Shabbat Shalom!
Welkom by Vayishlach / En HY Het Gestuur
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Hosea 11:7-12:12;

11

7 Want my volk dwing om van My afvallig te word; en as die profete hom roep na bo, rig hy hom glad nie op nie.
8 Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.
9 Ek sal my toorngloed nie laat geld nie, Ek sal Efraim nie weer te gronde rig nie; want Ek is God en nie ‘n mens nie, die Heilige in jou midde. En Ek sal nie kom in grimmigheid nie.
10 Hulle sal agter die HERE aan trek; Hy sal brul soos ‘n leeu. Want Hy sal brul, en die kinders sal met siddering van die seekant aankom.
11 Hulle sal sidderende aankom soos ‘n voëltjie uit Egipte en soos ‘n duif uit die land Assur; en Ek sal hulle laat woon in hulle huise, spreek die HERE.
12 (12:1) Efraim het My omsingel met leuens, en die huis van Israel met bedrog; terwyl Juda nog altyd bandeloos is teenoor God, ja, teenoor die Allerheiligste, die Getroue.

*~ Hoofstuk 12 ~*


1 Efraim hou hom besig met wind, en hy agtervolg die oostewind; die hele dag vermeerder hy leuens en geweld, en hulle sluit ‘n verbond met Assur, terwyl olie na Egipte gevoer word.
2 (12:3) Die HERE het ook ‘n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade.
3 (12:4) In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel.
4 (12:5) Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.
5 (12:6) En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.
6 (12:7) En jy, tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.
7 (12:8) Kanaän—in sy hand is daar ‘n valse weegskaal, hy hou daarvan om af te pers.
8 (12:9) Maar Efraim sê: Tog het ek ryk geword, ek het vir my ‘n vermoë verwerf. Alles wat ek verwerf het, is nie genoeg om op my enige sondeskuld te lê nie.
9 (12:10) Maar Ek is die HERE jou God van Egipteland af, Ek sal jou weer in tente laat woon soos in die dae van die huttefees.
10 (12:11) Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra.
11 (12:12) Was Gílead goddeloosheid hulle het louter nietigheid geword. In Gilgal het hulle beeste geoffer; so sal dan hulle altare wees soos kliphope op die vore van die landerye.
12 (12:13) En Jakob het gevlug na die veld van Aram, en Israel was diensbaar vir ‘n vrou as loon, en vir ‘n vrou het hy vee opgepas.

Obadja 1:1-21;

1 Die gesig van Obadja. So sê die Here HERE aangaande Edom: Ons het ‘n tyding van die HERE gehoor, en ‘n boodskapper is uitgestuur onder die nasies om te sê: Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg!
2 Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, jy is baie verag.
3 Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp?
4 Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE.
5 As daar diewe, as daar nagrowers na jou gekom het—hoe is jy vernietig! —sou hulle nie net soveel gesteel het as wat vir hulle genoeg was nie? As daar druiwesnyers na jou gekom het, sou hulle nie die na-oes laat oorbly het nie?
6 Hoe is Esau deursoek! Is sy verborge skatte deursnuffel!
7 Al jou bondgenote het jou tot by die grens gestuur; die manne met wie jy vriendskap gehou het, het jou bedrieg, jou oorweldig; hulle lê ‘n strik onder jou as jou brood. Daar is geen verstand in hom nie!
8 Sal Ek nie in dié dag, spreek die HERE, die wyse manne uit Edom verdelg nie en die verstand uit die gebergte van Esau?
9 En jou helde sal verskrik wees, o Teman, sodat elkeen deur moord uit die gebergte van Esau uitgeroei sal word.
10 Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig.
11 Die dag toe jy daarby gestaan het, die dag toe vreemdes sy rykdom weggevoer en uitlanders deur sy poorte gedring en die lot oor Jerusalem gewerp het—toe was jy ook soos een van hulle!
12 En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie, die dag van sy onheil, en jou nie verheug het oor die kinders van Juda op die dag van hulle ondergang nie en nie gespog het op die dag van benoudheid nie!
13 Tog moes jy nie in die poort van my volk gekom het op die dag van hulle nood nie, moes jy ook nie met genot aanskou het sy onheil op die dag van sy nood nie en nie die hand uitgesteek het na sy rykdom op die dag van sy nood nie!
14 En jy moes nie gestaan het op die kruispad om sy vlugtelinge uit te roei nie en nie sy vrygeraaktes uitgelewer het op die dag van benoudheid nie.
15 Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.
16 Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie.
17 Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal ‘n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem.
18 Dan sal die huis van Jakob ‘n vuur wees en die huis van Josef ‘n vlam, maar die huis van Esau ‘n stoppel; en dié sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek.
19 Dan sal dié van die Suidland die gebergte van Esau, en dié van die Laeveld die land van die Filistyne in besit neem; en hulle sal die veld van Efraim en die veld van Samaría, en Benjamin Gílead in besit neem.
20 Die ballinge van hierdie leërmag van die kinders van Israel sal die wat Kanaäniete is, tot by Sarfat verower; en die ballinge van Jerusalem, wat in Sefárad is, sal die stede van die Suidland in besit neem.
21 Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort.

Matteus 2:13-23;

13 En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die HERE in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.
14 Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.
15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.
16 Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.
17 Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:
18 ‘n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.
19 En ná die dood van Herodes het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef in Egipte verskyn
20 en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.
21 En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.
22 Maar toe hy hoor dat Archeláüs oor Judéa koning was in die plek van sy vader Herodes, was hy bevrees om daarheen te gaan. En hy het ‘n goddelike waarskuwing in ‘n droom ontvang en na die streke van Galiléa teruggekeer.
23 En hy het gaan woon in ‘n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.