L u k a s 1
1 Aangesien baie onderneem het om 'n verhaal op te stel oor die dinge wat
onder ons al vervul is,
2 soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit
aan ons oorgelewer het,
3 het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles
noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe,
4 sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.
5 Daar was in die dae van Herodes, koning van Judéa, 'n sekere priester met die
naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van
Aäron, en haar naam was Elisabet.
6 En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van
die Here onberispelik gewandel.
7 En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op
ver gevorderde leeftyd.
8 En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van
sy afdeling,
9 het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die
tempel van die Here en reukwerk te brand.
10 En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van
die reukoffer.
11 Toe verskyn daar aan hom 'n engel van die Here, wat aan die regterkant van
die reukofferaltaar staan.
12 En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval.
13 Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is
verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou 'n seun baar, en jy moet hom Johannes
noem.
14 En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte
bly wees;
15 want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit
drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy
moeder af.
16 En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.
17 En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte
van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die
gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.
18 Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is 'n ou man,
en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.
19 En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek
is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.
20 En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge
gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.
21 En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die
tempel vertoef.
22 Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy
'n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom
gebly.
23 En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.
24 En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank
verberg en gesê:
25 So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad
onder die mense weg te neem.
26 En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na 'n stad in
Galiléa met die naam van Násaret,
27 na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam van Josef, uit die huis
van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.
28 En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die
Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.
29 En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor
nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.
30 En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God
gevind.
31 En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.
32 Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here
God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,
33 en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy
koninkryk sal daar geen einde wees nie.
34 Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?
35 En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die
krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat
gebore word, Seun van God genoem word.
36 En kyk, Elisabet, jou bloedverwant, het self ook 'n seun ontvang in haar
ouderdom, en hierdie maand is die sesde vir haar wat onvrugbaar genoem is.
37 Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.
38 En Maria sê: Hier is die diensmaagd van die Here. Laat dit met my gaan
volgens u woord. En die engel het van haar weggegaan.
39 En in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na
'n stad van Juda;
40 en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet.
41 En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot
opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees
42 en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en
geseënd is die vrug van jou skoot!
43 En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom?
44 Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my
skoot van vreugde opgespring.
45 En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê
is, sal vervul word.
46 En Maria het gesê: My siel maak die Here groot,
47 en my gees is verheug in God, my Saligmaker;
48 omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van
nou af sal al die geslagte my salig noem.
49 Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam.
50 En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees.
51 Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van
hulle hart het Hy verstrooi.
52 Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog.
53 Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur.
54 Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink
55 soos Hy tot ons vaders gespreek het--aan Abraham en sy nageslag tot in
ewigheid.
56 En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar
huis toe.
57 En die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun
gebaar.
58 En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan
haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly.
59 En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou
hom Sagaría noem, na die naam van sy vader.
60 Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word.
61 En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie.
62 En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word.
63 Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was
verwonderd.
64 En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat
en God geloof.
65 En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is
baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa.
66 En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog
van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom.
67 En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en
gesê:
68 Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir
hulle verlossing teweeggebring het,
69 en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg--
70 soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af--
71 redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat,
72 om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink,
73 aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee
74 dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien,
75 in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.
76 En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal
voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak;
77 om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes,
78 deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die
hoogte ons besoek het,
79 om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die
pad van vrede te rig.
80 En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die
woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.
2
1 En in daardie dae het daar 'n bevel uitgegaan van keiser Augustus dat die hele
wêreld ingeskryf moes word.
2 Hierdie eerste inskrywing het plaasgevind toe Cirénius goewerneur van Sírië
was.
3 En almal het gegaan om ingeskryf te word, elkeen na sy eie stad.
4 En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die
stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van
Dawid was,
5 om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het,
wat swanger was.
6 En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar;
7 en sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die
krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.
8 En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in
die nag oor hulle skape wag gehou het.
9 En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van
die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.
10 En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n
goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,
11 dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat
Christus, die Here, is.
12 En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke
toegedraai is en wat in die krip lê.
13 En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare
wat God prys en sê:
14 Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n
welbehae!
15 En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir
mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat
die Here aan ons bekend gemaak het.
16 En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in
die krip lê.
17 En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan
hulle van dié Kindjie vertel is.
18 En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan
hulle vertel is;
19 maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.
20 En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat
hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.
21 En toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom
Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die
moederskoot.
22 En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het
hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,
23 soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die
moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;
24 en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: 'n paar
tortelduiwe of twee jong duiwe.
25 En daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was
regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige
Gees was op hom.
26 En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou
sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie.
27 En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie
Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet,
28 het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê:
29 Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,
30 omdat my oë u heil gesien het,
31 wat U berei het voor die oë van al die volke--
32 'n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.
33 En Josef en sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.
34 En Símeon het hulle geseën en aan Maria, sy moeder, gesê: Kyk, hierdie Kind
is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat
weerspreek sal word--
35 ja, 'n swaard sal deur jou eie siel gaan--sodat die gedagtes uit baie harte
openbaar kan word.
36 En daar was Anna, 'n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser.
Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank
met haar man saamgelewe;
37 en sy was 'n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van
die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.
38 En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek
met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het.
39 En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het
hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret.
40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En
die genade van God was op Hom.
41 En sy ouers was gewoond om elke jaar met die paasfees na Jerusalem te gaan.
42 En toe Hy twaalf jaar oud was, het hulle, volgens die gebruik van die fees,
na Jerusalem opgegaan.
43 En nadat die feesdae vir hulle verby was, en terwyl hulle teruggaan, het die
Kind Jesus in Jerusalem agtergebly; en Josef en sy moeder het dit nie geweet
nie.
44 Maar omdat hulle gedink het dat Hy by die reisgeselskap was, het hulle 'n
dagreis ver gegaan en Hom onder die familie en onder die bekendes gesoek.
45 En toe hulle Hom nie vind nie, het hulle teruggegaan na Jerusalem en Hom
gesoek.
46 En ná drie dae het hulle Hom in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van
die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra.
47 En almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy verstand en sy antwoorde.
48 En toe hulle Hom sien, was hulle verslae. En sy moeder sê vir Hom: Kind,
waarom het jy so met ons gemaak? Kyk, jou vader en ek het jou met angs gesoek.
49 En Hy sê vir hulle: Waarom het u My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die
dinge van my Vader moet wees nie?
50 En hulle het die woord wat Hy aan hulle gesê het, nie verstaan nie.
51 En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle
onderdanig. En sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar.
52 En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die
mense.
3
1 En in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius
Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus,
sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van
Abiléne,
2 tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom
tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn.
3 En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering
tot vergifnis van sondes verkondig;
4 soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy
sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak
sy paaie reguit.
5 Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie
sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.
6 En alle vlees sal die heil van God sien.
7 Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word:
Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?
8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons
het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie
klippe kinders vir Abraham te verwek.
9 Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen
goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
10 En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen?
11 En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan
hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.
12 En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat
moet ons doen?
13 En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie.
14 En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê
vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede
met julle soldy.
15 En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het
aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie,
16 antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat
sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie--Hy sal
julle doop met die Heilige Gees en met vuur.
17 Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy
koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand.
18 Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk
verkondig.
19 Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Heródias, die vrou
van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het,
20 het hy by alles nog dit gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit
het.
21 En toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te
bid, het die hemel oopgegaan;
22 en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos 'n duif op Hom
neergedaal; en 'n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in
U het Ek 'n welbehae.
23 En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was,
soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,
24 die seun van Mattat, die seun van Levi, die seun van Melgi, die seun van
Janna, die seun van Josef,
25 die seun van Mattatías, die seun van Amos, die seun van Nahum, die seun van
Esli, die seun van Nággai,
26 die seun van Maät, die seun van Mattatías, die seun van Sémeï, die seun van
Josef, die seun van Juda,
27 die seun van Jóhanan, die seun van Resa, die seun van Serubbábel, die seun
van Seáltiël, die seun van Neríja,
28 die seun van Melgi, die seun van Addi, die seun van Kosam, die seun van
Elmódam, die seun van Er,
29 die seun van Joses, die seun van Eliëser, die seun van Jorim, die seun van
Mattat, die seun van Levi,
30 die seun van Símeon, die seun van Juda, die seun van Josef, die seun van
Jonan, die seun van Éljakim,
31 die seun van Meléas, die seun van Mainan, die seun van Máttata, die seun van
Natan, die seun van Dawid,
32 die seun van Isai, die seun van Obed, die seun van Boas, die seun van Salmon,
die seun van Nagson,
33 die seun van Ammínadab, die seun van Ram, die seun van Hesron, die seun van
Peres, die seun van Juda,
34 die seun van Jakob, die seun van Isak, die seun van Abraham, die seun van
Tera, die seun van Nahor,
35 die seun van Serug, die seun van Rehu, die seun van Peleg, die seun van
Heber, die seun van Sela,
36 die seun van Kainan, die seun van Arpágsad, die seun van Sem, die seun van
Noag, die seun van Lameg,
37 die seun van Metúsala, die seun van Henog, die seun van Jered, die seun van
Mehaláleël, die seun van Kenan,
38 die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.
4
1 En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is
deur die Gees in die woestyn gelei,
2 waar Hy veertig dae lank deur die duiwel versoek is; en Hy het niks geëet in
dié dae nie; en toe hulle verby was, het Hy naderhand honger geword.
3 Toe sê die duiwel vir Hom: As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dat
dit brood moet word.
4 Maar Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van
brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.
5 Toe bring die duiwel Hom op 'n hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die
wêreld in 'n oomblik se tyd.
6 En die duiwel sê vir Hom: Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid,
want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil.
7 As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.
8 En Jesus antwoord en sê vir hom: Gaan weg agter My, Satan, want daar is
geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.
9 Toe bring hy Hom na Jerusalem en stel Hom op die dak van die tempel en sê vir
Hom: As U die Seun van God is, werp Uself hiervandaan neer.
