30
2 As iemand aan YAHUVEH ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself
verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet
handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan.
3 Maar as ‘n vrou aan YAHUVEH ‘n gelofte doen of haarself verbind om haar te
onthou, terwyl sy in haar vader se huis is in haar jeug,
4 en haar vader van haar gelofte hoor of van die onthouding waartoe sy haarself
verbind het, en haar vader swyg teenoor haar, dan sal al haar geloftes van krag
wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees.
5 Maar as haar vader haar terughou op die dag dat hy daarvan hoor, sal al haar
geloftes en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, nie van krag wees
nie; en YAHUVEH sal haar dit vergewe, omdat haar vader haar teruggehou het.
6 Maar as sy trou terwyl haar geloftes op haar rus of iets wat onverskillig
uitgespreek is, waardeur sy haarself verbind het,
7 en haar man daarvan hoor, op watter dag ook al, en teenoor haar swyg, dan sal
haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het,
sal van krag wees.
8 Maar as haar man op die dag dat hy daarvan hoor, haar terughou, dan maak hy
haar gelofte tot niet wat op haar rus, en ook wat onverskillig uitgespreek is,
waardeur sy haarself verbind het; en YAHUVEH sal haar dit vergewe.
9 Maar die gelofte van ‘n weduwee of van ‘n vrou wat verstoot is—alles waardeur
sy haarself verbind het, sal vir haar van krag wees.
10 En as sy in die huis van haar man ‘n gelofte doen of haarself met ‘n eed
verbind om haar te onthou,
11 en haar man daarvan hoor en teenoor haar swyg, haar nie terughou nie, dan sal
al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind
het, sal van krag wees.
12 Maar as haar man die dinge uitdruklik tot niet maak op die dag dat hy daarvan
hoor, sal niks van alles wat uit haar lippe uitgegaan het, van haar geloftes of
van die verbintenis tot onthouding, van krag wees nie; haar man het dit tot niet
gemaak, en YAHUVEH sal haar dit vergewe.
13 Elke gelofte en elke eed van onthouding om die siel te verootmoedig—haar man
kan dit van krag maak, en haar man kan dit tot niet maak.
14 Maar as haar man van dag tot dag geheel en al teenoor haar swyg, dan maak hy
al haar geloftes of elke onthouding waartoe sy verbind is, van krag; hy het dit
van krag gemaak, want hy het teenoor haar geswyg op die dag dat hy daarvan
gehoor het.
15 Maar as hy dit uitdruklik tot niet maak nadat hy al daarvan gehoor het, dan
dra hy haar ongeregtigheid.
16 Dit is die insettinge wat YAHUVEH Moses beveel het tussen ‘n man en sy vrou,
tussen ‘n vader en sy dogter terwyl sy in haar jeug in haar vader se huis is.
*~ Hoofstuk 31 ~*
1 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
2 Neem wraak vir die kinders van Israel op die Midianiete; daarna sal jy by jou
volksgenote versamel word.
3 Daarop het Moses met die volk gespreek en gesê: Laat manne uit julle midde hul
vir die oorlog wapen, dat hulle teen Mídian kan trek om die wraakgerig van
YAHUVEH aan Mídian te voltrek.
4 duisend vir elke stam van al die stamme van Israel moet julle na die oorlog
stuur.
5 Toe is daar uit die duisende van Israel duisend vir elke stam gelewer, twaalf
duisend wat vir die oorlog gewapen was.
6 En Moses het hulle na die oorlog gestuur, duisend vir elke stam, hulle en
Pínehas, die seun van die priester Eleásar, na die oorlog, met die heilige
voorwerpe en die trompette by hom om alarm te blaas.
7 En hulle het oorlog toe getrek teen Mídian, soos YAHUVEH Moses beveel het, en
al die manlike persone gedood.
8 Ook het hulle die konings van Mídian gedood by die wat hulle verslaan het: Ewi
en Rekem en Sur en Hur en Reba, die vyf konings van Mídian; ook het hulle Bíleam,
die seun van Beor, met die swaard gedood.
9 Maar die kinders van Israel het die vroue van die Midianiete en hulle kinders
as gevangenes weggevoer, en al hulle lasdiere en al hulle vee en al hulle rykdom
geroof.
10 Verder, al hulle stede in hulle woonplekke en al hulle laers het hulle met
vuur verbrand
11 en al die roof geneem en al die buit, mense en diere.
