uitgesteek; en Ester het nader gekom en die punt van die septer aangeraak.
3 Toe sê die koning vir haar: Wat wil jy hê, koningin Ester, of wat is jou
versoek? Al was dit ook die helfte van die koninkryk--dit sal jou gegee word.
4 Daarop antwoord Ester: As die koning dit goedvind, laat die koning dan vandag
met Haman na die maaltyd kom wat ek vir hom berei het.
5 En die koning sê: Bring Haman gou, dat ons kan handel volgens die woord van
Ester! En die koning en Haman het gegaan na die maaltyd wat Ester berei het.
6 En terwyl hulle wyn drink, sê die koning vir Ester: Wat is jou bede? --dit sal
jou toegestaan word. En wat is jou versoek? Al was dit ook die helfte van die
koninkryk--daaraan sal voldoen word.
7 Daarop antwoord Ester en sê: My bede en my versoek is:
8 As ek genade gevind het in die oë van die koning, en as die koning dit
goedvind om my bede toe te staan en aan my versoek te voldoen, laat die koning
en Haman na die maaltyd kom wat ek vir hulle sal berei, dan sal ek môre na die
wens van die koning handel.
9 En op dié dag het Haman bly en opgeruimd heengegaan; maar toe Haman Mórdegai
in die poort van die koning sien en dat hy nie opstaan of vir hom bevrees is
nie, was Haman met woede vervul teen Mórdegai.
10 Maar Haman het hom bedwing; en toe hy by sy huis kom, laat hy sy vriende en
sy vrou Seres haal;
11 en Haman vertel hulle van die heerlikheid van sy rykdom en van die veelheid
van sy seuns en van alles waarin die koning hom groot gemaak het en hoe hy hom
verhef het bo die vorste en die dienaars van die koning.
12 Verder sê Haman: Selfs het koningin Ester niemand saam met die koning na die
maaltyd laat kom wat sy aangerig het nie, as net vir my, en ook vir môre is ek
deur haar genooi saam met die koning.
13 Maar dit alles baat my niks, solank as ek die Jood Mórdegai in die poort van
die koning sien sit.
14 Toe sê sy vrou Seres en al sy vriende vir hom: Laat hulle 'n galg van vyftig
el hoog maak, en sê môre vroeg aan die koning dat hulle Mórdegai daaraan moet
ophang; gaan dan vrolik saam met die koning na die maaltyd. Dié woord het Haman
geval, en hy het die galg laat maak.
6
1 In dieselfde nag het die slaap van die koning gewyk, en hy het gesê dat hulle
die gedenkskrif, die kronieke, moes bring. En toe dit die koning voorgelees
word,
2 vind hulle daar beskrywe dat Mórdegai openbaar gemaak het dat Bigtána en
Teres, twee hofdienaars van die koning, uit die drumpelwagters, getrag het om
die hand aan koning Ahasvéros te slaan.
3 Daarop sê die koning: Watter eer en verhoging het Mórdegai daarvoor te beurt
geval? En die jongmanne van die koning, sy dienaars, het geantwoord: Met hom het
niks gebeur nie.
4 Toe sê die koning: Wie is in die voorhof? --juis toe Haman in die buitenste
voorhof van die koninklike paleis kom om aan die koning te sê dat hulle Mórdegai
moes ophang aan die galg wat hy vir hom laat oprig het.
5 En die jongmanne van die koning antwoord hom: Daar staan Haman in die voorhof.
Toe sê die koning: Laat hy inkom.
6 Nadat Haman ingekom het, vra die koning hom: Wat moet met die man gedoen word
aan wie die koning eer wil bewys? Haman dink toe by homself: Aan wie sou die
koning eer wil bewys meer as aan my?
7 Daarom het Haman vir die koning gesê: Die man aan wie die koning eer wil
bewys--
8 laat hulle 'n koninklike kleed bring waarmee die koning bekleed was, en 'n
perd waar die koning op gery het en op die kop waarvan 'n koninklike kroon gesit
is;
9 en laat hulle die kleed en die perd afgee aan een van die vorste van die
koning, van die vername manne, dat hulle dit die man aantrek aan wie die koning
eer wil bewys; en hulle moet hom laat ry op die perd oor die stadsplein en voor
hom uitroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.
10 Toe sê die koning vir Haman: Neem gou die kleed en die perd soos jy gespreek
het, en doen so aan Mórdegai, die Jood, wat in die poort van die koning sit; jy
moet nie een woord onvervuld laat bly van alles wat jy gespreek het nie.
