K l a a g l i e d e r e 1
1 Alef. Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was! Sy het soos 'n weduwee
geword, sy wat magtig was onder die nasies; die vorstin onder die provinsies het
dienspligtig geword.
2 Bet. Bitterlik ween sy snags--haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster
onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel,
haar vyande geword.
3 Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder
die nasies, sonder om 'n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal
tussen die engtes in.
4 Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar
poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het
dit bitter.
5 He. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die
HERE het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar
kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit.
6 Wau. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het
geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor
die vervolger uit.
7 Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al
haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk
deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie,
het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde.
8 Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy 'n voorwerp van afsku geword;
almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy
self sug en het haar weggedraai.
9 Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink
nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy 'n trooster het. Sien my
ellende aan, HERE, want die vyand hou hom groot.
10 Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het
gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle
in u vergadering nie mag kom nie.
11 Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir
voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, HERE, en merk op dat ek 'n
veragte geword het.
12 Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en
kyk of daar 'n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die HERE my
bedroef het op die dag van sy toorngloed.
13 Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy
het 'n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes
gemaak, die hele dag ellendig.
14 Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is
saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here
het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.
15 Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my 'n
feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap
vir die jonkvrou, die dogter van Juda.
16 Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die
trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand
het.
17 Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die HERE het die wat
rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde
'n voorwerp van afsku geword.
18 Sade. Regverdig is Hy, die HERE, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor
tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in
gevangenskap gegaan.
19 Kof. Ek het geroep na my liefhebbers--hulle het my in die steek gelaat; my
priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle
gesoek het om hulleself te verkwik.
20 Resj. Aanskou, HERE, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart
draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard
berowe, binnekant is dit soos die pes.
21 Sjin. Hulle hoor dat ek sug, ek het geen trooster nie; al my vyande hoor van
my onheil, hulle is bly dat U dit gedoen het. U laat die dag kom wat U uitgeroep
het, dat hulle kan wees soos ek,
22 Tau. dat al hulle boosheid voor u aangesig kom; en doen aan hulle soos U aan
my gedoen het vanweë al my oortredinge, want my versugtinge is baie, en my hart
is krank.
2
1 Alef. Ag, hoe het die Here in sy toorn die dogter van Sion met wolke oordek!
Hy het die sieraad van Israel uit die hemel op die aarde neergewerp en nie
gedink aan die voetbank van sy voete op die dag van sy toorn nie.
2 Bet. Die Here het al die woonplekke van Jakob sonder verskoning verslind; in
sy grimmigheid het Hy die vestings van die dogter van Juda verwoes, op die grond
gewerp, die koninkryk en sy vorste ontheilig.
3 Gimel. Hy het in gloeiende toorn elke horing van Israel afgekap; Hy het sy
regterhand teruggetrek voor die vyand, en in Jakob het Hy gebrand soos 'n
vuurvlam wat rondom verteer.
4 Dalet. Hy het sy boog gespan soos 'n vyand, Hom opgestel met sy regterhand
soos 'n teëstander en gedood alles wat 'n lus was vir die oog in die tent van
die dogter van Sion; Hy het sy grimmigheid uitgegiet soos vuur.
5 He. Die Here het soos 'n vyand geword, Hy het Israel verslind, al sy paleise
verslind, sy vestings verwoes en geklaag en geklag by die dogter van Juda
vermenigvuldig.
6 Wau. En Hy het sy eie omheining soos 'n tuin verniel, sy eie feesplek verwoes;
die HERE het in Sion feestyd en sabbat laat vergeet, en in sy grimmige toorn
koning en priester verwerp.
7 Sajin. Die Here het sy altaar verwerp, sy heiligdom ontheilig, die mure van
haar paleise in die hand van die vyand oorgelewer; hulle het gedruis gemaak in
die huis van die HERE soos op 'n feesdag.
