Shabbat Shalom!
Nitzavim / Jy Staan
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 61:10–63:9;

61

10 Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.
11 Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.

*~ Hoofstuk 62 ~*


1 Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ‘n glans en sy heil soos ‘n fakkel wat brand.
2 En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ‘n nuwe naam genoem word wat die mond van die HERE sal noem.
3 En jy sal ‘n sierlike kroon wees in die hand van die HERE en ‘n koninklike tulband in die hand van jou God.
4 Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het ‘n behae in jou, en jou land sal getroud wees.
5 Want soos ‘n jonkman ‘n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.
6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes—moenie rus nie
7 en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!
8 Die HERE het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm: Waarlik, Ek sal jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos nie drink waarvoor jy gewerk het nie.
9 Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die HERE prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in my heilige voorhowe.
10 Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op die grootpad, gooi die klippe weg, steek ‘n banier op oor die volke!
11 Kyk, die HERE laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning is voor sy aangesig.
12 En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die HERE; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie.

*~ Hoofstuk 63 ~*


1 Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
2 Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?
3 Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.
4 Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom.
5 En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun.
6 En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.
7 Ek sal die goedertierenhede van die HERE prys, die roemryke dade van die HERE, ooreenkomstig alles wat die HERE aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede.
8 Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie. So het Hy dan vir hulle ‘n Heiland geword.
9 In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hy hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.

Romeine 10:1–21;

1 Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.
2 Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.
3 Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.
4 Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
5 Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.
6 Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring;
7 of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?
8 Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:
9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
11 Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
12 Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
13 Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
14 Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?
15 En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!
16 Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo?
17 Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
18 Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.
19 Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ‘n onverstandige volk.
20 En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.
21 Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en teësprekende volk.