Shabbat Shalom!
Sukkot Shabbat Chol Hamoed
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Esegiël 38:18-39:16;

38

18 Maar in dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here HERE, sal my grimmigheid in my neus opkom.
19 Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid: Waarlik, in dié dag sal daar ‘n groot aardbewing wees in die land van Israel,
20 sodat van my aangesig af weg sal bewe die visse van die see en die voëls van die hemel en die wilde diere van die veld en al die gedierte wat op die grond kruip, en al die mense wat op die aarde is; en die berge sal omvergegooi word en die kranse inmekaarstort en al die mure op die aarde val.
21 En Ek sal die swaard oproep teen hom na al my berge, spreek die Here HERE; die swaard van die een sal teen die ander wees.
22 En Ek sal met hom in die gereg gaan deur pes en deur bloed; en oorstromende stortreën en haelstene, vuur en swawel op hom laat reën en op sy leërs en op baie volke wat saam met hom is.
23 So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.

*~ Hoofstuk 39 ~*


1 En jy, mensekind, profeteer teen Gog en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal.
2 En Ek sal jou weglok en jou lei en jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel.
3 Maar Ek sal jou boog uit jou linkerhand slaan en jou pyle uit jou regterhand laat val.
4 Op die berge van Israel sal jy val, jy en al jou leërs en die volke wat saam met jou is; aan die roofvoëls van allerhande vere en aan die wilde diere van die veld het Ek jou as voedsel gegee.
5 Op die oop veld sal jy val; want Ek het dit gesê, spreek die Here HERE.
6 En Ek sal ‘n vuur slinger in Magog en onder hulle wat in die kuslande veilig woon; en hulle sal weet dat Ek die HERE is.
7 En Ek sal my heilige Naam bekend maak onder my volk Israel en sal my heilige Naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal weet dat Ek die HERE is, die Heilige in Israel.
8 Kyk, dit kom en gebeur, spreek die Here HERE. Dit is die dag waarvan Ek gespreek het.
9 En die inwoners van die stede van Israel sal uitgaan en vuur maak en stook met die wapens: klein en groot skilde, met boë en pyle en knopkieries en spiese; en hulle sal daarmee vuur maak sewe jaar lank;
10 sodat hulle geen hout uit die veld sal dra of in die bosse sal kap nie, maar met die wapens vuur sal maak; en hulle sal plunder die wat hulle geplunder het, en berowe die wat hulle beroof het, spreek die Here HERE.
11 En in dié dag sal Ek aan Gog ‘n plek gee waar ‘n graf sal wees in Israel, die dal van die trekkers aan die oostekant van die see, en dit sal vir die deurtrekkers die pad toemaak; en daar sal hulle Gog begrawe en sy hele menigte en dit noem: Die dal van Gog se menigte.
12 En die huis van Israel sal hulle begrawe om die land te reinig, sewe maande lank.
13 En al die mense van die land sal begrawe, en dit sal hulle roem wees, die dag as Ek My verheerlik, spreek die Here HERE.
14 Ook sal hulle vaste manne afsonder wat die land deurgaan en die trekkers begrawe wat bo-op die grond oorgebly het, om dit te reinig. Aan die einde van sewe maande sal hulle ‘n ondersoek instel,
15 en sien een van hulle wat deur die land trek, ‘n mensebeen, dan rig hy daarby ‘n merkteken op, totdat die begrawers dit begrawe het in die dal van Gog se menigte.
16 En ook sal die naam van ‘n stad wees Hamóna. So sal hulle dan die land reinig.

Johannes 7:31-43;


31 Maar baie van die skare het in Hom geglo en gesê: Wanneer die Christus kom, sal Hy meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het?
32 Die Fariseërs het gehoor dat die skare dit van Hom mompel, en die Fariseërs en die owerpriesters het dienaars gestuur om Hom gevange te neem.
33 Toe sê YAHUSHUA vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het.
34 Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.
35 En die Jode sê onder mekaar: Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie?
36 Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?
37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het YAHUSHUA gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!
38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.
39 En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat YAHUSHUA nog nie verheerlik was nie.
40 Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet.
41 Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa?
42 Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie?
43 Daar het toe verdeeldheid onder die skare gekom oor Hom.