12 Daarna het hulle die gevangenes en die buit en die roof na Moses en die
priester Eleásar en na die vergadering van die kinders van Israel gebring in die
laer, in die vlaktes van Moab wat by die Jordaan van Jérigo is.
13 En toe Moses en die priester Eleásar en al die owerstes van die vergadering
hulle buitekant die laer tegemoetgaan,
14 het Moses kwaad geword vir die aanvoerders van die leër, die owerstes oor
duisend en die owerstes oor honderd wat van die veldtog af gekom het.
15 En Moses het vir hulle gesê: Het julle al die vroue laat lewe?
16 Kyk, hulle was, deur die raad van Bíleam, vir die kinders van Israel ‘n
oorsaak van troubreuk teenoor YAHUVEH in die saak van Peor, sodat die plaag in
die vergadering van YAHUVEH was.
17 Maak dan nou dood almal wat van die manlike geslag onder die kinders is; en
maak dood elke vrou wat gemeenskap met ‘n man gehad het.
18 Maar laat al die kinders onder die vroulike persone wat geen gemeenskap met
‘n man gehad het nie, vir julle in die lewe bly.
19 En julle, slaan sewe dae lank ‘n kamp op buitekant die laer; elkeen wat ‘n
mens gedood en elkeen wat aan ‘n gesneuwelde geraak het—julle moet jul op die
derde dag en op die sewende dag ontsondig, julle en jul gevangenes.
20 Ook moet julle al die klere en elke ding van leer en alles wat van bokhaar
gemaak is, en elke ding van hout ontsondig.
21 En die priester Eleásar het aan die krygsmanne wat na die oorlog getrek het,
gesê: Dit is die wetsinsetting wat YAHUVEH Moses beveel het.
22 Net die goud en die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood—
23 elke ding wat in die vuur kan kom—moet julle deur die vuur laat deurgaan, en
dit sal rein wees; ewenwel moet dit deur reinigingswater ontsondig word; maar
alles wat nie in die vuur kan kom nie, moet julle deur die water laat deurgaan.
24 Julle moet ook jul klere op die sewende dag was; dan sal julle rein wees; en
daarna mag julle in die laer kom.
25 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
26 Neem die volle getal op van wat as buit weggevoer is, van mense en van diere,
jy en die priester Eleásar en die familiehoofde van die vergadering;
27 en verdeel die buit tussen die wat met die oorlog te doen gehad het, wat op
kommando uitgetrek het, én die hele vergadering.
28 En hef ‘n bydrae vir YAHUVEH van die krygsmanne wat na die oorlog uitgetrek
het—een uit elke vyf honderd—van die mense en van die beeste en van die esels en
van die kleinvee.
29 Van hulle helfte moet julle dit neem, en gee dit aan die priester Eleásar as
‘n offergawe aan YAHUVEH.
30 Maar uit die helfte van die kinders van Israel moet jy een neem, uitgehaal
uit elke vyftig, uit die mense, uit die beeste, uit die esels en die kleinvee,
uit al die diere; en jy moet dit aan die Leviete gee wat die diens by die
tabernakel van YAHUVEH waarneem.
31 En Moses en die priester Eleásar het gedoen soos YAHUVEH Moses beveel het.
32 En die buit, die oorskot van die roof wat die krygsmanne geneem het, was ses
honderd vyf en sewentig duisend stuks kleinvee;
33 en twee en sewentig duisend beeste;
34 en een en sestig duisend esels;
35 en mensesiele, uit die vroulike persone wat geen gemeenskap met ‘n man gehad
het nie, al die siele was twee en dertig duisend.
36 En die helfte, die deel van hulle wat na die oorlog uitgetrek het, was in
getal drie honderd sewe en dertig duisend vyf honderd stuks kleinvee.
37 En die bydrae aan YAHUVEH uit die kleinvee was ses honderd vyf en sewentig.
38 En die beeste was ses en dertig duisend, en die bydrae daarvan aan YAHUVEH
twee en sewentig.
39 En die esels was dertig duisend vyf honderd, en die bydrae daarvan aan
YAHUVEH een en sestig.
40 En mensesiele was sestien duisend, en die bydrae daarvan aan YAHUVEH twee en
dertig siele.
41 En Moses het aan die priester Eleásar die bydrae gegee wat as offergawe aan
YAHUVEH bestem was, soos YAHUVEH Moses beveel het.
