18
1 Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl
hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag.
2 Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle
sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die
aarde toe.
3 En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u
kneg verby nie.
4 Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die
boom.
5 En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder
gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê
het.
6 Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate
meel, die beste, en maak roosterkoeke.
7 Daarop loop Abraham na die beeste en vang ‘n jong, mooi kalf en gee dit aan
die dienaar, wat dit gou klaargemaak het.
8 En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit
aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het
geëet.
9 Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent.
10 En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou
Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom
was.
11 Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer
volgens die reël van die vroue gegaan nie.
12 En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword
het en my heer oud is?
13 Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook
werklik baar nou dat ek oud geword het?
14 Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na
jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.
15 Maar Sara het dit ontken en gesê: Ek het nie gelag nie—want sy was bang. Maar
Hy sê: Nee, maar jy het gelag.
16 Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom;
en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring.
17 Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen,
18 terwyl Abraham tog sekerlik ‘n groot en magtige nasie sal word en al die
nasies van die aarde in hom geseën sal word?
19 Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou
gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen;
sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.
20 Verder het die HERE gesê: Die geroep oor Sodom en Gomorra is waarlik groot,
en hulle sonde is waarlik baie swaar.
21 Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor
hulle is wat by My gekom het; en so nie, Ek wil dit weet.
22 Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het
nog bly staan voor die aangesig van die HERE.
23 En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die
goddelose ombring?
24 Miskien is daar vyftig regverdiges binne-in die stad; sal U hulle ook ombring
en die plek nie spaar ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?
25 Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die
goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit
ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie?
26 Toe sê die HERE: As Ek in Sodom vyftig regverdiges vind binne-in die stad,
dan sal Ek die hele plek spaar om hulle ontwil.
27 En Abraham antwoord en sê: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te
spreek alhoewel ek stof en as is.
28 Miskien sal daar aan die vyftig regverdiges vyf ontbreek; sal U ter wille van
vyf die hele stad verwoes? En Hy antwoord: Ek sal dit nie verwoes as Ek daar vyf
en veertig vind nie.
29 En hy het nog verder met Hom gespreek en gesê: Miskien sal daar veertig
gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die veertig nie doen nie.
30 Verder sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets sê.
Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek
daar dertig vind nie.
31 Toe sê hy: Kyk tog, ek het dit gewaag om met die Here te spreek. Miskien sal
daar twintig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter wille van die twintig
nie verwoes nie.
32 Toe sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie en laat my net hierdie keer
mag spreek. Miskien sal daar tien gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit ter
wille van die tien nie verwoes nie.
33 En die HERE het weggegaan toe Hy opgehou het om met Abraham te spreek, en
Abraham het na sy woonplek teruggekeer.
*~ Hoofstuk 19 ~*
1 En die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort
van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan
en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe
2 en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die
nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle
antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag.
3 Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy
huis gekom het. En hy het vir hulle ‘n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak,
en hulle het geëet.
4 Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van
Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam.
5 En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na
jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken.
6 Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom
toe
7 en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie.
8 Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle
uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne
moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak
ingekom.
9 Toe antwoord hulle: Gee pad daar! En hulle sê: Hierdie een het gekom om hier
as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel. Nou sal ons jou
meer kwaad doen as aan hulle. En hulle het sterk op die man, op Lot, aangedring
en nader gekom om die deur oop te breek.
10 Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring
en die deur toegesluit.
11 Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot,
met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.
12 Daarop sê die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? ‘n Skoonseun en jou seuns
en jou dogters en almal wat jy het in die stad—bring hulle uit die plek uit;
13 want ons gaan hierdie plek verwoes, omdat die geroep oor hulle groot is voor
die aangesig van die HERE, en die HERE het ons gestuur om dit te verwoes.
14 Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en
sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad
verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer.
15 En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak
jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die
ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.
16 Maar hy het nog getalm. Toe gryp die manne hom en sy vrou en sy twee dogters
aan die hand, omdat die HERE hom wou verskoon; en hulle lei hom uit en bring hom
buitekant die stad.
17 En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie
omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die
gebergte, dat jy nie omkom nie!
18 Daarop antwoord Lot hulle: Ag nee, my Here!
19 Kyk tog, u kneg het genade in u oë gevind, en U het u guns groot gemaak wat U
aan my bewys het deur my in die lewe te behou. Maar ek is nie in staat om na die
gebergte te vlug sonder dat die onheil my inhaal en ek sterwe nie.
20 Kyk tog, hierdie stad is naby om daarheen te vlug, en dit is klein. Laat my
tog daarheen vlug—is dit nie klein nie? —dat ek kan lewe!
21 En Hy sê vir hom: Kyk, Ek neem jou ook in hierdie saak in guns aan, sodat Ek
die stad waarvan jy gespreek het, nie sal omkeer nie.
22 Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom
noem hulle die stad Soar.
23 Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom.
24 En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE
uit die hemel,
25 en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die
inwoners van die stede en wat op die grond groei.