10 Want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U om U te bewaar,
11 en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip
stamp nie.
12 En Jesus antwoord en sê vir hom: Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie
versoek nie.
13 En toe die duiwel elke versoeking geëindig het, het hy 'n tyd lank van Hom
gewyk.
14 En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n
gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;
15 en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
16 Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy
op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees.
17 En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek
oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:
18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan
die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te
genees;
19 om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om
die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here
aan te kondig.
20 En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy
sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.
21 Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.
22 En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename
woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie?
23 En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg:
Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen
dit hier in u vaderstad ook.
24 En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland
nie.
25 Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die
dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar
'n groot hongersnood gekom het in die hele land,
26 en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na
'n weduwee.
27 En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en
nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër.
28 En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor;
29 en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op
die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te
gooi.
30 Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
31 En Hy het afgekom na Kapérnaüm, 'n stad van Galiléa, en hulle op die sabbat
geleer.
32 En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.
33 En in die sinagoge was daar 'n man met die gees van 'n onreine duiwel, en hy
het met 'n groot stem uitgeskreeu
34 en gesê: Ha! wat het ons met U te doen, Jesus, Nasaréner? Het U gekom om ons
te verdelg? Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!
35 En Jesus het hom bestraf en gesê: Bly stil, en gaan uit hom uit! En die
duiwel het hom tussen hulle neergegooi en uit hom uitgegaan sonder om hom seer
te maak.
36 Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir
'n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle
gaan uit!
37 En daar het 'n gerug aangaande Hom uitgegaan na elke plek van die omgewing.
38 En Hy het opgestaan uit die sinagoge en in die huis van Simon gekom. En Simon
se skoonmoeder was aangetas deur 'n hewige koors, en hulle het Hom geraadpleeg
oor haar.
39 Toe gaan Hy oor haar staan en bestraf die koors, en dit het haar verlaat, en
sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.
40 En toe die son ondergaan, het almal hulle siekes, mense met allerhande kwale,
na Hom gebring, en Hy het een vir een van hulle die hande opgelê en hulle gesond
gemaak.
41 En duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus,
die Seun van God! En Hy het hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie,
omdat hulle geweet het dat Hy die Christus was.
42 En toe dit dag geword het, het Hy uitgegaan en na 'n verlate plek vertrek; en
die skare het Hom gesoek en by Hom gekom en Hom teëgehou, dat Hy nie van hulle
sou weggaan nie.
43 Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van
die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.
44 En Hy het verder in die sinagoges van Galiléa gepreek.
5
1 En toe die skare by Hom aandring om die woord van God te hoor, gaan Hy by die
meer Gennésaret staan
2 en sien twee skuite aan die kant van die meer lê; maar die vissers het van
hulle af weggegaan en was besig om die nette uit te spoel.
3 Toe klim Hy in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om 'n
entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die
skuit uit geleer.
4 En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en
laat julle nette sak om te vang.
5 En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard
gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak.
6 En toe hulle dit gedoen het, het hulle 'n groot menigte visse ingesluit; en
hulle net wou skeur.
7 Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En
hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het.
8 En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan
weg van my, Here, want ek is 'n sondige man!
9 Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van
visse wat hulle gemaak het;
10 en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se
maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense
vang.
11 En nadat hulle die skuite aan land gebring het, het hulle alles verlaat en
Hom gevolg.
12 En terwyl Hy in een van die stede was, kom daar 'n man vol van melaatsheid;
en toe hy Jesus sien, val hy op sy aangesig en smeek Hom en sê: Here, as U wil,
kan U my reinig.
13 Daarop steek Hy die hand uit en raak hom aan en sê: Ek wil, word gereinig! En
dadelik het die melaatsheid hom verlaat.
14 Toe gee Hy hom bevel om dit aan niemand te vertel nie; maar, sê Hy, gaan
vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging, soos Moses voorgeskrywe
het, vir hulle tot 'n getuienis.
15 Maar die gerug aangaande Hom is nog meer versprei, en groot menigtes het
bymekaargekom om te luister en deur Hom van hulle siektes genees te word.
16 Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid.
17 En op een van dié dae was Hy besig om te leer; en Fariseërs en wetgeleerdes
wat gekom het uit elke dorp van Galiléa en Judéa en uit Jerusalem, het daar
gesit, en daar was krag van die Here om hulle te genees.
18 En daar het manne 'n mens wat verlam was, op 'n bed gebring, en hulle het
probeer om hom in te bring en voor Hom neer te sit.
19 En toe hulle vanweë die skare geen kans sien om hom in te bring nie, klim
hulle op die dak en laat hom met die bed afsak deur die panne tussen die mense
in en voor Jesus.
20 En toe Hy hulle geloof sien, sê Hy vir hom: Mens, jou sondes is jou vergewe.
21 En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het begin redeneer en sê: Wie is Hy
wat so godslasterlik praat? Wie kan sondes vergewe behalwe God alleen?
22 Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk, en Hy antwoord en sê vir hulle: Wat
redeneer julle in jul harte?
23 Wat is makliker, om te sê: Jou sondes is jou vergewe; of om te sê: Staan op
en loop?
24 Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes
te vergewe sê Hy vir die verlamde man: Ek sê vir jou, staan op, neem jou bed op
en gaan na jou huis toe.
25 Hy staan toe onmiddellik voor hulle op, neem die bed op waar hy op gelê het,
en gaan na sy huis, terwyl hy God verheerlik.
26 En verbasing het almal aangegryp, en hulle het God verheerlik en is met vrees
vervul en het gesê: Ons het vandag ongelooflike dinge gesien.
27 En ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en 'n tollenaar met die naam van Levi by
die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My.
28 En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.
29 En Levi het 'n groot feesmaal vir Hom in sy huis gegee; en daar was 'n groot
menigte van tollenaars en ander wat saam met hulle aan tafel was.
30 En hulle skrifgeleerdes en die Fariseërs het by sy dissipels gemurmureer en
gesê: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?
31 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie
nodig nie, maar die wat ongesteld is.
32 Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.
33 Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen
gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink?
34 En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die
bruidegom by hulle is?
35 Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal
hulle vas, in daardie dae.
36 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel: Niemand sit 'n lap van 'n nuwe
kleed op 'n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die
nuwe af kom, pas nie by die oue nie.
37 En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die
sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.
38 Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.
39 En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die
oue is beter.
6
1 En op die tweede eerste sabbat het Hy deur die gesaaides geloop, en sy
dissipels het die are gepluk en met hulle hande uitgevrywe en geëet.
2 Toe sê sommige van die Fariseërs vir hulle: Waarom doen julle wat nie
geoorloof is om op die sabbat te doen nie?
3 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Het julle dan nie gelees wat Dawid gedoen
het nie--toe hy honger gehad het, hy en die wat by hom was--
4 hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geneem en geëet het, en ook
aan die wat by hom was, gegee het, wat hulle nie geoorloof was om te eet nie,
maar net vir die priesters alleen?
5 Toe sê Hy vir hulle: Die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.
6 En op 'n ander sabbat het Hy in die sinagoge gegaan en geleer. En daar was 'n
man, en sy regterhand was uitgedor.
7 En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het Hom in die oog gehou, of Hy op die
sabbat gesond maak, sodat hulle 'n aanklag teen Hom kon vind.
8 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir die man met die verdorde hand gesê:
Staan op hier in hul midde. En hy het opgestaan.
9 Toe sê Jesus vir hulle: Ek sal aan julle 'n vraag stel: wat is geoorloof op
die sabbat--om goed te doen of kwaad te doen; om 'n lewe te red of óm te bring?
10 En nadat Hy almal rondom aangekyk het, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit!
En hy het dit gedoen; en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
11 En hulle is met uitsinnigheid vervul en het met mekaar gepraat wat hulle aan
Jesus sou doen.
12 En Hy het in daardie dae uitgegaan na die berg om te bid en die nag in die
gebed tot God deurgebring.
13 En toe dit dag geword het, het Hy sy dissipels na Hom geroep en twaalf van
hulle uitgekies, wat Hy apostels genoem het:
14 Simon wat Hy Petrus genoem het, en Andréas, sy broer; Jakobus en Johannes;
Filippus en Bartholoméüs;
15 Matthéüs en Thomas; Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon wat Yweraar genoem
word;
16 Judas, die seun van Jakobus, en Judas Iskáriot, wat die verraaier geword het.
17 En Hy het met hulle afgeklim en op 'n gelyk plek gaan staan, en daar was 'n
skare van sy dissipels en 'n groot menigte van die volk van die hele Judéa en
Jerusalem en die kusstreek van Tirus en Sidon af,
18 wat gekom het om Hom te hoor en van hulle kwale genees te word; en die wat
gekwel was deur onreine geeste, is ook genees.
19 En die hele skare het probeer om Hom aan te raak, omdat krag van Hom
uitgegaan het, en Hy het almal gesond gemaak.
20 Toe slaan Hy sy oë op oor sy dissipels en sê: Salig is julle, armes, want aan
julle behoort die koninkryk van God.
21 Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is
julle wat nou ween, want julle sal lag.
22 Salig is julle wanneer die mense julle haat, en wanneer hulle julle verstoot
en beledig en jul naam weggooi soos iets wat sleg is, ter wille van die Seun van
die mens.
23 Wees bly in daardie dag en spring op, want kyk, julle loon is groot in die
hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen.
24 Maar wee julle, rykes, want julle het jul troos weg.
25 Wee julle wat vol is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want
julle sal treur en ween.
26 Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het
net so aan die valse profete gedoen.
27 Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen
aan die wat vir julle haat.
28 Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.
29 Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied; en aan
hom wat jou bo-kleed neem, moet jy ook die onderkleed nie weier nie.
30 Maar gee aan elkeen wat jou iets vra, en eis jou goed nie terug van hom wat
dit neem nie.
