M i g a 1
1 Die woord van die HERE wat tot Miga, die Morastiet, gekom het, in die dae
van Jotam, Agas, Hiskía, konings van Juda; wat hy gesien het aangaande Samaría
en Jerusalem.
2 o Volke, luister almal saam! o Aarde en sy volheid, let op! Sodat die Here
HERE getuie teen julle kan wees, die Here uit sy heilige paleis.
3 Want kyk, die HERE gaan uit sy woonplek uit, en Hy daal neer en betree die
hoogtes van die aarde.
4 En die berge smelt onder Hom, en die laagtes skeur oop, soos was voor die vuur,
soos water wat langs 'n helling afstroom!
5 Dit alles vanweë die oortreding van Jakob en vanweë die sondes van die huis
van Israel. Wie is die oorsaak van die oortreding van Jakob? Is dit nie Samaría
nie? En wie is die oorsaak van die hoogtes van Juda? Is dit nie Jerusalem nie?
6 Daarom sal Ek Samaría 'n puinhoop maak op die veld, 'n plek om wingerdstokke
te plant; en Ek sal haar klippe in die dal laat afrol en haar fondamente blootlê.
7 En al haar gesnede beelde sal stukkend geslaan en al wat sy as hoereloon
ontvang het, met vuur verbrand word, en al haar afgode sal Ek tot 'n verwoesting
maak; want uit hoereloon het sy dit versamel, en tot hoereloon sal dit terugkeer.
8 Daaroor wil ek rouklaag en huil, kaalvoet en naak loop. Ek wil klae soos die
jakkalse en treur soos die volstruise.
9 Waarlik, haar wonde is ongeneeslik; want dit het gekom tot by Juda, dit reik
tot aan die poort van my volk, tot by Jerusalem.
10 Moet dit nie in Gat vertel nie, ween daar ganselik nie! In Bet-Ofra het ek my
in die stof gewentel!
11 Trek weg in smadelike naaktheid, o inwoners van Safir! Die inwoners van
Saänan trek nie uit nie. Die weeklagte van Bet-Haësel sal julle daar die verblyf
ontneem.
12 Want die inwoners van Marot wag in pyn op iets goeds, omdat onheil neerdaal
van die HERE na die poort van Jerusalem.
13 Span die perde voor die wa, o inwoners van Lagis! Dit was die begin van sonde
vir die dogter van Sion, dat die oortredinge van Israel in jou gevind is.
14 Daarom moet jy 'n afskeidsgeskenk gee aan Moréset-Gat; die huise van Agsib
sal 'n teleurstelling wees vir die konings van Israel.
15 Nogmaals sal Ek jou 'n veroweraar bring, o inwoner van Marésa; die adel van
Israel sal tot by Adúllam kom.
16 Maak 'n kaalte op jou hoof en skeer jou weens jou troetelkinders; maak die
kaalplek groot soos dié van 'n aasvoël, omdat hulle van jou af weggevoer is in
ballingskap.
2
1 Wee die wat onreg uitdink en kwaad smee op hulle bedde; by die môrelig voer
hulle dit uit, want dit is in die mag van hulle hand.
2 Ja, hulle begeer velde en roof dit; ook huise en neem dit. So pleeg hulle dan
geweld teenoor die man en sy huis, teenoor die mens en sy erfdeel.
3 Daarom, so sê die HERE: Kyk, Ek bedink onheil teen hierdie geslag, waar julle
jul nekke nie sal kan uittrek nie, en waarby julle nie regop sal kan loop nie;
want dit sal 'n tyd van onheil wees!
4 In dié dag sal hulle 'n spotlied oor julle aanhef en 'n klaaglied sing: Dit is
gedaan--sal hulle sê--ons is heeltemal verwoes; die eiendom van my volk laat Hy
van besitter verander. Hoe neem Hy dit van my af! Aan die afvalliges deel Hy ons
velde uit.
5 Daarom sal daar vir jou niemand wees wat die meetsnoer werp in'n erfdeel in
die vergadering van die HERE nie.
6 Moet nie profeteer nie! sê die valse profete. As 'n mens hieroor nie mag
profeteer nie, sal die beskimping nie ophou nie!
7 Mag dit gesê word, o huis van Jakob: Sou die HERE dan ongeduldig wees? Of is
dit sy dade? Is my woorde nie vriendelik teenoor hom wat as opregte wandel nie?
8 Maar reeds vroeër het my volk vyandig opgetree. Julle pluk die mantel af, weg
van die kleed van die wat in gerustheid verbygaan, wat afkerig is van oorlog.
9 Die vroue van my volk verdryf julle uit die huis wat hulle liefhet; van hulle
kinders neem julle my sieraad weg in ewigheid.