42 En uit die helfte van die kinders van Israel wat Moses van die vegsmanne
afgedeel het—
43 die helfte van die vergadering uit die kleinvee was drie honderd sewe en
dertig duisend vyf honderd;
44 en die beeste was ses en dertig duisend;
45 en die esels dertig duisend vyf honderd;
46 en mensesiele sestien duisend—
47 uit die helfte van die kinders van Israel het Moses geneem—van wat uitgehaal
was, een uit elke vyftig, van mense en van diere—en hy het dit aan die Leviete
gegee wat die diens by die tabernakel van YAHUVEH waarneem, soos YAHUVEH Moses
beveel het.
48 Toe het die aanvoerders oor die duisende van die leër, die owerstes oor
duisend en die owerstes oor honderd, nader gekom na Moses
49 en aan Moses gesê: U dienaars het die volle getal van die krygsmanne opgeneem
wat onder ons bevel was, en daarvan word nie een vermis nie.
50 Daarom bring elkeen van ons as offer aan YAHUVEH wat hy aan goue goed gevind
het: armkettings en armbande, vingerringe, oorringe en halssierade, om
versoening te doen vir ons siele voor die aangesig van YAHUVEH.
51 Toe het Moses en die priester Eleásar die goud, allerhande kunsvoorwerpe, van
hulle aangeneem.
52 En al die goud van die offergawe wat hulle aan YAHUVEH afgegee het, was
sestien duisend sewe honderd en vyftig sikkels, afkomstig van die owerstes oor
duisend en die owerstes oor honderd.
53 Die krygsmanne het elkeen na welgevalle buitgemaak.
54 So het Moses en die priester Eleásar dan die goud van die owerstes oor
duisend en oor honderd aangeneem en dit in die tent van samekoms gebring om die
kinders van Israel voor die aangesig van YAHUVEH in gedagtenis te bring.
*~ Hoofstuk 32 ~*
1 En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot
menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind
hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was.
2 Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en
die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê:
3 Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en
Behon—
4 die land wat YAHUVEH voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n
land vir vee, en u dienaars het vee.
5 Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan
u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie.
6 Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal
julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly?
7 Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak
om deur te trek in die land wat YAHUVEH aan hulle gegee het?
8 So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die
land te bekyk.
9 Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die
hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat
YAHUVEH aan hulle gegee het.
10 Daarom het die toorn van YAHUVEH dieselfde dag ontvlam, en Hy het gesweer en
gesê:
11 Waarlik, geeneen van die manne wat uit Egipte opgetrek het, van twintig jaar
oud en daarbo, sal die land sien wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed
beloof het nie; want hulle het nie volhard om My te volg nie—
12 behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, en Josua, die seun van
Nun; want hulle het volhard om YAHUVEH te volg.
13 En die toorn van YAHUVEH het teen Israel ontvlam, en Hy het hulle veertig
jaar lank in die woestyn laat rondswerwe, totdat die hele geslag verteer was wat
kwaad gedoen het in die oë van YAHUVEH.
14 En kyk, julle het opgestaan in die plek van julle vaders, ‘n egte kroos van
sondige mense, om die toorngloed van YAHUVEH teen Israel nog te vermeerder.
15 As julle van Hom afvallig word, sal Hy hulle nog langer in die woestyn laat
bly, en julle sal hierdie hele volk te gronde laat gaan.
16 Toe kom hulle na hom toe aan en sê: Ons sal hier skaapkrale bou vir ons vee
en stede vir ons kinders.
17 Maar ons self sal ons haastig wapen voor die oë van die kinders van Israel,
totdat ons hulle op hul woonplek bring; en ons kinders sal in die versterkte
stede bly vanweë die bewoners van die land.
18 Ons sal nie na ons huise teruggaan voordat die kinders van Israel elkeen in
besit van sy erfdeel gekom het nie.
19 Want ons sal nie saam met hulle wes van die Jordaan en verder weg erwe nie,
omdat ons erfdeel duskant die Jordaan, teen sonop, ons s’n geword het.
