S a g a r i a 1
1 In die agtste maand, in die tweede jaar van Daríus, het die woord van die
HERE gekom tot Sagaría, die seun van Berégja, die seun van Iddo, die profeet, en
gesê:
2 Die HERE was baie vertoornd op julle vaders.
3 So moet jy dan aan hulle sê: So spreek die HERE van die leërskare: Keer terug
na My, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer, sê die
HERE van die leërskare.
4 Moenie soos julle vaders wees nie, tot wie die vroeëre profete geroep en gesê
het: So sê die HERE van die leërskare: Bekeer julle tog van julle bose weë en
julle bose werke; maar hulle het nie gehoor en na My nie geluister nie, spreek
die HERE.
5 Julle vaders--waar is hulle? En sal die profete vir ewig lewe?
6 Maar my woorde en my insettinge wat Ek my knegte, die profete, beveel het, het
dit julle vaders nie ingehaal nie, sodat hulle tot inkeer gekom en gesê het:
Soos die HERE van die leërskare Hom voorgeneem het om aan ons te doen
ooreenkomstig ons weë en ons werke, so het Hy met ons gedoen?
7 Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, dit is die maand Sebat, in
die tweede jaar van Daríus, het die woord van die HERE tot die profeet Sagaría,
die seun van Berégja, die seun van Iddo, gekom en gesê:
8 Ek het in die nag 'n gesig gesien--daar was 'n man wat op 'n bruin perd ry, en
hy het gestaan tussen die mirtebome wat in die diepte was; en agter hom was daar
bruin, vos en wit perde.
9 Toe sê ek: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het,
antwoord my: Ek sal jou toon wat dit beteken.
10 En die man wat tussen die mirtebome gestaan het, het aangehef en gesê: Dit is
hulle wat die HERE gestuur het om die aarde te deurkruis.
11 Daarop het hulle die Engel van die HERE, wat tussen die mirtebome gestaan
het, toegespreek en gesê: Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die ganse aarde
is stil en rustig.
12 Daarop het die Engel van die HERE aangehef en gesê: HERE van die leërskare,
hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda
waarop U alreeds sewentig jaar vertoornd was?
13 Toe antwoord die HERE die engel wat met my gespreek het, goeie woorde,
troosvolle woorde.
14 Daarop sê die engel wat met my gespreek het: Roep en sê: So spreek die HERE
van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met 'n groot ywer;
15 maar Ek is grootliks vertoornd oor die sorglose nasies wat, terwyl Ek 'n
weinig vertoornd was, die onheil aangehelp het.
16 Daarom, so sê die HERE: Ek wend My met ontferming tot Jerusalem; my huis sal
daarin gebou word, spreek die HERE van die leërskare, en 'n meetsnoer oor
Jerusalem gespan word.
17 Roep verder en sê: So spreek die HERE van die leërskare: My stede sal weer
oorstroom wees van goeie dinge, en die HERE sal Sion weer vertroos, en Hy sal
Jerusalem weer verkies.
18 En ek het my oë opgeslaan en gekyk--daar was vier horings.
19 Toe sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Wat beteken dit? En hy
antwoord my: Dit is die horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het.
20 Daarop toon die HERE my vier smede.
21 Toe sê ek: Wat kom hulle maak? En Hy antwoord en sê: Dit is die horings wat
Juda só verstrooi het dat niemand sy hoof opgehef het nie; maar hierdie manne
het gekom om hulle skrik aan te jaag, om die horings van die nasies neer te werp
wat die horing teen die land van Juda opgesteek het om dit te verstrooi.
2
1 En ek het my oë opgehef en gekyk--daar was 'n man met 'n meetsnoer in sy hand.
2 Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te
sien wat sy breedte en wat sy lengte is.
3 En meteens kom die engel wat met my gespreek het, vorentoe; en 'n ander engel
het te voorskyn gekom, hom tegemoet,
4 aan wie hy sê: Loop gou, spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê
soos 'n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in.
5 En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, 'n vurige muur rondom en tot
heerlikheid daar binne-in.
6 Op, op, vlug uit die Noordland, spreek die HERE! Want Ek het julle na die vier
windstreke van die hemel verstrooi, spreek die HERE.
7 Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel!
