27
20 En jy moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer,
uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp
te hê.
21 In die tent van samekoms, buitekant die voorhangsel wat voor die Getuienis
is, moet Aäron en sy seuns dit regmaak om te brand van die aand tot die môre
voor die aangesig van die HERE. Dit sal ‘n ewige insetting wees in hulle
geslagte, van die kant van die kinders van Israel.
*~ Hoofstuk 28 ~*
1 Dan moet jy jou broer Aäron, en sy seuns saam met hom, uit die kinders van
Israel, laat nader kom na jou toe, dat hy vir My die priesteramp kan bedien:
Aäron, Nadab en Abíhu, Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron.
2 En jy moet vir jou broer Aäron heilige klere maak, tot eer en tot sieraad.
3 Jy moet ook spreek met almal wat kunsvaardig is, wat Ek met die gees van
wysheid vervul het, dat hulle vir Aäron klere maak, om hom te heilig, dat hy vir
My die priesteramp kan bedien.
4 En dit is die klere wat hulle moet maak: ‘n borstas en ‘n skouerkleed en ‘n
mantel en ‘n kunstig bewerkte rok, ‘n tulband en ‘n gordel; so moet hulle dan
vir Aäron, jou broer, heilige klere maak, en vir sy seuns, dat hy vir My die
priesteramp kan bedien.
5 En hulle moet die goud en die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die
fyn linne neem.
6 En hulle moet die skouerkleed maak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi
stowwe en fyn dubbeldraad-linne, as kunstige werk.
7 Dit moet twee skouerstukke hê wat aan mekaar vas is; aan die twee bo-ente moet
dit saamgevoeg word.
8 En die band wat daaraan is om dit vas te bind, moet van dieselfde werk en,
daarmee saam, uit een stuk wees, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi
stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
9 En jy moet twee oniksstene neem en die name van die kinders van Israel daarop
graveer:
10 ses van dié name op die een steen en die ses ander name op die ander steen
volgens hulle geboortes.
11 Met graveerwerk, soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, moet jy die twee stene
graveer volgens die name van die kinders van Israel. Jy moet hulle maak dat
hulle vassit in kassies van goud.
12 En jy moet die twee stene op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as
gedagtenisstene vir die kinders van Israel—Aäron moet hulle name op sy twee
skouers dra voor die aangesig van die HERE om hulle in gedagtenis te bring.
13 Jy moet dan kassies van goud maak
14 en twee kettings van suiwer goud; gedraai soos toutjies moet jy hulle maak;
en maak die kettings, soos toutjies gedraai, aan die kassies vas.
15 Jy moet ook die borstas van beslissing maak van kunstige werk; soos die werk
van die skouerkleed moet jy dit maak; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi
stowwe en van fyn dubbeldraad-linne moet jy dit maak.
16 Vierkantig moet dit wees en dubbel gevou; ‘n span sy lengte en ‘n span sy
breedte.
17 En voorsien dit van ‘n steeninvulling van vier rye stene: ‘n ry met ‘n
karneool, ‘n topaas en ‘n smarag moet die eerste ry wees.
18 En die tweede ry: ‘n karbonkel, ‘n saffier en ‘n jaspis.
19 En die derde ry: ‘n hiasint, ‘n agaat en ‘n ametis.
20 En die vierde ry: ‘n chrisoliet en ‘n oniks en ‘n sardoniks. Hulle moet in
goud vasgesit wees by hulle invulling.
21 En die stene moet volgens die name van die kinders van Israel twaalf wees,
volgens hulle name. Soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, so moet hulle vir twaalf
stamme wees, elkeen volgens sy naam.
22 Jy moet ook by die borstas gedraaide kettings, soos toutjies gedraai, van
suiwer goud maak.