10 Staan op en gaan heen! Want nie hiér is die rusplek nie, weens die onreinheid
wat verwoesting aanrig, ja, 'n onherstelbare verwoesting.
11 As iemand wind nawandel en bedrieglik lieg en sê: Ek sal vir jou profeteer by
wyn en sterk drank--dan sou hy vir hierdie volk 'n profeet wees!
12 Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die
oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde
in sy weiveld; en dit sal dreun van mense.
13 Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die
poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en
die HERE heeltemal vooraan.
3
1 Verder het ek gesê: Hoor tog, o hoofde van Jakob en owerstes van die huis van
Israel! Betaam dit julle nie om die reg te ken nie?
2 Haters van wat goed is, en liefhebbers van wat sleg is, wat die vel van die
mense aftrek en hulle vlees van hul gebeente;
3 en wat die vlees van my volk eet en hulle vel van hulle afslag; ook hulle
gebeente verbrysel en hulle aan stukke kap soos vleis in 'n pot en soos vleis in
'n pan.
4 Dan sal hulle die HERE aanroep, en Hy sal hulle nie antwoord nie; maar Hy sal
sy aangesig in dié tyd vir hulle verberg, omdat hulle verkeerde dinge gedoen
het.
5 So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar
iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in
hulle mond steek nie, verklaar hulle 'n heilige oorlog!
6 Daarom sal dit nag word vir julle, sonder 'n gesig, en duister vir julle,
sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor
hulle verduister word.
7 En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal
sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.
8 Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om
aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.
9 Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van
Israel! Julle wat van die reg 'n afsku het en al wat reg is, verdraai;
10 julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg!
11 Sy hoofde spreek vonnisse uit vir 'n geskenk, en sy priesters gee onderrig
vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE
en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!
12 Daarom sal Sion om julle ontwil soos 'n land omgeploeg en Jerusalem puinhope
word en die tempelberg bosrante.
4
1 En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan
op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal
daarheen toestroom.
2 En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die
HERE en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons
in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die
HERE uit Jerusalem.
3 En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die
verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie
meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om
oorlog te voer nie.
4 Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat
iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit
gespreek.
5 Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal
wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.
6 In dié dag, spreek die HERE, wil Ek versamel die wat kreupel is, en
bymekaarmaak wat verdryf was, en die wat Ek kwaad aangedoen het.
7 Dan sal Ek die wat kreupel was, tot 'n oorblyfsel maak en wat ver verwyder
was, tot 'n magtige nasie. En die HERE sal koning wees oor hulle op die berg
Sion, van nou af tot in ewigheid.
8 En jy, Skaapstoring, Heuwel van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja,
die vroeëre heerskappy sal kom, die koningskap vir die dogter van Jerusalem.
9 Waarom skreeu jy nou so hard? Is daar geen koning in jou nie? Of het jou
raadgewer omgekom, sodat smart jou aangegryp het soos van een wat baar?
10 Krimp inmekaar en bring voort, o dogter van Sion, soos een wat baar! Want nou
sal jy die stad verlaat en op die veld gaan woon; en jy sal in Babel aankom--dáár
sal jy gered word, dáár sal die HERE jou verlos uit die hand van jou vyande.
11 En nou is daar baie nasies teen jou versamel wat sê: Laat haar ontheilig
word, en laat ons oë met welgevalle neersien op Sion.
12 Maar hulle ken nie die gedagtes van die HERE nie en verstaan nie sy besluit
nie, dat Hy hulle versamel het soos gerwe op die dorsvloer.
13 Staan op en dors, o dogter van Sion! Want Ek sal jou horing yster maak en jou
kloue koper, en jy sal baie volke fyn trap; en jy sal hulle onregverdige wins
aan die HERE toewy en hulle rykdom aan die Here van die ganse aarde.
14 Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het
'n wal teen ons opgegooi; met 'n stok slaan hulle die regeerder van Israel op
die kakebeen.
5
1 En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou
sal daar vir My uitgaan een wat 'n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is
uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.
2 Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat 'n barende gebaar het. Dan sal
die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.
3 En Hy sal optree en hulle laat wei in die sterkte van die HERE, in die
majesteit van die Naam van die HERE sy God; en hulle sal rustig woon, want nou
sal Hy groot wees tot aan die eindes van die aarde.
4 En Hy sal vrede wees. Wanneer Assur in ons land kom en hy ons paleise wil
betree, sal ons teenoor hom sewe herders stel, ja, agt vorste uit die mense.
5 En hulle sal die land Assur met die swaard afwei en die land van Nimrod by sy
ingange. So sal Hy ons dan van Assur bevry, wanneer hy in ons land kom en ons
grondgebied betree.