8 Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan
na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sy oogappel
aan.
9 Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle 'n buit word vir hulle
knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het.
10 Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te
woon, spreek die HERE.
11 En baie nasies sal hulle in dié dag by die HERE aansluit, en hulle sal My tot
'n volk wees; en Ek sal in jou midde woon. Dan sal jy weet dat die HERE van die
leërskare my na jou gestuur het.
12 En die HERE sal besit neem van Juda as sy erfdeel op die heilige grond en
Jerusalem weer verkies.
13 Swyg alle vlees voor die HERE! Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning.
3
1 Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel
van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae.
2 Toe sê die HERE aan die Satan: Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die
HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie 'n brandhout
wat uit die vuur geruk is nie?
3 En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan.
4 Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere
van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek
beklee jou met feesklere.
5 Daarop sê ek: Laat hulle 'n rein tulband op sy hoof sit. En hulle het die rein
tulband op sy hoof gesit en hom die klere aangetrek, terwyl die Engel van die
HERE daarby staan.
6 En die Engel van die HERE het Josua plegtig verseker en gesê:
7 So sê die HERE van die leërskare: As jy in my weë wandel en as jy my
verordening onderhou, dan sal jy my huis bestuur sowel as my voorhowe bewaak, en
Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan.
8 Luister tog, o Josua, jy wat die hoëpriester is, jy en jou vriende wat voor
jou sit--ja, wondertekens is hulle. Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat
kom!
9 Want kyk, die steen wat Ek voor Josua neergelê het--op die een steen is daar
sewe oë; kyk, Ek sal sy graveersel graveer, spreek die HERE van die leërskare,
en Ek sal die skuld van hierdie land op een dag uitdelg.
10 In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder
die wingerdstok en onder die vyeboom.
4
1 En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos 'n man
wat uit die slaap opgewek word.
2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar,
heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens
sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is.
3 Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan
die linkerkant daarvan.
4 Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat
beteken dit, my heer?
5 En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie
wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.
6 Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel,
naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van
die leërskare.
7 Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal
die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!
8 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
9 Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande
sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die HERE van die leërskare my na julle
gestuur het.
10 Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe--die oë van die
HERE wat die ganse aarde deurloop--met blydskap die skietlood aanskou in die
hand van Serubbábel?
11 Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome
aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan?
12 En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee
olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat
uitstroom?
13 Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê:
Nee, my heer.
14 En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.
5
1 En ek het my oë weer opgeslaan en gekyk--daar was 'n vlieënde boekrol.
2 En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien 'n vlieënde
boekrol, sy lengte is twintig el en sy breedte tien el.
3 Daarop sê hy vir my: Dit is die vloek wat uitgaan oor die ganse land; want
ooreenkomstig daarmee sal al die diewe hiervandaan weggeruim word, en
ooreenkomstig daarmee sal al die meinediges hiervandaan weggeruim word.
4 En laat dit uitgaan, spreek die HERE van die leërskare, en dit sal kom in die
huis van die dief en in die huis van hom wat vals sweer by my Naam; en dit sal
binne-in sy huis vernag en dit verteer saam met sy balke en sy klippe.
5 Daarop kom die engel vorentoe wat met my gespreek het, en sê vir my: Slaan tog
jou oë op, en kyk wat daar te voorskyn kom.
6 Toe sê ek: Wat beteken dit? En hy antwoord: Dit is die efa wat te voorskyn kom.
Verder het hy gesê: So lyk hulle in die ganse land.
7 En meteens word daar 'n looddeksel opgelig, en daar was 'n vrou wat binne-in
die efa sit.
8 En hy sê: Dit is die goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa
teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.
9 Toe slaan ek my oë op en kyk--daar kom twee vroue te voorskyn met die wind in
hulle vlerke; en hulle het vlerke gehad soos die vlerke van 'n groot
sprinkaanvoël, en hulle het die efa weggevoer tussen die aarde en die hemel.
10 Daarop sê ek aan die engel wat met my gespreek het: Waarheen bring hulle die
efa?
11 En hy antwoord my: Om vir haar 'n huis te bou in die land Sínear; en is dit
klaar, dan word sy daar op haar plek neergesit.