23 En maak by die borstas twee goue ringe; en bevestig die twee ringe aan die
twee bo-ente van die borstas,
24 en maak die twee goue toutjies aan die twee ringe vas, aan die bo-ente van
die borstas;
25 en maak die twee ander ente van die twee toutjies vas aan die twee kassies,
en bevestig dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed, aan die voorkant
daarvan.
26 Jy moet ook twee goue ringe maak, en bevestig dié aan die twee onder-ente van
die borstas, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
27 En maak twee goue ringe, en bevestig dié aan die twee skouerstukke van die
skouerkleed, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band
van die skouerkleed.
28 En hulle moet die borstas met sy ringe aan die ringe van die skouerkleed met
‘n pers toutjie vasbind, sodat dit bo die band van die skouerkleed is en die
borstas nie van die skouerkleed afskuiwe nie.
29 So moet Aäron dan die name van die kinders van Israel in die borstas van
beslissing op sy hart dra as hy in die heiligdom ingaan, om hulle in gedagtenis
te bring voor die aangesig van die HERE gedurigdeur.
30 Jy moet ook in die borstas van beslissing die Urim en die Tummim sit, dat
hulle op die hart van Aäron kan wees as hy voor die aangesig van die HERE ingaan.
So moet Aäron dan die beslissing van die kinders van Israel gedurigdeur op sy
hart dra voor die aangesig van die HERE.
31 En jy moet die mantel van die skouerkleed heeltemal van pers stof maak.
32 En die opening vir die hoof moet in die middel daarvan wees. Rondom die
opening moet ‘n soom van wewerswerk wees. Soos die opening van ‘n pantser moet
dit daaraan wees, dat dit nie kan skeur nie.
33 En maak aan die soom daarvan granaatjies van pers en purperrooi en bloedrooi
kleur, aan die soom daarvan rondom, en daar tussenin goue klokkies rondom:
34 ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie, ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie, aan die
soom van die mantel rondom.
35 En Aäron moet dit aanhê om te kan dien, sodat die geluid daarvan gehoor word
as hy in die heiligdom, voor die aangesig van die HERE, ingaan en as hy daar
uitgaan, dat hy nie sterwe nie.
36 Verder moet jy ‘n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos op ‘n
seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN DIE HERE.
37 En maak dit vas aan ‘n pers toutjie, sodat dit aan die tulband kan wees; aan
die voorkant van die tulband moet dit wees.
38 So moet dit dan op die voorhoof van Aäron wees, sodat Aäron die skuld kan dra
met betrekking tot die heilige dinge wat die kinders van Israel sal heilig—al
hulle heilige gawes. En dit moet gedurigdeur op sy voorhoof wees, dat hulle voor
die aangesig van die HERE welgevalle mag vind.
39 Jy moet ook die rok van fyn linne kunstig bewerk. Jy moet ook ‘n tulband van
fyn linne maak, en ‘n gordel moet jy van veelkleurige werk maak.
40 En maak rokke vir die seuns van Aäron, en maak vir hulle gordels. Ook moet jy
vir hulle musse maak, tot eer en tot sieraad.
41 En trek dit jou broer Aäron en sy seuns saam met hom aan. En salf hulle en
stel hulle aan en heilig hulle, sodat hulle vir My die priesteramp kan bedien.
42 Maak ook vir hulle linnebroeke om die vlees van die skaamte te bedek. Dit
moet van die heupe tot by die dye wees.
43 En Aäron en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die tent van samekoms gaan,
of as hulle nader kom na die altaar om in die heiligdom te dien, sodat hulle
geen skuld op hulle laai en sterwe nie. Dit is ‘n ewige insetting vir hom en vir
sy nageslag ná hom.
*~ Hoofstuk 29 ~*
1 En dit is die saak wat jy vir hulle moet doen om hulle te heilig, dat hulle
vir My die priesteramp kan bedien: Neem een jong bul en twee ramme wat sonder
gebrek is,
2 en ongesuurde brood en ongesuurde koeke met olie gemeng en ongesuurde
platkoeke met olie bestryk. Van fyn koringmeel moet jy dit maak.