20 Toe sê Moses vir hulle: As julle dit doen, as julle jul voor die aangesig van
YAHUVEH vir die oorlog wapen
21 en elke gewapende man van julle voor die aangesig van YAHUVEH deur die
Jordaan trek, totdat Hy sy vyande voor sy aangesig uit verdrywe het
22 en die land voor die aangesig van YAHUVEH onderwerp is, en julle daarna
teruggaan, dan sal julle vrygestel wees voor YAHUVEH en voor Israel, en hierdie
land sal vir julle ‘n besitting word voor die aangesig van YAHUVEH.
23 Maar as julle nie so doen nie, kyk, dan sondig julle teen YAHUVEH, en weet
dan dat julle sonde julle sal uitvind.
24 Bou vir julle stede vir jul kinders en krale vir jul kleinvee, en doen wat
uit julle mond uitgegaan het.
25 Toe het die kinders van Gad en die kinders van Ruben met Moses gespreek en
gesê: U dienaars sal doen soos my heer beveel het.
26 Ons kinders, ons vroue, ons vee en al ons lasdiere sal daar in die stede van
Gílead bly;
27 maar u dienaars, almal wat vir die oorlog gewapen is, sal voor die aangesig
van YAHUVEH na die oorlog oortrek soos my heer gespreek het.
28 Toe het Moses aangaande hulle aan die priester Eleásar en aan Josua, die seun
van Nun, en aan die familiehoofde uit die stamme van die kinders van Israel
bevel gegee,
29 en Moses het aan hulle gesê: As die kinders van Gad en die kinders van Ruben
saam met julle deur die Jordaan trek, almal wat vir die oorlog gewapen is, voor
die aangesig van YAHUVEH, en die land voor julle uit onderwerp is, gee dan aan
hulle die land Gílead as ‘n besitting.
30 Maar as hulle nie gewapend saam met julle oortrek nie, moet hulle onder julle
in die land Kanaän besittings verkry.
31 En die kinders van Gad en die kinders van Ruben het geantwoord en gesê: Wat
YAHUVEH aan u dienaars gesê het, so sal ons doen.
32 Ons sal gewapend oortrek voor die aangesig van YAHUVEH na die land Kanaän, en
ons erflike besitting oos van die Jordaan sal ons s’n wees.
33 So het Moses dan aan hulle gegee, aan die kinders van Gad en die kinders van
Ruben en die halwe stam van Manasse, die seun van Josef, die koninkryk van Sihon,
koning van die Amoriete, en die koninkryk van Og, koning van Basan, die land
volgens sy stede met die grondgebied wat daarby behoort, die stede van die land
rondom.
34 En die kinders van Gad het Dibon gebou en Atarot en Aroër
35 en Aterot-Sofan en Jaéser en Jógbeha
36 en Bet-Nimra en Bet-Haran, versterkte stede en skaapkrale.
37 En die kinders van Ruben het Hesbon gebou en Eleále en Kirjataim
38 en Nebo en Baäl-Meon—met verandering van die name—en Sibma; en hulle het die
stede wat hulle gebou het, name gegee.
39 En die seuns van Magir, die seun van Manasse, het na Gílead gegaan en dit
verower en die Amoriete verdrywe wat daarin was.
40 En Moses het Gílead aan Magir, die seun van Manasse, gegee; en hy het daarin
gewoon.
41 En Jaïr, die seun van Manasse, het gegaan en hulle tentdorpe ingeneem en dit
tentdorpe van Jaïr genoem.
42 En Nobag het gegaan en Kenat en die onderhorige plekke ingeneem en dit sy
naam Nobag gegee.
*~ Hoofstuk 33 ~*
1 Dit is die trekke van die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het
volgens hulle leërafdelings, onder leiding van Moses en Aäron.
2 Volgens die bevel van YAHUVEH het Moses die plekke opgeskrywe vanwaar hulle
van plek tot plek verder getrek het; en dit is hulle plekke vanwaar hulle al
verder getrek het.
3 Hulle het van Raämses af opgebreek in die eerste maand, op die vyftiende dag
van die eerste maand; op die dag ná die pasga het die kinders van Israel deur ‘n
hoë hand voor die oë van al die Egiptenaars uitgetrek,
4 terwyl die Egiptenaars besig was om dié te begrawe wat YAHUVEH onder hulle
verslaan het, al die eersgeborenes; ook het YAHUVEH aan hulle gode strafgerigte
voltrek.
5 Toe die kinders van Israel van Raämses af opgebreek het, het hulle laer
opgeslaan in Sukkot.
6 En hulle het van Sukkot af opgebreek en laer opgeslaan in Etam wat aan die
kant van die woestyn lê.