6
1 En ek het weer my oë opgeslaan en gekyk--daar was vier strydwaens wat tussen
die twee berge uit te voorskyn kom, en die berge was berge van koper.
2 Voor die eerste wa was bruin perde, en voor die tweede wa swart perde,
3 en voor die derde wa wit perde, en voor die vierde wa bont perde, sterkes.
4 Daarop het ek aangehef en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat
beteken dit, my heer?
5 En die engel het geantwoord en vir my gesê: Dit is die vier winde van die
hemel wat uitgaan nadat hulle hul gestel het by die Here van die ganse aarde.
6 Dié met die swart perde trek uit na die land van die noorde, en die wittes
trek uit agter hulle aan; en die bontes trek uit na die land van die suide.
7 En toe die sterkes uittrek, het hulle begeer om weg te trek om die aarde te
deurkruis; en Hy het gesê: Trek weg, deurkruis die aarde! En hulle het die aarde
deurkruis.
8 Toe het Hy my geroep en aan my dit gesê: Kyk, die wat uittrek na die land van
die noorde, hulle bring my Gees tot rus in die land van die noorde.
9 En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
10 Neem aan van die ballinge, uit die hand van Heldai, Tobía en Jedája--kom jy
op dieselfde dag en gaan na die huis van Josía, die seun van Sefánja, waar hulle
uit Babel aangekom het--
11 neem dan aan silwer en goud, en maak 'n kroon en sit dit op die hoof van
Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester,
12 en sê vir hom dit: So spreek die HERE van die leërskare: Kyk, daar kom 'n Man
wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van
die HERE bou.
13 Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en
heers op sy troon; ook sal Hy 'n priester wees op sy troon, en die raad van
vrede sal tussen hulle twee bestaan.
14 En die kroon moet as gedagtenis bly aan Helem en Tobía en Jedája, en aan die
vriendelikheid van die seun van Sefánja in die tempel van die HERE.
15 En die wat ver is, sal kom en aan die tempel van die HERE bou. Dan sal julle
weet dat die HERE van die leërskare my na julle gestuur het. En dit sal so wees,
as julle nougeset luister na die stem van die HERE julle God.
7
1 En in die vierde jaar van koning Daríus het die woord van die HERE tot Sagaría
gekom, op die vierde dag van die negende maand, in die maand Kislew.
2 Bet-el het toe Saréser en Regem-Meleg met sy manne gestuur om die aangesig van
die HERE om genade te smeek
3 deur aan die priesters wat by die huis van die HERE van die leërskare was, en
aan die profete die vraag te stel: Moet ek in die vyfde maand ween met vas soos
ek nou al so baie jare gedoen het?
4 Daarop het die woord van die HERE van die leërskare tot my gekom en gesê:
5 Spreek tot die hele volk van die land en tot die priesters dit: As julle, nou
sewentig jaar lank, in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur het,
het julle toe werklik ter wille van My gevas?
6 En as julle eet en as julle drink, is dit dan nie júlle wat eet en júlle wat
drink nie?
7 Is dit nie so met die woorde wat die HERE deur die diens van die vroeëre
profete verkondig het nie, toe Jerusalem en sy omliggende stede nog bewoond en
rustig was, en ook die Suidland en die Laeveld nog bewoond was?
8 Verder het die woord van die HERE tot Sagaría gekom en gesê:
9 So het die HERE van die leërskare gespreek en gesê: Spreek 'n eerlike vonnis
uit en bewys liefde en barmhartigheid die een aan die ander.
10 En moet nie die weduwee en die wees, die vreemdeling en die arme verdruk nie
en kwaad in julle hart teenoor mekaar bedink nie.
11 Maar hulle het geweier om te luister en wederstrewig die skouer afgewend en
hulle ore toegestop om nie te hoor nie.
12 Ook het hulle hul hart soos 'n diamant gemaak, om nie die wet te verneem nie
en die woorde wat die HERE van die leërskare deur sy Gees, deur die diens van
die vroeëre profete gestuur het nie. So het daar dan van die HERE van die
leërskare 'n groot toorn gekom.
13 Daarom, soos Hy geroep en hulle nie gehoor het nie--so sal hulle roep, maar
Ek nie hoor nie, het die HERE van die leërskare gesê.