31 En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan
hulle doen.
32 En as julle dié liefhet wat vir julle liefhet, watter dank het julle? Want
die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet.
33 En as julle goed doen aan die wat aan julle goed doen, watter dank het julle?
Want die sondaars doen ook dieselfde.
34 En as julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter dank
het julle? Want die sondaars leen ook aan die sondaars, om net soveel terug te
ontvang.
35 Maar julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug
te verwag, en julle loon sal groot wees; en julle sal kinders van die
Allerhoogste wees; want Hy self is goedertieren oor die ondankbares en slegtes.
36 Wees dan barmhartig, soos julle Vader ook barmhartig is.
37 En julle moet nie oordeel nie, dan sal julle nooit geoordeel word nie. Julle
moet nie veroordeel nie, dan sal julle nooit veroordeel word nie. Spreek vry, en
julle sal vrygespreek word.
38 Gee, en aan julle sal gegee word. 'n Goeie maat wat ingedruk en geskud en
oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle
meet, sal weer vir julle gemeet word.
39 En Hy het vir hulle 'n gelykenis uitgespreek: 'n Blinde kan tog nie 'n blinde
lei nie! Sal hulle nie altwee in die sloot val nie?
40 'n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos
sy meester wees.
41 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk wat
in jou eie oog is, merk jy nie op nie?
42 Of hoe kan jy vir jou broeder sê: Broeder, laat my toe om die splinter wat in
jou oog is, uit te haal, terwyl jy self die balk wat in jou oog is, nie sien
nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om
die splinter wat in jou broeder se oog is, uit te haal.
43 Want dit is nie 'n goeie boom wat slegte vrugte dra nie, en ook nie 'n slegte
boom wat goeie vrugte dra nie.
44 Want elke boom word geken aan sy eie vrugte. Van dorings pluk 'n mens tog nie
vye nie, en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie.
45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is;
en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg
is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.
46 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?
47 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen Ek sal julle wys
soos wie hy is.
48 Hy is soos 'n man wat 'n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die
fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen
daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots
was.
49 Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos 'n man wat 'n huis sonder
fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het
dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.
7
1 En nadat Hy voor die ore van die volk al sy woorde beëindig het, het Hy in
Kapérnaüm ingegaan.
2 En die dienskneg van 'n sekere hoofman oor honderd, wat vir hom baie werd was,
was ongesteld en het op sterwe gelê.
3 Toe hy dan van Jesus hoor, het hy ouderlinge van die Jode na Hom gestuur met
die versoek aan Hom dat Hy moes kom en sy dienskneg gesond maak.
4 En toe hulle by Jesus kom, het hulle Hom dringend gesmeek en gesê: Hy is dit
werd dat U dit vir hom doen;
5 want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.
6 En Jesus het saam met hulle gegaan; maar toe Hy nie meer ver van die huis af
was nie, stuur die hoofman oor honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: Here,
moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie.
7 Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie; sê dit maar met 'n
woord, en my kneg sal gesond word.
8 Want ek is ook 'n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my;
en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir 'n ander een: Kom! en hy kom;
en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.
9 Toe Jesus dit hoor, was Hy oor hom verwonderd, en Hy draai Hom om en sê vir
die skare wat Hom volg: Ek sê vir julle, selfs in Israel het Ek so 'n groot
geloof nie gevind nie.
10 En toe die wat gestuur was, teruggaan na die huis, vind hulle die siek
dienskneg gesond.
11 En die dag daarna was Hy op weg na 'n stad met die naam van Nain; en baie van
sy dissipels en 'n groot menigte het saam met Hom gegaan.
12 En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net 'n dooie uitgedra,
die enigste seun van sy moeder, en sy was 'n weduwee; en 'n groot menigte van
die stad was by haar.
13 En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar
gesê: Moenie ween nie!
14 En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil.
En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op!
15 En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder
teruggegee.
16 En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: 'n Groot
profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.
17 En hierdie woord aangaande Hom het uitgegaan in die hele Judéa en in die hele
omtrek.
18 En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring.
19 En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus
gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?
20 En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U
gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?
21 En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose
geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.
22 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en
hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor,
dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.
23 En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.
24 En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare
aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou?
'n Riet wat deur die wind beweeg word?
25 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die
wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise.
26 Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog
baie meer as 'n profeet!
27 Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u
aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak.
28 Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet
groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is
groter as hy.
29 En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig
deur hulle te laat doop met die doop van Johannes.
30 Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle
verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie.
31 Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en
waaraan is hulle gelyk?
32 Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons
het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir
julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie.
33 Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie,
en julle sê: Hy het 'n duiwel.
34 Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is 'n
mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars.
35 Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders.
36 En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die
huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan.
37 En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die
Fariseër se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring
38 en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak
met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete
gesoen en met salf gesalf.
39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy 'n
profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak;
want sy is 'n sondares.
40 En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy
antwoord: Meester, spreek.
41 Hy sê toe: 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyf
honderd pennings geskuld en die ander een vyftig;
42 en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee
geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?
43 En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste
geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.
44 Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het
in jou huis gekom--water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar
trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog.
45 'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie
opgehou om my voete te soen nie.
46 Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.
47 Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie
liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.
48 En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe.
49 Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat
selfs die sondes vergewe?
50 En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
8
1 En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en
die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met
Hom,
2 ook sekere vroue wat genees was van bose geeste en siektes: Maria wat
Magdaléna genoem word, uit wie sewe duiwels uitgegaan het,
3 en Johanna, die vrou van Gusa, 'n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie
ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.
4 En toe daar 'n groot menigte vergader, en die wat uit die verskillende stede
by Hom aangesluit het, sê Hy aan hulle deur 'n gelykenis:
5 'n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val 'n deel langs
die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.
6 En 'n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit
verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.
7 En 'n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee
saamgegroei en dit verstik.
8 En 'n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige
vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat
hom hoor!
9 En sy dissipels het Hom gevra en gesê: Wat beteken hierdie gelykenis tog?
10 En Hy antwoord: Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk
van God te ken; maar aan die ander deur gelykenisse, sodat hulle, terwyl hulle
sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie verstaan nie.
11 Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God.
12 Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord
uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.
13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle
dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir 'n tyd glo, en
in die tyd van versoeking val hulle af.
14 En wat in die dorings geval het--dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg
en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen
ryp vrug nie.
15 En wat in die goeie grond val--dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die
woord in 'n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.
16 En niemand steek 'n lamp op en maak dit met iets toe of sit dit onder 'n bed
nie; maar hy sit dit op 'n staander, sodat die wat inkom, die lig kan sien.
17 Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat
nie bekend sal word en in die lig sal kom nie.
18 Pas dan op hoe julle hoor; want elkeen wat het, aan hom sal gegee word; en
elkeen wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy dink dat hy het.
19 En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie
bereik nie.
20 Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en
wil U sien.
21 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord
van God hoor en dit doen.
22 En op een van daardie dae het Hy en sy dissipels in 'n skuit gegaan; en Hy
het vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die oorkant van die see. En hulle het
weggevaar
23 En terwyl hulle seil, raak Hy aan die slaap. Toe kom daar 'n stormwind op die
see af en die skuit het begin vol word, en hulle was in gevaar.
24 En hulle het na Hom gegaan en Hom wakker gemaak en gesê: Meester, Meester,
ons vergaan! Hy staan toe op en bestraf die wind en die watergolwe, en hulle het
bedaar en daar het 'n stilte gekom.
25 En Hy sê vir hulle: Waar is julle geloof? Maar hulle was bang en verwonderd
en het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat Hy selfs die winde en die water
gebied en hulle Hom gehoorsaam is!
26 En hulle het geseil na die land van die Gadaréners, wat reg anderkant Galiléa
is.
27 En toe Hy aan wal uitklim, kom 'n sekere man uit die stad Hom tegemoet, wat
vir 'n geruime tyd van duiwels besete was en geen klere gedra het nie; hy het
ook nie in 'n huis gewoon nie, maar in die grafte.
28 En toe hy Jesus sien, skreeu hy uit en val voor Hom neer en sê met 'n groot
stem: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek bid U,
moet my nie pynig nie--
29 want Hy het aan die onreine gees bevel gegee om uit die man uit te gaan. Want
baiekeer het hy hom saamgesleep; en hulle het hom gebind met kettings en
voetboeie om oor hom wag te hou; maar hy het die boeie uitmekaar geruk, en die
duiwel het hom in die woestyne gedrywe.
30 Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio--want baie
duiwels het in hom ingevaar.
31 En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af
te vaar nie.
32 En daar het 'n groot trop varke op die berg gewei. Toe smeek hulle Hom dat Hy
hulle sou toelaat om in dié varke in te vaar. En Hy het hulle toegelaat.
33 Daarop gaan die duiwels uit die man uit en vaar in die varke in, en die trop
het van die krans af in die see gestorm en verdrink.
34 En toe die wagters sien wat gebeur het, het hulle gevlug en dit in die stad
en in die buitewyke gaan vertel.
35 Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus
gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die
voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand. En hulle het gevrees.
36 En die wat ooggetuies was, het ook aan hulle vertel hoe die besetene genees
is.
37 En die hele menigte van die omtrek van die Gadaréners het Hom gevra om van
hulle weg te gaan, omdat hulle deur 'n groot vrees bevang was. Toe het Hy in die
skuit geklim en teruggegaan.
38 En die man uit wie die duiwels uitgevaar het, het Hom gebid om by Hom te kan
bly. Maar Jesus het hom laat gaan en gesê:
39 Gaan terug na jou huis en vertel watter groot dinge God aan jou gedoen het.
En hy het gegaan en deur die hele stad verkondig watter groot dinge Jesus aan
hom gedoen het.
40 En toe Jesus terugkom, het die skare Hom verwelkom; want almal was Hom te
wagte.