11 En Haman het die kleed geneem en die perd, en hy het Mórdegai aangetrek en
hom laat ry oor die stadsplein en voor hom uitgeroep: So word gedoen aan die man
aan wie die koning eer wil bewys.
12 Daarna het Mórdegai teruggegaan na die poort van die koning; maar Haman het
hom gehaas na sy huis toe, treurig en met bedekte hoof.
13 En Haman het aan sy vrou Seres en al sy vriende vertel alles wat hom oorgekom
het. Toe sê sy wyse manne en sy vrou Seres vir hom: As Mórdegai voor wie jy
alreeds begin val het, uit die geslag van die Jode is, sal jy niks teen hom kan
uitrig nie, maar heeltemal voor hom val.
14 Onderwyl hulle nog met hom spreek, kom die hofdienaars van die koning aan, en
hulle het Haman gou na die maaltyd gebring wat Ester gereedgemaak het.
7
1 Toe die koning en Haman inkom om saam met koningin Ester die feesmaal te hou,
2 sê die koning aan Ester ook op die tweede dag, terwyl hulle wyn drink: Wat is
jou bede, koningin Ester? --dit sal jou toegestaan word. En wat is jou versoek?
Al was dit die helfte van die koninkryk--daaraan sal voldoen word.
3 En koningin Ester antwoord en sê: As ek genade in u oë gevind het, o koning,
en as die koning dit goedvind, laat my lewe my geskenk word op my bede en my
volk op my versoek.
4 Want ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, gedood en uitgeroei te word.
Was ons nog as slawe en slavinne verkoop, dan sou ek geswyg het, maar hierdie
ramp sal onder die verliese van die koning sy weerga nie hê nie.
5 Toe spreek koning Ahasvéros en sê aan koningin Ester: Wie is hy, en waar is hy
wie se hart hom ingegee het om so te maak?
6 En Ester sê: Die teëstander en vyand is hierdie slegte Haman! Toe skrik Haman
voor die koning en die koningin.
7 En die koning het in sy woede van die wynmaaltyd opgestaan en na die tuin van
die paleis gegaan, terwyl Haman daar bly staan om van koningin Ester die behoud
van sy lewe af te smeek; want hy het gesien dat die onheil oor hom by die koning
vas besluit was.
8 Toe die koning uit die tuin van die paleis in die saal van die wynmaaltyd
terugkom, en Haman juis op die rusbank neergeval het waar Ester op sit, sê die
koning: Wil hy die koningin ook nog geweld aandoen by my in die huis? Die woord
was nouliks uit die mond van die koning of hulle het die gesig van Haman bedek.
9 Daarop sê Harbóna, een van die hofdienaars voor die koning: Daar staan reeds
die galg wat Haman laat maak het vir Mórdegai wat ten voordele van die koning
gespreek het, by die huis van Haman, vyftig el hoog! Toe sê die koning: Hang hom
daaraan op!
10 En hulle het Haman opgehang aan die galg wat hy vir Mórdegai opgerig het, en
die woede van die koning het bedaar.
8
1 Op dieselfde dag het koning Ahasvéros aan koningin Ester die huis gegee van
Haman, die teëstander van die Jode; en Mórdegai het voor die koning gekom, want
Ester het vertel wat hy van haar was.
2 En die koning het sy seëlring uitgetrek wat hy van Haman afgeneem het, en dit
aan Mórdegai gegee; en Ester het Mórdegai aangestel oor die huis van Haman.
3 En Ester het weer voor die koning gespreek en voor sy voete neergeval en
geween en hom gesmeek om die onheil van Haman, die Agagiet, en sy plan wat hy
teen die Jode beraam het, te verydel.
4 En die koning het die goue septer na Ester uitgesteek, en Ester het haar
opgerig en voor die koning gaan staan
5 en gesê: As die koning dit goedvind en ek genade voor hom gevind het en die
saak reg is voor die koning en ek welgevallig is in sy oë, laat dan geskrywe
word om die briewe met die plan van Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet,
te herroep wat hy geskrywe het om die Jode wat in al die provinsies van die
koning is, uit te roei.
6 Want hoe sou ek kan aansien die onheil wat my volk sal tref? En hoe sou ek kan
aansien die ondergang van my geslag?
7 Toe sê koning Ahasvéros aan koningin Ester en aan die Jood Mórdegai: Kyk, die
huis van Haman het ek aan Ester gegee, en hom het hulle aan die galg opgehang,
omdat hy sy hand teen die Jode uitgesteek het.