14 Maar Ek sal hulle wegstorm onder al die nasies wat hulle nie geken het nie,
terwyl die land agter hulle verwoes is, sodat niemand meer heen en weer trek nie.
So het hulle dan die kostelike land tot 'n wildernis gemaak.
8
1 En die woord van die HERE van die leërskare het gekom en gesê:
2 So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Sion met 'n groot ywer, ja,
Ek ywer met groot grimmigheid daarvoor.
3 So sê die HERE: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en
Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die HERE van die
leërskare: Die heilige berg.
4 So sê die HERE van die leërskare: Daar sal weer ou manne en ou vroue op die
pleine van Jerusalem sit--elkeen met sy stok in sy hand vanweë die veelheid van
hulle dae.
5 En die pleine van die stad sal vol wees van seuntjies en dogtertjies wat op
die pleine daarvan speel.
6 So sê die HERE van die leërskare: As dit te wonderbaar is in die oë van die
oorblyfsel van hierdie volk in dié dae, sal dit ook in my oë te wonderbaar wees?
spreek die HERE van die leërskare.
7 So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek gaan my volk verlos uit die land van
die ooste en uit die land van die weste
8 en hulle aanbring; en hulle sal midde-in Jerusalem woon. Dan sal hulle vir My
'n volk wees, en Ék sal vir hulle 'n God wees, in trou en geregtigheid.
9 So sê die HERE van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in
hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe
die fondament gelê is van die huis van die HERE van die leërskare, die tempel,
om gebou te word.
10 Want vóór hierdie dae het die mense geen loon getrek nie, ook vir die diere
was daar geen loon nie; en vir die wat uit-- en ingaan, was daar weens die
teëstander geen veiligheid nie; want Ek het al die mense die een teen die ander
losgelaat.
11 Maar nou sal Ek vir die oorblyfsel van hierdie volk nie wees soos in vroeër
dae nie, spreek die HERE van die leërskare.
12 Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy
opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie
volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.
13 En soos julle 'n vloek gewees het onder die nasies, o huis van Juda en huis
van Israel, so sal Ek julle verlos, dat julle 'n seën kan wees. Wees nie bevrees
nie, laat julle hande sterk wees.
14 Want so sê die HERE van die leërskare: Soos Ek My voorgeneem het om julle
kwaad aan te doen, toe julle vaders My vertoorn het, sê die HERE van die
leërskare, en Ek daar geen berou van gehad het nie--
15 so het Ek My weer voorgeneem om in hierdie dae goed te doen aan Jerusalem en
die huis van Juda. Wees nie bevrees nie.
16 Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen
waarheid en 'n regspraak van vrede in julle poorte!
17 En julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie, en nie die valse
eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die HERE.
18 En die woord van die HERE van die leërskare het tot my gekom en gesê:
19 So sê die HERE van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in
die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet
vir die huis van Juda 'n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle
moet die waarheid en die vrede liefhê.
20 So sê die HERE van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van
baie stede.
21 En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons
heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die
leërskare te soek. Ek wil ook gaan!
22 So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in
Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek.
23 So sê die HERE van die leërskare: In dié dae sal tien man uit al die tale van
die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met
julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is.
9
1 Godspraak. Die woord van die HERE teen die land Hadrag, en op Damaskus bly dit
rus--want die HERE hou die oog op die mense en op al die stamme van Israel.
2 En ook teen Hamat wat daaraan grens; teen Tirus saam met Sidon, want hy is
baie slim.
3 Ja, Tirus het vir hom 'n vesting gebou; ook het hy silwer opgehoop soos stof
en goud soos modder van die strate.
4 Kyk, die Here sal hom in besit neem en sy skans in die see werp, en hy sal
deur vuur verteer word.
5 Askelon sal dit sien en vrees; ook Gasa, wat sal sidder van angs; ook Ekron,
omdat sy toeverlaat teleurgestel het; en uit Gasa verdwyn die koning, en Askelon
bly onbewoond;
6 en die baster sal in Asdod woon--so sal Ek dan aan die trotsheid van die
Filistyn 'n einde maak--
7 en Ek sal die bloed uit sy mond verwyder en sy verfoeisels tussen sy tande uit;
so sal hy dan ook vir onse God oorbly en wees soos 'n stamhoof in Juda, en Ekron
soos 'n Jebusiet.
