1
1 Godspraak. Die woord van die HERE aan Israel deur die diens van Maleági.
2 Ek het julle liefgehad, sê die HERE. Nogtans vra julle: Waarin het U ons
liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek
Jakob liefgehad,
3 maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ‘n wildernis gemaak en sy erfdeel aan
die jakkalse van die woestyn prysgegee.
4 As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou—dan sê
die HERE van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die
mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die
HERE vertoornd is tot in ewigheid!
5 En julle oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is die HERE oor die gebied
van Israel!
6 ‘n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my
eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die
leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het
ons u Naam verag?
7 Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur
het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik.
8 En as julle ‘n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as
julle ‘n lam of ‘n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou
goewerneur! Sal hy ‘n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE
van die leërskare.
9 Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees! Sulke
dinge is deur julle gedoen—sal Hy dan om julle ontwil goedgesind wees? sê die
HERE van die leërskare.
10 Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, sodat julle nie
tevergeefs vuur op my altaar kan aansteek nie! Ek het in julle geen welgevalle
nie, sê die HERE van die leërskare, en in ‘n offer uit julle hand het Ek geen
behae nie.
11 Want van die opgang van die son tot sy ondergang toe is my Naam groot onder
die heidene; en in elke plek word tot eer van my Naam reukwerk gebring en ‘n
rein offer; want my Naam is groot onder die heidene, sê die HERE van die
leërskare.
12 Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is
verontreinig, en wat sy opbrings betref—sy spys is veragtelik.
13 En julle sê: Kyk, wat ‘n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die
leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere—so bring julle dan die
offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE.
14 Vervloek is ook die bedrieër wat, terwyl daar onder sy kleinvee ‘n manlike
dier is, ‘n gelofte doen en tog iets wat vermink is, aan die HERE offer; want Ek
is ‘n groot Koning, sê die HERE van die leërskare, en my Naam is gedug onder die
heidene.
*~ Hoofstuk 2 ~*
1 En nou, priesters, tot julle kom hierdie gebod.
2 As julle nie gehoor gee nie, en as julle dit nie ter harte neem om my Naam eer
te bewys nie, sê die HERE van die leërskare, dan sal Ek die vloek onder julle
stuur en julle seëninge in ‘n vloek verander; ja, Ek het dit alreeds vervloek,
omdat julle niks ter harte neem nie.
3 Kyk, Ek sal julle nakomelingskap bedreig, en Ek sal mis op julle gesigte
strooi, die mis van julle feeste; en hulle sal julle na die mishoop dra.
4 En julle sal gewaar word dat Ek julle hierdie gebod gestuur het, dat dit my
verbond kan wees met Levi, sê die HERE van die leërskare.
5 My verbond met hom was die lewe en die vrede; en Ek het dié aan hom gegee tot
vrees; en hy het My gevrees en vir my Naam gebewe.
6 Betroubare regsleer was in sy mond, en onreg is op sy lippe nie gevind nie; in
vrede en opregtheid het hy met My gewandel, en baie mense het hy van
ongeregtigheid teruggebring.
7 Want die lippe van ‘n priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word
onderrig gesoek, want hy is ‘n boodskapper van die HERE van die leërskare.
Romeine 9:1–13;
1 Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my
in die Heilige Gees
2 dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart.
3 Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die
vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af.
4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die
heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;
5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor
alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.
6 Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie
almal Israel wat uit Israel is nie.
7 Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar:
in Isak sal jou nageslag genoem word.
8 Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie,
maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.
9 Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara
sal ‘n seun hê.
10 En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak,
ons vader.
11 Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het
nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die
werke nie, maar uit Hom wat roep
12 is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.
13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.