8 Get. Die HERE het Hom voorgeneem om die muur van die dogter van Sion te
verwoes; Hy het die meetsnoer gespan, sy hand nie teruggetrek van vernietiging
nie; ja, Hy het voorskans en muur laat treur, saam sak hulle inmekaar.
9 Tet. Haar poorte het in die grond gesink, Hy het haar grendels te gronde gerig
en verbreek; haar koning en haar vorste is onder die heidene; daar is geen
onderwysing nie, en haar profete ontvang geen gesig van die HERE nie.
10 Jod. Die oudstes van die dogter van Sion sit en swyg op die grond, hulle het
stof op hul hoof gegooi, rouklere aangegord; die jonkvroue van Jerusalem het
hulle hoof na die aarde gebuig.
11 Kaf. My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op
die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk, omdat kind
en suigling op die pleine van die stad versmag,
12 Lamed. wat aan hulle moeders sê: Waar is koring en wyn? terwyl hulle versmag
soos gewondes op die pleine van die stad, terwyl hulle lewe uitgestort word aan
die bors van hul moeders.
13 Mem. Watter getuienis kan ek vir jou aflê, waarmee kan ek jou vergelyk,
dogter van Jerusalem? Waarmee sal ek jou gelykstel, dat ek jou kan troos,
jonkvrou, dogter van Sion? Want jou verbrokenheid is so groot soos die see--wie
kan jou gesond maak?
14 Noen. Jou profete het vir jou bedrieglike en ongerymde dinge gesien en jou
ongeregtigheid nie geopenbaar om jou lot te verander nie, maar hulle het vir jou
godsprake gesien tot bedrog en verstoting.
15 Samek. Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou; hulle
spot en skud hulle hoof oor die dogter van Jerusalem: Is dit die stad waarvan
hulle gesê het: Volmaak in skoonheid, vreugde van die hele aarde?
16 Pe. Al jou vyande rek hulle mond oop oor jou, hulle spot en kners op die
tande, hulle sê: Ons het verslind, ja, dit is die dag wat ons verwag het; ons
het dit bereik, dit belewe!
17 Ajin. Die HERE het gedoen wat Hy Hom voorgeneem het, sy woord volbring wat Hy
sedert die dae van die voortyd beveel het; Hy het sonder verskoning afgebreek en
die vyand oor jou bly gemaak, die horing van jou teëstanders verhoog.
18 Sade. Hulle hart roep na die HERE. Muur van die dogter van Sion, laat trane
afloop soos 'n stroom, dag en nag; gun jouself geen verposing nie, laat jou
oogappel nie rus nie.
19 Kof. Staan op, skreeu in die nag by die begin van die nagwake, stort jou hart
uit soos water voor die aangesig van die HERE, hef jou hande op na Hom, ter
wille van die lewe van jou kinders wat versmag van honger by die hoek van al die
strate.
20 Resj. Aanskou, HERE, en merk op aan wie U so gedoen het! Moet vroue dan hulle
vrug eet, kindertjies wat op die hande gedra word? Moet dan in die heiligdom van
die HERE priester en profeet gedood word?
21 Sjin. Op die grond lê jonk en oud in die strate; my jonkvroue en my jongmanne
het deur die swaard geval; U het hulle gedood op die dag van u toorn, U het
geslag sonder verskoning.
22 Tau. U het soos op 'n feesdag my verskrikkinge geroep van rondom, en niemand
het op die dag van die HERE se toorn vrygeraak of ontkom nie; die wat ek op die
hande gedra en grootgemaak het--my vyand het hulle omgebring.
3
1 Alef. Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid.
2 My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig.
3 Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my.
4 Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek.
5 Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite.
6 Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is.
7 Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar
gemaak.
8 Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord.
9 Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak.
10 Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke.
11 Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak.
12 Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel.
13 He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan.
14 Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag.
15 Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wilde-als laat drink.
