43
21 Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.
22 Nogtans het jy My nie aangeroep, o Jakob, dat jy jou vir My sou vermoei het
nie, o Israel!
23 Jy het vir My nie gebring die kleinvee van jou brandoffers nie, en met jou
slagoffers het jy My nie geëer nie; Ek het jou geen oorlas aangedoen met
spysoffers en jou nie vermoei met wierook nie.
24 Jy het vir My geen kalmoes met geld gekoop en met die vet van jou slagoffers
My nie verkwik nie; maar jy het My oorlas aangedoen met jou sondes, jy het My
vermoei met jou ongeregtighede.
25 Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes
dink Ek nie.
26 Maak My indagtig; laat ons teen mekaar pleit; vertel jy, dat jy in die gelyk
gestel kan word.
27 Jou eerste vader het gesondig, en jou tolke het teen My oortree.
28 So het Ek dan heilige vorste ontheilig en Jakob aan die banvloek oorgegee en
Israel aan beskimpinge.
*~ Hoofstuk 44 ~*
1 Maar luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het!
2 So sê die HERE, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou
help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!
3 Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my
Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.
4 En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.
5 Die een sal sê: Ek behoort aan die HERE; en die ander sal die naam van Jakob
uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die HERE, en hom
met die erenaam Israel noem.
6 So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare:
Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.
7 En wie roep soos Ek—laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê—vandat Ek
die volk van die ou tyd gegrond het? En laat hulle die toekomstige dinge en wat
sal gebeur, te kenne gee.
8 Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat
hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar ‘n God buiten My? Ja,
daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.
9 Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring
geen voordeel nie; en hulle getuies—dié sien niks en weet niks, sodat hulle
beskaamd staan.
10 Wie maak ‘n god en giet ‘n beeld wat geen voordeel aanbring nie?
11 Kyk, al sy aanhangers sal beskaamd staan; en die ambagsmanne is uit die mense!
Laat hulle almal bymekaarkom, gaan staan, verskrik wees, tesame beskaamd staan!
12 Die ystersmid het ‘n byl en werk in die gloed; en hy maak hom met hamers en
bewerk hom met sy sterk arm; daarby word hy honger en het geen krag nie; drink
hy geen water nie, dan word hy moeg.
13 Die timmerman span ‘n lyn; hy trek hom af met ‘n potlood; hy bewerk hom met
skawe en teken hom met ‘n passer en maak hom na die beeltenis van ‘n man, na die
skoonheid van ‘n mens, om in ‘n huis te woon.
14 Een gaan sederbome afkap, en hy neem ‘n steeneik of ‘n eikeboom en laat een
vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het ‘n pynboom geplant, en die
reën het dit grootgemaak.
15 Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook
steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ‘n god van en buig hom
daarvoor neer; hy maak daar ‘n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.
16 Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy
vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê:
Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!
17 En van wat oor is, maak hy ‘n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer
en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
18 Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie
sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
19 en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te
sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die
kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die
oorblyfsel daarvan ‘n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ‘n stuk hout?
20 Hy wat hom besig hou met as, ‘n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel
nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?
21 Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg; Ek het jou
geformeer; jy is my kneg, Israel! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
22 Ek delg jou oortredinge uit soos ‘n newel en jou sondes soos ‘n wolk; keer
terug na My, want Ek het jou verlos.
23 Jubel, o hemele, want die HERE het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde!
Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die HERE het
Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.
Matteus 5:23-30
23 As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder
iets teen jou het,
24 laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou
broeder, en kom dan en bring jou gawe.
25 Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op
die pad is, sodat die teëparty jou nie miskien oorgee aan die regter en die
regter jou oorgee aan die geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie.
26 Voorwaar Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste
oortjie betaal het nie.
27 Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek
nie.
28 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds
in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
29 As jou regteroog jou dan laat struikel, ruk dit uit en gooi dit weg van jou
af; want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele
liggaam in die hel gewerp word nie.
30 En as jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af;
want dit is vir jou beter dat een van jou lede vergaan en nie jou hele liggaam
in die hel gewerp word nie.