6
2 (6:1) Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE.
3 (6:2) En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die
Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.
4 (6:3) Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee,
die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het;
5 (6:4) en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die
Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.
6 (6:5) Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle
onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle
slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot
strafgerigte;
7 (6:6) en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle
sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid
van die Egiptenaars uit.
8 (6:7) En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om
dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ‘n
besitting gee, Ek, die HERE.
9 (6:8) Moses het toe so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie
na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens.
10 (6:9) Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
11 (6:10) Gaan spreek met Farao, die koning van Egipte, dat hy die kinders van
Israel uit sy land moet laat uittrek.
12 (6:11) Maar Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: As die
kinders van Israel na my nie geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister
terwyl ek onbesnede van lippe is?
13 (6:12) Daarop het die HERE met Moses en Aäron gespreek en hulle met ‘n
boodskap gestuur na die kinders van Israel en na Farao, die koning van Egipte,
om die kinders van Israel uit Egipteland uit te lei.
14 (6:13) Dit is die hoofde van hulle families. Die seuns van Ruben, die
eersgeborene van Israel: Henog en Pallu, Hesron en Karmi; dit is die geslagte
van Ruben.
15 (6:14) En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en
Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou; dit is die geslagte van Símeon.
16 (6:15) En dit is die name van die seuns van Levi volgens hulle afstamming:
Gerson en Kehat en Merári. En die lewensjare van Levi was honderd sewe en dertig
jaar.
17 (6:16) Die seuns van Gerson: Libni en Símeï volgens hulle geslagte.
18 (6:17) En die seuns van Kehat: Amram en Jishar en Hebron en Ussiël; en die
lewensjare van Kehat was honderd drie en dertig jaar.
19 (6:18) En die seuns van Merári: Magli en Musi. Dit is die geslagte van Levi
volgens hulle afstamming.
20 (6:19) En Amram het Jogébed, sy tante, vir hom as vrou geneem, en sy het vir
hom Aäron en Moses gebaar. En die lewensjare van Amram was honderd sewe en
dertig jaar.
21 (6:20) En die seuns van Jishar: Korag en Nefeg en Sigri.
22 (6:21) En die seuns van Ussiël: Mísael, Élsafan en Sitri.
23 (6:22) En Aäron het Eliséba, die dogter van Ammínadab, die suster van Nagson,
vir hom as vrou geneem; en sy het vir hom gebaar: Nadab en Abíhu, Eleásar en
Itamar.
24 (6:23) En die seuns van Korag: Assir en Élkana en Abíasaf. Dit is die
geslagte van die Koragiete.
25 (6:24) En Eleásar, die seun van Aäron, het vir hom een van die dogters van
Pútiël as vrou geneem; en sy het vir hom Pínehas gebaar. Dit is die
familie-hoofde van die Leviete volgens hulle geslagte.
26 (6:25) Dit is Aäron en Moses aan wie die HERE gesê het: Lei die kinders van
Israel uit Egipteland volgens hulle leërskare.
27 (6:26) Dit is hulle wat met Farao, die koning van Egipte, gespreek het om die
kinders van Israel uit Egipte uit te lei. Dit is Moses en Aäron.
28 (6:27) Die dag toe die HERE met Moses gespreek het in Egipteland,
29 (6:28) het die HERE Moses aangespreek met die woorde: Ek is die HERE. Sê aan
Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek met jou spreek.
30 (6:29) Toe sê Moses voor die aangesig van die HERE: Ek is onbesnede van lippe!
Hoe sal Farao dan na my luister?
*~ Hoofstuk 7 ~*
1 En die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou
broer Aäron sal jou profeet wees.
2 Jy moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao
spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek.
3 En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland
vermenigvuldig.
4 Maar Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my
leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit
Egipteland uitlei.
5 Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die HERE is, as Ek my hand oor Egipte
uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.
6 Moses en Aäron het toe gedoen soos die HERE hulle beveel het; so het hulle
gedoen.
7 En Moses was tagtig jaar en Aäron drie en tagtig jaar oud toe hulle met Farao
gespreek het.
8 En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde:
9 As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ‘n wonderteken vir julleself—dan
moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ‘n
slang word.
10 Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle
beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit
het ‘n slang geword.
11 Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die
Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste:
12 elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle
stawe verslind.
13 Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie soos
die HERE gespreek het.
14 Toe sê die HERE vir Moses: Farao se hart is verhard; hy weier om die volk te
laat trek.
15 Gaan môre vroeg na Farao toe—kyk, hy sal uitgaan na die water; staan dan aan
die kant van die Nyl om hom te ontmoet; en neem die staf wat in ‘n slang
verander het, in jou hand,
16 en sê vir hom: Die HERE, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur met
die boodskap: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien in die woestyn. Maar kyk,
u het tot nou toe nie geluister nie.
17 So spreek die HERE: Hieraan sal jy weet dat Ek die HERE is. Kyk, ek sal met
die staf wat in my hand is, op die water slaan wat in die Nyl is, en dit sal in
bloed verander word.
18 En die visse in die Nyl sal doodgaan, sodat die Nyl sal stink. En die
Egiptenaars sal vergeefs trag om die water uit die Nyl te drink.