16 Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die
as neergedruk.
17 En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet.
18 Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE.
19 Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wilde-als en die gif.
20 As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my.
21 Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop:
22 Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie,
want sy barmhartighede het geen einde nie;
23 hulle is elke môre nuut; u trou is groot.
24 Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.
25 Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.
26 Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE.
27 Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra.
28 Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het.
29 Laat hy sy mond in die stof steek--miskien is daar hoop!
30 Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.
31 Kaf. Want die Here sal nie vir ewig verstoot nie.
32 Maar as Hy bedroef het, ontferm Hy Hom na die grootheid van sy
goedertierenhede;
33 want nie van harte verdruk of bedroef Hy die mensekinders nie.
34 Lamed. Dat hulle al die gevangenes van die aarde onder hul voete vertrap,
35 dat hulle die reg van 'n man verdraai voor die aangesig van die Allerhoogste,
36 dat hulle 'n mens onregverdig behandel in sy regsaak--het die HERE dit nie
gesien nie?
37 Mem. Wie spreek daar, en dit gebeur? Het die Here dit nie beveel nie?
38 Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?
39 Wat klaag 'n mens in sy lewe? Laat elkeen klaag oor sy sondes.
40 Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die HERE bekeer;
41 laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê:
42 Ons het oortree en ons was wederstrewig--U het nie vergewe nie.
43 Samek. U het U in toorn gehul en ons agtervolg, U het gedood sonder
verskoning.
44 U het Uself in 'n wolk gehul, sodat daar geen gebed kon deurdring nie;
45 U het ons 'n uitvaagsel en 'n wegwerpsel onder die volke gemaak.
46 Pe. Al ons vyande het hulle mond teen ons oopgerek;
47 skrik en kuil het ons deel geword, ondergang en verbreking.
48 My oog loop af in waterstrome oor die verbreking van die dogter van my volk.
49 Ajin. My oog vloei rusteloos weg sonder ophou,
50 totdat die HERE uit die hemel neersien en aanskou.
51 My oog gee my pyn oor al die dogters van my stad.
52 Sade. Hulle het my soos 'n voël rondgejaag, die wat sonder oorsaak my vyande
is;
53 hulle het my lewe in 'n kuil tot niet gemaak en klippe op my gegooi.
54 Water het oor my hoof gestroom, ek het gesê: Dit is klaar met my!
55 Kof. Ek roep u Naam aan, HERE, uit die onderste kuil.
56 U hoor my stem; verberg u oor nie vir my ontboeseming, vir my hulpgeroep nie.
57 U kom nader die dag as ek U aanroep, U sê: Wees nie bevrees nie!
58 Resj. U, Here, verdedig my regsaak, U verlos my lewe.
59 U sien, HERE, my verdrukking; verskaf my tog reg.
60 U sien al hulle wraaksug, al hulle planne teen my.
61 Sjin. U hoor hulle smaadrede, HERE, al hulle planne teen my,
62 die lippe van my teëstanders en hulle bedenksels die hele dag teen my.
63 Aanskou tog hulle sit en hulle opstaan, ek is hulle spotlied.
64 Tau. U sal hulle vergeld vir wat hulle gedoen het, HERE.
65 U sal hulle gee verblinding van hart, u vervloeking oor hulle.
66 U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die
HERE uit.
4
1 Alef. Ag, hoe is die goud verdonker, die goeie goud verander, die heilige
stene weggegooi op die hoek van al die strate!
2 Bet. Die kinders van Sion, die kosbares, wat teen fyn goud geskat was, ag, hoe
is hulle gereken soos erdekruike, die werk van pottebakkershande.
3 Gimel. Selfs jakkalse gee die speen, laat hulle kleintjies drink, maar die
dogter van my volk het wreed geword soos die volstruise in die woestyn.
4 Dalet. Die tong van die suigling kleef aan sy verhemelte van dors, kindertjies
vra brood, niemand breek dit vir hulle nie.
