Shabbat Shalom!
Welkom by Noach / Noah
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 54:1–55:5;

54

1 Jubel, onvrugbare, wat nie gebaar het nie! Breek uit in gejubel en juig, jy wat geen weë gehad het nie! Want die kinders van die eensame is meer as die kinders van die getroude, sê die HERE.
2 Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in.
3 Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal nasies in besit neem en verwoeste stede bevolk.
4 Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie; en vrees geen skande nie, want jy sal nie nodig hê om te bloos nie; maar jy sal die skande van jou jonkheid vergeet en aan die smaad van jou weduweeskap nie meer dink nie.
5 Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.
6 Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.
7 Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.
8 In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser.
9 Soos in die dae van Noag is dit vir My: soos Ek gesweer het dat die waters van Noag nie meer oor die aarde sou gaan nie, so het Ek gesweer dat Ek nie op jou toornig sal wees of jou sal dreig nie.
10 Want berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk en my vredeverbond nie wankel nie, sê die HERE, jou Ontfermer.
11 Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere;
12 en jou borswerings maak Ek van robyne en jou poorte van karbonkels en jou hele ringmuur van edelgesteentes.
13 En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.
14 Deur geregtigheid sal jy bevestig word; wees ver van verdrukking, want jy hoef nie bevrees te wees nie; en ver van verskrikking, want dit sal nie by jou kom nie.
15 As hulle ook die aanval begin—dit is nie uit My nie; wie jou aanval, sal oor jou val.
16 Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel.
17 Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.

*~ Hoofstuk 55 ~*


1 O Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk!
2 Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.
3 Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.
4 Kyk, Ek het hom tot ‘n getuie van die volke gemaak, tot ‘n vors en ‘n gebieder van die nasies.
5 Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die HERE jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.

1 Petrus 3:8–22;


8 vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,
9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
10 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors,
11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.
12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.
13 Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van YAHUSHUA .
14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;
18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.
22 As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart;