22
2 Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete
aangedoen het,
3 het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het
beangs geword vanweë die kinders van Israel.
4 Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles
wat rondom ons is, soos ‘n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak,
die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab.
5 Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat
by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te
sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van
die land oordek en staan gelaer teenoor my.
6 Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek.
Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe.
Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is
vervloek.
7 Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met
waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel.
8 Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring
soos die HERE aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly.
9 En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou?
10 En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van
Moab, laat my weet:
11 Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die
land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en
hulle verdrywe.
12 Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk
nie vloek nie, want hulle is geseënd.
13 Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na
julle land, want die HERE het geweier om my saam met julle te laat gaan.
14 En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het
geweier om saam met ons te gaan.
15 Daarop stuur Balak nog weer vorste wat meer en aansienliker was as die ander;
16 en hulle het by Bíleam gekom en aan hom gesê: So spreek Balak, die seun van
Sippor: Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie.
17 Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom
kom tog, vervloek hierdie volk vir my.
18 Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis
vol silwer en goud, ek kan die bevel van die HERE my God nie oortree om klein of
groot te doen nie.
19 Nou dan, bly julle tog ook vannag hier, dat ek mag weet wat die HERE verder
aan my sal sê.
20 En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het
om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit
moet jy doen.
21 Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam
met die vorste van Moab.
22 Maar die toorn van God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van
die HERE het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy
twee dienaars by hom was.
23 En die esel het die Engel van die HERE in die pad sien staan, met sy ontblote
swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld
ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur.
24 Daarop gaan die Engel van die HERE in ‘n hol pad tussen die wingerde staan—’n
muur duskant en ‘n muur anderkant.
25 En toe die esel die Engel van die HERE sien, druk sy haarself teen die muur
en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan.
26 En die Engel van die HERE het weer verder gegaan en bly staan op ‘n nou plek
waar geen pad was om regs of links uit te draai nie.
27 Toe die esel die Engel van die HERE sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het
Bíleam baie kwaad geword en die esel met ‘n stok geslaan.
28 Maar die HERE het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het
ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het?
29 Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net
‘n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan.
30 En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery
het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy
antwoord: Nee.
31 Toe open die HERE die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die HERE in die
pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy
aangesig neergeval.
32 En die Engel van die HERE vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal
geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as ‘n teëparty, want jou weg loop gevaarlik
steil in my oog!
33 Maar die esel het My gesien en nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie
voor My uitgedraai het nie—dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe.
34 Toe antwoord Bíleam die Engel van die HERE: Ek het gesondig, want ek het nie
geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is
in u oë, sal ek teruggaan.
35 En die Engel van die HERE sê vir Bíleam: Gaan saam met die manne, maar net
die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek. So het Bíleam dan met die vorste
van Balak saamgegaan.
36 Toe Balak hoor dat Bíleam kom, het hy uitgetrek hom tegemoet na Ir-Moab wat
by die grens van die Arnon lê, by die uiteinde van die grondgebied.
37 En Balak sê vir Bíleam: Het ek nie herhaaldelik na jou gestuur om jou te laat
roep nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou
te vereer nie?
38 En Bíleam het Balak geantwoord: Hier het ek na jou gekom. Is ek nou wel in
staat om iets te spreek? Die woord wat God in my mond lê, dit sal ek spreek.
39 Bíleam het toe saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom.
40 En Balak het beeste en kleinvee geoffer en daarvan aan Bíleam gestuur en aan
die vorste wat by hom was.
41 En in die môre het Balak Bíleam geneem en hom op die hoogtes van Baäl laat
opklim vanwaar hy die kant van die volk kon sien.
*~ Hoofstuk 23 ~*
1 Toe sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare en berei vir my hier sewe
bulle en sewe ramme.
2 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ‘n bul en
‘n ram op elke altaar geoffer.
3 Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan;
miskien sal die HERE my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou
bekend maak. En hy het na ‘n kaal heuwel gegaan.
4 En God het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir Hom gesê: Sewe altare het ek
reggemaak en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
5 Toe lê die HERE ‘n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so
moet jy spreek.
6 En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al
die vorste van Moab.
7 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning
van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens
Israel.
8 Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE
nie verwens nie?
9 Want van die top van die rotse af sien ek hom, en van die heuwels af aanskou
ek hom. Kyk, ‘n volk wat afgesonderd woon en hom nie tot die nasies reken nie.
10 Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van
Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne
wees!
11 Toe sê Balak vir Bíleam: Wat het jy my aangedoen? Ek het jou laat haal om my
vyande te vloek, en kyk, jy het net geseën!
12 En hy antwoord daarop dít: Moet ek dan nie sorgvuldig alles spreek wat die
HERE in my mond lê nie?
13 Daarop sê Balak vir hom: Kom tog saam met my na ‘n ander plek vanwaar jy hom
kan sien—net sy kant sal jy sien, maar heeltemal kan jy hom nie sien nie—en
vervloek hom daarvandaan vir my.
14 En hy het hom saamgeneem na die Veld van die Wagte, op die top van Pisga, en
sewe altare gebou en ‘n bul en ‘n ram op elke altaar geoffer.
15 Toe sê hy vir Balak: Bly hier staan by jou brandoffer, en ek sal daar op ‘n
ontmoeting wag.
16 En die HERE het Bíleam ontmoet en ‘n woord in sy mond gelê en gesê: Gaan
terug na Balak, en so moet jy spreek.
17 En hy het by hom gekom terwyl hy daar staan by sy brandoffer, en die vorste
van Moab by hom. En Balak sê vir hom: Wat het die HERE gespreek?
18 Toe hef hy sy spreuk aan en sê: Staan op Balak, en hoor! Luister na my, seun
van Sippor!
19 God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou
nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?
20 Kyk, ek het ontvang om te seën; en het Hy geseën, dan kan ek dit nie keer nie.
21 ‘n Mens aanskou geen ongeregtigheid in Jakob en sien geen onheil in Israel
nie. Die HERE sy God is met hom, en die gejubel tot eer van die Koning is by hom.
22 God wat hulle uit Egipte uitgelei het, is vir hulle soos die horings van ‘n
buffel.
23 Want daar is geen towery teen Jakob of waarsêery teen Israel nie. Nou sal van
Jakob en van Israel gesê word wat God gedoen het.
24 Kyk, ‘n volk wat opstaan soos ‘n leeuin, en soos ‘n leeu verhef hy hom. Hy
gaan nie lê voordat hy roof eet en die bloed van die wat verslaan is, drink nie.
25 Toe sê Balak vir Bíleam: Jy moet hulle glad nie vloek nie, en jy moet hulle
glad nie seën nie.
26 Maar Bíleam antwoord en sê vir Balak: Het ek nie dit met jou gespreek nie:
Alles wat die HERE spreek, dit sal ek doen?
27 Verder sê Balak vir Bíleam: Kom tog, ek sal jou na ‘n ander plek saamneem;
miskien sal dit reg wees in die oë van God dat jy hulle vir my daarvandaan
vervloek.
28 Toe neem Balak Bíleam saam na die top van Peor wat oor die wildernis afkyk.
29 Daarop sê Bíleam vir Balak: Bou vir my hier sewe altare, en berei vir my hier
sewe bulle en sewe ramme.
30 En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het en ‘n bul en ‘n ram op elke
altaar geoffer.
*~ Hoofstuk 24 ~*
1 Toe Bíleam sien dat dit goed was in die oë van die HERE om Israel te seën, het
hy hom nie soos die vorige kere tot towery gewend nie, maar sy gesig na die
woestyn gedraai.
2 Toe Bíleam sy oë opslaan en Israel sien soos hy volgens sy stamme in die laer
staan, het die Gees van God op hom gekom.
3 En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en
die man met geopende oog spreek.
4 Die hoorder van die woorde van God spreek, hy wat die gesigte van die
Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het.
5 Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel!
6 Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by ‘n rivier, soos
alewees wat die HERE geplant het, soos seders by die water.
7 Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning
hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef!
8 God wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van ‘n buffel;
hy sal nasies, sy vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met sy
pyle verbrysel.
9 Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin: wie sal hom opjaag?
Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek!
10 Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak
het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het
nou al drie maal net geseën!
11 Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer;
maar kyk, die HERE het jou van verering teruggehou.
12 Toe het Bíleam vir Balak gesê: Het ek nie alreeds met jou boodskappers wat jy
na my gestuur het, gespreek en gesê nie:
13 Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die HERE nie
oortree om goed of kwaad uit my eie hart te doen nie; wat die HERE spreek, dit
sal ek spreek.
14 En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat
hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae.
15 Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en
die man met geopende oog spreek.
16 Die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die
Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende
oë het.
17 Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom
te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape
van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.
18 Ook sal Edom ‘n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ‘n besitting wees,
maar Israel neem toe in krag.
19 En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig.
20 Toe hy Amalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Amalek is die
eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.
21 Toe hy die Keniete sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Jou woonplek is
vas, en jou nes is gebou op die rots.
22 Ewenwel sal Kain tot verwoesting wees. Hoe lank nog? Assur sal jou as
gevangene wegvoer.
23 Verder het hy sy spreuk aangehef en gesê: Wee, wie sal lewe as God dít beskik?
24 En skepe kom van die kant van die Kittiërs af, en hulle verneder Assur en
hulle verneder Heber; en hy is ook tot ondergang bestem.
25 Toe het Bíleam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En
Balak het ook sy koers gegaan.
*~ Hoofstuk 25 ~*
1 Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van
die Moabiete—
2 dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet
en hulle neergebuig voor hulle gode.
3 So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het
teen Israel ontvlam.
4 Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die
oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE
van Israel afgewend kan word.
5 Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood
wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het.
6 En daar het ‘n man gekom, een uit die kinders van Israel, en ‘n Midianitiese
vrou na sy volksgenote gebring, voor die oë van Moses en voor die oë van die
hele vergadering van die kinders van Israel, terwyl hulle ween by die ingang van
die tent van samekoms.
7 Toe Pínehas, die seun van Eleásar, die seun van die priester Aäron, dit sien,
het hy uit die vergadering uit opgestaan en ‘n spies in sy hand geneem
8 en agter die Israelitiese man aan gegaan in die tent en hulle twee deurboor,
die Israelitiese man en die vrou, in haar onderlyf. Daarna het die plaag onder
die kinders van Israel opgehou.
9 En die wat deur die plaag gesterf het, was vier en twintig duisend.