8 En Ek sal om my huis 'n laer trek teen die leërmag, teen die wat heen en weer
trek, sodat geen oorheerser hulle weer sal oorrompel nie; want nou het Ek dit
met my eie oë gesien.
9 Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk,
jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n
esel--op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.
10 En Ek sal die strydwaens uit Efraim en die perde uit Jerusalem uitroei, en
die strydboog sal vernietig word. Dan sal Hy aan die nasies vrede verkondig, en
sy heerskappy sal wees van see tot see, en van die Eufraat tot aan die eindes
van die aarde.
11 Ook sal Ek, wat jou betref, o Sion, kragtens die bloed van jou verbond jou
gevangenes loslaat uit die put sonder water.
12 Keer terug na die vesting, o hoopvolle gevangenes! Ook kondig Ek vandag aan
dat Ek jou dubbel sal vergoed.
13 Want Ek span Juda vir My as boog, lê Efraim as pyl daarop; en Ek vuur jou
seuns, o Sion, aan teen jou seuns, o Jawan, en Ek maak jou soos die swaard van
'n held.
14 Dan sal die HERE oor hulle verskyn, en soos weerlig sal sy pyl uitskiet; en
die Here HERE sal met die basuin blaas en intrek met die storms uit die suide.
15 Die HERE van die leërskare sal hulle beskut; en hulle sal verslind, ja,
slingerstene vertrap; ook sal hulle drink, 'n gedruis maak soos deur wyn en vol
wees soos die offerkomme, soos die hoeke van 'n altaar.
16 En die HERE hulle God sal hulle in dié dag verlos as die kudde wat sy volk
is; want hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor sy land.
17 Want hoe groot is hulle voortreflikheid, en hoe groot hulle skoonheid! Die
koring laat jongmanne en die mos jongedogters groei.
10
1 Bid tot die HERE om reën in die tyd van die laat reëns; die HERE maak die
weerligte, en Hy sal aan hulle 'n stortreën gee, plante op die veld aan iedereen.
2 Want die huisgode spreek bedrog, en die waarsêers sien leuens en verkondig
nietige drome, hulle troos met wind. Daarom het hulle weggeswerwe soos 'n kudde;
hulle verkeer in verdrukking, omdat daar geen herder is nie.
3 Teen die herders het my toorn ontvlam, en oor die voorbokke sal Ek besoeking
bring; want die HERE van die leërskare gee ag op sy kudde, op die huis van Juda,
en maak hulle tot sy pragtige perd in die stryd.
4 Uit hom sal die hoeksteen, uit hom die muurpen, uit hom die strydboog, uit hom
die heersers almal saam uitgaan.
5 En hulle sal wees soos helde wat in die oorlog die modder van die strate
vertrap; en hulle sal veg, want die HERE is met hulle; en die ruitery sal
beskaamd uitkom.
6 En Ek sal die huis van Juda sterk maak en aan die huis van Josef hulp verleen
en hulle 'n woonplek aanwys, want Ek ontferm My oor hulle; en hulle sal wees
asof Ek hulle nie verwerp het nie, want Ek is die HERE hulle God, en Ek sal
hulle verhoor.
7 En Efraim sal wees soos 'n held, en hulle hart sal vrolik wees soos deur wyn,
en hulle kinders sal dit sien en hulle verbly, hulle hart sal juig in die HERE.
8 Ek wil vir hulle fluit en hulle vergader, want Ek het hulle losgekoop; en
hulle sal net so talryk wees soos tevore.
9 En Ek sal hulle saai onder die volke, en in die verafgeleë streke sal hulle
aan My dink; en hulle sal saam met hul kinders in die lewe bly en terugkom.
10 En Ek sal hulle terugbring uit Egipteland en uit Assur hulle vergader en
hulle na die land Gílead en die Líbanon bring; maar dit sal vir hulle nie
voldoende wees nie.
11 En Hy sal deur die see van benoudheid trek en die golwe in die see slaan, en
al die dieptes van die Nyl sal opdroog; ook sal die trotsheid van Assírië
neergewerp word, en die septer van Egipteland wyk.
