Shabbat Shalom!
Korach / Korah
- hierdie week se Torah lees.


Numeri 16:1–18:32;

16

1 En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem,
2 en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam.
3 En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?
4 Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval;
5 en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom.
6 Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende,
7 en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi!
8 Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi!
9 Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie,
10 en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer?
11 Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer?
12 En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie.
13 Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?
14 Ook het jy ons nie gebring in ‘n land wat oorloop van melk en heuning en aan ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrawe? Ons sal nie opkom nie.
15 Toe het Moses baie kwaad geword, en hy het aan die HERE gesê: Sien hulle offer nie aan nie. Ek het nie een esel van hulle geneem en nie een van hulle kwaad aangedoen nie.
16 Verder het Moses vir Korag gesê: Jy en jou hele bende, sorg dat julle môre voor die aangesig van die HERE is, jy en hulle en Aäron.
17 En neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op, en bring voor die aangesig van die HERE elkeen sy vuurpan, twee honderd en vyftig vuurpanne, ook jy en Aäron elkeen sy vuurpan.
18 Toe het hulle elkeen sy vuurpan geneem en daar vuur op gegooi en reukwerk op gelê; en hulle het gaan staan by die ingang van die tent van samekoms, ook Moses en Aäron.
19 En Korag het die hele vergadering teen hulle bymekaar laat kom by die ingang van die tent van samekoms. Toe verskyn die heerlikheid van die HERE aan die hele vergadering.
20 En die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
21 Skei julle af van hierdie vergadering, en Ek sal hulle in ‘n oomblik verteer.
22 Maar hulle het op hul aangesig geval en gesê: o God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U op die hele vergadering toornig word?
23 En die Here het met Moses gespreek en gesê:
24 Spreek met die vergadering en sê: Maak dat julle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram!
25 Toe het Moses opgestaan en na Datan en Abíram gegaan, en die oudstes van Israel het agter hom aan gegaan.
26 Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.
27 En hulle het gemaak dat hulle wegkom rondom die woning van Korag, Datan en Abíram; maar Datan en Abíram het uitgekom en gaan staan by die deur van hulle tente saam met hulle vroue en seuns en kindertjies.
28 Toe sê Moses: Hieraan sal julle weet dat die HERE my gestuur het om al hierdie werke te doen, dat hulle nie uit my eie hart is nie:
29 as hierdie mense sterwe soos alle mense sterwe en met die besoeking van alle mense besoek word, dan het die HERE my nie gestuur nie.
30 Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het.
31 En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was,
32 en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.
33 So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
34 En die hele Israel wat rondom hulle was, het gevlug vir hulle geroep; want hulle het gesê: Dalk verslind die aarde ons!
35 Toe het ‘n vuur van die HERE uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat die reukwerk gebring het.
36 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
37 Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig—
38 naamlik die vuurpanne van die wat gesondig het ten koste van hulle lewe; en daarvan moet dun plate geslaan word as ‘n oortreksel vir die altaar. Want hulle het dié voor die aangesig van die HERE gebring—daarom is hulle heilig; en hulle sal vir die kinders van Israel ‘n teken wees.
39 Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as ‘n oortreksel vir die altaar—
40 ‘n aandenking vir die kinders van Israel, sodat ‘n onbevoegde wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nie sal nader kom om reukwerk voor die aangesig van die HERE aan die brand te steek nie; sodat hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos die HERE aan hom deur die diens van Moses gesê het.
41 Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die HERE gedood.
42 En terwyl die vergadering teen Moses en Aäron bymekaarkom, het hulle hul na die tent van samekoms gedraai, en meteens het die wolk dit oordek en die heerlikheid van die HERE het verskyn.
43 En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom,
44 het die HERE met Moses gespreek en gesê:
45 Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in ‘n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig,
46 en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die HERE se aangesig uitgegaan, die plaag het begin!
47 Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.
48 En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.
49 En die wat deur die plaag gesterf het, was veertien duisend sewe honderd, buiten die wat gesterf het om Korag se ontwil.
50 Daarop gaan Aäron na Moses terug by die ingang van die tent van samekoms; en die plaag is gestuit.

