36
16 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
17 Mensekind, toe die huis van Israel in hulle land gewoon het, het hulle dit
verontreinig met hul wandel en met hul handelinge; hulle wandel was voor my
aangesig soos die besoedeling van die maandelikse onreinheid.
18 Daarom het Ek my grimmigheid oor hulle uitgegiet, vanweë die bloed wat hulle
in die land vergiet het, terwyl hulle dit met hul drekgode verontreinig het.
19 En Ek het hulle verstrooi onder die nasies en hulle is versprei in die lande;
Ek het hulle geoordeel volgens hul wandel en hul handelinge.
20 En toe hulle by die nasies kom waarheen hulle getrek het, het hulle my
heilige Naam ontheilig deurdat van hulle gesê is: Hierdie mense is die volk van
die HERE, en hulle moes uit sy land uittrek.
21 Toe het dit My ter harte gegaan om my heilige Naam ontwil wat die huis van
Israel ontheilig het onder die nasies waar hulle gekom het.
22 Daarom, sê vir die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Ek doen dit nie
om julle ontwil nie, o huis van Israel, maar ter wille van my heilige Naam wat
julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.
23 En Ek sal my grote Naam heilig wat onder die nasies ontheilig is, wat julle
onder hulle ontheilig het; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, spreek die
Here HERE, as Ek My in julle voor hul oë as die Heilige laat ken.
24 En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar
laat kom, en Ek sal julle in jul land bring.
25 Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul
onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig.
26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek
sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.
27 En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge
wandel en my verordeninge onderhou en doen.
28 En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal
vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees.
29 En Ek sal julle verlos van al jul onreinhede; en Ek sal roep na die koring en
dit vermenigvuldig, en Ek sal geen hongersnood op julle lê nie.
30 En Ek sal die vrugte van die bome en die opbrings van die veld vermenigvuldig,
sodat julle die smaad van hongersnood nie meer hoef te verdra onder die nasies
nie.
31 Dan sal julle dink aan jul verkeerde weë en aan jul handelinge wat nie goed
was nie; en julle sal vir julleself walglik wees oor jul ongeregtighede en oor
jul gruwels.
32 Ek doen dit nie om julle ontwil nie, spreek die Here HERE; laat dit julle
bekend wees! Skaam julle en bloos oor jul weë, o huis van Israel.
33 So sê die Here HERE: In die dag as Ek julle reinig van al jul ongeregtighede,
sal Ek die stede laat bewoon, en die puinhope sal opgebou word.
34 En die verwoeste land sal bewerk word, in plaas dat dit ‘n wildernis is voor
die oë van almal wat verbygaan.
35 En hulle sal sê: Hierdie land wat verwoes was, het geword soos die tuin van
Eden; en die stede wat in puin gelê het en verwoes en afgebreek was, is versterk
en bewoon.
36 Dan sal die nasies weet wat rondom julle oorgebly het, dat Ek, die HERE,
opgebou het wat afgebreek was, beplant het wat verwoes was; Ek, die HERE, het
dit gespreek en sal dit doen.
37 So sê die Here HERE: Ook dit sal Ek My laat vra deur die huis van Israel om
dit vir hulle te doen: Ek sal hulle mense vermenigvuldig soos skape.
38 Soos die geheiligde skape, soos die skape van Jerusalem op sy feestye, so sal
die stede wat in puin lê, vol wees van kuddes van mense; en hulle sal weet dat
Ek die HERE is.
Markus 9:1-10
1 En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier
staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God
met krag sien kom het nie.
2 En ná ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle
alleen op ‘n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van
gedaante verander,
3 en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op
aarde dit kan maak nie.
4 En daar het aan hulle verskyn Elía saam met Moses, en hulle was in gesprek met
Jesus.
5 Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat
ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir Elía een.
6 Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik.
7 En daar kom ‘n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom ‘n stem wat sê: Dit
is my geliefde Seun, luister na Hom!
8 En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus
alleen.
9 En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand
te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode
opgestaan het nie.
10 En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit
beteken om uit die dode op te staan.