5 He. Hulle wat lekkernye geëet het, het versmag op die strate; die wat op
purper gedra is, het die ashope omarm.
6 Wau. Want die ongeregtigheid van die dogter van my volk was groter as die
sonde van Sodom wat soos in 'n oomblik omgekeer is, sonder dat iemand die hand
daaraan geslaan het.
7 Sajin. Haar vorste was helderder as sneeu, witter as melk, rooier van liggaam
as korale, hulle gestalte 'n saffier.
8 Get. Maar hulle voorkoms het donkerder as swartsel geword, hulle is nie herken
op die strate nie; hulle vel kleef aan hul gebeente, dit het droog geword soos
hout.
9 Tet. Die wat deur die swaard verslaan is, is gelukkiger as die wat deur die
honger verslaan is, wat, deurboor, vergaan het uit gebrek aan veldvrugte.
10 Jod. Die hande van teerhartige vroue het hulle eie kinders gekook; dit het
hulle voedsel geword in die verbreking van die dogter van my volk.
11 Kaf. Die HERE het sy grimmigheid laat uitwoed, sy toorngloed uitgegiet en in
Sion 'n vuur aangesteek wat die fondamente daarvan verteer het.
12 Lamed. Hulle het dit nie geglo nie, die konings van die aarde en al die
inwoners van die wêreld, dat 'n teëstander of 'n vyand in die poorte van
Jerusalem sou kom nie.
13 Mem. Dit was oor die sondes van haar profete, die ongeregtighede van haar
priesters wat daar binne-in die bloed van die regverdiges vergiet het.
14 Noen. Blind het hulle deur die strate gewaggel, met bloed bevlek, sodat 'n
mens hulle klere nie kon aanraak nie.
15 Samek. Staan opsy, onrein! --het die mense hulle toegeroep. Staan opsy, staan
opsy, moenie aanraak nie! As hulle vlug, ja waggel, is onder die heidene gesê:
Hulle mag hier nie langer vertoef nie.
16 Pe. Die aangesig van die HERE het hulle verstrooi, Hy sal hulle verder nie
meer met welgevalle aansien nie. Vir die persoon van die priesters het hulle
geen agting gehad, aan die grysaards het hulle geen genade bewys nie.
17 Ajin. Nog altyddeur smag ons oë tevergeefs na hulp vir ons; op ons wagpos
sien ons met verwagting uit na 'n nasie wat nie sal help nie.
18 Sade. Hulle het jag gemaak op ons voetstappe, sodat ons op ons pleine nie kon
loop nie; ons einde het nader gekom, ons dae was vol, ja, ons einde het gekom.
19 Kof. Ons vervolgers was vinniger as die arende van die hemel, op die berge
het hulle ons hewig agtervolg, in die woestyn het hulle ons voorgelê.
20 Resj. Die asem van ons neus, die gesalfde van die HERE, is in hulle kuile
gevang, hy onder wie se skaduwee ons gedink het om te lewe onder die nasies.
21 Sjin. Verbly en verheug jou, dogter van Edom, wat in die land Us woon; ook na
jou sal die beker kom, jy sal dronk word en jouself ontbloot.
22 Tau. Jou straf het sy einde bereik, dogter van Sion, Hy sal jou nie weer in
ballingskap laat wegvoer nie. Hy besoek jou ongeregtigheid, dogter van Edom, Hy
openbaar jou sondes.
5
1 Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad.
2 Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders.
3 Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees.
4 Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in.
5 Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun
word.
6 Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word.
7 Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en óns dra hulle
ongeregtighede.
8 Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie.
9 Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn.
10 Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger.
11 Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda.
12 Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer
nie.
13 Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout.
14 Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle
snarespel.
15 Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid
verander.
16 Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het.
17 Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister:
18 ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop.
19 U, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag.
20 Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae?
21 Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die
voortyd.
22 Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?