3 En sit dit in een mandjie, en bring dit aan in die mandjie saam met die bul en
die twee ramme.
4 Dan moet jy Aäron en sy seuns laat nader kom na die ingang van die tent van
samekoms en hulle met water was.
5 En neem die klere en beklee Aäron met die rok en die mantel van die
skouerkleed en die skouerkleed self en die borstas, en bind hom die band van die
skouerkleed om.
6 En sit die tulband op sy hoof, en bevestig die heilige kroon aan die tulband.
7 Neem dan die salfolie en giet dit op sy hoof en salf hom.
8 Ook sy seuns moet jy laat nader kom, en laat hulle die rokke aantrek,
9 en omgord hulle met die gordel, Aäron en sy seuns, en bind vir hulle musse om,
dat hulle die priesteramp kan besit as ‘n ewige insetting. So moet jy dan Aäron
en sy seuns as priesters aanstel.
10 En jy moet die bul aanbring voor die tent van samekoms; en Aäron en sy seuns
moet hulle hande op die kop van die bul lê.
11 En slag die bul voor die aangesig van die HERE by die ingang van die tent van
samekoms.
12 Dan moet jy van die bloed van die bul neem en dit met jou vinger aan die
horings van die altaar stryk; en al die orige bloed moet jy aan die onderkant
van die altaar uitgiet.
13 En neem al die vet wat oor die binnegoed is, en die lap aan die lewer en die
twee niere en die vet wat daaraan is, en steek dit op die altaar aan die brand.
14 Maar die vleis van die bul en sy vel en sy mis moet jy buitekant die laer met
vuur verbrand. Dit is ‘n sondoffer.
15 Neem dan die een ram, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die ram se kop
lê;
16 daarna moet jy die ram slag en sy bloed neem en dit rondom teen die altaar
uitgooi.
17 En die ram moet jy in sy stukke verdeel, en was sy binnegoed en pote en sit
dit by die orige stukke en by die kop.
18 Jy moet dan die hele ram op die altaar aan die brand steek. Dit is ‘n
brandoffer aan die HERE; ‘n lieflike geur, ‘n vuuroffer is dit aan die HERE.
19 Dan moet jy die ander ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die
ram se kop lê;
20 jy moet dan die ram slag en van sy bloed neem en dit stryk aan die
regteroorlel van Aäron en aan die regteroorlel van sy seuns, ook aan die duim
van hulle regterhand en aan die groottoon van hulle regtervoet. En die orige
bloed moet jy rondom teen die altaar uitgooi.
21 Dan moet jy van die bloed wat aan die altaar is, neem en van die salfolie en
dit sprinkel op Aäron en op sy klere sowel as op sy seuns en op die klere van sy
seuns saam met hom, dat hy heilig kan wees en sy klere sowel as sy seuns en die
klere van sy seuns saam met hom.
22 En neem van die ram die vet en die vetstert, ook die vet wat oor die
binnegoed is, en die lap aan die lewer en die twee niere met die vet wat daaraan
is, en die regterboud—want dit is ‘n wydingsram—
23 en een ronde brood en een oliebroodkoek en een platkoek uit die mandjie met
ongesuurde koeke wat voor die aangesig van die HERE is.
24 En lê dit alles op die hande van Aäron en op die hande van sy seuns, en
beweeg dit as beweegoffer voor die aangesig van die HERE.
25 Neem dit dan uit hulle hand en steek dit op die altaar aan die brand, bo-op
die brandoffer, as lieflike geur voor die aangesig van die HERE. Dit is ‘n
vuuroffer aan die HERE.
26 En neem die bors van die wydingsram van Aäron en beweeg dit as beweegoffer
voor die aangesig van die HERE; daarna moet dit jou deel wees.
27 En jy moet die bors van die beweegoffer heilig en die boud van die hefoffer,
wat beweeg en gehef is van die wydingsram, wat vir Aäron en sy seuns geld.