26 En sy vrou het agter hom omgekyk, en sy het ‘n soutpilaar geword.
27 En Abraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van die
HERE gestaan het.
28 Toe hy uitkyk oor Sodom en Gomorra en oor die hele land van die Jordaanstreek,
sien hy dat die rook van die land optrek soos die rook van ‘n smeltoond.
29 En onderwyl God die stede van die Jordaanstreek verwoes, het God aan Abraham
gedink en Lot uitgelei uit die omkering toe Hy die stede omgekeer het waar Lot
woonagtig was.
30 En Lot het uit Soar opgetrek en saam met sy twee dogters gaan woon op die
gebergte, want hy was bang om in Soar te bly; daarom het hy saam met sy twee
dogters in ‘n spelonk gaan woon.
31 En die oudste het aan die jongste gesê: Ons vader is oud, en daar is geen man
in die land om, na die reël van die ganse aarde, by ons in te gaan nie.
32 Kom, laat ons aan ons vader wyn gee om te drink en met hom gemeenskap hou,
sodat ons deur ons vader ‘n geslag in die lewe kan hou.
33 Hulle gee toe dié nag aan hulle vader wyn om te drink, en die oudste het
gekom en met haar vader gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy
gaan lê en toe sy opstaan.
34 Die volgende dag sê die oudste aan die jongste: Kyk, ek het verlede nag met
my vader gemeenskap gehad; laat ons hom vannag weer wyn gee om te drink; gaan
dan in, hou met hom gemeenskap, dat ons deur ons vader ‘n geslag in die lewe kan
hou.
35 Hulle gee toe dié nag weer aan hulle vader wyn om te drink, en die jongste
het opgestaan en met hom gemeenskap gehad sonder dat hy dit gewaar het toe sy
gaan lê en toe sy opstaan.
36 So het dan die twee dogters van Lot by hulle vader bevrug geword,
37 en die oudste het ‘n seun gebaar en hom Moab genoem. Hy is die vader van die
hedendaagse Moabiete.
38 En die jongste het ook ‘n seun gebaar en hom Ben-Ammi genoem. Hy is die vader
van die hedendaagse Ammoniete.
*~ Hoofstuk 20 ~*
1 En Abraham het daarvandaan weggetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades
en Sur en in Gerar as vreemdeling vertoef.
2 En Abraham het van Sara, sy vrou, gesê: Sy is my suster. Toe laat Abiméleg,
die koning van Gerar, Sara haal.
3 Maar God het in die nag by Abiméleg gekom in ‘n droom en vir hom gesê: Kyk, jy
sal sterwe ter wille van die vrou wat jy laat haal het, want sy is ‘n getroude
vrou.
4 Maar Abiméleg het nog nie naby haar gekom nie; daarom het hy gevra: Here, sal
U ook ‘n regverdige nasie ombring?
5 Het hy my nie self gesê nie: Sy is my suster? En sy het self ook gesê: Hy is
my broer. In die onskuld van my hart en in die reinheid van my hande het ek dit
gedoen.
6 Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld
van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te
sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie.
7 Gee dan nou die man se vrou terug, want hy is ‘n profeet; en hy sal vir jou
bid, dat jy kan lewe. Maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy sekerlik
sal sterwe, jy en almal wat aan jou behoort.
8 Abiméleg is toe die môre vroeg op en het al sy dienaars geroep en die hele
saak voor hulle ore vertel. Toe was die manne baie bang.
9 En Abiméleg het Abraham laat roep en hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En
wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk ‘n groot sonde
gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.
10 Verder sê Abiméleg vir Abraham: Wat was jou bedoeling dat jy dit gedoen het?
11 En Abraham antwoord: Ek het gedink daar is regtig geen vrees vir God in
hierdie plek nie, sodat hulle my oor my vrou sal doodmaak.
12 En sy is ook werklik my suster; sy is my vader se dogter, maar nie my moeder
se dogter nie; en sy het my vrou geword.
13 En toe God my uit die huis van my vader laat omswerf het, het ek aan haar
gesê: Dit is die guns wat jy van jou kant aan my moet bewys—op elke plek waar
ons kom, moet jy van my sê: Hy is my broer.
14 Toe neem Abiméleg kleinvee en beeste, ook slawe en slavinne, en gee dit aan
Abraham. Ook sy vrou Sara het hy aan hom teruggegee.
15 En Abiméleg sê: Daar lê my land voor jou oop; woon waar dit goed is in jou oë.
16 En vir Sara sê hy: Hier gee ek aan jou broer duisend sikkels silwer. Kyk, dit
is vir jou ‘n bedekking van die oë met betrekking tot elkeen wat by jou is,
sodat jy in elke opsig geregverdig is.
17 Toe het Abraham tot God gebid, en God het Abiméleg gesond gemaak; ook sy vrou
en sy slavinne, sodat hulle kon baar.
