7
12 En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring,
sal YAHUVEH jou ELOHIM vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy
jou vaders besweer het;
13 en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug
van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou
olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land
wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.
14 Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou
onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie.
15 En YAHUVEH sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van
Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat.
16 En jy sal al die volke verteer wat YAHUVEH jou ELOHIM aan jou oorgee; jou oog
mag hulle nie verskoon nie, en jy mag hulle gode nie dien nie; want dit sal vir
jou ‘n strik wees.
17 As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan
verdrywe? —
18 wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat YAHUVEH jou ELOHIM
aan Farao en die hele Egipte gedoen het,
19 die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en
die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur YAHUVEH jou ELOHIM jou uitgelei
het; so sal YAHUVEH jou ELOHIM aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.
20 En YAHUVEH jou ELOHIM sal ook die perdebye onder hulle stuur totdat hulle
omkom wat oorgebly het en wat vir jou weggekruip het.
21 Skrik nie vir hulle nie, want YAHUVEH jou ELOHIM is by jou, ‘n groot en
gedugte EL.
22 En YAHUVEH jou ELOHIM sal hierdie nasies so langsamerhand voor jou uit
verjaag; jy mag hulle nie gou vernietig nie, dat die ongediertes nie teen jou
die oorhand kry nie.
23 Maar YAHUVEH jou ELOHIM sal hulle aan jou oorgee en hulle in groot verwarring
bring totdat hulle verdelg word.
24 Ook sal Hy hulle konings in jou hand gee, dat jy hulle naam onder die hemel
kan laat verdwyn; niemand sal teen jou standhou totdat jy hulle verdelg het nie.
25 Die gesnede beelde van hulle gode moet julle met vuur verbrand; die silwer en
die goud wat daaraan is, mag jy nie begeer of vir jou neem nie, dat jy nie
daardeur verstrik raak nie; want dit is vir YAHUVEH jou God ‘n gruwel.
26 En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die
banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as
gruwel beskou; want dit is onder die banvloek.
*~Deuteronomium Hoofstuk 8~*
1 Al die gebooie wat ek jou vandag beveel, moet julle sorgvuldig hou, dat julle
mag lewe en vermenigvuldig, en dat julle mag inkom en die land in besit neem wat
YAHUVEH aan julle vaders met ‘n eed beloof het.
2 En jy moet dink aan die hele pad waarlangs YAHUVEH jou ELOHIM jou nou veertig
jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te
weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie.
3 En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat
jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie
van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van
YAHUVEH uitgaan.
4 Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie
geswel nie.
5 Erken dan in jou hart dat YAHUVEH jou ELOHIM jou onderrig soos ‘n man sy seun
onderrig,
6 en hou die gebooie van YAHUVEH jou ELOHIM om in sy weë te wandel en Hom te
vrees.
7 Want YAHUVEH jou ELOHIM bring jou in ‘n goeie land, ‘n land van waterstrome,
fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom;
8 ‘n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ‘n land van
olieryke olyfbome en heuning;
9 ‘n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek
nie; ‘n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal
uitkap;
10 en jy sal eet en versadig word en YAHUVEH jou ELOHIM loof oor die goeie land
wat Hy jou gegee het.
11 Neem jou in ag dat jy YAHUVEH jou ELOHIM nie vergeet deur sy gebooie en sy
verordeninge en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, nie te hou nie;
12 sodat jy nie miskien eet en versadig word nie en mooi huise bou en bewoon,
13 en jou beeste en jou kleinvee vermeerder en jou silwer en goud vermeerder, ja,
alles wat jy het, vermeerder—
14 en jou hart hom dan verhef, dat jy YAHUVEH jou ELOHIM vergeet wat jou uit
Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het;
15 wat jou deur die groot en vreeslike woestyn gelei het, deur giftige slange en
skerpioene en ‘n dorsland sonder water; wat vir jou water uit die klipharde rots
laat kom het;
16 wat jou in die woestyn manna laat eet het, wat jou vaders nie geken het nie,
om jou te verootmoedig en jou te beproef, om uiteindelik aan jou goed te doen—
17 en jy in jou hart dink: My krag en die sterkte van my hand het vir my hierdie
rykdom verwerwe.
18 Maar dink aan YAHUVEH jou ELOHIM, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te
verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof
het, soos dit vandag is.
19 Maar as jy nogtans YAHUVEH jou ELOHIM vergeet en agter ander gode aan loop en
hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker ek julle vandag dat julle
sekerlik sal omkom;
20 soos die nasies wat YAHUVEH voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat
julle na die stem van YAHUVEH julle ELOHIM nie geluister het nie.