8 Skryf julle maar, wat die Jode betref, soos julle dit goedvind uit naam van
die koning, en verseël dit met die seëlring van die koning; want 'n geskrif, in
naam van die koning geskrywe en verseël met die seëlring van die koning, kan nie
herroep word nie.
9 Toe is in dieselfde tyd die skrywers van die koning geroep, in die derde
maand, dit is die maand Siwan, op die drie en twintigste daarvan; en daar is
geskrywe net soos Mórdegai beveel het, aan die Jode en aan die landvoogde en die
goewerneurs en die vorste van die provinsies wat van Indië af tot by Kus lê,
honderd sewe en twintig provinsies, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan
elke volk in sy taal, en aan die Jode volgens hulle skrif en in hulle taal--
10 hy het laat skrywe uit naam van koning Ahasvéros en dit verseël met die
seëlring van die koning en briewe gestuur met rapportgangers te perd wat gery
het op koninklike renperde uit die stoetery,
11 dat die koning aan die Jode wat in elke stad woon, toegestaan het om bymekaar
te kom en hulle lewe te verdedig, deur te verdelg en dood te maak en uit te roei
elke gewapende mag van volk of provinsie wat hulle in benoudheid mag bring, saam
met kindertjies en vroue, en hulle besittings as buit te plunder,
12 op een dag in al die provinsies van koning Ahasvéros, op die dertiende van
die twaalfde maand, dit is die maand Adar.
13 'n Afskrif van die bevelskrif moes as wet uitgevaardig word in elke
provinsie, openbaar gemaak aan al die volke, sodat die Jode op dié dag gereed
moes wees om hulle op hul vyande te wreek.
14 Die rapportgangers wat op die koninklike renperde gery het, het op bevel van
die koning haastig en gou weggegaan, en die wet is in die vesting Susan
uitgevaardig.
15 En Mórdegai het van die koning weggegaan in 'n koninklike kleed van pers en
wit, met 'n groot goue kroon op en 'n mantel van fyn linne en purperrooi stof,
terwyl die stad Susan jubel en vrolik was.
16 Vir die Jode was daar lig en vrolikheid en vreugde en eer;
17 en in al die provinsies en in al die stede waar die bevel van die koning en
sy wet ook al aangekom het, was daar vrolikheid en vreugde by die Jode, maaltyd
en feesdag; en baie uit die volke van die land het Jode geword, want die skrik
vir die Jode het op hulle geval.
9
1 En in die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende dag daarvan,
toe die bevel van die koning en sy wet uitgevoer sou word, op die dag toe die
vyande van die Jode gehoop het om hulle te oorweldig--maar dit net omgekeerd
was, sodat juis die Jode hulle haters sou oorweldig--
2 het die Jode saamgekom in hulle stede in al die provinsies van koning
Ahasvéros om die hand te slaan aan die wat hulle onheil gesoek het; en niemand
het voor hulle standgehou nie, want die skrik vir hulle het op al die volke
geval.
3 En al die vorste van die provinsies en die landvoogde en die goewerneurs en
die beamptes van die koning het die Jode ondersteun, want die skrik vir Mórdegai
het op hulle geval.
4 Want Mórdegai was groot in die paleis van die koning, en sy gerug het deur al
die provinsies gegaan, omdat die man Mórdegai al groter geword het.
5 En die Jode het onder hulle vyande 'n slagting aangerig deur die swaard en
deur doodslag en verdelging, en met hulle haters na hulle goedvinde gehandel.
6 En in die vesting Susan het die Jode vyf honderd man gedood en uitgeroei;
7 en Parsandáta en Dalfon en Aspáta,
8 en Poráta en Adálja en Aridáta,
9 en Parmásta en Arísai en Arídai en Waisáta,
10 die tien seuns van Haman, die seun van Hammedáta, die teëstander van die
Jode, het hulle gedood, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie.
11 Op dieselfde dag het die getal van die wat in die vesting Susan gedood is,
voor die koning gekom;
12 en die koning het aan koningin Ester gesê: In die vesting Susan het die Jode
vyf honderd man gedood en uitgeroei benewens die tien seuns van Haman; wat sou
hulle wel in die ander provinsies van die koning gedoen het? Wat is dan jou
bede? --dit sal jou toegestaan word. En wat is verder jou versoek? --daaraan sal
voldoen word.
13 Toe sê Ester: As die koning dit goedvind, laat môre ook aan die Jode wat in
Susan is, toegestaan word om te handel volgens die wet wat geld vir vandag; en
laat hulle die tien seuns van Haman aan die galg ophang.