7 En hulle het van Etam af opgebreek en weggedraai na Pi-Hágirot wat oos van
Baäl-Sefon lê; en hulle het laer opgeslaan voor Migdol.
8 En hulle het van Pi-Hágirot af opgebreek en dwarsdeur die see gegaan na die
woestyn toe; en hulle het drie dagreise ver die woestyn van Etam ingetrek en
laer opgeslaan in Mara.
9 En hulle het van Mara af opgebreek en by Elim gekom; en in Elim was twaalf
waterfonteine en sewentig palmbome, en hulle het daar laer opgeslaan.
10 En hulle het van Elim af opgebreek en laer opgeslaan by die Skelfsee.
11 En hulle het van die Skelfsee af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn
Sin.
12 En hulle het uit die woestyn Sin opgebreek en laer opgeslaan in Dofka.
13 En hulle het van Dofka af opgebreek en laer opgeslaan in Alus.
14 En hulle het van Alus af opgebreek en laer opgeslaan in Ráfidim; maar daar
was geen water vir die volk om te drink nie.
15 En hulle het van Ráfidim af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn Sinai.
16 En hulle het uit die woestyn Sinai opgebreek en laer opgeslaan in
Kibrot-Hattáäwa.
17 En hulle het van Kibrot-Hattáäwa af opgebreek en laer opgeslaan in Háserot.
18 En hulle het van Háserot af opgebreek en laer opgeslaan in Ritma.
19 En hulle het van Ritma af opgebreek en laer opgeslaan in Rimmon-Peres.
20 En hulle het van Rimmon-Peres af opgebreek en laer opgeslaan in Libna.
21 En hulle het van Libna af opgebreek en laer opgeslaan in Rissa.
22 En hulle het van Rissa af opgebreek en laer opgeslaan in Keheláta.
23 En hulle het van Keheláta af opgebreek en laer opgeslaan by die berg Sefer.
24 En hulle het van die berg Sefer af opgebreek en laer opgeslaan in Hárada.
25 En hulle het van Hárada af opgebreek en laer opgeslaan in Mákhelot.
26 En hulle het van Mákhelot af opgebreek en laer opgeslaan in Tahat.
27 En hulle het van Tahat af opgebreek en laer opgeslaan in Terag.
28 En hulle het van Terag af opgebreek en laer opgeslaan in Mitka.
29 En hulle het van Mitka af opgebreek en laer opgeslaan in Hasmóna.
30 En hulle het van Hasmóna af opgebreek en laer opgeslaan in Móserot.
31 En hulle het van Móserot af opgebreek en laer opgeslaan in Béne-Jáäkan.
32 En hulle het van Béne-Jáäkan af opgebreek en laer opgeslaan in Hor-Hággidgad.
33 En hulle het van Hor-Hággidgad af opgebreek en laer opgeslaan in Jotbáta.
34 En hulle het van Jotbáta af opgebreek en laer opgeslaan in Abróna.
35 En hulle het van Abróna af opgebreek en laer opgeslaan in Éseon-Geber.
36 En hulle het van Éseon-Geber af opgebreek en laer opgeslaan in die woestyn
Sin, dit is Kades.
37 En hulle het van Kades af opgebreek en laer opgeslaan by die berg Hor, aan
die kant van die land Edom.
38 Toe het die priester Aäron volgens die bevel van YAHUVEH op die berg Hor
geklim en daar gesterwe, in die veertigste jaar ná die uittog van die kinders
van Israel uit Egipteland, in die vyfde maand, op die eerste van die maand.
39 En Aäron was honderd drie en twintig jaar oud toe hy op die berg Hor gesterf
het.
40 En die Kanaäniet, die koning van Arad, wat in die Suidland in die land Kanaän
gewoon het, het gehoor dat die kinders van Israel aankom.
41 En hulle het van die berg Hor af opgebreek en laer opgeslaan in Sálmona.
42 En hulle het van Sálmona af opgebreek en laer opgeslaan in Punon.
43 En hulle het van Punon af opgebreek en laer opgeslaan in Obot.
44 En hulle het van Obot af opgebreek en laer opgeslaan in Ijje-Haäbárim, by die
grens van Moab.