41 En daar kom 'n man wie se naam Jaïrus was, en hy was 'n owerste van die
sinagoge; en hy val voor die voete van Jesus neer en smeek Hom om na sy huis te
kom;
42 want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl
Hy gaan, het die skare Hom verdring.
43 En 'n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, en wat haar hele
vermoë aan geneeshere uitgegee het en deur niemand gesond gemaak kon word nie,
44 het van agter af gekom en die soom van sy kleed aangeraak, en haar
bloedvloeiing het onmiddellik opgehou.
45 Daarop sê Jesus: Wie is dit wat My aangeraak het? En toe almal dit ontken, sê
Petrus en die wat by hom was: Meester, die skare druk en verdring U, en U sê:
Wie is dit wat My aangeraak het?
46 Maar Jesus antwoord: Iemand het My aangeraak, want Ek het gemerk dat krag van
My uitgegaan het.
47 En toe die vrou sien dat sy nie verborge gebly het nie, kom sy bewende en val
voor Hom neer en vertel Hom voor die hele volk om watter rede sy Hom aangeraak
het en hoe sy onmiddellik gesond geword het.
48 En Hy sê vir haar: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in
vrede.
49 Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se
huis en sê vir hom: U dogter is dood, moenie die Meester lastig val nie.
50 Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en
sy sal gered word.
51 En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie,
behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie.
52 En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy
is nie dood nie, maar slaap.
53 En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was.
54 En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê:
Dogtertjie, staan op!
55 En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het
beveel dat hulle haar iets te ete moes gee.
56 En haar ouers was verbaas, maar Hy het hulle bevel gegee om aan niemand te sê
wat gebeur het nie.
9
1 En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor
al die duiwels en om siektes te genees.
2 En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes
gesond te maak
3 en vir hulle gesê: Neem niks vir die pad nie, geen stokke of reissak of brood
of geld nie, en geeneen van julle moet twee kledingstukke hê nie.
4 En in watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan dáárvandaan verder.
5 En almal wat julle nie ontvang nie--as julle van daardie stad weggaan, skud
selfs die stof van julle voete af, tot 'n getuienis teen hulle.
6 En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie
verkondig en siekes gesond gemaak.
7 Herodes, die viervors, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is; en hy
was met die saak verleë, omdat deur sommige gesê is: Johannes is uit die dode
opgewek;
8 en deur ander: Elía het verskyn; en deur ander: Een van die ou profete het
opgestaan.
9 En Herodes het gesê: Johannes het ek onthoof; maar wie is hierdie man van wie
ek sulke dinge hoor? En hy het probeer om Hom te sien.
10 En toe die apostels terugkom en Hom alles vertel wat hulle gedoen het, het Hy
hulle saamgeneem en in die eensaamheid gegaan na 'n verlate plek van 'n stad met
die naam van Betsáida.
11 Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang
en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad
het, gesond gemaak.
12 Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en sê vir Hom: Stuur die skare
weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en
voedsel kry; want ons is hier in 'n verlate plek.
13 Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle
antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel
gaan koop vir al hierdie mense.
14 Want daar was omtrent vyf duisend manne. Maar Hy sê vir sy dissipels: Laat
hulle in groepe van vyftig sit.
15 En hulle het dit gedoen en almal laat sit.
16 Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die
hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die
skare voor te sit.
17 En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die
brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
18 En toe Hy besig was om alleen te bid, was die dissipels by Hom, en Hy vra
hulle en sê: Wie sê die skare is Ek?
19 En hulle antwoord en sê: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander dat een
van die ou profete opgestaan het.
20 En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê:
Die Christus van God!
21 Toe gee Hy hulle 'n streng bevel en gebied hulle om dit aan niemand te vertel
nie.
22 En Hy sê: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die
ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag
opstaan.
23 En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën
en sy kruis elke dag opneem en My volg.
24 Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om
My ontwil verloor, hy sal dit red.
25 Wat baat dit 'n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of
skade aandoen?
26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die
mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die
heilige engele.
27 Ek sê vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die
dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.
28 En omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus
saamgeneem en op die berg geklim om te bid.
29 En terwyl Hy bid, het die voorkoms van sy aangesig anders geword en sy klere
skitterend wit.
30 En daar was twee manne in gesprek met Hom; dit was Moses en Elía.
31 Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in
Jerusalem sou volbring.
32 En Petrus en die wat saam met hom was, was deur die slaap oorweldig. Maar toe
hulle wakker word, sien hulle sy heerlikheid en die twee manne wat by Hom staan.
33 En toe hulle van Hom weggaan, sê Petrus vir Jesus: Meester, dit is goed dat
ons hier is; laat ons dan drie hutte maak, een vir U en vir Moses een en een vir
Elía--hy het nie geweet wat hy sê nie.
34 Maar toe hy dit sê, kom daar 'n wolk en oordek hulle, en hulle het bang
geword toe daardie manne in die wolk ingaan.
35 En daar kom 'n stem uit die wolk wat sê: Dit is my geliefde Seun; luister na
Hom!
36 En nadat die stem gekom het, was Jesus daar alleen. En hulle het geswyg en
aan niemand in daardie dae iets vertel van wat hulle gesien het nie.
37 En op die volgende dag toe hulle van die berg afklim, kom 'n groot skare Hom
tegemoet.
38 En daar roep 'n man uit die skare en sê: Meester, ek bid U, kyk tog na my
seun, want hy is my enigste.
39 En kyk, 'n gees gryp hom, en meteens skreeu hy, en hy laat hom stuiptrekkings
kry met skuim in die mond en gaan amper nie van hom weg nie en verniel hom.
40 En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie.
41 Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek
by julle wees en julle verdra? Bring jou seun hier.
42 En toe hy nog aankom, skeur die duiwel hom en laat hom stuiptrekkings kry.
Maar Jesus het die onreine gees bestraf en die seun genees en hom aan sy vader
teruggegee.
43 En almal was verslae oor die majesteit van God. En toe almal verwonderd was
oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels:
44 Bewaar hierdie woorde in julle ore; want die Seun van die mens sal oorgelewer
word in die hande van die mense.
45 Maar hulle het hierdie woord nie verstaan nie, en dit was vir hulle bedek,
sodat hulle dit nie sou begryp nie; en hulle was bang om Hom iets te vra oor
hierdie woord.
46 En daar het 'n redenering onder hulle ontstaan oor wie van hulle dan tog die
grootste was.
47 En toe Jesus die redenering van hulle hart opmerk, neem Hy 'n kindjie en laat
dié by Hom staan
48 en sê vir hulle: Elkeen wat hierdie kindjie ontvang in my Naam, ontvang My;
en elkeen wat My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het; want wie die kleinste
onder julle almal is, hy sal groot wees.
49 En Johannes het geantwoord en gesê: Meester, ons het iemand gesien wat in u
Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg
nie.
50 Maar Jesus sê vir hom: Moet hom nie belet nie, want wie nie teen ons is nie,
is vir ons.
51 En toe die dae van sy opneming nader kom, het Hy sy aangesig gerig om na
Jerusalem te reis,
52 en boodskappers voor Hom uit gestuur; en hulle het vertrek en in 'n dorp van
die Samaritane gekom om vir Hom klarigheid te maak.
53 En hulle het Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem op reis was.
54 En toe sy dissipels, Jakobus en Johannes, dit sien, sê hulle: Here, wil U hê
ons moet sê dat vuur van die hemel afdaal en hulle verteer, soos Elía ook gedoen
het?
55 Maar Hy draai Hom om en bestraf hulle en sê: Julle weet nie van hoedanige
gees julle is nie;
56 want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie,
maar te red. En hulle het na 'n ander dorp vertrek.
57 En terwyl hulle op reis was, sê iemand op die pad vir Hom: Here, ek sal U
volg, waar U ook mag gaan!
58 Toe sê Jesus vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste,
maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie.
59 En Hy sê aan 'n ander een: Volg My. Maar hy antwoord: Here, laat my toe om
eers my vader te gaan begrawe.
60 En Jesus sê vir hom: Laat die dooies hul eie dooies begrawe; maar gaan jy en
verkondig die koninkryk van God.
61 En 'n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om
afskeid te neem van die wat in my huis is.
62 En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe
kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.
10
1 En ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle
twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.
2 Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die
Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.
3 Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe.
4 Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene dra nie, en groet niemand op die pad
nie.
5 En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis!
6 En as dáár 'n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot
julle terugkeer.
7 Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die
arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis gaan nie.
8 En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan
julle voorgesit word.
9 En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van
God het naby julle gekom.
10 Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie,
gaan uit op sy strate en sê:
11 Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar
tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.
12 En Ek sê vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir
daardie stad.
13 Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige
dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as
gesit en hulle bekeer het.
14 Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir
julle.
15 En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk
toe neergestoot word.
16 Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie
My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.
17 En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels
onderwerp hulle aan ons in u Naam.
18 Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.
19 Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al
die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.
20 Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is
nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.
21 In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader,
Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en
verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was
dit u welbehae.
22 Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie,
behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die
Seun dit wil openbaar.
23 En Hy het Hom omgedraai na sy dissipels en afsonderlik aan hulle gesê: Salig
is die oë wat sien wat julle sien;
24 want Ek sê vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle
sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie
gehoor nie.
25 En daar het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê:
Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?
26 En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?
27 En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en
uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste
soos jouself.
28 Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.
29 Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?
30 En Jesus antwoord en sê: 'n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo
en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle
weg en laat hom half dood lê.
31 En bygeval het 'n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan
hy anderkant verby.
32 En net so het ook 'n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant
verbygegaan.
33 Maar 'n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom
sien, het hy innig jammer gevoel,
34 en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom
toe op sy eie pakdier gehelp en hom na 'n herberg geneem en vir hom gesorg.
35 En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan
die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy
nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.
36 Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die
rowers verval het?
37 En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir
hom: Gaan en doen jy net so.
