M a l e a g i 1
1 Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleági.
2 Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons
liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek
Jakob liefgehad,
3 maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte 'n wildernis gemaak en sy erfdeel aan
die jakkalse van die woestyn prysgegee.
4 As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou--dan sê
die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die
mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die
HERE vertoornd is tot in ewigheid!
5 En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die HERE oor die gebied
van Israel!
6 'n Seun eer die vader, en 'n kneg sy heer. As Ek dan 'n Vader is, waar is my
eer? En as Ek 'n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die
leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het
ons u Naam verag?
7 Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur
het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik.
8 En as julle 'n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as
julle 'n lam of 'n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou
goewerneur! Sal hy 'n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE
van die leërskare.
9 Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke
dinge is deur julle gedoen--sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die
HERE van die leërskare.
10 Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie
tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle
nie, sê die HERE van die leërskare, en in 'n offer uit julle hand het Ek geen
behae nie.
11 Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder
die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en 'n
rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die
leërskare.
12 Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is
verontreinig, en wat sy opbrings betref--sy spys is veragtelik.
13 En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die
leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere--so bring julle dan die
offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE.
14 Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee 'n manlike
dier is, 'n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die HERE offer; want Ek
is 'n groot Koning, sê die HERE van die leërskare, en my Naam is gedug onder die
heidene.
2
1 En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod.
2 As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer
te bewys nie, sê die HERE van die leërskare, dan sal Ek die vloek onder julle
stuur en julle seëninge in 'n vloek verander; ja, Ek het dit alreeds vervloek,
omdat julle niks ter harte neem nie.
3 Kyk, Ek sal julle nakomelingskap bedreig, en Ek sal mis op julle gesigte
strooi, die mis van julle feeste; en hulle sal julle na die mishoop dra.
4 En julle sal gewaar word dat Ek julle hierdie gebod gestuur het, dat dit my
verbond kan wees met Levi, sê die HERE van die leërskare.
5 My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het dié aan hom gegee tot
vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe.
6 Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in
vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van
ongeregtigheid teruggebring.
7 Want die lippe van 'n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word
onderrig gesoek, want hy is 'n boodskapper van die HERE van die leërskare.
8 Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat
struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare.
9 So maak Ek julle dan ook veragtelik en gering by die hele volk, omdat julle my
weë nie hou nie en partydig handel by die regspraak.
10 Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie? Waarom
handel ons dan troueloos met mekaar, deur die verbond van ons vaders te
ontheilig?
11 Juda het troueloos gehandel, en 'n gruwel is in Israel en in Jerusalem
gepleeg; want Juda het die heiligdom van die HERE, wat Hy liefhet, ontheilig, en
hy het die dogter van 'n uitlandse god getrou.
12 Mag die HERE van die man wat so iets doen, uitroei hom wat roep en hom wat
antwoord gee uit die tente van Jakob, en hom wat 'n offer aan die HERE van die
leërskare bring.
13 En boonop doen julle dít: julle bedek die altaar van die HERE met trane, met
geween en versugting, omdat Hy Hom nie meer wend na die offer nie en dit van
julle hand nie aanneem as welgevallig nie.
14 En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou
jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van
jou verbond.
15 Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom
die een? Hy het 'n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van
julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.
16 Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat 'n mens sy
kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in
ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.
17 Julle vermoei die HERE met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei
ons Hom? Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die
HERE, en in hulle het Hy 'n behae; of waar is anders die God van die reg?
3
1 Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik
na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond,
na wie julle 'n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.
2 Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn?
Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers.
3 En Hy sal sit: 'n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi
reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in
geregtigheid 'n offer sal bring.
4 Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in
die ou dae en soos in die jare van die voortyd.
5 En Ek sal tot julle nader om strafgerig te hou, en Ek sal 'n haastige getuie
wees teen die towenaars en teen die egbrekers en teen die meinediges en teen die
wat die dagloner in sy loon, die weduwee en die wees verdruk; en teen die wat
die vreemdeling wegstoot en My nie vrees nie, sê die HERE van die leërskare.
6 Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie
verteer nie.
7 Sedert die dae van julle vaders het julle van my insettinge afgewyk en dit nie
onderhou nie. Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van
die leërskare. Maar julle vra: Waarin moet ons terugkeer?
8 Mag 'n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U
beroof? In die tiendes en die offergawe.
9 Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!
10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees;
en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die
vensters van die hemel sal oopmaak en op julle 'n oorvloedige seën sal uitstort
nie.
11 Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle
grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie
onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.
12 En al die nasies sal julle gelukkig prys, omdat julle die land van welbehae
sal wees, sê die HERE van die leërskare.
13 Vermetel is julle woorde teen My, sê die HERE. Maar julle vra: Wat het ons
onder mekaar teen U gespreek?
14 Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy
verordening te onderhou en in rouklere voor die aangesig van die HERE van die
leërskare te wandel?
15 En nou prys ons die vermeteles gelukkig; nie alleen word die wat
goddeloosheid bedrywe, gebou nie, maar hulle versoek God en raak vry!
16 Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit
opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die
wat die HERE vrees en sy Naam eer.
17 En hulle sal My tot 'n eiendom wees, sê die HERE van die leërskare, op die
dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos 'n man medelyde het met sy
seun wat hom dien.
18 Dan sal julle weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose,
tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.
4
1 Want kyk, die dag kom, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en
almal wat goddeloosheid bedrywe, 'n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle
aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen
wortel of tak sal oorlaat nie.
2 Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar
sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers
uit die stal.
3 En julle sal die goddelose vertrap, want hulle sal soos stof wees onder julle
voetsole op die dag wat Ek skep, sê die HERE van die leërskare.
4 Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die
hele Israel--insettinge en verordeninge.
5 Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van
die HERE aanbreek.
6 En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van
die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die
banvloek tref nie.
ban.