21
1 En dit is die verordeninge wat jy hulle moet voorhou:
2 As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar lank dien, maar in die sewende
moet hy as vryman verniet weggaan.
3 As hy alleen kom, moet hy alleen vrygelaat word; as hy getroud is, moet sy
vrou saam met hom vrygelaat word.
4 As sy heer aan hom ‘n vrou gee en sy vir hom seuns of dogters baar, moet die
vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees, terwyl hy alleen vrygelaat
word.
5 Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek
wil nie as vryman weggaan nie—
6 dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos
bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd
dien.
7 En as iemand sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe weggaan
nie.
8 As sy haar heer nie beval nie wat haar vir homself bestem het, moet hy haar
laat loskoop. Hy is nie geregtig om haar aan ‘n vreemde volk te verkoop nie,
omdat hy troueloos met haar gehandel het.
9 Maar as hy haar vir sy seun bestem, moet hy met haar handel volgens die reg
van die dogters;
10 as hy vir hom ‘n ander een neem, mag hy haar voedsel, haar klere en haar
huweliksgemeenskap nie verminder nie.
11 En as hy hierdie drie dinge nie vir haar doen nie, kan sy verniet weggaan,
sonder geld.
12 Hy wat ‘n mens slaan, dat hy sterwe, moet sekerlik gedood word.
13 Maar as hy dit daar nie op toegelê het nie, maar God dit sy hand laat ontmoet
het, dan sal Ek jou ‘n plek aanwys waarheen hy kan vlug.
14 Maar as iemand moedswillig teen sy naaste handel, om hom met lis dood te maak,
moet jy hom van my altaar af wegneem, om te sterwe.
15 En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word.
16 En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié
moet sekerlik gedood word.
17 En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.
18 En as manne twis en die een die ander slaan met ‘n klip of met die vuis,
sodat hy nie sterwe nie, maar bedlêend word—
19 as hy weer opstaan en buite met sy stok rondloop, moet hy wat geslaan het,
ongestraf bly; net sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond
word.
20 En as iemand sy slaaf of slavin met ‘n stok slaan, dat dié onder sy hand
sterwe, moet dit sekerlik gewreek word.
21 Maar as hy ná een of twee dae nog lewe, moet dit nie gewreek word nie, want
hy is sy eiendom.
22 En as manne met mekaar veg en ‘n swanger vrou so stamp dat haar vrug afgaan,
maar daar geen ander letsel is nie, moet hy sekerlik boete betaal soos die man
van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur skeidsregters gee.
23 Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,
24 oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
25 brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.
26 En as iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit beskadig, moet hy
hom vry laat weggaan vir sy oog.
27 En as hy die tand van sy slaaf of die tand van sy slavin uitslaan, moet hy
hom vry laat weggaan vir sy tand.
28 En as ‘n bees ‘n man of ‘n vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees
sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van
die bees sal ongestraf bly.
29 Maar as die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar
dit nie opgepas het nie, en dit ‘n man of ‘n vrou doodmaak, moet die bees
gestenig word, en sy baas moet ook gedood word.
30 As aan hom losgeld opgelê word, moet hy vir die lossing van sy lewe alles gee
wat hom opgelê word.
31 Of dit ‘n seun gestoot het of ‘n dogter, volgens hierdie reg moet met hom
gehandel word.
32 As die bees ‘n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels
silwer gee, en die bees moet gestenig word.
33 En as iemand ‘n put oopmaak, of as iemand ‘n put grawe en dit nie toemaak nie,
en ‘n bees of esel val daarin,
34 moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die
dier geld gee, maar die dooie dier moet syne wees.
35 En as iemand se bees die bees van ‘n ander stoot, sodat dit sterwe, moet
hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel; en die dooie een
moet hulle ook verdeel.
36 Of as dit bekend was dat die bees tevore al stoterig gewees het, en sy baas
dit nie opgepas het nie, moet hy ten volle bees vir bees vergoed; maar die dooie
een moet syne wees.
*~ Hoofstuk 22 ~*
1 As iemand ‘n bees of ‘n stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy
vyf beeste vir ‘n bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ‘n stuk kleinvee.
2 As ‘n dief betrap word terwyl hy inbreek, en hy word geslaan, sodat hy sterwe,
sal daardeur geen bloedskuld ontstaan nie;
3 as die son oor hom opgegaan het, ontstaan daardeur bloedskuld. Hy moet ten
volle vergoeding gee; as hy niks het nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word.
4 As die gesteelde goed—of dit ‘n bees, ‘n esel of ‘n stuk kleinvee is—nog
lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbel vergoeding gee.
5 As iemand ‘n stuk veld of ‘n wingerd laat afwei en sy vee vry laat loop, sodat
dit in die veld van ‘n ander wei, moet hy van die beste van sy veld en die beste
van sy wingerd as vergoeding gee.