38 En op hulle reis het Hy in 'n sekere dorp gekom, en 'n vrou met die naam van
Martha het Hom in haar huis ontvang.
39 En sy het 'n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van
Jesus gesit en na sy woord geluister.
40 Maar Martha was baie besig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en
sê: Here, gee U nie om dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar
dat sy my moet help.
41 Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus
oor baie dinge;
42 maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar
nie weggeneem sal word nie.
11
1 En toe Hy op 'n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir
Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels
geleer het.
2 En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is,
laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die
hemel net so ook op die aarde;
3 gee ons elke dag ons daaglikse brood;
4 en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is;
en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
5 En Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal 'n vriend hê en sal middernag na
hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode,
6 want 'n vriend van my het van 'n reis by my aangekom, en ek het niks om aan
hom voor te sit nie--
7 en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is
al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om
vir jou te gee nie.
8 Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend
is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as
hy nodig het.
9 En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind;
klop, en vir julle sal oopgemaak word.
10 Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal
oopgemaak word.
11 En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom 'n klip
gee; of ook 'n vis, en hy sal hom in plaas van 'n vis 'n slang gee;
12 of ook as hy 'n eier vra, hom 'n skerpioen gee?
13 As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee,
hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?
14 En Hy het 'n duiwel uitgedryf, en dié was stom. En toe die duiwel uitgaan,
het die stom man gepraat; en die skare het hulle verwonder.
15 Maar sommige van hulle sê: Deur Beëlsebul, die owerste van die duiwels, dryf
Hy die duiwels uit.
16 En ander het Hom versoek en van Hom 'n teken uit die hemel begeer.
17 Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: Elke koninkryk wat teen
homself verdeeld is, word verwoes; en 'n huis wat teen homself is, val.
18 En as die Satan ook teen homself verdeeld is, hoe sal sy koninkryk bly staan?
Want julle sê dat Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf.
19 En as Ek deur Beëlsebul die duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle
uit? Daarom sal hulle jul regters wees.
20 Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk
van God waarlik by julle gekom.
21 Wanneer 'n sterk man wat goed gewapend is, sy huis bewaak, is sy besittings
in veiligheid.
22 Maar as een hom oorval wat sterker is as hy en hom oorwin, neem hy sy volle
wapenrusting weg waar hy op vertrou het, en deel sy buit uit.
23 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie,
verstrooi.
24 Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose
plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my
huis waar ek uitgegaan het.
25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd.
26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en
woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.
27 En terwyl Hy dit spreek, het 'n vrou uit die skare haar stem verhef en vir
Hom gesê: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.
28 En Hy sê: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.
29 En toe die skare saamstroom, begin Hy te sê: Hierdie geslag is boos; dit soek
na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die
profeet Jona.
30 Want soos Jona 'n teken was vir die Nineviete, so sal die Seun van die mens
ook wees vir hierdie geslag.
31 Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met die manne van
hierdie geslag en hulle veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die
aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en--meer as Salomo is hier!
32 Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en
dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en--meer as
Jona is hier!
33 En niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die
maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.
34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele
liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.
35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
36 As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie,
sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou
verlig.
37 En onderwyl Hy besig was om te spreek, het 'n sekere Fariseër Hom uitgenooi
om by hom te kom eet; en Hy het ingekom en aan tafel gegaan.
38 En toe die Fariseër dit sien, het hy hom verwonder dat Hy nie voor die
maaltyd eers gewas het nie.
39 Maar die Here sê vir hom: Ja, julle Fariseërs, julle maak die buitekant van
die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid.
40 Onverstandiges, het Hy wat die buitekant gemaak het, nie die binnekant ook
gemaak nie?
41 Maar gee wat daarin is, as aalmoes, en dan is alles vir julle rein.
42 Maar wee julle, Fariseërs, want julle gee tiendes van die kruisement en die
wynruit en elke groentesoort, en julle verwaarloos die reg en die liefde tot
God. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
43 Wee julle, Fariseërs, want julle hou van die voorste banke in die sinagoges
en die begroetinge op die markte.
44 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is soos grafte
wat onherkenbaar is, en die mense wat daaroor loop, weet dit nie.
45 Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir Hom: Meester, as U só spreek,
beledig U ons ook.
46 En Hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat
swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers
aan nie.
47 Wee julle, want julle bou die grafte van die profete, en julle vaders het
hulle gedood.
48 Julle gee dus getuienis vir die werke van julle vaders en het saam welbehae
daarin, want hulle het hul gedood en julle bou hul grafte.
49 Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle
stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg,
50 sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat
vergiet is van die grondlegging van die wêreld af,
51 van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen
die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word
van hierdie geslag.
52 Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem;
self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.
53 En toe Hy dit aan hulle sê, begin die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom
skerp in die oog te hou en Hom uit te vra oor baie dinge,
54 om vir Hom 'n strik te stel en te probeer om iets uit sy mond op te vang,
sodat hulle Hom kon beskuldig.
12
1 Toe duisende van die skare ondertussen saamkom, sodat hulle mekaar vertrap
het, begin Hy aan sy dissipels te sê: Pas veral op vir die suurdeeg van die
Fariseërs, dit is geveinsdheid.
2 En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie
bekend sal word nie.
3 Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en
wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig
word.
4 En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak
en daarna niks meer kan doen nie;
5 maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak
het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!
6 Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is
voor God vergeet nie.
7 Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie:
julle is meer werd as baie mossies.
8 En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun
van die mens ook bely voor die engele van God.
9 Maar hy wat My verloën voor die mense, sal verloën word voor die engele van
God.
10 En elkeen wat 'n woord teen die Seun van die mens sal spreek, dit sal hom
vergewe word; maar vir hom wat gelaster het teen die Heilige Gees, sal dit nie
vergewe word nie.
11 En wanneer hulle jul sal bring voor die sinagoges en die owerhede en die
gesaghebbers, moet julle jul nie kwel oor hoe of waarmee julle jul sal verdedig,
of wat julle sal sê nie;
12 want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.
13 En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis
met my moet deel.
14 Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as 'n regter of deler oor julle
aangestel?
15 En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand
se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.
16 Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: 'n Ryk man se grond het goed gedra.
17 En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen
plek waar ek my oes kan insamel nie?
18 Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal
daar al my opbrengste en my goed insamel.
19 En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie
jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.
20 Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van
jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s'n sal dit wees?
21 So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.
22 En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel
oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie.
23 Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere.
24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen
voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie
werd as die voëls nie!
25 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?
26 As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor
die ander dinge?
27 Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek
sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van
hulle nie.
28 As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in 'n oond gegooi
word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges!
29 Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en
julle nie ongerus maak nie;
30 want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat
julle hierdie dinge nodig het.
31 Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg
word.
32 Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het 'n welbehae daarin
gehad om aan julle die koninkryk te gee.
33 Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud
word nie, 'n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot
verteer nie.
34 Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
35 Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand.
36 En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die
bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.
37 Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom.
Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en
hulle kom bedien.
38 En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig
is daardie diensknegte.
39 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou
hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.
40 Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op 'n uur dat
julle dit nie verwag nie.
41 Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir
almal?
42 En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat
die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?
43 Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind.
44 Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.
45 Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die
diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word,
46 dan sal die heer van daardie dienskneg kom op 'n dag dat hy dit nie verwag
nie, en op 'n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom 'n deelgenoot
maak van die ontroues.
47 En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of
volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;
48 maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min
slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder
word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.
49 Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al
aangesteek was!
50 Maar Ek het 'n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit
volbring is!
51 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir
julle, maar eerder verdeeldheid.
52 Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en
twee teen drie.
53 Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die
moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar
skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.
54 En Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle 'n wolk in die weste sien
opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook.
55 En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm
wees! en dit gebeur.
56 Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel,
maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie?
57 En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie?
58 Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die
pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die
regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die
gevangenis werp nie.
59 Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste
oortjie betaal het nie.
13
1 En in dieselfde tyd was daar mense teenwoordig wat Hom berig gebring het van
die Galiléërs wie se bloed Pilatus met hulle offers gemeng het.
2 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dink julle dat hierdie Galiléërs groter
sondaars was as al die Galiléërs, omdat hulle sulke dinge gely het?
3 Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so
omkom.
4 Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood
het--dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem
woon?
5 Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so
omkom.
6 En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: 'n Man het 'n vyeboom gehad wat in sy
wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie.
7 Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom
te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog
onvrugbaar?
8 Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat
ek om hom gespit en mis gegooi het.
9 As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.
10 En Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer.
11 En daar was 'n vrou wat 'n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en
sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie.
12 En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid
verlos.
13 En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God
verheerlik.
14 Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die
sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop 'n mens
behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag
nie.
15 Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op
die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink
nie?
16 Maar hierdie vrou wat 'n dogter van Abraham is, wat die Satan--dink daaraan!
--agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag
verlos word nie?
17 En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare
was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.
18 En Hy het gesê: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit
vergelyk?
19 Dit is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit
het gegroei en 'n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak
in sy takke.
20 En weer het Hy gesê: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk?
21 Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit
heeltemal ingesuur is.
22 En onderwyl Hy geleer het en op reis was na Jerusalem, het Hy stede en dorpe
deurgegaan.
23 Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord
hulle:
24 Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal
probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.
25 Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle
begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir
ons oop--sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is
nie.
26 Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U
het op ons strate geleer.
27 En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.
Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!
28 Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak
en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self
uitgedryf buitentoe.
29 En hulle sal kom van oos en wes en van noord en suid en aansit in die
koninkryk van God.
30 En daar is laastes wat eerste sal wees, en daar is eerstes wat laaste sal
wees.
31 En op dieselfde dag het sommige van die Fariseërs na Hom gekom en vir Hom
gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring.
32 En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels
uit en maak gesond, vandag en môre, en op die derde dag is Ek klaar.
