Shabbat Shalom!
Devarim / Woorde
- hierdie week se Torah lees.


Deuteronomium 1:1-3:22;

1

1 Dit is die woorde waarmee Moses die hele Israel toegespreek het oos van die Jordaan in die woestyn, in die Vlakte teenoor Suf, tussen Paran en Tofel en Laban en Háserot en Di-Sahab.
2 Elf dae is die pad van Horeb af na die gebergte Seïr tot by Kades-Barnéa.
3 En in die veertigste jaar, in die elfde maand, op die eerste van die maand, het Moses met die kinders van Israel gespreek net soos die HERE ten opsigte van hulle aan hom bevel gegee het;
4 nadat hy Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het, en Og, die koning van Basan, wat in Astarot gewoon het, in Edréï verslaan het.
5 Oos van die Jordaan in die land Moab het Moses onderneem om hierdie wet te verklaar deur te sê:
6 Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly.
7 Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus—die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier.
8 Kyk, Ek gee die land aan julle oor; gaan in en neem die land in besit wat die HERE aan julle vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee en aan hulle nageslag ná hulle.
9 En ek het met julle in dié tyd gespreek en gesê: Ek kan julle alleen nie dra nie.
10 Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte.
11 Mag die HERE, die God van julle vaders, by julle byvoeg duisend maal soveel as wat julle is, en julle seën soos Hy julle beloof het!
12 Hoe sou ek die moeilikheid en die las en die regsake van julle alleen kan dra?
13 Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel.
14 Hierop het julle my geantwoord en gesê: Die woord wat u gespreek het, is goed om uit te voer.
15 Toe het ek die hoofde van julle stamme, wyse en ervare manne, geneem en hulle as hoofde oor julle aangestel, owerstes oor duisend en owerstes oor honderd en owerstes oor vyftig en owerstes oor tien en opsigters volgens julle stamme.
16 En ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ‘n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is.
17 Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.
18 So het ek julle dan in dié tyd al die dinge beveel wat julle moet doen.
19 Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom.
20 Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee.
21 Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.
22 Toe het julle almal na my toe aangekom en gesê: Laat ons manne voor ons uit stuur, dat hulle vir ons die land kan verken en ons berig kan bring aangaande die pad waarlangs ons moet optrek, en die stede waarby ons sal kom.
23 En die saak was goed in my oë, sodat ek twaalf man uit julle, uit elke stam een man, geneem het.
24 En hulle het weggedraai en na die gebergte opgetrek en tot by die dal Eskol gekom en dit verken.
25 Hulle het toe van die vrugte van die land met hulle saamgeneem en dit na ons afgebring en aan ons verslag gegee en gesê: Die land wat die HERE onse God aan ons sal gee, is goed.
26 Maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God.
27 En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg.
28 Waarheen moet ons optrek? Ons broers het ons hart laat versmelt deur te sê: Dit is ‘n volk groter en hoër van gestalte as ons; die stede is groot en tot aan die hemel versterk; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.
29 Toe het ek aan julle gesê: Word nie verskrik en wees nie bevrees vir hulle nie.
30 Die HERE julle God wat voor jul uit trek, Hy sal vir julle stry net soos Hy voor julle oë met julle in Egipte gedoen het
31 en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.
32 Maar ondanks hierdie woord het julle nie geglo in die HERE julle God nie,
33 wat voor julle uit getrek het op die pad om vir julle ‘n plek uit te soek om julle laer op te slaan, snags in die vuur om julle te laat sien op die pad waar julle langs moes trek, en bedags in die wolk.
34 En toe die HERE die stem van julle woorde hoor, het Hy toornig geword en gesweer en gesê:
35 Waarlik, geeneen van hierdie manne, hierdie verkeerde geslag, sal die goeie land sien wat Ek met ‘n eed beloof het om aan julle vaders te gee nie—
36 behalwe Kaleb, die seun van Jefúnne; hy sal dit sien, en aan hom en sy kinders sal Ek die land gee waarop hy geloop het, omdat hy volhard het om die HERE te volg.
37 Ook was die HERE toornig op my om julle ontwil, sodat Hy gesê het: Jy sal daar ook nie inkom nie.
38 Josua, die seun van Nun, wat voor jou staan—hy sal daar inkom; versterk hom, want hy sal Israel dit laat beërwe.
39 En julle kindertjies van wie julle gesê het: Hulle sal ‘n buit word! en julle kinders wat vandag van geen goed of kwaad weet nie—húlle sal daar inkom en aan hulle sal Ek dit gee, en húlle sal dit in besit neem.
40 Maar julle, draai om en trek weg na die woestyn op pad na die Skelfsee.
41 Toe het julle geantwoord en vir my gesê: Ons het teen die HERE gesondig; ons self sal optrek en veg net soos die HERE onse God ons beveel het. En toe julle elkeen sy oorlogswapens aangord en daar nog maklik oor dink om in die gebergte op te trek,
42 het die HERE vir my gesê: Sê vir hulle: Julle mag nie optrek en veg nie—want Ek is nie in julle midde nie—dat julle nie voor julle vyande verslaan word nie.
43 Maar toe ek met julle gespreek het, het julle nie geluister nie, maar julle was wederstrewig teen die bevel van die HERE en het vermetel in die gebergte opgetrek.
44 Toe het die Amoriete wat in dié gebergte gewoon het, uitgetrek julle tegemoet en julle agtervolg soos die bye maak; en hulle het julle verstrooi in Seïr tot by Horma.
45 En julle het teruggekom en voor die aangesig van die HERE geween, maar die HERE het na julle stem nie geluister en julle geen gehoor gegee nie.
46 So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.