6 As ‘n vuur uitbreek en die dorings vat, sodat ‘n mied of die ongesnyde graan
of die veld verteer word, moet hy wat die vuur aan die brand gesteek het, ten
volle vergoeding gee.
7 As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man
se huis gesteel, moet die dief, as hy uitgevind word, dubbel vergoeding gee.
8 As die dief nie uitgevind word nie, moet die eienaar van die huis na die
owerhede gaan om te beslis of hy nie sy hand na sy naaste se goed uitgesteek het
nie.
9 By alle sake van ontvreemding, of dit gaan oor ‘n bees, oor ‘n esel, oor
kleinvee, oor klere of oor enigiets wat verloor is, waarvan iemand sê: Dit is
myne! —moet die saak van altwee voor die owerhede kom; die een wat die owerhede
skuldig verklaar, moet aan sy naaste dubbel vergoeding gee.
10 As iemand aan sy naaste ‘n esel of bees of stuk kleinvee of enige dier gee om
op te pas, en dit gaan dood of kry ‘n ongeluk of word weggevoer sonder dat
iemand dit sien,
11 dan moet die eed by die HERE tussen hulle twee beslis, of hy nie sy hand na
sy naaste se goed uitgesteek het nie; en die eienaar moet daarmee tevrede wees,
en die ander hoef geen vergoeding te gee nie.
12 Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee.
13 As dit verskeur is, moet hy dit as bewys bring; wat verskeur is, hoef hy nie
te vergoed nie.
14 En as iemand van sy naaste iets te leen vra, en dit kry ‘n ongeluk of gaan
dood terwyl die eienaar daar nie by is nie, moet hy ten volle vergoeding gee.
15 As die eienaar daarby gewees het, hoef hy geen vergoeding te gee nie. As dit
gehuur was, kom die huurgeld daarvoor.
16 As iemand ‘n jongmeisie wat nie verloof is nie, verlei en met haar gemeenskap
het, moet hy haar vir die volle huweliksprys as sy vrou koop.
17 As haar vader beslis weier om haar aan hom te gee, moet hy geld gee volgens
die huweliksprys vir jongmeisies.
18 Die towerheks mag jy nie laat lewe nie.
19 Elkeen wat met ‘n dier gemeenskap het, moet sekerlik gedood word.
20 Hy wat aan die gode offer, behalwe aan die HERE alleen, moet met die banvloek
getref word.
21 Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was
vreemdelinge in Egipteland.
22 Julle mag geen weduwee of wees verdruk nie.
23 As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep,
hulle geroep sekerlik hoor.
24 en my toorn sal ontvlam, en Ek sal julle met die swaard ombring, sodat julle
vroue weduwees en julle kinders wese word.
25 As jy aan my volk, aan die arme by jou, geld leen, mag jy vir hom nie soos ‘n
skuldeiser wees nie: julle mag hom geen rente oplê nie.
26 As jy ooit jou naaste se gewaad as pand neem, moet jy hom dit teruggee voor
die son ondergaan;
27 want dit is sy enigste bedekking, dit is die bekleding vir sy vel. Waarin
moet hy anders slaap? En as hy na My roep, sal Ek hoor, want Ek is genadig.
28 Jy mag God nie vloek nie, en ‘n owerste onder jou volk mag jy nie verwens nie.
29 Die offer uit jou volle opbrings en jou parskuip mag jy nie terughou nie. Die
eersgeborene van jou seuns moet jy aan My gee.
30 Jy moet dieselfde doen met jou beeste en jou kleinvee: sewe dae moet dit by
sy moeder wees; op die agtste dag moet jy dit aan My gee.
31 En julle moet vir My heilige mense wees. Daarom mag julle nie vleis eet wat
in die veld verskeur is nie. Julle moet dit vir die honde gooi.
*~ Hoofstuk 23 ~*
1 Jy mag geen valse gerug rondstrooi nie. Verbind jou nie met die skuldige om ‘n
kwaadwillige getuie te wees nie.
2 Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in ‘n
regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie.
3 Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie.
4 As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir
hom terugbring.
5 As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan
hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai.
6 Jy mag die reg van jou arm mense in hulle regsaak nie verdraai nie.
7 Hou jou ver van valse sake af. En moenie die onskuldige en die wat reg het,
ombring nie, want Ek sal die skuldige nie regverdig verklaar nie.
8 Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes
blind en verdraai die sake van die regverdiges.
9 Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van
‘n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.
10 En ses jaar lank moet jy jou land besaai en die opbrings daarvan insamel;
11 maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense
van jou volk kan eet; en wat hulle laat oorbly, kan die diere van die veld opeet.
So moet jy doen met jou wingerd en jou olyfbome.
12 Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou
os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem
skep.
13 En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van
ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.
