16
1 En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron,
wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het;
2 en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te
eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die
versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die
wolk op die versoendeksel.
3 Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met ‘n jong bul as sondoffer en ‘n
ram as brandoffer.
4 Hy moet ‘n heilige linnerok aantrek en ‘n linnebroek moet oor sy vlees wees en
met ‘n linnegordel moet hy hom gord en ‘n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit
is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.
5 En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as
sondoffer en een ram as brandoffer neem.
6 Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en
sy huis versoening doen.
7 Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel
by die ingang van die tent van samekoms.
8 En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot
vir Asásel.
9 Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom
as sondoffer berei;
10 maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die
aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir
Asásel in die woestyn te stuur.
11 Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom
en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is,
12 en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die
HERE wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit
binnekant die voorhangsel bring.
13 En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die HERE, dat
die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek,
sodat hy nie sterwe nie.
14 En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die
versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe
maal met sy vinger van die bloed sprinkel.
15 Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed
binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van
die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die
versoendeksel.
16 So moet hy dan vir die heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van
die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag
wees; so moet hy dit ook doen vir die tent van samekoms wat by hulle te midde
van hulle onreinhede woon.
17 En niemand mag in die tent van samekoms wees as hy ingaan om in die heiligdom
versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir
sy huis en vir die hele vergadering van Israel.
18 Dan moet hy na die altaar uitgaan wat voor die aangesig van die HERE is en
daarvoor versoening doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van
die bok neem en dit rondom aan die horings van die altaar stryk
19 en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel. So moet hy dit dan
reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel.
20 En as hy die versoening van die heiligdom en die tent van samekoms en die
altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom;
21 en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom
belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle
oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die
bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur.
22 So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra;
en hy moet die bok in die woestyn los.
23 Dan moet Aäron in die tent van samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat
hy aangetrek het toe hy in die heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê.
24 En hy moet sy liggaam op ‘n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek.
Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om
vir hom en vir die volk versoening te doen.
25 Ook moet hy die vet van die sondoffer op die altaar aan die brand steek.
26 En hy wat die bok vir Asásel weggedrywe het, moet sy klere was en sy liggaam
in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.
27 Maar die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om
versoening te doen in die heiligdom, moet hulle buitekant die laer uitbring; en
hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.
28 En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en
daarna mag hy in die laer kom.
29 En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die
tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie die kind
van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.
30 Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van
al julle sondes moet julle voor die aangesig van die HERE rein word.
31 ‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul
verootmoedig. Dit is ‘n ewige insetting.
32 En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader
die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere,
die heilige klere, aantrek
33 en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die tent van
samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk
van die vergadering moet hy versoening doen.
34 En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel
weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen
soos die HERE Moses beveel het.
*~ Hoofstuk 17 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met Aäron en sy seuns en met al die kinders van Israel en sê vir hulle:
Dit is die saak wat die HERE beveel het:
3 Elkeen uit die huis van Israel wat ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok in die laer
slag of dit buitekant die laer slag,
4 en dit nie bring by die ingang van die tent van samekoms om aan die HERE ‘n
offer voor die tabernakel van die HERE te bring nie as bloedskuld moet dit dié
man aangereken word. Hy het bloed vergiet; daarom moet dié man uitgeroei word
onder sy volk uit;
5 sodat die kinders van Israel hulle slagoffers wat hulle gewoon was om op die
oop veld te offer, aan die HERE by die ingang van die tent van samekoms na die
priester kan bring en dit as dankoffers aan die HERE kan slag.
6 Dan moet die priester die bloed teen die altaar van die HERE by die ingang van
die tent van samekoms uitgooi en die vet aan die brand steek as lieflike geur
vir die HERE.
7 En hulle mag nie meer hulle slagoffers offer aan die veldduiwels agter wie
hulle aan hoereer nie. Dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees vir hulle
geslagte.
8 En jy moet vir hulle sê: Elkeen uit die huis van Israel en uit die
vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ‘n brandoffer of ‘n slagoffer bring,
9 en dit nie by die ingang van die tent van samekoms bring om dit vir die HERE
te berei nie dié man moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
10 En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle
vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal Ek my
aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.