6 Dan sal die oorblyfsel van Jakob onder baie volke wees soos dou van die HERE,
soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen
mensekind vertoef nie.
7 En die oorblyfsel van Jakob tussen die nasies sal onder baie volke wees soos
'n leeu onder die diere van die woud, soos 'n jong leeu onder troppe kleinvee;
wat, as hy deurtrek, vertrap en verskeur sonder dat iemand red.
8 Jou hand sal bo jou teëstanders verhewe wees, en al jou vyande sal uitgeroei
word.
9 En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou
strydwaens vernietig.
10 Ook sal Ek uitroei die stede van jou land en al jou vestings afbreek.
11 Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer
hê nie.
12 En Ek sal uit jou midde uitroei jou gesnede beelde en jou klippilare, sodat
jy jou nie meer voor die werk van jou hande sal neerbuig nie.
13 En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes.
14 En Ek sal in toorn en grimmigheid wraak neem op die nasies wat nie geluister
het nie.
6
1 Hoor tog wat die HERE sê: Staan op, twis in teenwoordigheid van die berge, en
laat die heuwels na jou stem luister!
2 Hoor, berge, die twis van die HERE! En onwankelbares, grondslae van die aarde!
Want die HERE het 'n twis met sy volk en sal met Israel 'n regsgeding hou.
3 My volk, wat het Ek jou aangedoen, en waarmee het Ek jou vermoei? Antwoord My!
4 Ja, Ek het jou uit Egipteland laat optrek en jou uit die slawehuis losgekoop,
en Ek het voor jou uit gestuur Moses, Aäron en Mirjam.
5 My volk, dink tog aan wat Balak, die koning van Moab, beraadslaag het, en wat
Bíleam, die seun van Beor, hom geantwoord het, en wat gebeur het van Sittim af
tot by Gilgal, sodat jy kennis kan dra van die regverdige dade van die HERE.
6 Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom
tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers?
7 Sal die HERE 'n welbehae hê in duisende ramme en tien duisende strome van olie?
Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die
sonde van my siel?
8 Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou
anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?
9 Die stem van die HERE roep tot die stad--dit is heilsaam om u Naam te vrees--:Hoor
die roede, en wie dit bestel het.
10 Is daar nog altyd in die huis van die goddelose skatte van onreg en 'n skrale
efa wat vervloek is?
11 Sal Ek rein kan wees by 'n valse weegskaal en by 'n sak vol bedrieglike
gewigte?
12 Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek
leuentaal, en hulle tong is bedrog in hulle mond.
13 So slaan Ek jou dan ook met 'n smartlike wond, met verwoesting weens jou
sondes.
14 Jy sal eet, maar nie versadig word nie, sodat jou honger in jou binneste bly;
en jy sal wegbring sonder om iets te red; en wat jy red, sal Ek aan die swaard
oorgee.
15 Jy sal saai, maar nie maai nie; jy sal olywe uittrap, maar jou nie met olie
salf nie, en mos maak, maar geen wyn drink nie.
16 Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van
Agab; en julle wandel ooreenkomstig hulle planne, sodat Ek jou tot 'n woesteny
sou maak en die inwoners daarvan 'n bespotting: en die smaad van my volk sal
julle dra.
7
1 Wee my, want ek het geword soos ná die insameling van somervrugte, soos die
natrossies van die wynoes: geen tros om te eet nie, my siel begeer vroeë vye.
2 Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die
mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net.
3 Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die
regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en
hulle verdraai dit alles.
4 Die beste van hulle is soos 'n doringstruik, die mees opregte erger as 'n
doringheining. Die dag van jou wagte, jou besoeking, kom; nou sal hulle
verwarring daar wees.
5 Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte
van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê.
6 Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die
skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote!
7 Maar ek sal uitsien na die HERE, ek wil wag op die God van my heil, my God sal
my hoor.
8 Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al
sit ek in duisternis, die HERE is 'n lig vir my.
9 Die toorn van die HERE sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my
saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met
welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.
10 Ook sal my vyandin dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is
die HERE, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap
word soos modder van die strate.
11 Daar kom 'n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees.
12 Dit is 'n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en
van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg.
13 Maar die aarde sal 'n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle
handelinge.
14 Wei u volk met u staf, die kudde wat u erfdeel is, wat afgesonderd woon in 'n
bosveld op Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die ou dae.
15 Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien.
16 Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die
hand op die mond lê, hulle ore sal doof word.
17 Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit
hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die HERE onse God,
en hulle sal vir U vrees.
18 Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van
die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar
het 'n welbehae in goedertierenheid.
19 Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al
hulle sondes in die dieptes van die see werp.
20 U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons
vaders met 'n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.