H a g g a ï 1
1 In die tweede jaar van koning Daríus, op die eerste dag van die sesde maand,
het die woord van die HERE deur die diens van die profeet Haggai gekom tot
Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en tot Josua, die
seun van Jósadak, die hoëpriester, en gesê:
2 So spreek die HERE van die leërskare: Hierdie volk sê: Nog het die tyd nie
gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie.
3 So het die woord van die HERE dan gekom deur die diens van die profeet Haggai
en gesê:
4 Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl
hierdie huis in puin lê?
5 So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het:
6 julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot
versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul
geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om
dit in 'n stukkende beurs te steek.
7 So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!
8 Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek 'n welgevalle
daaraan hê en My verheerlik, sê die HERE.
9 Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in
die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die HERE van die
leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy
eie huis hardloop.
10 Daarom het die hemel bo julle die dou ingehou en die aarde het sy opbrings
teruggehou.
11 En Ek het droogte oor die land geroep en oor die berge en oor die koring en
oor die mos en oor die olie en oor alles wat die grond oplewer; en oor die mense
en oor die diere en oor alle arbeid van die hande.
12 Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Josua, die seun van Jósadak,
die hoëpriester, en die hele oorblyfsel van die volk gehoor gegee aan die stem
van die HERE hulle God en aan die woorde van Haggai, die profeet, volgens die
opdrag waarmee die HERE hulle God hom gestuur het; en die volk was vervul met
vrees voor die aangesig van die HERE.
13 Daarop het Haggai, die boodskapper van die HERE, kragtens die boodskap van
die HERE, met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek die HERE.
14 En die HERE het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die
goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die
hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe
het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare,
hulle God.
15 Dit was op die vier en twintigste dag van die sesde maand, in die tweede jaar
van koning Daríus.
2
1 Op die een en twintigste dag van die sewende maand het die woord van die HERE
deur die diens van die profeet Haggai gekom en gesê:
2 Spreek tog met Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en
met Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en met die oorblyfsel van die
volk en sê:
3 Wie is onder julle nog oor wat hierdie huis in sy vroeëre heerlikheid gesien
het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk dit nie net soos niks in julle oë nie?
4 Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die HERE, en skep moed, Josua,
hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land,
spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die
leërskare,
5 met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog
uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees
nie!
6 Want so sê die HERE van die leërskare: 'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal
Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe.
7 Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal
toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die
leërskare.
8 Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die HERE van die
leërskare.
9 Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre,
sê die HERE van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die
HERE van die leërskare.
10 Op die vier en twintigste van die negende maand in die tweede jaar van Daríus,
het die woord van die HERE gekom deur die diens van die profeet Haggai en gesê:
11 So sê die HERE van die leërskare: Vra tog aan die priesters inligting uit die
wet en sê:
12 As iemand heilige vleis in die slip van sy kleed dra, en hy sou met sy slip
aan brood raak of iets wat gekook is, of wyn of olie of watter spys ook al, sal
dit heilig word? En die priesters het geantwoord en gesê: Nee.
13 Daarop sê Haggai: As iemand wat deur 'n lyk verontreinig is, aan al hierdie
dinge sou raak, sal dit onrein wees? En die priesters het geantwoord en gesê:
Dit sal onrein wees.
14 Toe antwoord Haggai en sê: Só is in my oë hierdie volk en só hierdie nasie,
spreek die HERE, en só is al die werk van hulle hande en wat hulle dáár offer--onrein
is dit.
15 Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug! Voordat hulle steen op steen
gelê het in die tempel van die HERE,
16 in dié tyd het iemand gekom by 'n koringmied van twintig maat, en daar was
maar tien; hy het gekom by die parskuip om vyftig emmers te skep, en daar was
maar twintig.
17 Ek het julle swaar getref met brandkoring en heuningdou en hael--al die werk
van julle hande--nogtans het niemand van julle hom tot My gewend nie, spreek die
HERE.
18 Merk tog op, van hierdie dag af terug, van die vier en twintigste dag van die
negende maand, naamlik van die dag af toe hulle die fondament van die tempel van
die HERE gelê het; merk op:
19 Is daar nog saad in die skuur? Ja, selfs die wingerdstok en die vyeboom en
die granaatboom en die olyfboom het niks opgelewer nie. Van hierdie dag af sal
Ek seën.
20 Vir die tweede maal het die woord van die HERE tot Haggai gekom op die vier
en twintigste van die maand en gesê:
21 Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en
die aarde laat bewe.
22 En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke
verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde
en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander.
23 In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel,
seun van Seáltiël, my kneg, spreek die HERE, en jou maak tot 'n seëlring, want
jou het Ek verkies, spreek die HERE van die leërskare.