Shabbat Shalom!
Nitzavim / Jy Staan
- hierdie week se Torah lees.


Deuteronomium 29:9-30:20;

29

9 Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.
10 Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel;
11 julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter,
12 om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit;
13 sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.
14 En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie,
15 maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.
16 Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het.
17 En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien,
18 sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die HERE onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wilde-als dra nie,
19 en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel—om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!
20 Die HERE sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die HERE en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die HERE sal sy naam onder die hemel uitdelg.
21 En die HERE sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.
22 En die volgende geslag, julle kinders wat ná julle opstaan, en die uitlander wat uit ‘n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat die HERE daarin laat uitbreek het—
23 ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat die HERE in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het—
24 en al die nasies sal sê: Waarom het die HERE so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed?
25 Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe hulle deur Hom uit Egipteland uitgelei is,
26 en hulle ander gode gaan dien en hulle daarvoor neergebuig het, gode wat aan hulle nie bekend was nie, en wat Hy hulle nie toebedeel het nie,
27 daarom het die toorn van die HERE teen daardie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is.
28 En die HERE het hulle uit hulle land uitgeruk in toorn en in grimmigheid en in groot verbolgenheid; en Hy het hulle weggeslinger na ‘n ander land, soos dit vandag is.
29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

*~ Hoofstuk 30 ~*


1 En as al hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die HERE jou God jou verdryf het,
2 en jy jou tot die HERE jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel,
3 dan sal die HERE jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die HERE jou God jou verstrooi het.
4 Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.
5 En die HERE jou God sal jou bring in die land wat jou vaders in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem; en Hy sal aan jou goed doen en jou vermenigvuldig meer as jou vaders.
6 En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.
7 En die HERE jou God sal al hierdie vloeke op jou vyande en op jou haters lê wat jou vervolg het.
8 Maar jy sal weer na die stem van die HERE luister en al sy gebooie doen wat ek jou vandag beveel.
9 En die HERE jou God sal die goeie aan jou oorvloedig gee in al die werk van jou hand, in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land; want die HERE sal weer oor jou ten goede bly wees soos Hy bly was oor jou vaders,
10 as jy na die stem van die HERE jou God luister om sy gebooie en sy insettinge te hou wat in hierdie wetboek geskrywe is; as jy jou tot die HERE jou God bekeer met jou hele hart en met jou hele siel.
11 Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie.
12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
13 Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?
14 Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen.
15 Kyk, ek het jou vandag voorgehou die lewe en die geluk, en die dood en die ongeluk.
16 Wat ek jou vandag beveel, is om die HERE jou God lief te hê, in sy weë te wandel en sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge te hou, sodat jy kan lewe en vermenigvuldig en die HERE jou God jou mag seën in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
17 Maar as jou hart hom afwend en jy nie luister nie en jy jou laat verlei, sodat jy jou voor ander gode neerbuig en hulle dien,
18 dan verkondig ek julle vandag dat julle sekerlik sal omkom; julle sal die dae nie verleng in die land waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie.
19 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,
20 deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat die HERE aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.