28 En dit moet vir Aäron en sy seuns wees tot ‘n ewige insetting van die kant
van die kinders van Israel, want dit is ‘n hefoffer; en dit sal ‘n hefoffer wees
van die kant van die kinders van Israel, van hulle dankoffers—hulle hefoffer aan
die HERE.
29 En die heilige klere van Aäron moet vir sy seuns ná hom wees, om hulle daarin
te salf en as priesters aan te stel.
30 Die een van sy seuns wat in sy plek priester word, wat in die tent van
samekoms sal ingaan om in die heiligdom te dien, moet dit sewe dae lank aantrek.
31 En jy moet die wydingsram neem en sy vleis in ‘n heilige plek kook.
32 Dan moet Aäron en sy seuns die ram se vleis eet en die brood wat in die
mandjie is, by die ingang van die tent van samekoms.
33 En hulle moet dié dinge eet waarmee versoening bewerk is toe hulle as
priesters aangestel en geheilig is; maar ‘n onbevoegde mag daarvan nie eet nie,
want dit is heilig.
34 En as daar van die vleis van die wydingsoffer of van die brood tot die môre
toe oorbly, moet jy wat oor is, met vuur verbrand; dit mag nie geëet word nie,
want dit is heilig.
35 So moet jy dan met Aäron en sy seuns doen net soos Ek jou beveel het. Sewe
dae lank moet hulle wyding duur.
36 Jy moet ook daagliks ‘n sondofferbul tot versoening berei en die altaar
ontsondig deur daarvoor versoening te doen; en jy moet dit salf om dit te heilig.
37 Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. So sal
dan die altaar hoogheilig word: elkeen wat aan die altaar raak, word heilig.
38 En dit is wat jy op die altaar moet berei: twee jaaroud lammers gereeld elke
dag.
39 Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand
berei,
40 met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie,
en as drankoffer ‘n kwart-hin wyn vir die een lam.
41 En die ander lam moet jy teen die aand berei. Jy moet dit klaarmaak volgens
die môrespysoffer en volgens die drankoffer wat daarby behoort, tot ‘n lieflike
geur. Dit is ‘n vuuroffer aan die HERE.
42 Dit moet ‘n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang
van die tent van samekoms, voor die aangesig van die HERE, waar Ek met julle sal
saamkom om daar met jou te spreek.
43 En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my
heerlikheid geheilig word.
44 So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy
seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien.
45 En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ‘n God wees;
46 en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is wat hulle uit Egipteland
uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die HERE hulle God.
*~ Hoofstuk 30 ~*
1 Jy moet ook ‘n altaar maak om reukwerk te brand. Van akasiahout moet jy dit
maak.
2 ‘n El moet sy lengte wees en ‘n el sy breedte—vierkantig moet dit wees; en
twee el sy hoogte. Sy horings moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
3 En jy moet dit met suiwer goud oortrek: die plaat en die sykante rondom en die
horings. En maak daarvoor ‘n goue krans rondom.
4 Maak ook twee goue ringe daarvoor onderkant die krans aan weerskante; jy moet
dié aan die twee sykante maak. En hulle moet dien as plekke vir draaghoute om
dit daarmee te dra.
5 En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.
6 Sit dit dan voor die voorhangsel wat voor die ark van die Getuienis is, voor
die versoendeksel wat oor die Getuienis is, waar Ek met jou sal saamkom.
7 En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as
hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek.
8 En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek
as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die HERE in julle geslagte.
9 Julle mag daarop geen vreemde reukwerk of brandoffer of spysoffer bring nie.
Julle mag ook geen drankoffer daarop uitgiet nie.
10 En Aäron moet een maal in die jaar aan die horings daarvan versoening doen;
met die bloed van die sondoffer van versoening moet hy een maal in die jaar
daarvoor versoening doen vir julle geslagte. Hoogheilig is dit aan die HERE.