19 Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê vir Aäron: Neem jou staf en steek
jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale,
hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke van water, sodat dit bloed word:
daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout— en in klipbakke.
20 Moses en Aäron het toe so gedoen soos die HERE beveel het—hy het die staf
opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor
die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander.
21 En die visse wat in die Nyl was, het doodgegaan; en die Nyl het gestink,
sodat die Egiptenaars die water uit die Nyl nie kon drink nie. En daar was bloed
in die hele Egipteland.
22 Maar die Egiptiese towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste,
sodat Farao se hart verhard is; en hy het na hulle nie geluister nie, soos die
HERE gespreek het.
23 En Farao het omgedraai en huis toe gegaan en dit ook nie ter harte geneem nie.
24 Maar al die Egiptenaars het rondom die Nyl na water gegrawe om te drink, want
hulle kon van die Nyl se water nie drink nie.
25 So het dan sewe dae verbygegaan nadat die HERE die Nyl geslaan het.
*~ Hoofstuk 8 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek
die HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
2 En as jy weier om hulle te laat trek, Kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met
paddas teister,
3 sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en
in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou
volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels.
4 En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring.
5 Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met
jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die
paddas opkom oor Egipteland.
6 En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas
opgekom en Egipteland oordek.
7 Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat
opkom oor Egipteland.
8 Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en gesê: Bid tot die HERE, dat Hy die
paddas van my en van my volk wegneem. Dan sal ek die volk laat trek, dat hulle
aan die HERE kan offer.
9 Maar Moses sê aan Farao: Aan u die eer bo my! Teen watter tyd moet ek vir u en
u dienaars en vir u volk bid, dat die paddas van u en uit u huise uitgeroei word
om net in die Nyl oor te bly?
10 En hy antwoord: Teen môre. Toe sê hy: Dit sal wees volgens u woord, dat u kan
weet dat daar niemand is soos die HERE onse God nie.
11 En die paddas sal u en u huise en u dienaars en u volk verlaat. Net in die
Nyl sal hulle oorbly.
12 Toe het Moses en Aäron van Farao af weggegaan; en Moses het tot die HERE
geroep vanweë die paddas wat Hy oor Farao beskik het.
13 En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses: die paddas het
weggesterwe uit die huise, van die plase af en uit die veld.
14 En hulle het dit by hope bymekaargemaak, en die land het gestink.
15 En toe Farao sien dat daar verligting kom, het hy sy hart verhard en na hulle
nie geluister nie, soos die HERE gespreek het.
16 Verder het die HERE met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou staf uit en
slaan die stof van die aarde, en dit sal muskiete word in die hele Egipteland.
17 En hulle het so gedoen: Aäron het sy hand met sy staf uitgesteek en die stof
van die aarde geslaan, en daar het muskiete gekom op die mense en op die vee. Al
die stof van die aarde het muskiete geword in die hele Egipteland.
18 En die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste om die muskiete
voort te bring, maar hulle kon nie. So was die muskiete dan op die mense en op
die vee.
19 Toe sê die towenaars vir Farao: Dit is die vinger van God! Maar Farao se hart
was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie, soos die HERE gespreek
het.
20 Verder het die HERE vir Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou
voor Farao—kyk, hy sal na die water toe uitgaan en sê vir hom: So spreek die
HERE: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
21 Want as jy my volk nie laat trek nie, kyk, dan stuur Ek teen jou en teen jou
dienaars en teen jou volk en teen jou huise die steekvlieë, sodat die huise van
die Egiptenaars vol steekvlieë sal wees, en selfs die grond waar hulle op staan.
22 Maar Ek sal op dié dag met die land Gosen, waarin my volk woon, ‘n
uitsondering maak, dat daar geen steekvlieë sal wees nie; sodat jy kan weet dat
Ek die HERE is in die land.
23 En Ek sal ‘n verlossing stel tussen my volk en jou volk. Môre sal hierdie
teken plaasvind.
24 En die HERE het so gedoen: dik swerms steekvlieë het in die huis van Farao en
in die huis van sy dienaars en in die hele Egipteland gekom; die land is deur
die steekvlieë verwoes.
25 Toe laat Farao Moses en Aäron roep en sê: Gaan heen, offer aan julle God in
die land.
26 Maar Moses antwoord: Dit is nie reg om so te doen nie; want wat ons aan die
HERE onse God offer, is ‘n gruwel vir die Egiptenaars. As ons iets wat ‘n gruwel
is vir die Egiptenaars, voor hulle oë offer, sal hulle ons dan nie stenig nie?
27 Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek, dat ons aan die HERE onse God
kan offer soos Hy ons sal beveel.
28 Toe sê Farao: Ek sal julle laat trek, dat julle aan die HERE julle God kan
offer in die woestyn; julle moet maar net nie te ver wegtrek nie. Bid vir my.
29 En Moses antwoord: Kyk, ek gaan van u af weg en sal tot die HERE bid, dat die
steekvlieë môre Farao, sy dienaars en sy volk mag verlaat. Laat Farao ons net
nie langer bedrieg deur die volk nie te laat trek om aan die HERE te offer nie.
