Shabbat Shalom!
Welkom by Vayigash / Toe Het Hy Nader Gekom
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Esegiël 37:15-28;

37

15 Verder het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
16 En jy, mensekind, neem vir jou ‘n stuk hout, en skrywe daarop: Vir Juda en vir die kinders van Israel, sy bondgenote; en neem ‘n ander stuk hout en skrywe daarop: Vir Josef (die hout van Efraim) en die hele huis van Israel, sy bondgenote.
17 Voeg hulle dan vir jou bymekaar, die een by die ander, om een stuk hout te wees, en laat hulle een word in jou hand.
18 En as die kinders van jou volk met jou spreek en sê: Sal u ons nie te kenne gee wat u met hierdie dinge bedoel nie?
19 sê dan vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek sal die stuk hout van Josef neem, wat in die hand van Efraim is, en die stamme van Israel, sy bondgenote, en Ek sal hulle by hom voeg, by die stuk van Juda, en hulle een stuk hout maak; en hulle sal een word in my hand.
20 So moet dan die houte waar jy op skrywe, in jou hand wees voor hulle oë;
21 en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land.
22 En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie.
23 En hulle sal hul nie meer verontreinig met hulle drekgode en hulle verfoeisels en met al hulle oortredinge nie; en Ek sal hulle verlos uit al hulle woonplekke waarin hulle gesondig het, en sal hulle reinig. So sal hulle dan vir my ‘n volk wees, en Ek vir hulle ‘n God wees.
24 En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel.
25 En hulle sal woon in die land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het, waar julle vaders in gewoon het; ja, húlle sal daarin woon, hulle kinders en hulle kindskinders tot in ewigheid; en my kneg Dawid sal hulle vors wees vir ewig.
26 En Ek sal ‘n verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ‘n ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig.
27 En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ‘n God wees en hulle vir my ‘n volk wees.
28 En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde sal wees.

Lukas 24:30-48;


30 En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle.
31 Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.
32 En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?
33 Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was,
34 wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.
35 Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.
36 En terwyl hulle hieroor praat, staan YAHUSHUA self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!
37 Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.
38 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?
39 Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.
40 En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.
41 En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?
42 Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek.
43 En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.
44 En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.
45 Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.
46 En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,
47 en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.
48 En julle is getuies van hierdie dinge.