Shabbat Shalom!
Re’eh - Sien / Aanskou
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 54:11-55:5

54

11 Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;
12 en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.
13 En al jou kinders sal deur YAHUVEH geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.
14 Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie.
15 As hulle ook die aanval begin—dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val.
16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
17 Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van YAHUVEH en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek YAHUVEH.

*~ Hoofstuk 55 ~*


1 O Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
2 Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.
3 Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
4 Kyk, Ek het hom tot ‘n getuie van die volke gemaak, tot ‘n vors en ‘n gebieder van die nasies.
5 Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van YAHUVEH jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.

Johannes 6:35-51;

35 En YAHUSHUA sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.
36 Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie.
37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.
38 Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.
39 En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.
40 En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
41 Toe murmureer die Jode oor Hom, omdat Hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.
42 En hulle sê: Is Hy nie YAHUSHUA, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?
43 En YAHUSHUA antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie.
44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
45 Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.
46 Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien.
47 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.
48 Ek is die brood van die lewe.
49 Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe.
50 Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie.
51 Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.