33 Maar Ek moet vandag en môre en die volgende dag verder gaan, want dit kan nie
gebeur dat 'n profeet buitekant Jerusalem omkom nie.
34 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur
is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos 'n hen haar
kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.
35 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek sê vir julle dat
julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal sê:
Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!
14
1 En toe Hy in die huis van een van die owerstes van die Fariseërs gegaan het om
brood te eet op die sabbat, het hulle Hom in die oog gehou.
2 En daar was voor Hom 'n man wat die water gehad het.
3 En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Fariseërs gesê: Is dit
geoorloof om op die sabbat te genees?
4 Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan.
5 En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in 'n put val,
wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?
6 En hulle kon Hom daarop nie antwoord nie.
7 En toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies, vertel Hy aan die
genooides 'n gelykenis en sê vir hulle:
8 Wanneer jy deur iemand na 'n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek
inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom
uitgenooi is nie,
9 en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man.
En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.
10 Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer
hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy
eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is.
11 Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder,
sal verhoog word.
12 En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy 'n môre-- of
middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk
bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding
ontvang nie.
13 Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes,
14 en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit
sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.
15 En toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is
hy wat brood eet in die koninkryk van God.
16 Maar Hy antwoord hom: 'n Sekere man het 'n groot maaltyd gegee en baie mense
uitgenooi.
17 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die
genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
18 En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom
gesê: Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te
kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
19 En 'n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer.
Ek vra u, verskoon my tog.
20 En 'n ander een het gesê: Ek het 'n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
21 En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die
eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die
strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en
kreupeles en blindes hier in.
22 En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is
nog plek.
23 Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en
dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.
24 Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd
sal smaak nie.
25 En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir
hulle gesê:
26 As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders
en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees
nie.
27 En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie
wees nie.
28 Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste
bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? --
29 sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie,
almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot
30 en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.
31 Of watter koning wat optrek om teen 'n ander koning slag te lewer, gaan nie
eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet
wat met twintig duisend teen hom kom nie?
32 Anders stuur hy 'n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra
vredesvoorwaardes.
33 So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my
dissipel wees nie.
34 Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik
gemaak word?
35 Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit
buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
15
1 En al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na
Hom te luister.
2 En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie
man ontvang sondaars en eet saam met hulle.
3 Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê:
4 Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat
nie die nege en negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat
verlore is totdat hy dit kry nie?
5 En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers.
6 En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle:
Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.
7 Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar
wat hom bekeer, meer as oor nege en negentig regverdiges wat die bekering nie
nodig het nie.
8 Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie 'n
lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?
9 En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees
saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.
10 So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar
wat hom bekeer.
11 Hy het ook gesê: 'n Man het twee seuns gehad.
12 En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van
die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel.
13 En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en
weggereis na 'n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te
lewe.
14 En toe hy alles deurgebring het, kom daar 'n swaar hongersnood in daardie
land, en hy het begin gebrek ly.
15 Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het
hom in sy veld gestuur om varke op te pas.
16 En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en
niemand het dit aan hom gegee nie.
17 Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het
oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!
18 Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het
gesondig teen die hemel en voor u,
19 en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u
huurlinge.
20 En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy
vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en
hartlik gesoen.
21 En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek
is nie meer werd om u seun genoem te word nie.
22 Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit
aan, en gee 'n ring vir sy hand en skoene vir sy voete.
23 En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees.
24 Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was
verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.
25 En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom,
hoor hy musiek en beurtsange.
26 En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken.
27 Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf
geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het.
28 En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en
smeek hom.
29 Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het
nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit 'n bokkie gegee, sodat ek saam
met my vriende vrolik kon wees nie.
30 Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u
vir hom die vetgemaakte kalf geslag.
31 Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue.
32 Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het
weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.
16
1 En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder
gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis.
2 En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee
verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.
3 Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die
bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my.
4 Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is,
hulle my in hulle huise kan ontvang.
5 Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste:
Hoeveel skuld jy aan my heer?
6 En hy antwoord: honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan
sit en skryf gou vyftig.
7 Daarna sê hy vir 'n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord:
honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.
8 En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig
gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle
geslag as die kinders van die lig.
9 En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat
wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.
10 Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat
onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig.
11 As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die
ware goed toevertrou?
12 En as julle nie getrou was in 'n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie
gee?
13 Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die
ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God
én Mammon dien nie.
14 En die Fariseërs, wat geldgierig was, het ook al hierdie dinge gehoor en Hom
beskimp.
15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense,
maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is 'n gruwel voor
God.
16 Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van
die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.
17 Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel
van die wet sou val.
18 Elkeen wat van sy vrou skei en 'n ander een trou, pleeg egbreuk; en elkeen
wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.
19 En daar was 'n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag
vrolik en weelderig gelewe.
20 En daar was 'n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort
gelê het.
21 En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se
tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.
22 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van
Abraham.
23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë
ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy
boesem.
24 En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy
die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly
smarte in hierdie vlam.
25 Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe
ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly
smarte.
26 En by dit alles is daar tussen ons en julle 'n groot kloof gevestig, sodat
die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie
na ons kan oorkom nie.
27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur--
28 want ek het vyf broers--om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in
hierdie plek van pyniging kom nie.
29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié
luister.
30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle
gaan, sal hulle hul bekeer.
31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal
hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.
17
1 En Hy het vir sy dissipels gesê: Dit is onvermydelik dat die struikelblokke
kom, maar wee hom deur wie hulle kom.
2 Dit is beter vir hom as 'n meulsteen aan sy nek gehang en hy in die see gegooi
word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel.
3 Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy
berou kry, vergewe hom.
4 En as hy sewe maal op 'n dag teen jou sondig en sewe maal op 'n dag na jou
terugkom en sê: Ek het berou--moet jy hom vergewe.
5 Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof.
6 En die Here sê: As julle geloof gehad het soos 'n mosterdsaad, sou julle vir
hierdie moerbeiboom sê: Word ontwortel en in die see geplant--en hy sou julle
gehoorsaam wees.
7 En wie is daar van julle wat 'n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy
inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel?
8 Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou
en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink?
9 Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo
nie.
10 So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons
is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te
doen.
11 En op sy reis na Jerusalem het Hy deur Samaría en Galiléa gegaan.
12 En toe Hy in 'n sekere dorp ingaan, kom tien melaatse manne Hom tegemoet, wat
op 'n afstand bly staan het.
13 En hulle het hul stem verhef en gesê: Jesus, Meester, wees ons barmhartig!
14 En toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: Gaan vertoon julle aan die priesters.
En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword.
15 En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met 'n
groot stem verheerlik.
16 En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was 'n
Samaritaan.
17 Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege?
18 Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik
behalwe hierdie vreemdeling nie?
19 En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.
20 En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom,
het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare
tekens nie.
21 En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God
is binne-in julle.
22 En Hy sê vir sy dissipels: Daar sal dae kom wanneer julle sal begeer om een
van die dae van die Seun van die mens te sien, en julle sal dit nie sien nie.
23 En hulle sal vir julle sê: Kyk hier! of: Kyk daar! Moenie gaan nie en moenie
agterna loop nie.
24 Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by
die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag
wees.
25 Maar eers moet Hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.
26 En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae
van die Seun van die mens:
27 hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot
op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal
vernietig het.
28 Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink,
gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou.
29 Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel
af gereën en almal vernietig.
30 Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.
31 In daardie dag moet hy wat op die dak sal wees, terwyl sy huisraad in die
huis is, nie afkom om dit weg te neem nie; en so ook moet hy wat op die land sal
wees, nie omdraai na wat agter is nie.
32 Dink aan die vrou van Lot!
33 Elkeen wat probeer om sy lewe te red, sal dit verloor; en elkeen wat dit
verloor, sal dit behou.
34 Ek sê vir julle: In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal
aangeneem en die ander verlaat word.
35 Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.
36 Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word.
37 En hulle antwoord en sê vir Hom: Waar, Here? En Hy sê vir hulle: Waar die
liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
18
1 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n mens
gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,
2 en gesê: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens
ontsien het nie.
3 En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en
gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.
4 En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God
ook nie en al ontsien ek geen mens nie,
5 tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy
nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.
6 Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.
7 Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie,
al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
8 Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die
mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
9 En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle
regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.
10 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een 'n Fariseër en die
ander 'n tollenaar.
11 En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat
ek nie soos die ander mense is nie--rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook
soos hierdie tollenaar nie.
12 Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.
13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel
ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar,
genadig!
14 Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder
as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat
homself verneder, sal verhoog word.
15 En hulle het ook die klein kindertjies na Hom gebring, sodat Hy hulle kon
aanraak; en toe die dissipels dit sien, het hulle hul bestraf.
16 Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe
kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
17 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n
kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
18 En 'n sekere owerste vra Hom en sê: Goeie Meester, wat moet ek doen om die
ewige lewe te beërwe?
19 En Jesus antwoord hom: Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie behalwe
een, naamlik God.
20 Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreek nie; jy mag nie doodslaan nie; jy mag
nie steel nie; jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en jou moeder.
21 En hy sê: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.
22 En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou--verkoop
alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal 'n skat in die hemel
hê; kom dan hier, volg My.
23 Toe hy dit hoor, het hy diep bedroef geword, want hy was baie ryk.
24 En toe Jesus sien dat hy diep bedroef geword het, sê Hy: Hoe beswaarlik sal
hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan.
25 Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as
vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
26 Daarop sê die wat dit gehoor het: Wie kan dan gered word?
27 Maar Hy antwoord: Die dinge wat by mense onmoontlik is, is by God moontlik.
28 Toe sê Petrus: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.
29 En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of
ouers of broers of vrou of kinders verlaat het ter wille van die koninkryk van
God,
30 wat nie baiemaal soveel in hierdie tyd sal ontvang nie en die ewige lewe in
die eeu wat kom.