11 Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die
altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk
versoening deur die siel.
12 Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed
eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.
13 En elkeen uit die kinders van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle
vertoef, wat ‘n stuk wild of ‘n voël vang wat geëet mag word hy moet die bloed
daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak;
14 want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind.
Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige
vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet,
moet uitgeroei word.
15 En elkeen wat aas eet of iets wat verskeur is, ‘n kind van die land sowel as
‘n vreemdeling, moet sy klere was en ‘n bad neem, en hy bly tot die aand toe
onrein. Dan sal hy rein wees.
16 Maar as hy dit nie was nie en sy liggaam nie bad nie, moet hy sy
ongeregtigheid dra.
*~ Hoofstuk 18 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Ek is die HERE julle God.
3 Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle
nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen Ek julle bring,
mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie.
4 My verordeninge moet julle doen en my insettinge hou om daarin te wandel. Ek
is die HERE julle God.
5 Hou dan my insettinge en my verordeninge wat die mens moet doen, dat hy
daardeur kan lewe. Ek is die HERE.
6 Niemand van julle mag naby sy naaste bloedverwant kom om die skaamte te
ontbloot nie. Ek is die HERE.
7 Jy mag die skaamte van jou vader en die skaamte van jou moeder nie ontbloot
nie: sy is jou moeder jy mag haar skaamte nie ontbloot nie.
8 Jy mag die skaamte van die vrou van jou vader nie ontbloot nie; dit is die
skaamte van jou vader.
9 Die skaamte van jou suster, die dogter van jou vader of die dogter van jou
moeder, in die huis of buitekant gebore haar skaamte mag jy nie ontbloot nie.
10 Die skaamte van jou seun se dogter of van jou dogter se dogter hulle skaamte
mag jy nie ontbloot nie; want hulle is jou eie skaamte.
11 Die skaamte van die dogter van jou vader se vrou, wat deur jou vader verwek
is sy is jou suster, haar skaamte mag jy nie ontbloot nie.
12 Jy mag die skaamte van jou vader se suster nie ontbloot nie; sy is jou vader
se bloedverwant.
13 Jy mag die skaamte van jou moeder se suster nie ontbloot nie, want sy is jou
moeder se bloedverwant.
14 Jy mag die skaamte van jou vader se broer nie ontbloot nie: jy mag nie naby
sy vrou kom nie; sy is jou tante.
15 Jy mag die skaamte van jou skoondogter nie ontbloot nie; sy is jou seun se
vrou: jy mag haar skaamte nie ontbloot nie.
16 Jy mag die skaamte van jou broer se vrou nie ontbloot nie; dit is die skaamte
van jou broer.
17 Jy mag die skaamte van ‘n vrou en haar dogter nie ontbloot nie; haar seun se
dogter en haar dogter se dogter mag jy nie neem om haar skaamte te ontbloot nie.
Hulle is bloedverwante. Bloedskande is dit.
18 Jy mag ook geen vrou by haar suster as mededingster byneem om haar skaamte
gelyk met die ander een, terwyl dié nog lewe, te ontbloot nie.
19 Ook mag jy nie naby ‘n vrou kom terwyl sy onrein is deur haar onreinheid, om
haar skaamte te ontbloot nie.
20 En jy mag geen vleeslike gemeenskap met jou naaste se vrou hê om jou met haar
te verontreinig nie.
21 En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan
nie, dat jy die Naam van jou God nie ontheilig nie. Ek is die HERE.
22 Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het
nie. Dit is ‘n gruwel.
23 En jy mag met géén dier vleeslike gemeenskap hê om jou daardeur te
verontreinig nie. ‘n Vrou mag ook nie voor ‘n dier gaan staan om daarmee te doen
te hê nie. Dit is ‘n gruwelike vermenging.
24 Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge
is die heidene verontreinig wat Ek voor julle uit verdryf.
25 So het die land dan onrein geword; en Ek besoek sy ongeregtigheid daaraan,
sodat die land sy inwoners uitspuug.
26 Maar júlle moet my insettinge en my verordeninge onderhou en niks van al
hierdie gruwels doen nie die kind van die land of die vreemdeling wat onder
julle vertoef.