*~ Hoofstuk 2 ~*


1 Daarna het ons gedraai en weggetrek na die woestyn, op pad na die Skelfsee, soos die HERE aan my gesê het, en ons het om die gebergte Seïr getrek, baie dae lank.
2 Toe het die HERE met my gespreek en gesê:
3 Julle het lank genoeg om hierdie gebergte getrek. Draai noordwaarts weg
4 en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op;
5 begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee.
6 Voedsel moet julle van hulle vir geld koop, dat julle kan eet; en julle moet ook water van hulle vir geld koop, dat julle kan drink.
7 Want die HERE jou God het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was die HERE jou God met jou; geen ding het jou ontbreek nie.
8 Daarop het ons verder getrek, weg van ons broers, die kinders van Esau wat in Seïr woon, weg van die pad deur die Vlakte, weg van Elat en Éseon-Geber; ons het toe weggedraai en verder getrek op pad na die woestyn van Moab.
9 Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het.
10 Die Emiete het tevore daarin gewoon, ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete.
11 Hulle word ook vir Refaïete gehou, soos die Enakiete; maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.
12 Ook het die Horiete tevore in Seïr gewoon; maar die kinders van Esau het hulle uit hul besitting verdrywe en voor hulle uit verdelg en in hulle plek gaan woon, net soos Israel gedoen het met die land van sy besitting wat die HERE aan hulle gegee het.
13 Maak nou klaar en trek oor die spruit Sered. Toe het ons oor die spruit Sered getrek.
14 En die dae van ons trek van Kades-Barnéa af totdat ons oor die spruit Sered gegaan het, was agt en dertig jaar—totdat die hele geslag, die krygsmanne, uit die laer omgekom het soos die HERE hulle dit gesweer het.
15 So was die hand van die HERE dan ook teen hulle om hulle uit die laer te vernietig totdat hulle omgekom het.
16 En toe al die krygsmanne heeltemal onder die volk uit weggesterf het,
17 het die HERE met my gespreek en gesê:
18 Jy trek vandag die grens van Moab by Ar oor,
19 en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.
20 Dit word ook as ‘n land van Refaïete beskou; Refaïete het tevore daarin gewoon, en die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem—
21 ‘n volk groot en talryk en hoog van gestalte soos die Enakiete—maar die HERE het dié voor hulle uit verdelg, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het;
22 soos Hy in die geval van die kinders van Esau gedoen het wat in Seïr woon, voor wie Hy die Horiete verdelg het, sodat hulle dié uit hulle besitting verdryf en in hulle plek gaan woon het tot vandag toe.
23 Ook het die Kaftoriete wat uit Kaftor afkomstig was, die Awiete wat in dorpe tot by Gasa gewoon het, verdelg en in hulle plek gaan woon.
24 Maak julle klaar, breek op en trek deur die Arnonrivier. Kyk, Ek gee Sihon, die koning van Hesbon, die Amoriet, en sy land in jou hand; begin om in besit te neem, en begeef jou in die oorlog teen hom.
25 Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs.
26 Toe het ek boodskappers gestuur uit die woestyn Kedémot na Sihon, die koning van Hesbon, met woorde van vrede om te sê:
27 Laat my deur jou land gaan; ek sal net padlangs trek; ek sal nie regs of links uitdraai nie.
28 Voedsel moet jy my verkoop vir geld, dat ek kan eet; en water moet jy my gee vir geld, dat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek—
29 soos die kinders van Esau wat in Seïr woon, en die Moabiete wat in Ar woon, met my gedoen het—totdat ek deur die Jordaan trek in die land wat die HERE onse God aan ons sal gee.
30 Maar Sihon, die koning van Hesbon, wou ons nie by hom laat deurtrek nie; want die HERE jou God het sy gees verhard en sy hart verstok, dat Hy hom in jou hand kon gee soos dit vandag is.
31 En die HERE het vir my gesê: Kyk, Ek begin om Sihon en sy land aan jou oor te gee; begin om in besit te neem, om sy land in besit te neem.
32 Toe het Sihon uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Jahas.
33 En die HERE onse God het hom aan ons oorgegee, sodat ons hom en sy seuns en sy hele volk verslaan het.
34 En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en elke stad met die banvloek getref, manne en vroue en kinders; ons het niemand laat vryraak nie.
35 Net die vee het ons vir ons geroof en die buit van die stede wat ons ingeneem het.
36 Van Aroër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, en die stad in die dal, tot by Gílead was daar vir ons geen vesting onneembaar nie—die HERE onse God het alles aan ons oorgegee.
37 Net naby die land van die kinders van Ammon het jy nie gekom nie: die hele kant van die Jabbokrivier en die stede van die gebergte en alles wat die HERE onse God verbied het.