31 En Hy het die twaalf by Hom geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na
Jerusalem, en alles wat deur die profete geskrywe is, sal aan die Seun van die
mens vervul word.
32 Want Hy sal oorgelewer word aan die heidene en bespot en mishandel word, en
op Hom sal gespuug word;
33 en nadat hulle Hom gegésel het, sal hulle Hom doodmaak; en op die derde dag
sal Hy opstaan.
34 Maar hulle het niks hiervan begryp nie, en hierdie woord was vir hulle bedek,
en hulle het nie verstaan wat gesê is nie.
35 En terwyl Hy naby Jérigo kom, sit daar 'n blinde man langs die pad en bedel;
36 en toe hy 'n skare hoor verbygaan, vra hy wat dit is.
37 En hulle vertel hom: Jesus die Nasaréner gaan verby.
38 Toe roep hy uit en sê: Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!
39 En die wat voor loop, bestraf hom dat hy moet stilbly. Maar hy het al harder
uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig!
40 En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en
toe hy naby kom, vra Hy hom
41 en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan
sien.
42 En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered.
43 En onmiddellik het hy gesien en Hom gevolg, terwyl hy God verheerlik. En toe
die hele volk dit sien, het hulle aan God die lof gegee.
19
1 En Hy het in Jérigo gekom en daar deurgegaan.
2 En daar was 'n man met die naam van Saggéüs, 'n hoof van die tollenaars en 'n
ryk man.
3 En hy het probeer om Jesus te sien, wie Hy was; maar vanweë die skare kon hy
nie, omdat hy klein van persoon was.
4 En hy het vooruit gehardloop en in 'n wildevyeboom geklim, sodat hy Hom kon
sien, want Hy sou daarlangs verbygaan.
5 En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs,
maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly.
6 Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.
7 En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man
tuisgegaan.
8 Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my
goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit
vierdubbel terug.
9 Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom,
aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.
10 Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.
11 En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by,
omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God
onmiddellik sou verskyn.
12 Hy het dan gesê: 'n Man van hoë geboorte het na 'n ver land gereis om vir
homself 'n koningskap te ontvang en dan terug te kom.
13 En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê
vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom.
14 Maar sy medeburgers het hom gehaat en 'n gesantskap agter hom aan gestuur om
te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.
15 En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie
diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon
weet wat elkeen met handel verdien het.
16 En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak.
17 En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou
gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede.
18 En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien.
19 En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.
20 En 'n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in 'n doek weggesit
het;
21 want ek was bang vir u, omdat u 'n strawwe man is; u neem weg wat u nie
uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie.
22 Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het
geweet dat ek 'n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai
wat ek nie gesaai het nie.
23 Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by
my koms met rente ingevorder het.
24 En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan
hom wat die tien ponde het--
25 en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde
26 want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat
nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het.
27 Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees
nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood.
28 En toe Hy dit gesê het, gaan Hy vooruit op weg na Jerusalem.
29 En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem
word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur
30 en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle
'n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak
hom los en bring hom.
31 En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? --moet julle so vir hom
sê: Die Here het hom nodig.
32 En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het.
33 En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle
die vul los?
34 En hulle antwoord: Die Here het hom nodig.
35 Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat
Jesus daarop sit.
36 En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad.
37 En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte
dissipels God met blydskap te prys met 'n groot stem oor al die kragtige dade
wat hulle gesien het,
38 terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here,
vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!
39 En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u
dissipels!
40 En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die
klippe uitroep.
41 En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween
42 en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge
wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.
43 Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp
en jou omsingel en jou van alle kante insluit.
44 En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle
sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe
God jou besoek het, nie opgemerk het nie.
45 En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en
koop, uit te jaag.
46 En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is 'n huis van gebed. Maar
julle het dit 'n rowerspelonk gemaak.
47 En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en
die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te
bring;
48 en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom
aangehang en na Hom geluister.
20
1 En op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer
en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam
met die ouderlinge by Hom staan,
2 en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge
doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het?
3 En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra--sê vir My:
4 die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense?
5 Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel--sal
Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie?
6 En as ons sê: Uit mense sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan
oortuig dat Johannes 'n profeet is.
7 Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie.
8 En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek
hierdie dinge doen nie.
9 Toe begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n
wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis
gegaan.
10 En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle
hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en
met leë hande weggestuur.
11 En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en
skandelik behandel en met leë hande weggestuur.
12 En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en
uitgedryf.
13 Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun
stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien.
14 Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê:
Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan
wees.
15 En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die
eienaar van die wingerd dan aan hulle doen?
16 Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe
hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie!
17 Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die
steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword?
18 Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val,
dié sal hy vermorsel.
19 Toe probeer die owerpriesters en die skrifgeleerdes in daardie selfde uur om
die hande aan Hom te slaan, maar hulle het die volk gevrees; want hulle het
geweet dat Hy hierdie gelykenis met die oog op hulle self uitgespreek het.
20 En hulle het Hom in die oog gehou en spioene gestuur wat geveins het dat
hulle regverdig was, sodat hulle Hom op 'n woord kon betrap, om Hom oor te lewer
aan die owerheid en aan die gesag van die goewerneur.
21 En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer
en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer--
22 is dit ons geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie?
23 Maar Hy het hulle listigheid bemerk en vir hulle gesê: Waarom versoek julle
My?
24 Wys My 'n penning. Wie se beeld en opskrif het dit? Hulle antwoord en sê: Die
keiser s'n.
25 Toe sê Hy vir hulle: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan
God wat God toekom.
26 En hulle kon Hom nie voor die volk op 'n woord betrap nie, en verwonderd oor
sy antwoord het hulle geswyg.
27 En sommige van die Sadduseërs het gekom--hulle wat ontken dat daar 'n
opstanding is--en Hom gevra
28 en gesê: Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se getroude broer
sterwe en hy sterf sonder kinders, dan moet sy broer die vrou neem en vir sy
broer kinders verwek.
29 Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en kinderloos
gesterwe.
30 En die tweede het die vrou geneem, en hy het ook kinderloos gesterwe.
31 En die derde het haar geneem; en net so al sewe. En hulle het geen kinders
nagelaat nie en het gesterwe.
32 En ten laaste het die vrou ook gesterwe.
33 In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees? want al sewe het
haar as vrou gehad.
34 Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word
in die huwelik uitgegee;
35 maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode
te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie.
36 Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is
kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.
37 En dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos
aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die
God van Jakob.
38 Hy is tog nie 'n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir
Hom.
39 En sommige van die skrifgeleerdes antwoord en sê: Meester, U het goed
gespreek.
40 En hulle het Hom nie meer iets durf vra nie.
41 Toe sê Hy vir hulle: Hoe is dit dat hulle sê dat die Christus die seun van
Dawid is?
42 En Dawid self sê in die boek van die Psalms: Die Here het tot my Here
gespreek: Sit aan my regterhand
43 totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.
44 Dawid noem Hom dan Here, en hoe is Hy sy seun?
45 En terwyl die hele volk luister, sê Hy vir sy dissipels:
46 Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van die
begroetinge op die markte hou en van die voorste banke in die sinagoges en die
voorste plekke by die maaltye.
47 Hulle eet die huise van die weduwees op en doen vir die skyn lang gebede.
Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.
21
1 En toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi.
2 En Hy het ook 'n arm weduwee daar twee geldstukkies sien ingooi.
3 En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal
ingegooi het.
4 Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy
het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.
5 En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde
geskenke versierd was, sê Hy:
6 Hierdie dinge wat julle sien daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die
ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.
7 En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken
wanneer dit gaan gebeur?
8 En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my
Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan
nie.
9 En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge
moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.
10 Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een
koninkryk teen die ander.
11 En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en
pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.
12 Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle
vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en
goewerneurs bring ter wille van my Naam.
13 En dit sal vir julle uitloop op 'n getuienis.
14 Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink
nie.
15 Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal
kan teëspreek of weerstaan nie.
16 Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en
vriende, en hulle sal van julle doodmaak.
17 En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.
18 En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.
19 Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.
20 En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat
sy verwoesting naby is.
21 Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is,
moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie.
22 Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan
word.
23 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want
daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk.
24 En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem
word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die
tye van die nasies vervul is.
25 En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid
van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,
26 en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die
wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.
27 En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en
heerlikheid.
28 En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat
julle verlossing naby is.
29 Toe vertel Hy hulle 'n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome.
30 Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al
naby is.
31 So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle
hierdie dinge sien gebeur.
32 Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat
alles gebeur het nie.
33 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.
34 Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur
swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik
oorval nie.
35 Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.
36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie
dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.
37 En Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en
vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word.
38 En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom
te luister.
22
1 En die fees van die ongesuurde brode, wat pasga genoem word, was naby.
2 En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom kon
ombring, want hulle het die volk gevrees.
3 En die Satan het in Judas gevaar, wat Iskáriot genoem word en wat uit die
getal van die twaalf was.
4 Toe het hy gegaan en met die owerpriesters en hoofde beraadslaag hoe hy Hom
aan hulle kon oorlewer.
5 En hulle was bly en het met hom ooreengekom om hom geld te gee.
6 En hy het toegestem en na 'n goeie geleentheid gesoek om Hom sonder oproer aan
hulle oor te lewer.
7 En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes
word.
8 Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons
dit kan eet.
9 En hulle sê vir Hom: Waar wil U hê moet ons dit berei?
10 En Hy antwoord hulle: Kyk, as julle in die stad ingaan, sal 'n man julle
ontmoet wat 'n kruik water dra; volg hom na die huis waar hy ingaan.
11 En julle moet vir die eienaar van die huis sê: Die Meester vra u--waar is die
kamer waar Ek die pasga met my dissipels kan eet?
12 En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat reggemaak is; daar moet julle dit
berei.
13 En hulle het gegaan en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het, en die pasga
berei.
14 En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met
Hom.
15 En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met
julle te eet voordat Ek ly.