*~Deuteronomium Hoofstuk 9~*
1 Hoor, Israel, jy trek vandag deur die Jordaan om nasies in besit te gaan neem
wat groter en sterker is as jy, stede wat groot en tot aan die hemel versterk
is,
2 ‘n groot volk van hoë gestalte, die kinders van die Enakiete, wat jy self ken
en van wie jy hoor sê het: Wie kan standhou voor die kinders van Enak?
3 Weet dan vandag dat YAHUVEH jou ELOHIM die Een is wat voor jou oortrek soos ‘n
verterende vuur. Hy sal hulle vernietig en hulle voor jou onderwerp, sodat jy
hulle gou kan verdrywe en tot niet maak soos YAHUVEH jou beloof het.
4 As YAHUVEH jou ELOHIM hulle voor jou uit verjaag, moet dan nie in jou hart
spreek en sê: YAHUVEH het my ter wille van my geregtigheid ingebring om hierdie
land in besit te neem nie; want weens die goddeloosheid van hierdie nasies
verdryf YAHUVEH hulle voor jou uit.
5 Nie ter wille van jou geregtigheid en die opregtheid van jou hart kom jy in om
hulle land in besit te neem nie, maar weens die goddeloosheid van hierdie nasies
verdryf YAHUVEH jou ELOHIM hulle voor jou uit, en om die woord te vervul wat
YAHUVEH vir jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, gesweer het.
6 Weet dan dat YAHUVEH jou ELOHIM nie ter wille van jou geregtigheid jou hierdie
goeie land gee om dit in besit te neem nie, want jy is ‘n hardnekkige volk.
7 Dink daaraan, vergeet nie hoe jy YAHUVEH jou ELOHIM in die woestyn vertoorn
het nie; van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het, totdat julle by
hierdie plek gekom het, was julle wederstrewig teen YAHUVEH.
8 Ja, by Horeb het julle YAHUVEH vertoorn, sodat YAHUVEH toornig was op julle om
julle te verdelg.
9 Toe ek op die berg geklim het om die kliptafels te ontvang, die tafels van die
verbond wat YAHUVEH met julle gesluit het, het ek veertig dae en veertig nagte
lank op die berg gebly—brood het ek nie geëet en water nie gedrink nie—
10 en YAHUVEH het my die twee kliptafels gegee wat beskrywe was met die vinger
van ELOHIM, en daarop al die woorde soos YAHUVEH op die berg, uit die vuur, met
julle gespreek het, op die dag van die vergadering.
11 En aan die einde van veertig dae en veertig nagte het YAHUVEH my die twee
kliptafels gegee, die tafels van die verbond,
12 en YAHUVEH het vir my gesê: Staan op, klim hiervandaan gou af, want jou volk
wat jy uit Egipte uitgelei het, het verderflik gehandel; hulle het gou afgewyk
van die weg wat Ek hulle beveel het; hulle het vir hulle ‘n gegote beeld gemaak.
13 Verder het YAHUVEH met my gespreek en gesê: Ek het hierdie volk aangesien, en
kyk, dit is ‘n hardnekkige volk. ‘
14 Laat My staan dat Ek hulle verdelg en hulle naam onder die hemel uitdelg; en
Ek sal jou ‘n nasie maak wat magtiger is en meer as hulle.
15 Daarop het ek omgedraai en van die berg afgeklim terwyl die berg met vuur
brand, en die twee tafels van die verbond was in my twee hande.
16 Toe sien ek dat julle waarlik teen YAHUVEH julle ELOHIM gesondig het; julle
het vir julle ‘n gegote kalf gemaak; julle het gou afgewyk van die weg wat
YAHUVEH julle beveel het.
17 En ek het die twee tafels gegryp en dit uit my twee hande gegooi en dit voor
julle oë verbrysel.
18 Daarop het ek voor die aangesig van YAHUVEH neergeval, soos die eerste keer,
veertig dae en veertig nagte lank—brood het ek nie geëet en water nie gedrink
nie—vanweë al julle sonde wat julle begaan het deur te doen wat verkeerd is in
die oë van YAHUVEH om Hom te terg.
19 Want ek was bang vir die toorn en die grimmigheid waarmee YAHUVEH op julle so
toornig was, dat Hy julle wou verdelg; maar YAHUVEH het my dié keer ook verhoor.
20 Ook was YAHUVEH baie toornig op Aäron, sodat Hy hom wou verdelg; maar ek het
ook vir Aäron in dié tyd gebid.
21 En ek het julle sonde, die kalf wat julle gemaak het, geneem en dit met vuur
verbrand en dit stukkend gestamp en terdeë gemaal totdat dit so fyn soos stof
was; en dié stof het ek in die stroom gegooi wat van die berg afkom.