*~ Hoofstuk 3 ~*


1 Daarna het ons weggedraai en op pad na Basan opgetrek; en Og, die koning van Basan, het uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Edréï.
2 Toe het die HERE vir my gesê: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het.
3 En die HERE onse God het ook Og, die koning van Basan, en sy hele volk in ons hand gegee, sodat ons hom verslaan het, totdat daar van hom niemand oor was wat vrygeraak het nie.
4 En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem; daar was geen vesting wat ons van hulle nie afgeneem het nie: sestig stede, die hele landstreek Argob, die koninkryk van Og in Basan.
5 Al hierdie stede was versterk met hoë mure, poorte en grendels, behalwe ‘n groot menigte onbemuurde stede.
6 En ons het hulle met die banvloek getref soos ons met Sihon, die koning van Hesbon, gedoen het deur elke stad, manne, vroue en kinders met die banvloek te tref.
7 Maar al die vee en die buit van die stede het ons vir ons geroof.
8 So het ons dan in dié tyd die land uit die hand van die twee konings van die Amoriete duskant die Jordaan geneem, van die Arnonrivier af tot by die berg Hernon—
9 die Sidoniërs noem Hermon Sirjon; maar die Amoriete noem dit Senir—
10 al die stede van die gelykveld en die hele Gílead en die hele Basan tot by Salga en Edréï, stede van die koninkryk van Og in Basan.
11 Want Og, die koning van Basan, het net alleen oorgebly van die Refaïete. Is sy ledekant, ‘n ysterledekant, nie daar in Rabba van die kinders van Ammon nie? Nege el is sy lengte en vier el sy breedte, gewone elle.
12 En hierdie land het ons in dié tyd in besit geneem: van Aroër af, wat by die Arnonrivier lê, en die helfte van die gebergte van Gílead met die stede daarvan het ek aan die Rubeniete en die Gadiete gegee.
13 En die orige deel van Gílead saam met die hele Basan, die koninkryk van Og, het ek aan die halwe stam van Manasse gegee—die hele landstreek Argob. Daardie hele Basan word land van die Refaïete genoem.
14 Jaïr, die seun van Manasse, het die hele landstreek Argob tot by die grens van die Gesuriete en die Maägatiete gekry en dit, naamlik Basan, na sy naam Jaïrsdorpe genoem tot vandag toe.
15 En aan Magir het ek Gílead gegee.
16 Maar aan die Rubeniete en die Gadiete het ek van Gílead af tot by die Arnonrivier gegee, die middel van die rivier, saam met sy oewerland, en tot by die Jabbokrivier, die grens van die kinders van Ammon.
17 Daarby die Vlakte en die Jordaan, saam met sy grondgebied, van Kinnéret af tot by die See van die Vlakte, die Soutsee, onder aan die hange van Pisga teen die ooste.
18 Verder het ek in dié tyd aan julle bevel gegee en gesê: Die HERE julle God het aan julle hierdie land gegee om dit in besit te neem; gewapend moet julle voor jul broers, die kinders van Israel, oortrek—al die dapper manne.
19 Net julle vroue en julle kinders en julle vee—ek weet dat julle baie vee het—kan in julle stede bly wat ek aan julle gegee het;
20 totdat die HERE aan julle broers soos aan julle rus gee, en hulle ook die land in besit neem wat die HERE julle God aan hulle oorkant die Jordaan sal gee; dan kan julle teruggaan elkeen na sy besitting wat ek aan julle gegee het.
21 Ook het ek Josua in dié tyd beveel en gesê: Jou oë het alles gesien wat die HERE julle God aan hierdie twee konings gedoen het. So sal die HERE aan al die koninkryke doen waarheen jy oortrek.
22 Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die HERE julle God wat vir julle stry.