14 En die koning het bevel gegee om so te doen; en 'n wet is in Susan
uitgevaardig, en hulle het die tien seuns van Haman opgehang.
15 En die Jode wat in Susan was, het ook op die veertiende dag van die maand
Adar saamgekom; en hulle het in Susan drie honderd man gedood, maar na die buit
hulle hand nie uitgesteek nie.
16 En die ander Jode wat in die provinsies van die koning was, het saamgekom en
hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; en hulle het onder hul haters vyf
en sewentig duisend omgebring, maar na die buit hulle hand nie uitgesteek nie.
17 Dit was op die dertiende dag van die maand Adar; en op die veertiende daarvan
het hulle gerus en dit 'n dag van maaltyd en vrolikheid gemaak.
18 Maar die Jode wat in Susan was, het op die dertiende en die veertiende
daarvan byeengekom, en op die vyftiende daarvan gerus, sodat hulle dit 'n dag
van maaltyd en vrolikheid gemaak het.
19 Daarom maak die Jode wat buite in die onbemuurde stede woon, van die
veertiende dag van die maand Adar 'n dag van vrolikheid en maaltyd en 'n feesdag
waarop hulle mekaar lekkernye stuur.
20 En Mórdegai het hierdie dinge opgeskrywe en briewe gestuur aan al die Jode
wat in al die provinsies van koning Ahasvéros was, die wat naby en die wat ver
was,
21 om vir hulle vas te stel dat hulle al jare die veertiende dag van die maand
Adar en die vyftiende daarvan moes vier--
22 as die dae waarop die Jode rus gekry het van hulle vyande, en die maand wat
vir hulle van kommer in vrolikheid en van rou in 'n feesdag verander is--dat
hulle daar dae van maaltyd en vrolikheid van moes maak en om mekaar lekkernye en
aan die armes gawes te stuur.
23 En die Jode het as insetting aangeneem wat hulle begin het om te doen en wat
Mórdegai aan hulle geskryf het.
24 Want Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, teëstander van al die Jode,
het 'n plan beraam teen die Jode om hulle uit te roei, en die Pur, dit is die
lot, gewerp om hulle te vernietig en hulle uit te roei.
25 Maar toe dit voor die koning kom, het hy skriftelik bevel gegee dat sy
goddelose plan wat hy teen die Jode uitgedink het, op sy eie hoof moes neerkom;
en hulle het hom en sy seuns aan die galg opgehang.
26 Daarom noem hulle dié dae Purim, na die naam Pur. Hierom, vanweë al die
woorde van daardie brief en wat hulle self daarvan gesien het en wat hulle
oorgekom het,
27 het die Jode vasgestel en as insetting aangeneem vir hulle en hulle nageslag
en vir almal wat hulle by hulle sou aansluit, sodat dit onherroeplik sou wees,
dat hulle dié twee dae al jare sou hou volgens die voorskrif daaromtrent en op
die bepaalde tyd;
28 en dat dié dae herdenk en gehou moet word in al die geslagte, families,
provinsies en stede, en dat dié Purim-dae onder die Jode nie afgeskaf mag word
nie en die gedagtenis daaraan onder hulle nageslag nie mag ophou nie.
29 En koningin Ester, die dogter van Abígail, en die Jood Mórdegai het met alle
nadruk geskrywe om hierdie tweede brief oor die Purim krag te verleen.
30 En hy het briewe gestuur aan al die Jode in die honderd sewe en twintig
provinsies, die koninkryk van Ahasvéros, woorde van vrede en trou,
31 om dié Purim-dae op hulle bepaalde tye vas te stel soos die Jood Mórdegai en
koningin Ester dit vir hulle verorden het, en soos hulle vir hulself en hul
nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag
vasgestel het.
32 En die bevel van Ester het die voorskrifte vir hierdie Purim vasgestel, en
dit is in 'n boek geskrywe.
10
1 Daarna het koning Ahasvéros 'n belasting op die land en op die kuslande van
die see gelê.
2 En al die dade van sy mag en sterkte en die noukeurige berig oor die grootheid
van Mórdegai waartoe die koning hom verhoog het, is dit nie beskrywe in die
kroniekboek van die konings van Medië en Persië nie?
3 Want die Jood Mórdegai was die tweede in rang onder koning Ahasvéros; en hy
was groot by die Jode en 'n liefling by die menigte van sy broers, omdat hy die
heil van sy volk gesoek en tot welsyn van sy hele nageslag gespreek het.