22 Ook by Tabéra en by Massa en by Kibrot-Hattáäwa het julle elke keer YAHUVEH
vertoorn.
23 En toe YAHUVEH julle uit Kades-Barnéa gestuur het met die woorde: Trek op en
neem die land in besit wat Ek julle gegee het—was julle wederstrewig teen die
bevel van YAHUVEH julle ELOHIM en het julle Hom nie geglo en na sy stem nie
geluister nie.
24 Wederstrewig was julle teen YAHUVEH van die dag af dat ek julle ken.
25 En ek het neergeval voor die aangesig van YAHUVEH, die veertig dae en veertig
nagte wat ek neergeval het, omdat YAHUVEH gesê het dat Hy julle wou verdelg.
26 En ek het YAHUVEH gebid en gesê: Here, HERE, stort u volk en u erfdeel wat U
deur u grootheid verlos het, wat U uit Egipte deur ‘n sterke hand uitgelei het,
nie in die verderf nie.
27 Dink aan u knegte Abraham, Isak en Jakob; kyk nie na die hardheid van hierdie
volk of na hulle goddeloosheid en hulle sonde nie,
28 sodat die land waar U ons uitgelei het, nie kan sê nie: Omdat YAHUVEH hulle
nie kon bring in die land wat Hy hulle beloof het nie, en omdat Hy hulle haat,
het Hy hulle uitgelei om hulle in die woestyn te laat sterwe!
29 Hulle is tog u volk en u erfdeel wat U deur u grote krag en u uitgestrekte
arm uitgelei het.
*~Deuteronomium Hoofstuk 10~*
1 In dié tyd het YAHUVEH vir my gesê: Kap vir jou twee kliptafels soos die
eerstes en klim op die berg na My toe; maak vir jou ook ‘n ark van hout.
2 En Ek sal op die tafels skrywe die woorde wat op die eerste tafels was, wat jy
verbrysel het; en jy moet dit in die ark sit.
3 Toe het ek ‘n ark van akasiahout gemaak en twee kliptafels soos die eerstes
gekap en op die berg geklim met die twee tafels in my hand.
4 En Hy het op die tafels, volgens die eerste skrif, die tien woorde geskrywe
wat YAHUVEH op die dag van die vergadering by die berg uit die vuur met julle
gespreek het; en YAHUVEH het dit aan my gegee.
5 En ek het omgedraai en van die berg afgeklim en die tafels in die ark gesit
wat ek gemaak het; en dit was daar, soos YAHUVEH my beveel het.
6 En die kinders van Israel het van Béërot Bené-Jáäkan weggetrek na Moséra toe.
Daar het Aäron gesterwe, en daar is hy begrawe; en sy seun Eleásar het die
priesteramp in sy plek bedien.
7 Daarvandaan het hulle weggetrek na Gudgod, en van Gudgod na Jotbat, ‘n land
van waterstrome.
8 In dié tyd het YAHUVEH die stam van Levi afgesonder om die verbondsark van
YAHUVEH te dra, om voor die aangesig van YAHUVEH in sy diens te staan en in sy
Naam te seën tot vandag toe.
9 Daarom het Levi geen deel of erfenis saam met sy broers nie; YAHUVEH is sy
erfdeel, soos YAHUVEH jou ELOHIM hom beloof het.
10 En ék het op die berg gestaan soos die vorige dae, veertig dae en veertig
nagte lank; en YAHUVEH het my ook dié keer verhoor; YAHUVEH wou jou nie in die
verderf stort nie.
11 Maar YAHUVEH het vir my gesê: Staan op, gaan heen om voor die volk uit verder
te trek, dat hulle kan inkom en die land in besit neem wat Ek aan hulle vaders
met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee.
12 En nou, Israel, wat eis YAHUVEH jou ELOHIM van jou as net om YAHUVEH jou
ELOHIM te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en YAHUVEH jou ELOHIM
te dien met jou hele hart en met jou hele siel,
13 om te hou die gebooie van YAHUVEH en sy insettinge wat ek jou vandag beveel,
dat dit met jou goed kan gaan?
14 Kyk, aan YAHUVEH jou ELOHIM behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die
aarde en alles wat daarin is.
15 Maar net aan jou vaders het YAHUVEH ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê,
en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit
vandag is.
16 Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie.
17 Want YAHUVEH julle ELOHIM is die God van die gode en YAHUVEH van die here;
die grote, magtige en gedugte ELOHIM wat die persoon nie aansien en geen geskenk
aanneem nie;
18 wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet,
sodat Hy hom brood en klere gee.
19 Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in
Egipteland.