16 Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die
koninkryk van God vervul is nie.
17 En toe Hy 'n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder
julle.
18 Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok
voordat die koninkryk van God gekom het nie.
19 Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan
hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my
gedagtenis.
20 Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe
testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.
21 Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel.
22 Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie
man deur wie Hy verraai word!
23 Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit
sou doen.
24 En daar het ook twis onder hulle ontstaan oor wie van hulle die grootste geag
moet wees.
25 En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die
wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem.
26 Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos
die jongste, en wie 'n leier is, soos een wat dien.
27 Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie
hy wat aan tafel is nie? Maar Ek is onder julle soos een wat dien.
28 En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge.
29 En Ek beskik vir julle 'n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het,
30 sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om
die twaalf stamme van Israel te oordeel.
31 En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos
koring te sif.
32 Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag
bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.
33 En hy het vir Hom gesê: Here, ek is gereed om saam met U selfs in die
gevangenis en in die dood te gaan.
34 Maar Hy antwoord: Ek sê vir jou, Petrus, die haan sal vannag nie kraai
voordat jy drie maal geloën het dat jy My ken nie.
35 En Hy sê vir hulle: Toe Ek julle uitgestuur het sonder beurs en reissak en
skoene, het julle iets kortgekom? En hulle antwoord: Niks nie.
36 Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie 'n beurs het, laat hom dit neem en so ook
die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en 'n swaard koop.
37 Want Ek sê vir julle dat dit wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En
Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op
My, kom daar 'n einde.
38 Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit
is genoeg.
39 En Hy het vertrek en volgens gewoonte na die Olyfberg gegaan. En ook sy
dissipels het Hom gevolg.
40 En toe Hy op die plek kom, sê Hy vir hulle: Bid dat julle nie in versoeking
kom nie.
41 En Hy het Hom van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip kan
gooi, en neergekniel en gebid
42 en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans
nie my wil nie, maar u wil geskied!
43 En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk.
44 En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy
sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.
45 Toe staan Hy van die gebed op en kom by sy dissipels en vind hulle aan die
slaap van droefheid.
46 En Hy sê vir hulle: Wat slaap julle? Staan op en bid, dat julle nie in
versoeking kom nie.
47 En terwyl Hy nog spreek, kom daar 'n skare; en hy wat Judas genoem word, een
van die twaalf, het voor hulle uit geloop en nader gekom na Jesus om Hom te
soen.
48 En Jesus sê vir hom: Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n kus?
49 En toe die wat rondom Hom was, sien wat gaan gebeur, sê hulle vir Hom: Here,
moet ons met die swaard slaan?
50 En een van hulle het die dienskneg van die hoëpriester getref en sy regteroor
afgekap.
51 Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor
aangeraak en hom gesond gemaak.
52 Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat
teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen 'n rower met swaarde en
stokke?
53 Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande
teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.
54 En hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van
die hoëpriester. En Petrus het van ver af gevolg.
55 En toe hulle 'n vuur in die middel van die binneplaas van die paleis gemaak
en bymekaar gaan sit het, het Petrus onder hulle gesit.
56 En 'n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas
aangekyk het, sê sy: Hierdie man was ook saam met Hom.
57 Maar hy het Hom verloën en gesê: Vrou, ek ken Hom nie.
58 En kort daarna sien iemand anders hom en sê: Jy is ook een van hulle. Maar
Petrus sê: Man, ek is nie.
59 En ná verloop van omtrent een uur het 'n ander een dit verseker en gesê:
Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook 'n Galiléër.
60 Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy sê nie. En onmiddellik, terwyl
hy nog praat, het die haan gekraai.
61 En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van
die Here onthou wat Hy vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie
maal verloën.
62 En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.
63 En die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan.
64 En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en
gesê: Profeteer wie dit is wat U geslaan het.
65 En baie ander dinge het hulle lasterlik teen Hom gespreek.
66 En toe dit dag word, het die oudstes van die volk--die owerpriesters en
skrifgeleerdes--vergader en Hom voor hulle Raad gebring
67 en gesê: As U die Christus is, sê vir ons. En Hy antwoord hulle: As Ek vir u
sê, sal u tog nie glo nie.
68 En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie.
69 Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van
God.
70 En hulle sê almal: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U sê dat
Ek dit is.
71 Daarop sê hulle: Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit
sy mond gehoor.
23
1 En die hele menigte van hulle het opgestaan en Hom na Pilatus gelei.
2 En hulle het Hom begin beskuldig en sê: Ons het gevind dat hierdie man die
volk verlei en verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy sê dat
Hy self Christus, die Koning, is.
3 Toe vra Pilatus Hom en sê: Is U die Koning van die Jode? En Hy antwoord hom en
sê: U sê dit.
4 En Pilatus sê vir die owerpriesters en die skare: Ek vind geen skuld in
hierdie man nie.
5 Maar hulle het aangehou en gesê: Hy maak die volk oproerig met sy leer die
hele Judéa deur, vandat Hy in Galiléa begin het tot hiertoe.
6 En toe Pilatus van Galiléa hoor, vra hy of die man 'n Galiléër is.
7 En nadat hy verneem het dat Hy uit die magsgebied van Herodes was, stuur hy
Hom na Herodes wat self ook in daardie dae in Jerusalem was.
8 En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig
om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of
ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.
9 En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie.
10 En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het Hom heftig staan en beskuldig.
11 En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot
het, werp hy Hom 'n blink kleed om en stuur Hom terug na Pilatus.
12 En Pilatus en Herodes het op daardie dag goeie vriende geword, want hulle was
vantevore in vyandskap teenoor mekaar.
13 Toe roep Pilatus die owerpriesters en die owerstes en die volk bymekaar en sê
vir hulle:
14 Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou
het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld
gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie;
15 ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom
niks gedoen wat die dood verdien nie.
16 Nadat ek Hom dan gekasty het, sal ek Hom loslaat.
17 En hy was verplig om vir hulle op die fees een los te laat.
18 Maar die hele menigte skreeu en sê: Weg met Hom, en laat vir ons Barábbas
los!
19 Dié was oor 'n sekere opstand wat in die stad plaasgevind het, en oor 'n
moord in die gevangenis gewerp.
20 Daarop spreek Pilatus hulle weer toe, omdat hy Jesus wou loslaat;
21 maar hulle het aangehou roep en sê: Kruisig, kruisig Hom!
22 En vir die derde keer sê hy vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het
in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.
23 Maar hulle het aangehou met 'n harde geroep en geëis dat Hy gekruisig moes
word; en hulle geroep en dié van die owerpriesters het die oorhand gekry.
24 Toe gee Pilatus uitspraak dat aan hulle eis voldoen moet word.
25 En hy het die een vir hulle losgelaat wat oor opstand en moord in die
gevangenis gewerp was, die een wat hulle geëis het. Maar Jesus het hy aan hulle
wil oorgelewer.
26 En toe hulle Hom weglei, neem hulle 'n sekere Simon van Ciréne wat van die
veld af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.
27 En 'n groot menigte van die volk het Hom gevolg, en vroue wat rou bedryf en
Hom beklaag het.
28 Maar Jesus het Hom omgedraai en vir hulle gesê: Dogters van Jerusalem, moenie
oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders;
29 want daar kom dae waarin hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die
moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie.
30 Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek
ons!
31 Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!
32 En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel
te word.
33 En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar
gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter-- en een aan die linkerkant.
34 En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En
hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.
35 En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook
geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus,
die uitverkorene van God, is.
36 En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring
37 en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself.
38 En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en
Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE.
39 En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U
die Christus is, verlos Uself en ons.
40 Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy ook God nie,
terwyl jy in dieselfde oordeel is? --
41 ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar
Hy het niks verkeerds gedoen nie.
42 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.
43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in
die Paradys wees.
44 En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde
gekom tot die negende uur toe;
45 en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur
geskeur.
46 En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my
gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.
47 En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en
gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.
48 En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste
geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan.
49 En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galiléa
gevolg het, het hierdie dinge gesien.
50 En daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en
regverdige man
51 --hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie--van Arimathéa, 'n
stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het.
52 Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra
53 en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n
rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie.
54 En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek.
55 En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die
graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was.
56 Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus
volgens die gebod.
24
1 En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander
saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei
was.
2 En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.
3 En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie.
4 En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in
blink klere.
5 En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê
die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies?
6 Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het
toe Hy nog in Galiléa was:
7 Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en
gekruisig word en op die derde dag opstaan.
8 En hulle het sy woorde onthou.
9 Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al
die ander.
10 En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en
die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het.
11 En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul
nie geglo nie.
12 Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien
hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat
gebeur het.
13 En twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van
Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs.
14 En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het.
15 En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met
hulle saam.
16 Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie.
17 En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel,
en waarom is julle bedroef?
18 En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n
vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin
gebeur het nie?
19 En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande
Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en
die hele volk;
20 en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en
Hom gekruisig het.
21 En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit
vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het.
22 Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf
was;
23 en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n
gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe.
24 En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so
gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie.
25 En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles
wat die profete gespreek het!
26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?
27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die
Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.
28 Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak
of Hy verder wou gaan;
29 maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand
en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly.
30 En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit
en gee dit aan hulle.
31 Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig
verdwyn.
32 En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op
die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?
33 Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die
elf en die wat saam met hulle bymekaar was,
34 wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.
35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword
het by die breking van die brood.
36 En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle:
Vrede vir julle!
37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien.
38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in
julle hart op?
39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n
gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.
40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.
41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir
hulle: Het julle hier iets om te eet?
42 Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek.
43 En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
44 En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek
nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die
profete en die psalms, vervul moet word.
45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
46 En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die
derde dag uit die dode opstaan,
47 en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die
nasies, van Jerusalem af en verder.
48 En julle is getuies van hierdie dinge.
49 En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die
stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.
50 En Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle
geseën.
51 En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.
52 En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.
53 En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.