*~ Hoofstuk 17 ~*


1 Daarna het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en neem van hulle vir elke stam ‘n staf, van al hulle owerstes volgens hulle stamme, twaalf stawe; elkeen se naam moet jy skrywe op sy staf.
3 En Aäron se naam moet jy skrywe op die staf van Levi; want een staf moet daar wees vir hulle stamhoof.
4 En jy moet hulle wegsit in die tent van samekoms voor die Getuienis waar Ek met julle saamkom.
5 En die staf van die man wat Ek uitkies, sal bloei; en Ek sal die murmureringe van die kinders van Israel wat hulle teen julle murmureer, stilmaak teenoor My.
6 Daarop het Moses met die kinders van Israel gespreek; en al hulle owerstes het hom ‘n staf gegee, vir elke owerste een volgens hulle stamme, twaalf stawe. Aäron se staf was ook onder hulle stawe.
7 En Moses het die stawe voor die aangesig van die HERE in die tent van die Getuienis neergesit.
8 En toe Moses die volgende dag in die tent van die Getuienis ingaan, kyk, daar het die staf van Aäron, vir die huis van Levi, gebloei: dit het bloeisels laat uitspruit en blomme laat oopgaan en amandels laat ryp word!
9 Toe bring Moses al die stawe wat voor die aangesig van die HERE was, na al die kinders van Israel toe uit; en hulle het dit gesien en elkeen sy staf geneem.
10 Daarop het die HERE vir Moses gesê: Bring die staf van Aäron terug voor die Getuienis om dit te bewaar as teken vir die wederstrewiges, en bevry My eindelik van hulle murmureringe, dat hulle nie sterwe nie.
11 En Moses het dit gedoen; soos die HERE hom beveel het, so het hy gedoen.
12 Toe het die kinders van Israel met Moses gespreek en gesê: Kyk, ons sterwe, ons vergaan, ons almal vergaan!
13 Elkeen wat enigsins nader kom na die tabernakel van die HERE, sal sterwe. Is ons dan geheel en al daarvoor bestemd om weg te sterwe?