45 En hulle het van Ijjim af opgebreek en laer opgeslaan in Dibon-Gad.
46 En hulle het van Dibon-Gad af opgebreek en laer opgeslaan in Almon-Diblataim.
47 En hulle het van Almon-Diblataim af opgebreek en laer opgeslaan in die
gebergte Abárim, voor Nebo.
48 En hulle het van die gebergte Abárim af opgebreek en laer opgeslaan in die
vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo.
49 En hulle het laer opgeslaan by die Jordaan van Bet-Hajésimot af tot by Abel-Hassittim,
in die vlaktes van Moab.
50 En YAHUVEH het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van
Jérigo, en gesê:
51 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan
in die land Kanaän intrek,
52 moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle
beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle
hoogtes verwoes.
53 En julle moet die land in besit neem en daarin woon; want Ek het die land aan
julle gegee om dit te besit.
54 En julle moet die land deur die lot as erfdeel verwerwe, volgens julle
geslagte; vir die wat baie is, moet julle hulle erfdeel groot maak, en vir die
wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak. Waar die lot vir iemand val, moet
dit sy deel wees; volgens julle vaderlike stamme moet julle dit as erfdeel
verwerwe.
55 Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal
die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos
angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon.
56 En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen.
*~ Hoofstuk 34 ~*
1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land
Kanaän kom, sal dit die land wees wat aan julle as erfdeel sal val; die land
Kanaän volgens sy grense.
3 Julle suidekant dan moet van die woestyn Sin af langs Edom wees; en julle
suidelike grens moet aan die oostekant van die einde van die Soutsee af wees;
4 en julle grens moet suid van Skerpioennek swaai en oorloop na Sin toe, totdat
dit doodloop suid van Kades-Barnéa; dan moet dit aanloop na Hasar-Addar en oor
na Asmon toe.
5 Verder moet die grens swaai van Asmon af na die spruit van Egipte toe, sodat
dit by die see doodloop.
6 Aangaande die westelike grens, dit moet vir julle die Groot See saam met sy
gebied wees; dit moet julle westelike grens wees.
7 En dit moet julle noordelike grens wees: van die Groot See af moet julle jul
grenslyn trek na die berg Hor.
8 Van die berg Hor af moet julle die grenslyn trek tot by die ingang na Hamat;
en die grens moet doodloop by Sedad.
9 Dan moet die grens aanloop na Sifron toe, en dit moet doodloop by Hasar-Enan.
Dit moet julle noordelike grens wees.
10 Verder moet julle as jul oostelike grens die lyn trek van Hasar-Enan af na
Sefam toe.
11 En die grens moet afloop van Sefam af na Ribla toe, oos van Ajin; dan moet
die grens afloop en skrams oor die hange van die meer Kinnéret gaan, aan die
oostekant.
12 Verder moet die grens afloop na die Jordaan totdat dit doodloop by die
Soutsee. Dit moet vir julle die land wees volgens sy grense rondom.
13 En Moses het aan die kinders van Israel bevel gegee en gesê: Dit is die land
wat julle deur die lot as erfdeel sal verwerwe, wat YAHUVEH beveel het om aan
die nege stamme en aan die halwe stam te gee.
14 Want die stam van die kinders van die Rubeniete volgens hulle families en die
stam van die kinders van die Gadiete volgens hulle families en die halwe stam
van Manasse het al ontvang—hulle het hul erfdeel ontvang.
15 Die twee stamme en die halwe stam het hulle erfdeel aan die oostekant van die
Jordaan van Jérigo, teen sonop, ontvang.
16 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
17 Dit is die name van die manne wat vir julle die land as erfenis moet verdeel:
die priester Eleásar en Josua, die seun van Nun.
18 Daarby moet julle uit elke stam een owerste neem om die land as erfenis te
verdeel.
19 En dit is die name van die manne: van die stam van Juda—Kaleb, die seun van
Jefúnne;
20 en van die stam van Símeon se kinders—Sémuel, die seun van Ammihud;
21 van die stam van Benjamin—Elídad, die seun van Kislon;
22 en van die stam van Dan se kinders as owerste—Bukki, die seun van Jogli;
23 van die kinders van Josef: van die stam van Manasse se kinders as
owerste—Hánniël, die seun van Efod;
24 en van die stam van Efraim se kinders as owerste—Kémuel, die seun van Siftan;
25 en van die stam van Sébulon se kinders as owerste—Elísafan, die seun van
Parnag;
26 en van die stam van Issaskar se kinders as owerste—Páltiël, die seun van
Assan;
27 en van die stam van Aser se kinders as owerste—Ahíhud, die seun van Selómi;
28 en van die stam van Náftali se kinders as owerste—Pedáel, die seun van
Ammihud.
