2
1 Daarop het Josua, die seun van Nun, uit Sittim in die geheim twee manne as
verkenners uitgestuur en gesê: Gaan bekyk die land en Jérigo. Hulle het toe
gegaan en in die huis van ‘n hoer, met die naam van Ragab, ingekom; en hulle het
daar gaan slaap.
2 En toe daar aan die koning van Jérigo gesê is: Kyk, manne uit die kinders van
Israel het vannag hierheen gekom om die land te verken,
3 stuur die koning van Jérigo na Ragab om te sê: Lewer die manne uit wat na jou
gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land
te verken.
4 Maar die vrou het die twee manne geneem en hulle weggesteek; en sy het gesê:
Seker, die manne het na my gekom; maar ek het nie geweet waar hulle vandaan was
nie.
5 En toe die poort met donker gesluit moes word, het die manne uitgegaan; ek
weet nie waar die manne heengegaan het nie; jaag hulle gou agterna, want julle
sal hulle inhaal.
6 Maar sy het hulle op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die
vlasstoppels wat op haar dak oopgegooi was.
7 Die manne het hulle toe agternagejaag in die rigting van die Jordaan, na die
driwwe; en die poort het hulle gesluit nadat hulle vervolgers uitgegaan het.
8 En voordat hulle gaan slaap het, het sy op die dak geklim na hulle toe
9 en aan die manne gesê: Ek weet dat die HERE die land aan julle gegee het en
dat die skrik vir julle op ons geval het en dat al die inwoners van die land vir
julle bewe;
10 want ons het gehoor dat die HERE die water van die Skelfsee voor julle by jul
uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die
Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met
die banvloek getref het.
11 Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer
oorgebly het teenoor julle nie; want die HERE julle God, Hy is God in die hemel
daarbo en op die aarde hieronder.
12 Sweer dan nou tog vir my by die HERE dat, terwyl ek aan julle ‘n guns bewys
het, julle ook aan my familie ‘n guns sal bewys; en gee my ‘n betroubare teken
13 dat julle die lewe van my vader en my moeder en my broers en my susters en
almal wat aan hulle behoort, sal spaar en ons siele sal red van die dood.
14 Toe sê die manne vir haar: Mag ons siel in julle plek sterwe! As julle nie
hierdie saak van ons bekend maak nie, dan sal ons, as die HERE ons die land gee,
aan jou guns en trou bewys.
15 Daarop het sy hulle met ‘n lyn deur die venster laat afsak; want haar huis
was in die stadsmuur ingebou, sodat sy aan die muur gewoon het;
16 en sy het vir hulle gesê: Loop die gebergte in, dat die vervolgers julle nie
aantref nie, en steek julle daar drie dae lank weg totdat die vervolgers
teruggekom het; daarna kan julle dan verder gaan.
17 Toe sê die manne vir haar: Ons sal ontslae wees van hierdie eed aan jou wat
jy ons laat sweer het—
18 kyk, as ons die land inkom, moet jy hierdie gedraaide rooi lyn waarmee jy ons
laat afsak het, aan die venster vasbind, en jy moet jou vader en jou moeder en
jou broers en jou hele familie by jou in die huis versamel.
19 Elkeen wat dan uit die deure van jou huis buitentoe gaan, dié se bloed sal op
sy hoof wees, en ons onskuldig; maar elkeen wat by jou in die huis sal wees, dié
se bloed sal op ons hoof wees, ingeval ‘n hand teen hom is.
20 Maar as jy hierdie saak van ons bekend maak, sal ons ontslae wees van die eed
aan jou wat jy ons laat sweer het.
21 Daarop sê sy: Soos julle sê, is dit goed; en sy het hulle laat gaan, en hulle
het weggegaan; en sy het die rooi lyn aan die venster vasgebind.
22 Hulle het toe weggegaan en in die gebergte gekom en daar drie dae lank gebly
totdat die vervolgers teruggekeer het; want die vervolgers het op die hele pad
gesoek maar niks gekry nie.
23 Die twee manne het toe weer van die gebergte afgeklim en deurgegaan en by
Josua, die seun van Nun, gekom en hom alles vertel wat hulle ondervind het.
24 Verder het hulle vir Josua gesê: Sekerlik gee die HERE die hele land in ons
hand, ja, al die inwoners van die land bewe selfs vir ons.
Romeine 4:1–25
1 Wat sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry?
2 Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar
nie teenoor God nie.
3 Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot
geregtigheid gereken.
4 Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na
verdienste;
5 aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig,
word sy geloof tot geregtigheid gereken.
6 Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder
werke:
7 Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek
is.
8 Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.
9 Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die
onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken.
10 Hoe is dit dan toegereken toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene
nie, maar as onbesnedene.
11 En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die
geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou
wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die
geregtigheid toegereken sou word;
12 en ook ‘n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis
is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham
toe hy onbesnede was.
13 Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy
nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.
14 Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos
geword en die belofte tot niet geraak.
15 Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen
oortreding nie.
16 Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die
belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet
is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons
almal
17 soos geskrywe is: Ek het jou ‘n vader van baie nasies gemaak voor die
aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat
nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.
18 Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens
wat gesê was: So sal jou nageslag wees.
19 En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar
oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe
toestand van die moederskoot van Sara nie.
20 En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is
versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee
21 en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.
22 Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.
23 Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie,
24 maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom
wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het,
25 wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons
regverdigmaking.