18 Want die HERE het elke moederskoot van die huis van Abiméleg geheel en al
toegesluit ter wille van Sara, die vrou van Abraham.
*~ Hoofstuk 21 ~*
1 En die HERE het Sara besoek soos Hy beloof het; en die HERE het aan Sara
gedoen soos Hy gespreek het:
2 Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom ‘n seun gebaar op die
bepaalde tyd wat God genoem het.
3 En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het,
Isak genoem.
4 En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel
het.
5 En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.
6 En Sara het gesê: ‘n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my
lag.
7 Verder sê sy: Wie kon ooit aan Abraham voorspel het: Sara soog kinders? Want
ek het ‘n seun gebaar in sy ouderdom.
8 En die kind het opgegroei en is gespeen. En Abraham het ‘n groot maaltyd berei
op die dag toe Isak gespeen is.
9 Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham
gebaar het, spot;
10 en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van
hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie.
11 En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun.
12 Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille
van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou
verlang, want deur Isak sal daar vir jou ‘n nageslag genoem word.
13 Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ‘n nasie maak, omdat hy jou kind
is.
14 Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en ‘n sak met water geneem
en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar
weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba.
15 En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse
neergewerp
16 en geloop en op ‘n afstand gaan sit so ver as ‘n boog kan skiet; want sy het
gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ‘n afstand gaan
sit en haar stem verhef en geween.
17 Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep
uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie,
want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is.
18 Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ‘n
groot nasie maak.
19 Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ‘n put! En sy het geloop en die sak
vol water gemaak en die seun laat drink.
20 En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en ‘n
boogskutter geword:
21 hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom ‘n vrou uit
Egipteland geneem.
22 In dié tyd het Abiméleg en Pigol, sy leërowerste, met Abraham gespreek en
gesê: God is met jou in alles wat jy doen.
23 Sweer dan nou vir my hier by God dat jy met my en my kroos en my nageslag nie
vals sal handel nie; dieselfde guns wat ek jou bewys het, moet jy aan my bewys
en aan die land waarin jy as vreemdeling vertoef.
24 En Abraham antwoord: Ek sweer.
25 Maar Abraham het Abiméleg aangespreek oor ‘n put wat die dienaars van
Abiméleg met geweld geneem het.
26 Daarop antwoord Abiméleg: Ek weet nie wie dit gedoen het nie, en jy het my
dit ook nie meegedeel nie, en ek het daar ook niks van gehoor nie as net vandag.
27 Toe neem Abraham kleinvee en beeste en gee dit aan Abiméleg; en hulle twee
het ‘n verbond gesluit;
28 Abraham het naamlik die sewe ooilammers van die kleinvee eenkant uitgekeer.
29 Toe sê Abiméleg vir Abraham: Wat beteken hierdie sewe ooilammers wat jy
uitgekeer het?
30 En hy antwoord: Die sewe ooilammers moet jy uit my hand aanneem, sodat dit
vir my ‘n getuienis kan wees dat ek hierdie put gegrawe het.
31 Daarom noem hulle dié plek Berséba, omdat hulle twee daar gesweer het.
32 So het hulle dan ‘n verbond gesluit in Berséba. Daarna het Abiméleg en Pigol,
sy leërowerste, klaargemaak en na die land van die Filistyne teruggegaan.
33 En hy het ‘n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE, die
ewige God, aangeroep.
34 En Abraham het baie dae as vreemdeling in die land van die Filistyne vertoef.
*~ Hoofstuk 22 ~*
1 Ná hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham!
En hy antwoord: Hier is ek!
2 Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die
land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal
aanwys.
3 Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van
sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ‘n
brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het.
4 Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af.
5 En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil
daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom.
6 En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit,
en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam geloop.
7 Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is
ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ‘n
brandoffer?
8 En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien,
my seun. So het hulle twee dan saam geloop.
9 Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die
altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op
die altaar bo-op die hout gesit.
10 Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.
11 Maar die Engel van die HERE het na hom van die hemel af geroep en gesê:
Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!
12 En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie;
want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie
teruggehou het nie.
13 En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ‘n ram wat agter in die bos met
sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as
brandoffer in die plek van sy seun geoffer.
14 En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê
word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.
15 Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel
af
16 en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou
seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,
17 dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die
sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag
sal die poort van sy vyande in besit neem.
18 En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na
my stem geluister het.
19 En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam
na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.
20 Ná hierdie dinge het hulle aan Abraham berig gebring en gesê: Kyk, Milka het
ook vir jou broer Nahor seuns gebaar:
21 Us, sy eersgeborene, en Bus, sy broer, en Kémuel, die vader van Aram,
22 ook Kesed en Haso en Pildas en Jidlaf en Bétuel.
23 (En Bétuel was die vader van Rebekka.) Hierdie agt het Milka vir Nahor, die
broer van Abraham, gebaar.
24 En sy byvrou met die naam van Reüma, sy het ook Tebag en Gaham en Tahas en
Máäga gebaar.