20 YAHUVEH jou ELOHIM moet jy vrees, Hom moet jy dien en Hom moet jy aanhang en
by sy Naam sweer.
21 Hy is jou lof, en Hy is jou ELOHIM wat hierdie groot en vreeslike dinge wat
jou oë gesien het, aan jou gedoen het.
22 Sewentig siele sterk het jou vaders na Egipte afgetrek, maar nou het YAHUVEH
jou ELOHIM jou gemaak soos die sterre van die hemel in menigte.
*~Deuteronomium Hoofstuk 11~*
1 Daarom moet jy YAHUVEH jou ELOHIM liefhê en altyd sy ordening, sy insettinge
sowel as sy verordeninge en sy gebooie onderhou.
2 En julle moet vandag weet dat ek nie spreek tot julle kinders wat die
onderwysing van YAHUVEH julle ELOHIM nie geweet en nie gesien het nie: sy
grootheid, sy sterke hand en sy uitgestrekte arm
3 en sy tekens en sy dade wat Hy in Egipte gedoen het aan Farao, die koning van
Egipte, en aan sy hele land;
4 en wat Hy gedoen het aan die leër van Egipte, aan sy perde en aan sy
strydwaens waaroor Hy die waters van die Skelfsee laat aanstroom het toe hulle
julle agtervolg het, sodat YAHUVEH hulle omgebring het tot vandag toe;
5 en wat Hy vir julle in die woestyn gedoen het tot julle aankoms op hierdie
plek;
6 en wat Hy aan Datan en Abíram, die seuns van Elíab, die seun van Ruben, gedoen
het—hoe die aarde sy mond oopgemaak en hulle saam met hul huisgesinne en hul
tente en al die lewende wesens agter hulle aan, onder die hele Israel verslind
het;
7 maar julle eie oë het gesien al die groot werke wat YAHUVEH gedoen het.
8 Onderhou dan al die gebooie wat ek jou vandag beveel, dat julle sterk kan wees
en inkom en die land in besit neem waarheen julle oortrek om dit in besit te
neem,
9 en dat julle die dae kan verleng in die land wat YAHUVEH aan julle vaders met
‘n eed beloof het om aan hulle en hul nageslag te gee, ‘n land wat oorloop van
melk en heuning.
10 Want die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, is nie soos
Egipteland waar julle uitgetrek het, wat jy met jou saad besaai en met jou voet,
soos ‘n groentetuin, natgelei het nie.
11 Maar die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is ‘n land van
berge en laagtes wat van die reën van die hemel water drink;
12 ‘n land waar YAHUVEH jou ELOHIM voor sorg; die oë van YAHUVEH jou ELOHIM is
altyddeur daarop, van die begin van die jaar tot die einde van die jaar.
13 As julle dan goed luister na my gebooie wat Ek julle vandag beveel, om
YAHUVEH julle ELOHIM lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en met julle
hele siel,
14 dan sal Ek die reën van julle land gee op die regte tyd, vroeë reëns en laat
reëns, sodat jy jou koring en jou mos en jou olie kan insamel.
15 En Ek sal plante gee op jou veld vir jou vee, en jy sal eet en versadig word.
16 Neem julle in ag dat julle hart nie verlei word nie, sodat julle afwyk en
ander gode dien en voor hulle neerbuig,
17 en die toorn van YAHUVEH teen julle ontvlam en Hy die hemel toesluit, sodat
daar geen reën is en die aarde sy opbrings nie gee nie, en julle gou uit die
goeie land omkom wat YAHUVEH julle gee.
18 Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit
as ‘n teken op julle hand en laat dit as ‘n voorhoofsband tussen julle oë wees,
19 en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en
as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan;
20 en skryf dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte,
21 sodat julle dae en die dae van julle kinders in die land wat YAHUVEH aan
julle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee, kan vermenigvuldig soos
die dae van die hemel bo-oor die aarde.
22 Want as julle ywerig al hierdie gebooie hou wat ek julle beveel, om dit te
doen deur YAHUVEH julle ELOHIM lief te hê, in al sy weë te wandel en Hom aan te
hang,
23 dan sal YAHUVEH al hierdie nasies voor julle uit verdrywe, en julle sal
groter en magtiger nasies as julle uit hulle besitting verdrywe.
24 Elke plek waar julle voetsool op trap, sal aan julle behoort; van die woestyn
en die Líbanon, van die rivier, die Eufraatrivier, tot by die Westelike See sal
julle grondgebied wees.
25 Niemand sal teen julle standhou nie; YAHUVEH julle ELOHIM sal die skrik en
vrees vir julle oor die hele land laat kom waarop julle sal loop, soos Hy julle
beloof het.