27 Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie
gruwels gedoen, en die land het onrein geword.
28 Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit
die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was.
29 Want almal wat enigeen van hierdie gruwels doen die siele wat dit doen, moet
uitgeroei word onder hulle volk uit.
30 Daarom moet julle my ordening onderhou om niks te doen van die gruwelike
insettinge wat voor julle gedoen is nie, dat julle jul nie daardeur verontreinig
nie. Ek is die HERE julle God.
*~ Hoofstuk 19 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle:
Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.
3 Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en my sabbatte hou. Ek is die HERE
julle God.
4 Begeef julle nie tot die afgode en maak vir julle geen gegote gode nie. Ek is
die HERE julle God.
5 En as julle ‘n dankoffer aan die HERE slag, moet julle dit so offer, dat julle
welgevalle kan vind.
6 Op die dag as julle dit offer en die dag daarna, moet dit geëet word; maar wat
tot die derde dag toe oorbly, moet met vuur verbrand word.
7 En as dit tog op die derde dag geëet word, sal dit ‘n onrein ding wees; dit
sal nie met welgevalle aangeneem word nie.
8 En hy wat dit eet, moet sy ongeregtigheid dra, want wat heilig is aan die
HERE, het hy ontheilig. Daarom moet dié siel uit sy volksgenote uitgeroei word.
9 En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie
heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie.
10 Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou
wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat
oorbly. Ek is die HERE julle God.
11 Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die
ander nie bedrieg nie.
12 En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig
nie. Ek is die HERE.
13 Jy mag jou naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou
nie tot die môre toe bly nie.
14 Jy mag ‘n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie;
maar jy moet jou God vrees. Ek is die HERE.
15 Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie
partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy
oor jou naaste oordeel.
16 Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie
teen die lewe van jou naaste optree nie. Ek is die HERE.
17 Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig
berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.
18 Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees
nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die HERE.
19 Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar
nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee
soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.
20 En as ‘n man vleeslike gemeenskap het met ‘n vrou wat ‘n slavin is, vir ‘n
ander man bestemd, sonder dat sy ooit losgekoop of vryheid aan haar gegee is,
dan moet daar bestraffing plaasvind. Hulle mag nie gedood word nie, want sy was
nie vrygelaat nie.
21 En hy moet sy skuldoffer aan die HERE bring by die ingang van die tent van
samekoms ‘n ram as skuldoffer;
22 en die priester moet met die skuldofferram vir hom versoening doen voor die
aangesig van die HERE weens die sonde wat hy gedoen het; en hy sal vergifnis
ontvang vir sy sonde wat hy gedoen het.
23 En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle
hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees;
daar mag nie van geëet word nie.
24 Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ‘n heilige feesgawe aan die HERE
wees;
25 en in die vyfde jaar mag julle hulle vrugte eet dit alles om hulle opbrings
vir julle meer te maak. Ek is die HERE julle God.
26 Julle mag niks met bloed en al eet nie. Julle mag nie met verklaring van
voortekens of goëlery omgaan nie.
27 Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die
rand van jou baard nie skend nie.
28 Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en
geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE.
29 Ontheilig jou dogter nie deur haar vir hoerery aan te hou nie, sodat die land
nie hoereer en die land vol skandelike dade word nie.
30 Julle moet my sabbatte hou en my heiligdom ontsien. Ek is die HERE.
31 Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê
nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. Ek is die HERE
julle God.
32 Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ‘n grysaard eer; en jy
moet jou God vrees. Ek is die HERE.
33 En as ‘n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk
nie.
34 Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van
die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was
vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God.
35 Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat
nie.
36 Julle moet ‘n regte weegskaal hê, regte weegstene, ‘n regte efa en ‘n regte
hin. Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het.
37 Daarom moet julle al my insettinge en al my verordeninge onderhou en dit doen.
Ek is die HERE.
*~ Hoofstuk 20 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
2 Jy moet ook aan die kinders van Israel sê: Elkeen uit die kinders van Israel
of uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat van sy kinders aan Molog gee,
moet sekerlik gedood word. Die volk van die land moet hom stenig.
