J o ë l 1
1 Die woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Pétuel, gekom het.
2 Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit
in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind?
3 Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle
kinders aan die volgende geslag:
4 Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die
treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die
voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind.
5 Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die
mos, omdat dit van julle mond weggeruk is.
6 Want 'n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is
leeutande, en dit kan byt soos 'n leeuin.
7 Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas
afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword.
8 Weeklaag soos 'n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met 'n roukleed
omgord is.
9 Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die HERE; die priesters,
die dienaars van die HERE, treur.
10 Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos
het weggedroog, die olie het verdwyn.
11 Die landbouers staan beskaamd, die wynboere weeklaag oor die koring en oor
die gars, omdat die oes op die land verlore is.
12 Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die
palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die
vreugde, weg van die mensekinders af.
13 Omgord julle en klaag, o priesters! Huil, dienaars van die altaar! Kom,
vernag in rouklere, dienaars van my God! Want die spysoffer en die drankoffer is
geweer van die huis van julle God.
14 Heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle
inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE.
15 Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos 'n verwoesting
van die Almagtige.
16 Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie, blydskap en gejuig weg uit die huis
van onse God?
17 Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is
verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor.
18 Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir
hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet.
19 Tot U, o HERE, roep ek, want 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer,
en 'n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek.
20 Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog,
en 'n vuur het die weivelde van die woestyn verteer.
2
1 Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die
inwoners van die land bewe, want die dag van die HERE kom, want hy is naby--
2 'n dag van duisternis en donkerheid, 'n dag van wolke en wolkenag; soos die
môreskemering, uitgesprei oor die berge, kom 'n talryke en magtige volk, wat van
oudsher sy gelyke nie gehad het nie en dit hierna ook nie sal hê tot in die jare
van die verste geslagte nie.
3 Voor hom uit verteer 'n vuur, en agter hom brand 'n vlam; voor hom lyk die
land soos die tuin van Eden, en agter hom is dit 'n woeste wildernis; ook kan
niks daaraan ontkom nie.
4 Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle.
5 Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter
van 'n vuurvlam wat die kaf verteer, soos 'n magtige volk wat vir die geveg
opgestel is.
6 Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek.
7 Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen
gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie.
8 En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens
deur val hulle; maar hulle bly in gelid.
9 Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise,
hulle dring by die vensters in soos 'n dief.
10 Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart,
en die sterre trek hulle glans in.
11 En die HERE verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy
leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die HERE is groot
en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?
12 Maar selfs nou nog, spreek die HERE, bekeer julle tot My met julle hele hart,
en met vas en geween en rouklag.
13 En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE
julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van
goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;
14 wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy 'n seën sal agterlaat--'n
spysoffer en 'n drankoffer aan die HERE julle God.
15 Blaas die basuin op Sion, heilig 'n vasdag, roep 'n vergadering saam!
16 Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die
kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid
uit haar slaapvertrek.
17 Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die
altaar ween en sê: o HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid,
dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is
hulle God?
18 Toe het die HERE geywer vir sy land en sy volk verskoon.
19 En die HERE het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle
koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie
meer tot 'n voorwerp van smaad onder die nasies nie.
20 Ja, Ek sal die sprinkaanswerm, uit die noorde afkomstig, van julle af wegjaag
en dit wegdrywe na 'n dor en woeste land; sy voorhoede na die Oostelike See en
sy agterhoede na die Westelike See toe. En sy stank sal opstyg, en 'n slegte
reuk uit hom opgaan; want hy het alte groot dinge gedoen.
21 Wees nie bevrees nie, o aarde, juig en wees bly, want die HERE doen groot
dinge!
22 Wees nie bevrees nie, diere van die veld, want die weivelde van die woestyn
spruit uit, want die bome dra hulle vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer
hulle drag!
23 En julle, kinders van Sion, juig en wees bly in die HERE julle God, want Hy
gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die
vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.
24 Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie
oorloop.
25 En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die
kaalvreter en die afknyper verslind het--my groot leërmag wat Ek teen julle
gestuur het.
26 Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle
God prys wat wonderbaar met julle gehandel het, en my volk sal in ewigheid nie
beskaamd staan nie.
27 En julle sal weet dat Ek in die midde van Israel is, en dat Ek die HERE julle
God is, en niemand anders nie; en my volk sal in ewigheid nie beskaamd staan nie.
28 En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle
dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.
29 En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees
uitgiet.
30 En Ek sal wondertekens gee aan die hemel en op die aarde: bloed en vuur en
rookpilare.
31 Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die
groot en deurlugtige dag van die HERE kom.
32 En elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word; want op die berg
Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder
die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep.
3
1 Want kyk, in dié dae en in dié tyd wanneer Ek die lot van Juda en Jerusalem
verander,
2 sal Ek al die nasies versamel en hulle na die dal van Jósafat laat aftrek, om
daar met hulle 'n strafgerig te hou ter wille van my volk en my erfdeel Israel
wat hulle onder die nasies verstrooi het, en my land wat hulle verdeel het.
3 En oor my volk het hulle die lot gewerp en 'n jong seun weggegee vir 'n hoer
en 'n meisie verkoop vir wyn en dit gedrink.
4 En ook, wat het julle met My te doen, o Tirus en Sidon en al die landstreke
van Filistéa? Wil julle My iets vergelde, of wil julle My iets aandoen? Gou,
ylings sal Ek julle dade op julle hoof laat neerkom.
5 Want julle het my silwer en my goud geneem en my kosbare skatte na julle
tempels gebring.
6 Verder het julle die kinders van Juda en die kinders van Jerusalem aan die
kinders van Jawan verkoop, om hulle ver van hul grondgebied te verwyder.
7 Kyk, Ek sal hulle laat opstaan uit die plek waarheen julle hulle verkoop het,
en julle dade op julle hoof laat neerkom.
8 En Ek sal julle seuns en julle dogters aan die kinders van Juda verkoop, en
dié sal hulle verkoop aan die Sabeërs, aan 'n verafgeleë volk want die HERE het
dit gespreek.
9 Roep dit uit onder die nasies, heilig 'n oorlog! Wek die helde op, laat al die
krygsmanne nader kom, opruk!
10 Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke
sê: Ek is 'n held.
11 Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde,
HERE, daarheen aftrek!
12 Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar
sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom.
13 Steek die sekel in, want die oes is ryp! Kom trap, want die parskuip is vol,
die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot.
14 Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die
HERE in die dal van beslissing!
15 Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in.
16 En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en
aarde bewe. Maar die HERE sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir
die kinders van Israel.
17 Dan sal julle weet dat Ek die HERE julle God is, wat woon op Sion, my heilige
berg; dan sal Jerusalem 'n heiligdom wees waar geen vreemdes meer deur sal trek
nie.
18 En op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al
die spruitjies van Juda stroom van water; en uit die huis van die HERE sal daar
'n fontein uitkom om die dal Sittim te besproei.
19 Egipte sal 'n woesteny word, en Edom 'n woeste wildernis wees, weens die
geweld wat hulle die kinders van Juda aangedoen het, dat hulle onskuldige bloed
in hul land vergiet het.
20 Maar Juda sal vir ewig bly, en Jerusalem van geslag tot geslag.
21 En Ek sal hulle bloed onskuldig verklaar, wat Ek tevore nie onskuldig
verklaar het nie; en die HERE sal op Sion bly woon.