30 Toe het Moses van Farao af weggegaan en tot die HERE gebid.
31 En die HERE het gedoen volgens die woord van Moses: Hy het die steekvlieë van
Farao, van sy dienaars en sy volk weggeneem. Daar het nie een oorgebly nie.
32 Maar Farao het sy hart ook hierdie keer verhard en die volk nie laat trek nie.
*~ Hoofstuk 9 ~*
1 Verder het die HERE met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek
die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
2 Want as jy weier om hulle te laat trek en hulle nog langer vashou,
3 kyk, dan sal die hand van die HERE wees teen jou vee wat in die veld is, teen
die perde, teen die esels, teen die kamele, teen die beeste en teen die kleinvee
met ‘n baie swaar pes.
4 En die HERE sal ‘n onderskeid maak tussen die vee van die Israeliete en die
vee van die Egiptenaars, sodat niks sal doodgaan van alles wat aan die kinders
van Israel behoort nie.
5 En die HERE het ‘n bepaalde tyd gestel en gesê: Môre sal die HERE dit doen in
die land.
6 En die HERE het dit die volgende dag gedoen: al die vee van die Egiptenaars
het doodgegaan. Maar van die vee van die kinders van Israel is nie een dood nie.
7 Farao het toe gestuur, en kyk, van die vee van die Israeliete was daar nie een
dood nie! Maar die hart van Farao was verhard, en hy het die volk nie laat trek
nie.
8 Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet
uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao;
9 en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere
veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland.
10 So het hulle dan roet uit die oond geneem en voor Farao gaan staan, en Moses
het dit na die hemel uitgestrooi. Toe word dit swere wat uitbreek in blare aan
mense en diere.
11 En die towenaars kon voor Moses nie staan vanweë die swere nie. Want die
swere was aan die towenaars en al die Egiptenaars.
12 Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy nie na hulle geluister het
nie, soos die HERE aan Moses gesê het.
13 Verder het die HERE aan Moses gesê: Maak jou môre vroeg klaar en stel jou
voor Farao en sê vir hom: So spreek die HERE, die God van die Hebreërs: Laat my
volk trek, dat hulle My kan dien.
14 Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars
en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie.
15 Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref
het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het;
16 maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en
dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.
17 Versit jy jou nog teen my volk, dat jy hulle nie wil laat trek nie?
18 Kyk, Ek sal môre omtrent sulke tyd ‘n baie swaar hael laat reën soos wat in
Egipte nie gewees het van die dag af dat dit gegrond is tot nou toe nie.
19 Stuur dan nou en laat jou vee en alles wat jy in die veld het, in veiligheid
bring; al die mense en die diere wat in die veld gevind word, en wat nie
binnekant gebring is nie—op hulle sal die hael val, sodat hulle sterwe.
20 Hy wat die HERE se woord gevrees het onder die dienaars van Farao, het sy
slawe en sy vee in die huise laat vlug;
21 maar hy wat op die HERE se woord geen ag gegee het nie, het sy slawe en sy
vee in die veld laat bly.
22 Toe sê die HERE vir Moses: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal hael
wees in die hele Egipteland, oor mense en diere en oor al die plante van die
veld in Egipteland.
23 En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die HERE het donder en hael
gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die HERE het hael op Egipteland
laat reën.
24 En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in
die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ‘n volk behoort het nie.
25 En die hael het in die hele Egipteland geslaan alles wat in die veld was,
mense sowel as diere. Ook het die hael al die plante van die veld geslaan en al
die bome van die veld verbreek.
26 Net in die land Gosen, waar die kinders van Israel was, was daar geen hael
nie.
27 Toe het Farao Moses en Aäron laat roep en vir hulle gesê: Ek het dié keer
sonde gedoen. Die HERE is reg, maar ek en my volk het ongelyk.
28 Bid tot die HERE, want daar is oorgenoeg donder van God en hael gewees; dan
sal ek julle laat trek, en julle hoef nie langer te bly nie.
29 Toe sê Moses vir hom: So gou as ek die stad uitgaan, sal ek my hande tot die
HERE uitbrei: die donder sal ophou en die hael sal nie meer wees nie; sodat u
kan weet dat die aarde aan die HERE behoort.
30 Maar wat u en u dienaars betref—ek weet dat julle nog nie ontsag het vir die
HERE God nie.
31 En die vlas en die gars was weggeslaan, want die gars was in die aar en die
vlas in die knop.
32 Maar die koring en die spelt was nie weggeslaan nie, want hulle is later.
33 So het Moses dan uit die stad gegaan van Farao af weg en sy hande tot die
HERE uitgebrei. En die donder en hael het opgehou, en die reën het nie meer op
die aarde gegiet nie.
34 Toe Farao sien dat die reën en die hael en die donder ophou, het hy nog
verder gesondig en sy hart verhard, hy en sy dienaars.
35 Ja, Farao se hart was verhard, sodat hy die kinders van Israel nie laat trek
het nie, soos die HERE deur die diens van Moses gespreek het.