Shabbat Shalom!
Welkom by LVayechi / En Hy Het Gelewe
- hierdie week se Torah lees.


Genesis 47:28-50:26;

47

28 En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.
29 En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie.
30 Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.
31 Toe sê hy: Sweer my dit tog. En hy het vir hom gesweer. Toe het Israel in aanbidding gebuig oor die koppenent van die bed.

*~ Hoofstuk 48 ~*


1 Ná hierdie dinge het hulle aan Josef meegedeel: Kyk, u vader is siek. Toe neem hy sy twee seuns, Manasse en Efraim, met hom saam.
2 En hulle het aan Jakob berig gebring en gesê: Kyk, u seun Josef kom na u toe. Daarop het Jakob sy krag versamel en op die bed gaan sit.
3 En Jakob het vir Josef gesê: God, die Almagtige, het aan my verskyn by Lus, in die land Kanaän, en my geseën
4 en vir my gesê: Kyk, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot ‘n menigte van volke maak, en Ek sal aan jou nageslag ná jou hierdie land as ewige besitting gee.
5 Nou dan, jou twee seuns wat vir jou in Egipteland gebore is voordat ek in Egipte na jou gekom het, is myne. Efraim en Manasse sal myne wees net soos Ruben en Símeon.
6 Maar jou nakomelinge wat jy ná hulle verwek het, sal joue wees. Hulle sal na die naam van hulle broers genoem word in dié se erfdeel.
7 En toe ek van Paddan gekom het, het Ragel by my gesterwe in die land Kanaän, op die reis toe daar nog ‘n kort ent pad was om by Efrat te kom; en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Betlehem.
8 Toe Israel die seuns van Josef sien, sê hy: Wie is dit?
9 En Josef antwoord sy vader: Dit is my seuns wat God my hier gegee het. En hy sê: Bring hulle tog by my, dat ek hulle kan seën.
10 Maar Israel se oë was swaar van ouderdom, hy kon nie sien nie. En toe hy hulle by hom bring, het hy hulle gesoen en hulle omhels.
11 En Israel sê vir Josef: Ek het geen gedagte gehad om jou aangesig te sien nie, en kyk, God het my ook jou nageslag laat sien.
12 Daarop laat Josef hulle van sy knieë af weggaan, en hy buig hom met sy aangesig na die aarde toe.
13 En Josef neem hulle twee Efraim met sy regterhand, links van Israel, en Manasse met sy linkerhand, regs van Israel en hy bring hulle by hom.
14 Toe steek Israel sy regterhand uit en lê dit op die hoof van Efraim, hoewel hy die jongste was, en sy linkerhand op die hoof van Manasse: hy het sy hande oorkruis gehou, want Manasse was die eersgeborene.
15 En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe,
16 die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.
17 Toe Josef sien dat sy vader sy regterhand op die hoof van Efraim gelê het, was dit verkeerd in sy oë; en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die hoof van Efraim op die hoof van Manasse oor te bring.
18 En Josef sê aan sy vader: Nie so nie, my vader; want hierdie een is die eersgeborene: lê u regterhand op sy hoof.
19 Maar sy vader weier en sê: Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ‘n volk word, en hy sal ook groot word; nogtans sal sy jongste broer groter wees as hy, en sy nageslag sal ‘n menigte van nasies word.
20 So het hy hulle dan dié dag geseën en gesê: Met jou sal Israel ‘n seën toewens, met die woorde: Mag God jou maak soos Efraim en soos Manasse! So het hy dan Efraim voor Manasse gestel.
21 Daarop sê Israel vir Josef: Kyk, ek gaan sterwe, maar God sal met julle wees, en Hy sal julle terug laat gaan na die land van julle vaders.
22 En ék gee jou een stuk land bo jou broers, wat ek met my swaard en my boog van die Amoriete afgeneem het.