14 Drie maal in die jaar moet jy vir My ‘n fees hou.
15 Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy
ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand
Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek—maar hulle mag nie met leë hande
voor my aangesig verskyn nie;
16 verder die fees van die oes, van die eerstelinge van jou werk, van wat jy op
die land saai; en ook die fees van die insameling aan die einde van die jaar as
jy jou werk uit die land insamel.
17 Drie maal in die jaar moet al jou manspersone voor die aangesig van die Here
HERE verskyn.
18 Jy mag die bloed van my offer nie saam met gesuurde brood offer nie. Ook mag
die vet van my feesoffer nie tot die môre toe oorbly nie.
19 Die beste van die eerstelinge van jou grond moet jy in die huis van die HERE
jou God bring. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie.
20 Kyk, Ek stuur ‘n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na
die plek te bring wat Ek gereedgemaak het.
21 Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom
nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.
22 Maar as jy terdeë na sy stem luister en alles doen wat Ek sal sê, sal Ek die
vyand van jou vyande en die teëstander van jou teëstanders wees.
23 Want my Engel sal voor jou uit gaan en jou bring na die Amoriete en Hetiete
en Feresiete en Kanaäniete, Hewiete en Jebusiete; en Ek sal hulle vernietig.
24 Jy mag jou voor hulle gode nie neerbuig en hulle nie dien nie, ook mag jy nie
doen na hulle werke nie; maar jy moet hulle heeltemal afbreek en hulle
klippilare kort en klein slaan.
25 En julle moet die HERE julle God dien; dan sal Hy jou brood en jou water seën,
en Ek sal siektes uit jou midde verwyder.
26 Daar sal geen misdragtige of onvrugbare in jou land wees nie. Ek sal die
getal van jou dae vol maak.
27 Ek sal my skrik voor jou uit stuur en elke volk waarby jy kom, in verwarring
bring. En Ek sal al jou vyande vir jou laat vlug.
28 Ook sal Ek perdebye voor jou uit stuur; dié sal die Hewiete, Kanaäniete en
Hetiete voor jou uit verdrywe.
29 Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes
word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie.
30 Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word
en die land beërwe.
31 En Ek sal jou grense vasstel van die Skelfsee af tot by die See van die
Filistyne, en van die woestyn af tot by die Eufraat. Want Ek sal die inwoners
van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdrywe.
32 Jy mag met hulle of met hulle gode geen verbond maak nie.
33 Hulle mag in jou land nie woon nie, dat hulle jou nie verlei om teen My te
sondig nie. Want jy sal hulle gode dien, ja, dit sal vir jou ‘n strik wees.
*~ Hoofstuk 24 ~*
1 Daarna het Hy vir Moses gesê: Klim na die HERE toe op, jy en Aäron, Nadab en
Abíhu en sewentig van die oudstes van Israel, en buig julle neer van ver af.
2 En laat Moses alleen nader kom na die HERE toe, maar hulle moet nie nader kom
nie; en die volk mag nie saam met hom opklim nie.
3 Toe Moses kom en aan die volk al die woorde van die HERE en al die
verordeninge vertel, antwoord die hele volk met een stem en sê: Al die woorde
wat die HERE gespreek het, sal ons doen.
4 En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom
klaargemaak en onder die berg ‘n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die
twaalf stamme van Israel.
5 En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers
geoffer en as dankoffers bulle vir die HERE geslag.
6 En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die
helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.
7 En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk
gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en
daarna luister.
8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed
van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie
woorde.
9 Daarop het Moses opgeklim met Aäron, Nadab en Abíhu en sewentig van die
oudstes van Israel.
10 En hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ‘n
vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self.
11 Maar Hy het sy hand nie na die uitgesoektes van die kinders van Israel
uitgestrek nie, en hulle het God aanskou; daarop het hulle geëet en gedrink.
12 Toe sê die HERE vir Moses: Klim op die berg na My toe en vertoef daar, dat Ek
jou die kliptafels kan gee en die wet en gebooie wat Ek geskryf het om hulle te
onderrig.
13 Hierop het Moses klaargemaak en Josua, sy dienaar. En Moses het op die berg
van God geklim
14 en aan die oudstes gesê: Wag hier vir ons tot ons na julle terugkom. En kyk,
Aäron en Hur is by julle; wie regsake het, kan na hulle gaan.
15 Toe Moses die berg opklim, het ‘n wolk die berg oordek.
16 En die heerlikheid van die HERE het op die berg Sinai gebly, en die wolk het
dit ses dae lank oordek. En op die sewende dag het Hy na Moses geroep uit die
wolk.
17 En die verskyning van die HERE se heerlikheid was in die oë van die kinders
van Israel soos ‘n verterende vuur op die top van die berg.
18 En Moses het binne-in die wolk ingegaan en die berg opgeklim. En Moses was op
die berg veertig dae en veertig nagte.