J o n a 1
1 En die woord van die HERE het gekom tot Jona, die seun van Amíttai, en gesê:
2 Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want
hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.
3 Maar Jona het hom klaargemaak om na Tarsis te vlug, van die aangesig van die
HERE af weg; en hy het na Jafo afgegaan en 'n skip gevind wat na Tarsis sou vaar.
En hy het die reisgeld daarvoor betaal en daarin geklim om saam met hulle na
Tarsis te vaar, van die aangesig van die HERE af weg.
4 Maar die HERE het 'n sterk wind op die see gewerp, en toe daar 'n groot storm
op die see ontstaan, het die skip gevaar geloop om skipbreuk te ly.
5 Toe word die seeliede bang--hulle het elkeen tot sy god geroep en die lading
wat in die skip was, in die see gegooi om vir hulle verligting aan te bring.
Maar Jona het na die onderste dele van die skip afgeklim en daar gaan lê en vas
aan die slaap geraak.
6 Daarop kom die skeepskaptein na hom toe aan en sê vir hom: Wat makeer jou dat
jy so vas slaap? Staan op, roep tot jou God! Miskien sal dié God aan ons dink,
sodat ons nie vergaan nie.
7 Hulle sê toe vir mekaar: Kom en laat ons loot; dan sal ons weet om wie se
ontwil hierdie ramp ons getref het. En hulle het geloot, en die lot het op Jona
geval.
8 En hulle sê vir hom: Vertel ons tog om wie se ontwil hierdie ramp ons getref
het? Wat is jou nering? En waar kom jy vandaan? Wat is jou geboorteland, en uit
watter volk is jy?
9 En hy antwoord hulle: Ek is 'n Hebreër, en ek vrees die HERE, die God van die
hemel, wat die see en die droë land gemaak het.
10 Toe word die manne baie bang en sê vir hom: Wat het jy nou gedoen! Want die
manne het geweet dat hy van die aangesig van die HERE af wegvlug; want hy het
hulle dit te kenne gegee.
11 Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen
kan bedaar? --want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword.
12 En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle
heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom
het.
13 Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle
kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het.
14 Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens
die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want
U, HERE, het gedoen na u welbehae.
15 En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword
van sy onstuimigheid.
16 Toe het die manne die HERE gevrees met 'n groot vrees en 'n slagoffer aan die
HERE gebring en geloftes gedoen.
17 En die HERE het 'n groot vis beskik om Jona in te sluk; en Jona was drie dae
en drie nagte in die ingewande van die vis.
2
1 En Jona het tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis
2 en gesê: Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor;
uit die binneste van die doderyk het ek geroep om hulp--U het my stem gehoor.
3 U tog het my in die diepte gewerp, in die hart van die see, sodat 'n stroom my
omring het; al u bare en u golwe het oor my heengegaan.
4 Toe het ek gesê: Ek is weggestoot, weg van u oë; tog sal ek weer u heilige
tempel aanskou.
5 Waters het my omring tot aan die siel toe, die vloed was rondom my; seegras
was om my hoof gedraai.
6 Ek het afgedaal tot by die grondslae van die berge, die grendels van die aarde
het my vir altyd ingesluit; maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, HERE my
God!
7 Toe my siel in my versmag het, het ek aan die HERE gedink; en my gebed het tot
by U gekom in u heilige tempel.
8 Die wat nietige afgode vereer, verlaat die Een wat vir hulle goedertieren is.
9 Ek daarenteen sal aan U offer met 'n stem van lof; wat ek beloof het, sal ek
betaal. Die heil behoort aan die HERE.
10 Daarop het die HERE die vis beveel om Jona op die droë grond uit te spuug.
3
1 En die woord van die HERE het vir die tweede maal tot Jona gekom en gesê:
2 Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé, en verkondig daar die
boodskap wat Ek jou sal sê.
3 Toe maak Jona hom klaar en gaan na Ninevé volgens die woord van die HERE. En
Ninevé was 'n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet.
4 En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en
gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes.
5 En die manne van Ninevé het God geglo en 'n vasdag uitgeroep, en groot en
klein het hulle met rougewaad beklee.
6 En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon
en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit.
7 En hy het in Ninevé laat uitroep en sê: Op las van die koning en sy groot
manne--geen mens of dier, beeste of kleinvee mag aan iets proe nie, hulle mag
nie wei of water drink nie;
8 maar mens en dier moet 'n rougewaad om hê, en hulle moet ernstig tot God roep,
en elkeen moet hom van sy verkeerde weg bekeer en van die onreg wat aan sy hande
kleef.
9 Wie weet of God nie sal omkeer en berou sal hê nie, sodat Hy Hom afwend van
die gloed van sy toorn en ons nie vergaan nie?
10 En God het hulle werke gesien dat hulle hul bekeer het van hulle verkeerde
weg; toe het God berou gehad oor die onheil wat Hy gesê het dat Hy hulle sou
aandoen, en Hy het dit nie gedoen nie.
4
1 Maar Jona was hieroor erg ontstemd, en hy het kwaad geword.
2 Toe bid hy tot die HERE en sê: Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog
in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet
dat U 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van
goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.
3 o HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te
sterwe as om te lewe.
4 Daarop sê die HERE: Het jy rede om vertoornd te wees?
5 En Jona het die stad verlaat en aan die oostekant van die stad gaan sit. Daar
maak hy toe vir hom 'n skerm, en hy gaan daaronder in die skaduwee sit, totdat
hy sou sien wat met die stad gebeur.
6 Toe beskik die HERE God 'n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien
as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie
bly oor die wonderboom.
7 Maar God het die volgende môre toe die dag breek, 'n wurm beskik; en dié het
die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het.
8 En met sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof
van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê:
Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe.
9 Toe sê God vir Jona: Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? En
hy antwoord: Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe.
10 Verder sê die HERE: Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan
bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in
een nag vergaan het.
11 Maar Ek mag Ninevé, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en
twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter-- en hulle
linkerhand nie weet nie, en baie vee?