3 En Ek sal my aangesig teen dié man rig en sal hom uitroei onder sy volk uit;
want hy het van sy kinders aan Molog gegee om my heiligdom te verontreinig en my
heilige Naam te ontheilig.
4 En as die volk van die land hulle oë maar enigsins toemaak vir dié man as hy
van sy kinders aan Molog gee, sodat hulle hom nie doodmaak nie,
5 dan sal Ek my aangesig rig teen dié man en sy geslag, en Ek sal hom en almal
wat agter hom aan hoereer om agter Molog aan te hoereer, uitroei onder hulle
volk uit.
6 En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat
waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal Ek my aangesig teen dié persoon rig en
hom uitroei onder sy volk uit.
7 Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is die HERE julle God.
8 En onderhou my insettinge en doen dit. Ek is die HERE wat julle heilig.
9 Want elkeen wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word. Hy het sy
vader of sy moeder gevloek. Sy bloedskuld is op hom.
10 En as iemand owerspel doen met ‘n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se
vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word.
11 En as ‘n man met sy vader se vrou gemeenskap het, het hy die skaamte van sy
vader ontbloot. Hulle altwee moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op
hulle.
12 En as ‘n man met sy skoondogter gemeenskap het, moet hulle altwee sekerlik
gedood word. Hulle het ‘n gruwelike vermenging bewerk. Hulle bloedskuld is op
hulle.
13 En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het,
het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle
bloedskuld is op hulle.
14 En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle
moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle
wees nie.
15 En as ‘n man vleeslike gemeenskap het met ‘n dier, moet hy sekerlik gedood
word, en die dier moet julle doodslaan.
16 En as ‘n vrou naby enige dier kom om daarmee te doen te hê, moet jy die vrou
en die dier doodslaan. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op
hulle.
17 En as ‘n man sy suster neem, sy vader se dogter of sy moeder se dogter, en hy
haar skaamte sien en sy sy skaamte sien, is dit ‘n skande. Daarom moet hulle
voor die oë van die kinders van hulle volk uitgeroei word. Hy het die skaamte
van sy suster ontbloot; hy moet sy ongeregtigheid dra.
18 En as ‘n man met ‘n vrou gemeenskap het wat onwel is, en haar skaamte
ontbloot hy het haar fontein ontbloot en sy die fontein van haar bloed dan moet
hulle altwee uitgeroei word onder hulle volk uit.
19 Ook mag jy die skaamte van jou moeder se suster en van jou vader se suster
nie ontbloot nie, want hy het sy bloedverwante ontbloot; hulle moet hul
ongeregtigheid dra.
20 En as ‘n man met sy tante gemeenskap het, het hy die skaamte van sy oom
ontbloot. Hulle moet hul sonde dra; sonder kinders sal hulle sterwe.
21 En as ‘n man sy broer se vrou neem, is dit bloedskande. Hy het die skaamte
van sy broer ontbloot; sonder kinders sal hulle wees.
22 Onderhou dan al my insettinge en al my verordeninge en doen dit, dat die land
waarheen Ek julle bring om daarin te woon, julle nie uitspuug nie.
23 En julle mag nie wandel in die insettinge van die nasie wat Ek voor julle uit
verdrywe nie; want al hierdie dinge het hulle gedoen; daarom het Ek ‘n afsku van
hulle gekry.
24 En Ek het vir julle gesê: Júlle sal hulle land in besit neem, en Ék sal dit
aan julle as besitting gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Ek is die
HERE julle God wat julle van die volke afgesonder het.
25 Daarom moet julle ‘n onderskeid maak tussen die rein en onrein diere, en
tussen die onrein en rein voëls; en maak julleself nie ‘n gruwel deur diere of
deur voëls of deur enigiets wat op die aarde roer nie wat Ek vir julle
afgesonder het deur dit onrein te verklaar.
26 En julle moet vir My heilig wees, want Ek, die HERE, is heilig; en Ek het
julle van die volke afgesonder om myne te wees.
27 En as daar in ‘n man of vrou ‘n gees van ‘n afgestorwene is of ‘n gees wat
waarsê, moet hulle sekerlik gedood word. Hulle moet gestenig word. Hulle
bloedskuld is op hulle.