29 Dit is hulle aan wie YAHUVEH bevel gegee het om die erfenis vir die kinders
van Israel in die land Kanaän te verdeel.
*~ Hoofstuk 35 ~*
1 En YAHUVEH het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van
Jérigo, en gesê:
2 Gee bevel aan die kinders van Israel dat hulle aan die Leviete van hulle
erflike besitting stede gee om te bewoon; ook moet julle weiveld rondom die
stede aan die Leviete gee.
3 En die stede moet vir hulle dien om te bewoon; maar die weiveld wat daarby
behoort, moet vir hulle diere en hulle besitting en al hulle lewende hawe wees.
4 En die weiveld van die stede wat julle aan die Leviete gee, moet van die
stadsmuur af buitentoe duisend el rondom wees.
5 En julle moet buitekant die stad meet: aan die oostekant twee duisend el en
aan die suidekant twee duisend el en aan die westekant twee duisend el en aan
die noordekant twee duisend el, en die stad in die middel. Dit moet vir hulle as
weiveld van die stede dien.
6 En die stede wat julle aan die Leviete gee, moet die ses vrystede wees wat
julle moet gee, dat die een wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kan vlug; en
daarby moet julle twee en veertig stede gee.
7 Al die stede wat julle aan die Leviete gee, moet wees agt en veertig stede,
hulle saam met hul weiveld.
8 En wat die stede betref wat julle uit die besitting van die kinders van Israel
gee—julle moet van die wat baie is, baie neem, en van die wat min is, min neem;
elke stam moet van sy stede aan die Leviete gee volgens die erfdeel wat elkeen
gaan kry.
9 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
10 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan
na die land Kanaän trek,
11 moet julle gunstig geleë stede vir julle uitsoek; as vrystede moet hulle vir
julle dien, dat die een wat ‘n doodslag begaan het, een wat per ongeluk ‘n mens
doodgeslaan het, daarheen kan vlug.
12 En die stede moet vir julle as toevlug dien vanweë die bloedwreker, sodat hy
wat ‘n doodslag begaan het, nie sterwe voordat hy voor die vergadering gestaan
het om geoordeel te word nie.
13 En die stede wat julle gee, moet vir julle, ses in getal, as vrystede dien.
14 Drie van die stede moet julle oos van die Jordaan gee, en drie daarvan moet
julle in die land Kanaän gee; vrystede moet hulle wees.
15 Vir die kinders van Israel en die vreemdeling en die bywoner onder hulle moet
hierdie ses stede as toevlug dien, sodat elkeen daarheen kan vlug wat per
ongeluk ‘n mens doodgeslaan het.
16 Maar as hy hom slaan met ‘n ystervoorwerp, sodat hy sterwe, dan is hy ‘n
moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
17 En as hy hom slaan met ‘n klip in die hand—waardeur iemand kan sterwe—en hy
sterwe, dan is hy ‘n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
18 Of as hy hom slaan met ‘n houtvoorwerp in die hand—waardeur iemand kan sterwe—en
hy sterwe, dan is hy ‘n moordenaar; die moordenaar moet sekerlik gedood word.
19 Die bloedwreker, hy moet die moordenaar doodmaak; as hy hom kry, moet hy hom
doodmaak.
20 En as hy hom uit haat stamp of met opset na hom gooi, sodat hy sterwe,
21 of hom uit vyandskap met sy hand slaan, sodat hy sterwe, dan moet hy wat
geslaan het, sekerlik gedood word; hy is ‘n moordenaar; die bloedwreker moet die
moordenaar doodmaak as hy hom kry.
22 Maar as hy hom onvoorsiens, sonder vyandskap, stamp of enigiets sonder opset
na hom gooi;
23 of as hy enige klip waardeur iemand kan sterwe—as hy, sonder om dit te sien,
dit op hom laat val, sodat hy sterwe, terwyl hy geen vyand van hom was en sy
onheil nie gesoek het nie,
24 dan moet die vergadering tussen hom wat doodgeslaan het, en die bloedwreker
oordeel volgens hierdie voorskrifte.