12 En Ek sal hulle sterk maak in die HERE, en hulle sal in sy Naam wandel,
spreek die HERE.
11
1 Open jou deure, o Líbanon, sodat vuur jou sederbome verteer!
2 Huil, o sipres, omdat die seder geval het, omdat die pragtige bome verwoes is!
Huil, eike van Basan, omdat die ontoeganklike woud afgekap is.
3 Hoor! die gejammer van die herders, want hulle heerlikheid is verwoes. Hoor!
die geknor van die jong leeus, want die pronkbosse van die Jordaan is verwoes.
4 So sê die HERE my God: Wees herder van die slagskape--
5 hulle kopers maak hulle dood, sonder om skuldig te voel; hulle verkopers sê:
Geloofd sy die HERE; ek word ryk! En hulle herders het geen medelyde met hulle
nie.
6 Want Ek sal met die inwoners van die land geen medelyde meer hê nie, spreek
die HERE; maar kyk, Ek gaan die mense oorlewer, elkeen in die hand van sy naaste
en in die hand van sy koning; en hulle sal die land verwoes, en Ek sal uit hulle
hand nie red nie.
7 En ek het die slagskape--waarlik ellendige skape! --opgepas; en ek het vir my
twee stawe geneem. Die een het ek genoem: Lieflikheid, en die ander het ek
genoem: Samebinding; en ek het die skape opgepas.
8 En ek het die drie herders in een maand vernietig. Toe het my siel ongeduldig
geword oor hulle, terwyl hulle siel ook van my afkerig geword het.
9 Daarop het ek gesê: Ek wil julle nie meer oppas nie--wat sterwend is, laat
sterwe; en wat verlore gaan, laat verlore wees, en laat die wat oorbly, mekaar
se vleis verslind!
10 Toe het ek my staf Lieflikheid geneem en dit verbreek, om my verbond wat ek
met al die volke gesluit het, te verbreek.
11 En dit is op dié dag verbreek. En so het die ellendiges onder die skape wat
op my ag gegee het, bemerk dat dit 'n woord van die HERE was.
12 Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so
nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer.
13 Hierop sê die HERE vir my: Gooi dit vir die pottebakker--die heerlike prys
waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem
en dit in die huis van die HERE vir die pottebakker gegooi.
14 Toe het ek my tweede staf, Samebinding, verbreek, om die broederskap tussen
Juda en Israel te verbreek.
15 Daarop sê die HERE vir my: Neem weer vir jou die gereedskap van 'n herder,
van 'n dwase.
16 Want kyk, Ek sal 'n herder verwek in die land; na wat verlore is, sal hy nie
omkyk nie; wat verstrooi is, nie opsoek nie; en wat gebroke is, nie genees nie;
en wat nog regop staan, nie versorg nie. Maar die vleis van die vettes sal hy
eet en selfs hulle kloue afruk.
17 Wee die slegte herder wat die skape in die steek laat! Mag die swaard sy arm
tref en sy regteroog! Mag sy arm heeltemal verdor en sy regteroog heeltemal
verduister word!
12
1 Godspraak. Die woord van die HERE oor Israel. Die HERE spreek, wat die hemele
uitsprei en die aarde grondves en die gees van die mens in sy binneste formeer:
2 Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot 'n beker van bedwelming, en
ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem.
3 En in dié dag maak Ek Jerusalem tot 'n baie swaar klip vir al die volke:
elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seer maak; en al die nasies van
die aarde sal daarteen vergader word.
4 In dié dag, spreek die HERE, sal Ek al die perde met verwarring slaan en hulle
ruiters met waansin; maar oor die huis van Juda sal Ek my oë oophou, terwyl Ek
al die perde van die volke met blindheid slaan.
5 Dan sal die stamhoofde van Juda in hulle hart sê: Die inwoners van Jerusalem
is vir my 'n sterkte deur die HERE van die leërskare, hulle God.
6 In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos 'n pan met vuur onder 'n
hoop hout en soos 'n brandende fakkel onder gerwe--hulle sal regs en links al
die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in
Jerusalem.
7 En die HERE sal eers die tente van Juda verlos, sodat die roem van die huis
van Dawid en die roem van die inwoners van Jerusalem dié van Juda nie sal
oortref nie.
8 In dié dag sal die HERE die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die
struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid
soos 'n hemelse wese, soos die Engel van die HERE voor hulle uit.
9 Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom,
te verdelg.
10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet
die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle
deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste
seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore
kind.
11 In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van
Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo.
12 En die land sal rouklaag by geslagte, elke geslag afsonderlik; die geslag van
die huis van Dawid afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die geslag van die
huis van Natan afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik;
13 die geslag van die huis van Levi afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik; die
geslag van Símeï afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.
14 Al die ander geslagte--elke geslag afsonderlik, en hulle vroue afsonderlik.
13
1 In dié dag sal daar 'n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die
inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid.
2 En in dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek die name van die
afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie; en
ook die profete en die onreine gees sal Ek uit die land laat wegtrek.
3 En as iemand nog wil profeteer, sal sy vader en sy moeder wat hom verwek het,
vir hom sê: Jy mag nie langer lewe nie, want jy het leuens in die Naam van die
HERE verkondig; en sy vader en sy moeder wat hom verwek het, sal hom deurboor as
hy wil profeteer.
4 En in dié dag sal elkeen van die profete, as hy profeteer, hom skaam oor sy
gesig; en hulle sal die harige mantel nie aantrek om te lieg nie.
5 Maar hy sal sê: Ek is geen profeet nie, ek is 'n man wat die grond bewerk;
want iemand het my van my jeug af as slaaf gekoop.
6 En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy
antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende.
7 Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek
die HERE van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en
Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes.
8 En in die ganse land, spreek die HERE--twee-derdes sal daarin uitgeroei word,
sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly.
9 Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos 'n mens silwer
smelt en hulle toets soos 'n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek
sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!
14
1 Kyk, daar kom 'n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in
jou verdeel word, o Jerusalem!
2 Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die
stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte
van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking
sal nie uit die stad uitgeroei word nie.
3 En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy
stryd, die dag van oorlog.
4 En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan
die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n
baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die
ander helfte na die suide.
5 En julle sal vlug in die dal van my berge--want die dal van die berge sal loop
tot by Asal--en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die
dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges
met U!
6 En in dié dag sal daar geen lig wees nie, die sterre sal duister wees.
7 En dit sal 'n enige dag wees wat aan die HERE bekend is--geen dag en geen nag
nie; maar teen die aand sal dit lig word.
8 En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte
daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer
en winter sal dit so wees.
9 En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een
wees, en sy Naam een.
10 Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van
Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort
van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en
van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.
11 En hulle sal daarin woon, en daar sal geen banvloek meer wees nie, en
Jerusalem sal in veiligheid woon.
12 En dit sal die plaag wees waarmee die HERE al die volke sal tref wat opgetrek
het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog
op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong
wegteer in hulle mond.
13 En in dié dag sal 'n groot verwarring van die HERE onder hulle kom, sodat die
een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen
die hand van die ander.
14 En Juda sal ook in Jerusalem veg, en die rykdom van al die nasies rondom sal
ingesamel word: goud en silwer en klere--'n groot hoeveelheid.
15 En soos hierdie plaag is, sal die plaag wees van die perde, die muile, die
kamele en die esels en van al die diere wat in daardie laers is.
16 En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal
jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en
om die huttefees te vier.
17 En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die
Koning, die HERE van die leërskare, te aanbid nie--hulle sal geen reën kry nie.
18 En as die geslag van Egipte nie optrek en nie kom nie, op wie geen reën sal
val nie, dan sal tog die plaag hulle tref waarmee die HERE die nasies tref wat
nie opgaan om die huttefees te vier nie.
19 Dit sal die straf van Egipte wees en die straf van al die nasies wat nie
optrek om die huttefees te vier nie.
20 In dié dag sal op die klokke van die perde staan: Heilig aan die HERE! En die
potte in die huis van die HERE sal wees soos die komme voor die altaar.
21 Ja, al die potte in Jerusalem en Juda sal aan die HERE van die leërskare
heilig wees; en almal wat wil offer, sal kom en daarvan neem en daarin kook; en
in dié dag sal daar geen Kanaäniet in die huis van die HERE van die leërskare
meer wees nie.