*~ Hoofstuk 49 ~*


1 Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.
2 Versamel en hoor, seuns van Jakob, en luister na Israel, julle vader!
3 Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!
4 Opbruising soos van waters—jy sal die vernaamste nie wees nie, want jy het die bed van jou vader beklim; toe het jy dit ontheilig. Hy het my bed beklim.
5 Símeon en Levi is broers. Hulle wapens is werktuie van geweld.
6 Laat my siel nie kom in hulle raad nie, laat my eer nie eens wees met hulle vergadering nie. Want in hul toorn het hulle manne doodgeslaan, en in hulle moedswilligheid het hulle beeste vermink.
7 Vervloek is hulle toorn, want dit is heftig; en hulle grimmigheid, want dit is hard. Ek sal hulle verdeel in Jakob en hulle verstrooi in Israel.
8 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.
9 Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag?
10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.
11 Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed.
12 Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk.
13 Sébulon sal woon by die strand van die see; en hy sal by die strand van die skepe wees, met die sykant na Sidon toe.
14 Issaskar is ‘n sterkgebeende esel wat tussen die veekrale lê.
15 Toe hy sien dat die rus goed en die land lieflik is, het hy sy skouer gebuig om te dra, en hy moes dwangarbeid verrig.
16 Dan sal aan sy volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel.
17 Laat Dan ‘n slang wees op die weg, ‘n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval.
18 Op u verlossing wag ek, HERE!
19 Gad—’n bende sal hom aanval, maar hy sal hulle aan die hakskeen gryp.
20 Aser, sy spys is vet, en hy lewer koninklike lekkernye.
21 Náftali is soos ‘n wildsbok so vry, hy wat mooi woorde laat hoor.
22 Josef is ‘n jong vrugteboom, ‘n jong vrugteboom by ‘n fontein; sy takke klim oor die muur.
23 Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry,
24 maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob—daarvandaan waar die Herder, die Steen van Israel, is,
25 van die God van jou vader, wat jou help, en met die hulp van die Almagtige wat jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot.
26 Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Josef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.
27 Benjamin is ‘n wolf wat verskeur; in die môre eet hy sy prooi, en in die aand deel hy buit uit.
28 Húlle almal is die twaalf stamme van Israel; en dit is wat hulle vader aan hulle gesê het, en hy het hulle geseën; hy het hulle geseën, elkeen volgens sy besondere seën.
29 Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is;
30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magpéla is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaän; die stuk grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, as eiendomsgraf gekoop het.
31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara, sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe—
32 die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.
33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote versamel.

*~ Hoofstuk 50 ~*


1 Toe val Josef op sy vader se aangesig, en hy het oor hom geween en hom gesoen.
2 En Josef het aan sy dienaars, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te balsem. En die geneeshere het Israel gebalsem.
3 En veertig dae het daarvoor verbygegaan; want so lank duur die dae van balseming. En die Egiptenaars het hom sewentig dae lank beween.
4 En toe die dae van geween oor hom verby was, het Josef met die huis van Farao gespreek en gesê: As ek dan guns in julle oë gevind het, spreek tog dit voor die ore van Farao:
5 My vader het my laat sweer en gesê: Kyk, ek gaan sterwe; in my graf wat ek vir my in die land Kanaän uitgekap het, daar moet jy my begrawe. Laat my dan nou tog optrek en my vader begrawe. Daarna sal ek terugkom.
6 En Farao sê: Trek op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het.
7 Toe het Josef opgetrek om sy vader te begrawe, en al die dienaars van Farao, die oudstes van sy huis, het saam met hom opgetrek, en al die oudstes van Egipteland;
8 ook die hele huis van Josef en sy broers en die huis van sy vader. Net hulle kinders en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen laat agterbly.
9 En saam met hom het opgetrek strydwaens sowel as ruiters, sodat dit ‘n baie groot trek was.
10 En toe hulle by die Steekdoring-dorsvloer kom, wat oos van die Jordaan lê, het hulle daar ‘n groot en baie swaar rouklag gehou. En hy het oor sy vader rou laat bedrywe sewe dae lank.
11 Toe die inwoners van die land, die Kanaäniete, die roubedryf by die Steekdoring-dorsvloer sien, sê hulle: Dit is ‘n swaar rou vir die Egiptenaars. Daarom het hulle dit Abel-Misraim genoem, wat oos van die Jordaan lê.
12 En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het:
13 sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre.
14 Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het.
15 Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het!
16 Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde:
17 So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek.
18 En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe.
19 Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God?
20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou.
21 Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek.
22 En Josef het in Egipte gewoon, hy en die huis van sy vader. En Josef het honderd en tien jaar gelewe.
23 En Josef het van Efraim kinders gesien van die derde geslag. Ook die kinders van Magir, die seun van Manasse, is op Josef se knieë gebore.
24 En Josef het aan sy broers gesê: Ek gaan sterwe, maar God sal gewis op julle ag gee en julle uit hierdie land laat optrek na die land wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.
25 En Josef het die seuns van Israel laat sweer en gesê: As God sekerlik op julle ag sal gee—bring dan my gebeente hiervandaan op.
26 En Josef het gesterwe, honderd en tien jaar oud. En hulle het hom gebalsem, en hy is in ‘n kis gesit in Egipte.