Shabbat Shalom!
Welkom by Vayechi / En Hy Het Gelewe
- hierdie week se profetiese leeswerk.


1 Konings 2:1-12;

42

1 En toe die dae van Dawid nader kom dat hy sou sterwe, het hy sy seun Salomo bevel gegee en gesê:
2 Ek gaan heen op die weg van die hele aarde: wees dan sterk en word ‘n man;
3 en onderhou die ordening van die HERE jou God deur te wandel in sy weë, deur sy insettinge, sy gebooie en sy verordeninge en sy getuienisse te onderhou, soos geskrywe is in die wet van Moses, sodat jy voorspoedig kan uitvoer alles wat jy doen, en alles waartoe jy jou begewe;
4 sodat die HERE sy woord mag vervul wat Hy oor my gespreek het, naamlik: As jou seuns ag gee op hulle weg deur voor my aangesig getrou te wandel met hulle hele hart en met hulle hele siel, dan sal daar nie vir jou ‘n man op die troon van Israel ontbreek nie.
5 En jy weet ook self wat Joab, die seun van Serúja, my aangedoen het; wat hy die twee leërowerstes van Israel, Abner, die seun van Ner, en Amása, die seun van Jeter, aangedoen het; hoe hy hulle vermoor en oorlogsbloed in vredestyd vergiet het, sodat hy die gord wat om sy heupe en die skoene wat aan sy voete was, met oorlogsbloed bevlek het.
6 Handel dan na jou wysheid, en sy grys hare moet jy nie met vrede in die doderyk laat neerdaal nie.
7 Maar aan die seuns van Barsíllai, die Gileadiet, moet jy guns bewys, en hulle moet wees onder die wat aan jou tafel eet; want só het hulle na my toe aangekom toe ek vir jou broer Absalom gevlug het.
8 Verder is daar by jou Símeï, die seun van Gera, die Benjaminiet, uit Bahúrim; hy naamlik het my gevloek met ‘n hewige vloek die dag toe ek na Mahanáim gegaan het; en hy het afgekom om my te ontmoet by die Jordaan, sodat ek vir hom by die HERE gesweer en gesê het: Ek sal jou nie met die swaard doodmaak nie.
9 Maar nou moet jy hom nie ongestraf laat bly nie, want jy is ‘n wyse man; daarom sal jy weet wat jy hom moet aandoen, dat jy sy grys hare met bloed in die doderyk laat neerdaal.
10 Toe het Dawid ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid.
11 En die dae wat Dawid oor Israel geregeer het, was veertig jaar; in Hebron het hy sewe jaar geregeer, en in Jerusalem het hy drie en dertig jaar geregeer.
12 Daarna het Salomo op die troon van sy vader Dawid gaan sit, en sy koningskap is goed bevestig.

Johnannes 13:1-19

1 En voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.
2 En gedurende die maaltyd—die duiwel het dit al in die hart van Judas Iskáriot, die seun van Simon, ingegee om Hom te verraai—
3 het Jesus, omdat Hy wis dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God uitgegaan het en na God heengaan,
4 van die maaltyd opgestaan en sy bo-klere uitgetrek en ‘n doek geneem en dit om Hom vasgemaak.
5 Daarna het Hy water in ‘n bak gegooi en die voete van die dissipels begin was en afdroog met die doek wat Hy omgehad het.
6 Hy kom toe by Simon Petrus en dié sê vir Hom: Here, gaan U my voete was?
7 Jesus antwoord en sê vir hom: Wat Ek doen, begryp jy nou nie, maar jy sal dit hierna verstaan.
8 Petrus sê vir Hom: U sal my voete in der ewigheid nie was nie! Jesus antwoord hom: As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan My nie.
9 Simon Petrus sê vir Hom: Here, nie net my voete nie, maar ook die hande en die hoof.
10 Jesus sê vir hom: Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om die voete te was nie, maar is heeltemal rein; en julle is rein, maar nie almal nie.
11 Want Hy het geweet wie Hom sou verraai. Daarom het Hy gesê: Julle is nie almal rein nie.
12 Toe Hy dan hulle voete gewas en sy bo-klere geneem het, gaan Hy weer aan tafel en sê vir hulle: Verstaan julle wat Ek aan julle gedoen het?
13 Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit.
14 As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.
15 Want Ek het julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen.
16 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.
17 As julle hierdie dinge weet, salig is julle as julle dit doen.
18 Ek spreek nie van julle almal nie—Ek weet wie Ek uitverkies het—maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.
19 Van nou af sê Ek dit aan julle voordat dit gebeur, sodat wanneer dit gebeur, julle kan glo dat dit Ek is.