*~ Hoofstuk 18 ~*


1 En die HERE het vir Aäron gesê: Jy en jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot die heiligdom dra; en jy en jou seuns saam met jou moet die ongeregtigheid met betrekking tot julle priesteramp dra.
2 En laat ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou nader kom, dat hulle by jou kan aansluit en jou dien, terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die tent van die Getuienis is.
3 En hulle moet jou diens waarneem en die diens van die hele tent; maar naby die voorwerpe van die heiligdom en naby die altaar mag hulle nie kom nie, dat hulle nie sterwe, hulle sowel as julle nie.
4 Maar hulle moet by jou aansluit en die diens van die tent van samekoms waarneem: al die dienswerk van die tent; en ‘n onbevoegde mag nie na julle toe aankom nie.
5 En julle moet die diens van die heiligdom en die diens van die altaar waarneem, sodat daar verder geen toorn oor die kinders van Israel kom nie.
6 Want Ek self het julle broers, die Leviete, onder die kinders van Israel uit geneem as ‘n geskenk vir julle, mense wat aan die HERE gegee is om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig.
7 Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As ‘n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word.
8 Verder het die HERE met Aäron gespreek: Ek self het jou die diens van my offergawes gegee; wat betref al die heilige gawes van die kinders van Israel, aan jou gee Ek dit as aandeel en aan jou seuns as ewige insetting.
9 Van die hoogheilige gawes, met uitsondering van wat verbrand word, moet dít joue wees: al hulle offers, naamlik elke spysoffer en elke sondoffer en elke skuldoffer van hulle, wat hulle My bring—as iets hoogheiligs moet dit vir jou en jou seuns wees.
10 In ‘n hoogheilige plek moet jy dit eet; almal wat manlik is, mag dit eet; heilig moet dit vir jou wees.
11 Dit moet ook joue wees: die offergawe van hulle geskenke, van al die beweegoffers van die kinders van Israel; Ek gee dit aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ‘n ewige insetting. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.
12 Al die beste van die olie en al die beste van die mos en die koring, die eerste daarvan wat hulle aan die HERE gee, dit gee Ek aan jou.
13 Die eerstelinge van alles wat in hulle land is, wat hulle aan die HERE bring, moet joue wees. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.
14 Alles wat onder die ban is in Israel, moet joue wees.
15 Alles wat die moederskoot open—alle vlees wat hulle vir die HERE aanbring, mense en diere—moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop.
16 En wat die loskoping daarvan aangaan: vanaf ‘n maand oud moet jy loskoop, volgens jou skatting, vir ‘n geldsom van vyf sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; dit is twintig gera.
17 Maar die eersgeborene van ‘n bees of die eersgeborene van ‘n skaap of die eersgeborene van ‘n bok moet jy nie loskoop nie; heilig is hulle; hulle bloed moet jy uitgooi teen die altaar en hulle vet aan die brand steek as ‘n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE.
18 En hulle vleis moet joue wees; soos die bors van die beweegoffer en die regterboud moet dit joue wees.
19 Al die offergawes van die heilige dinge wat die kinders van Israel aan die HERE afgee, gee Ek aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ‘n ewige insetting. Dit is ‘n ewige soutverbond voor die aangesig van die HERE, vir jou en jou nageslag saam met jou.
20 Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.
21 En kyk, Ek gee aan die kinders van Levi al die tiendes in Israel as erfdeel vir hulle dienswerk wat hulle verrig, die dienswerk van die tent van samekoms.
22 En die kinders van Israel moet nie meer nader kom na die tent van samekoms om sonde op hulle te laai sodat hulle sterwe nie.
23 Maar die Leviete, dié moet die dienswerk by die tent van samekoms verrig, en húlle moet hul ongeregtigheid dra—’n ewige insetting in julle geslagte. En onder die kinders van Israel moet hulle geen erfdeel kry nie.
24 Want die tiendes van die kinders van Israel wat hulle aan die HERE as offergawe afgee, gee Ek aan die Leviete as erfdeel. Daarom het Ek aangaande hulle gesê: Hulle moet onder die kinders van Israel geen erfdeel kry nie.
25 En die HERE het met Moses gespreek en gesê:
26 Jy moet ook met die Leviete spreek en aan hulle sê: As julle van die kinders van Israel die tiendes neem wat Ek aan julle van hulle as jul erfdeel gegee het, moet julle daarvan ‘n offergawe aan die HERE afgee, ‘n tiende van die tiende.
27 En julle offergawe sal vir julle gereken word soos koring van die dorsvloer af en soos die volle opbrings uit die parskuip.
28 Só moet julle ook ‘n offergawe aan die HERE afgee van al julle tiendes wat julle van die kinders van Israel neem, en julle moet daarvan die offergawe aan die HERE aan die priester Aäron gee.
29 Van al jul gawes moet julle die hele offergawe aan die HERE afgee, van al die beste daarvan, as die heilige gawe wat daarvan moet afgaan.
30 Jy moet dan vir hulle sê: As julle die beste daarvan afgee, sal dit vir die Leviete gereken word as opbrings van die dorsvloer en as opbrings van die parskuip.
31 En julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huisgesin; want dit is vir julle ‘n loon vir jul dienswerk by die tent van samekoms.
32 En julle sal daarby geen sonde op julle laai as julle die beste deel daarvan afgee nie; en julle mag die heilige gawes van die kinders van Israel nie ontheilig nie, sodat julle nie sterwe nie.