60
1 Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van YAHUVEH
gaan oor jou op.
2 Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar
oor jóu sal YAHUVEH opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.
3 En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.
4 Slaan jou oë rondom op en kyk—hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe;
jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra.
5 Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim
word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies
kom na jou toe aan.
6 ‘n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal
almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die
roemryke dade van YAHUVEH.
7 Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nebájot sal
jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike
huis heerlik maak.
8 Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos ‘n wolk en soos duiwe na hulle
vensters?
9 Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns
van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van YAHUVEH
jou ELOHIM en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het.
10 En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my
toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm.
11 En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit
word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings
in triomftog.
12 Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en
dié nasies sal seker verwoes word.
13 Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die plataan
en die denneboom almal saam, om te versier die plek van my heiligdom; en Ek sal
die plek van my voete heerlik maak.
14 En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en
almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou
noem: Stad van YAHUVEH, Sion van die Heilige van Israel.
15 In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek
jou maak tot ‘n ewige heerlikheid, ‘n vreugde van geslag tot geslag.
16 En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet
dat Ek, YAHUVEH, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob.
17 Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en
vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou
bestuurders.
18 Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie—van geen verwoesting of
verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil (YAHUSHUA) noem en
jou poorte, Lof.
19 Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir
jou geen skynsel gee nie; maar YAHUVEH sal vir jou wees ‘n ewige lig, en jou
ELOHIM sal jou sieraad wees.
20 Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want
YAHUVEH sal vir jou wees ‘n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby.
21 En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit—as
lote deur My geplant, ‘n werk van my hande, tot my verheerliking.
22 Die kleinste sal ‘n geslag word en die geringste ‘n magtige nasie. Ek,
YAHUVEH, sal dit op die regte tyd gou laat kom.
1 Petrus 2:1-25
1 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle
kwaadpratery;
2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die
woord, dat julle daardeur kan opgroei,
3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.
4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by
YAHUVEH uitverkore en kosbaar is;
5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige
priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan YAHUVEH welgevallig is deur
YAHUSHUA Christus.
6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare
hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.
7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord:
Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen
des aanstoots en ‘n rots van struikeling—
8 vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is,
waarvoor hulle ook bestem is.
9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk,
‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die
duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van YAHUVEH is; aan wie
toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou
van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;
12 en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle
kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle
aanskou, ELOHIM kan verheerlik in die dag van besoeking.
13 Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of
dit die koning is as opperheer,
14 of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat
goed doen, te prys.
15 Want so is dit die wil van ELOHIM dat julle deur goed te doen die onkunde van
die dwase mense tot swye sal bring,
16 as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die
boosheid nie, maar as diensknegte van ELOHIM.
17 Julle moet almal eer, die broederskap liefhê, YAHUVEH vrees, die koning eer.
18 Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die
wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.
19 Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor ELOHIM, leed
verdra deur onregverdig te ly.
20 Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan
word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by
ELOHIM.
21 Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle
‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;
22 "Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is
nie";
23 wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie
gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;
24 wat "self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het", sodat ons die
sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; "deur wie se wonde julle
genees is".
25 Want julle was "soos dwalende skape", maar nou het julle teruggekeer na die
Herder en Opsiener van julle siele.