25 En die vergadering moet hom wat ‘n doodslag begaan het, red uit die hand van
die bloedwreker, en die vergadering moet hom laat teruggaan na sy vrystad
waarheen hy gevlug het; en hy moet daarin bly tot die dood van die hoëpriester
wat met die heilige olie gesalf is.
26 Maar as hy wat ‘n doodslag begaan het, ooit buitekant die grens van sy
vrystad gaan waarheen hy moes vlug,
27 en die bloedwreker hom buitekant die grens van sy vrystad kry, en die
bloedwreker hom doodslaan wat ‘n doodslag begaan het, dan sal daar vir hom geen
bloedskuld wees nie.
28 Want hy moet in sy vrystad bly tot die dood van die hoëpriester; maar ná die
dood van die hoëpriester mag die een wat ‘n doodslag begaan het, teruggaan na
die land waar sy besitting lê.
29 En dit moet vir julle ‘n regsinsetting wees in julle geslagte, in al julle
woonplekke.
30 As iemand ‘n mens doodslaan, moet die moordenaar op verklaring van getuies
gedood word; maar een getuie is nie genoegsaam om iemand tot die dood te
veroordeel nie.
31 Maar julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ‘n moordenaar wat
skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word.
32 Ook mag julle geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na sy
vrystad—sodat hy kan teruggaan om in die land te woon—tot op die dood van die
hoëpriester nie.
33 En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed
ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed
wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.
34 En jy mag die land waar julle in woon, nie verontreinig nie, omdat Ek daarin
woon; want Ek, YAHUVEH, woon in die midde van die kinders van Israel.
*~ Hoofstuk 36 ~*
1 En die familiehoofde van die geslag van die kinders van Gílead, die seun van
Magir, die seun van Manasse, uit die geslagte van Josef se kinders, het nader
gekom en voor Moses en die owerstes, die familiehoofde van die kinders van
Israel, gespreek
2 en gesê: YAHUVEH het aan my heer bevel gegee om die land deur die lot as
erfenis aan die kinders van Israel te gee; ook het my heer van YAHUVEH bevel
ontvang om die erfdeel van ons broer Selófhad aan sy dogters te gee.
3 As hulle nou die vroue word van een van die seuns uit die ander stamme van die
kinders van Israel, dan word hulle erfdeel van ons vaders se erfdeel weggeneem
en gevoeg by die erfdeel van die stam waarby hulle sal behoort; so sal dan die
erfdeel wat ons deur die lot aangewys is, ingekort word.
4 En as die jubeljaar vir die kinders van Israel aanbreek, dan word hulle
erfdeel gevoeg by die erfdeel van die stam waarby hulle sal behoort; so sal dan
hulle erfdeel van die erfdeel van ons vaders se stam weggeneem word.
5 Toe het Moses die kinders van Israel volgens die bevel van YAHUVEH gelas en
gesê: Die stam van die kinders van Josef praat reg.
6 Dit is die saak wat YAHUVEH aangaande die dogters van Selófhad beveel het deur
te sê: Laat hulle die vroue word van hom wat goed is in hulle oë; hulle moet net
trou in ‘n geslag van die stam van hulle vader,
7 sodat die erfdeel van die kinders van Israel nie van stam tot stam oorgaan nie;
want die kinders van Israel moet elkeen die erfdeel van die stam van sy vaders
vashou.
8 En elke dogter wat ‘n erfdeel kry, uit die stamme van die kinders van Israel,
moet die vrou word van een uit die geslag van die stam van haar vader, sodat die
kinders van Israel elkeen die erfdeel van sy vaders kan erwe.
9 So sal dan ‘n erfdeel nie van een stam na ‘n ander stam oorgaan nie; want die
stamme van die kinders van Israel moet elkeen sy erfdeel vashou.
10 Soos YAHUVEH Moses beveel het, so het die dogters van Selófhad gedoen:
11 Magla, Tirsa en Hogla en Milka en Noa, die dogters van Selófhad, het die
vroue geword van die seuns van hulle ooms;
12 hulle het die vroue geword van manne uit die geslagte van die kinders van
Manasse, die seun van Josef. So het dan hulle erfdeel gebly in die stam van die
geslag van hulle vader.
13 Dit is die gebooie en die verordeninge wat YAHUVEH deur die diens van Moses
die kinders van Israel beveel het, in die vlaktes van Moab by die Jordaan van
Jérigo.