Shabbat Shalom!
Va’etchanan / En Ek Het Gepleit
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 40:1-26;

40

1 Troos, troos my volk, sê julle God.
2 Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes.
3 ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God!
4 Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word.
5 En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.
6 ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld.
7 Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!
8 Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.
9 o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!
10 Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.
11 Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
12 Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal?
13 Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig?
14 Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?
15 Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie!
16 En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie.
17 Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.
18 By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?
19 Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings.
20 Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie.
21 Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?
22 Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon.
23 Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid;
24 skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel.
25 By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige.
26 Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.

Johannes 10:1-42;


1 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower.
2 Maar hy wat by die deur ingaan, is ‘n herder van die skape.
3 Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.
4 En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.
5 Hulle sal ‘n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.
6 Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.
7 Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.
8 Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.
9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.
10 Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
11 Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
12 Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar.
13 En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie.
14 Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.
15 Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.
16 Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.
17 Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.
18 Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.
19 Daar het toe weer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde.
20 En baie van hulle het gesê: Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig; wat luister julle na Hom?
21 Ander het gesê: Hierdie woorde is nie van ‘n besetene nie; ‘n duiwel kan tog nie die oë van blindes open nie.
22 En dit was die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter.
23 En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo.
24 En die Jode het Hom omring en vir Hom gesê: Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit.
25 Jesus antwoord hulle: Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My.
26 Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het.
27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
30 Ek en die Vader is een.
31 Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig.
32 Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My?
33 Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.
34 Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie?
35 As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie,
36 sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?
37 As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie;
38 maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom.
39 Toe het hulle weer probeer om Hom gevange te neem, en Hy het uit hulle hand ontkom.
40 En Hy het weer oor die Jordaan gegaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en Hy het daar gebly.
41 En baie het na Hom gekom en gesê: Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.
42 En baie het daar in Hom geglo.