14
22 Jy moet noukeurig die hele opbrings van jou saad—wat jaar vir jaar uit die
land uitspruit—vertien.
23 En jy moet voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM op die plek wat Hy sal
uitkies om sy Naam daar te laat woon, die tiendes eet van jou koring, van jou
mos en van jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en van jou kleinvee, dat
jy kan leer om YAHUVEH jou ELOHIM altyd te vrees.
24 En as die pad vir jou te lank is, as jy dit nie kan vervoer nie, omdat die
plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te vestig, te ver van
jou af is, as YAHUVEH jou ELOHIM jou sal seën,
25 dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek
gaan wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies.
26 Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en
kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy
moet daar eet voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM en vrolik wees, jy en jou
huis.
27 Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie,
want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.
28 Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings
in dié jaar en dit in jou poorte wegsit;
29 dan moet die Leviet kom—omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie—en
die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet
eet en versadig word, sodat YAHUVEH jou ELOHIM jou kan seën in al die werk van
jou hand wat jy doen.
*~Deuteronomium Hoofstuk 15~*
1 Aan die einde van sewe jaar moet jy ‘n kwytskelding (sh'mittah) laat plaasvind.
2 En dit is die saak van die kwytskelding (sh'mittah): elke skuldeiser moet
kwytskeld wat hy aan sy naaste geleen het; hy moet sy naaste en sy broer nie
aanmaan nie, want tot eer van YAHUVEH is daar ‘n kwytskelding uitgeroep.
3 Die uitlander mag jy aanmaan; maar wat jy by jou broer het, moet jou hand
kwytskeld.
4 Maar daar moet geen arme by jou wees nie, want YAHUVEH sal jou ryklik seën in
die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem;
5 as jy net goed luister na die stem van YAHUVEH jou ELOHIM om sorgvuldig te hou
al hierdie gebooie wat ek jou vandag beveel.
6 Want YAHUVEH jou ELOHIM seën jou soos Hy jou beloof het, sodat jy aan baie
nasies sal uitleen, maar self nie hoef te leen nie; en jy sal oor baie nasies
heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie.
7 As daar by jou ‘n arme is, een uit jou broers, in een van jou poorte, in jou
land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, dan moet jy jou hart nie verhard en jou
hand nie toehou vir jou arm broer nie.
8 Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen,
genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek.
9 Neem jou in ag, dat daar in jou hart geen slegte gedagte is nie, naamlik: Die
sewende jaar, die jaar van kwytskelding (sh'mittah), is naby—en jou oog dan jou
arm broer skeef aankyk, en jy hom niks gee nie, en hy teen jou na YAHUVEH roep,
en dit sonde in jou word.
10 Jy moet aan hom gewillig gee, en jou hart moet nie bedroef wees as jy aan hom
gee nie; want ter wille hiervan sal YAHUVEH jou ELOHIM jou seën in al jou werk
en in alles waar jy jou hand aan slaan.
11 Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê:
Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou
land.
12 As jou broer, ‘n Hebreeuse man of ‘n Hebreeuse vrou, hom aan jou verkoop,
moet hy jou ses jaar lank dien; maar in die sewende jaar moet jy hom as vryman
van jou laat weggaan.
13 En as jy hom as vryman van jou laat weggaan, moet jy hom nie met leë hande
laat weggaan nie.
14 Jy moet hom ‘n behoorlike voorraad saamgee van jou kleinvee en jou dorsvloer
en jou wyn pers; waarin YAHUVEH jou ELOHIM jou geseën het, daarvan moet jy aan
hom gee.
15 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipteland was, en dat YAHUVEH jou
ELOHIM jou verlos het; daarom beveel ek jou vandag hierdie saak.
16 Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie—aangesien hy jou en jou
huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou—
17 dan moet jy ‘n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir
altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen.
18 Dit moet nie hard in jou oë wees as jy hom as vry man van jou laat weggaan
nie, want die dubbele loon van ‘n dagloner het hy vir jou ses jaar lank ingedien;
en YAHUVEH jou ELOHIM sal jou seën in alles wat jy doen.
19 Al die eersgeborenes van die manlike geslag wat onder jou beeste en onder jou
kleinvee aankom, moet jy aan YAHUVEH jou ELOHIM heilig; jy mag nie werk met die
eersgeborene van jou beeste, en die eersgeborene van jou kleinvee nie skeer nie.
20 Voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM moet jy dit jaar vir jaar eet op die
plek wat YAHUVEH sal uitkies, jy en jou huis.
21 Maar as daar ‘n liggaamsgebrek aan is—lam of blind, enige lelike gebrek—dan
moet jy dit nie aan YAHUVEH jou ELOHIM offer nie;
22 in jou poorte mag jy dit eet, die onreine en die reine saam, soos die gemsbok
en die takbok.
23 Net die bloed mag jy nie eet nie; jy moet dit op die grond uitgooi soos
water.
*~Deuteronomium Hoofstuk 16~*
1 Onderhou die maand Abib en hou pasga vir YAHUVEH jou ELOHIM; want in die maand
Abib het YAHUVEH jou ELOHIM jou in die nag uit Egipte uitgelei.
2 En jy moet vir YAHUVEH jou ELOHIM as pasga kleinvee en beeste slag, op die
plek wat YAHUVEH sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
3 Jy mag geen gesuurde brood daarby eet nie; sewe dae lank moet jy ongesuurde
brode (matzah) daarby eet, brood van ellende—want baie haastig het jy uit
Egipteland uitgetrek—sodat jy al die dae van jou lewe die dag van jou uittog uit
Egipteland in gedagtenis kan hou.
4 En daar mag by jou sewe dae lank geen suurdeeg in jou hele grondgebied gesien
word nie; ook mag niks van die vleis wat jy die eerste dag in die aand slag, tot
die môre toe oorbly nie.
5 Jy mag die pasga nie slag in een van jou poorte wat YAHUVEH jou ELOHIM aan jou
gee nie.
6 Maar op die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te laat
woon, moet jy die pasga slag, in die aand teen sononder, op die tyd van jou
uittog uit Egipte.
7 Dan moet jy dit kook en eet op die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies;
daarna moet jy in die môre omdraai en na jou tente gaan.
8 Ses dae lank moet jy ongesuurde brode (matzah) eet, en op die sewende dag is
daar ‘n feestyd vir YAHUVEH jou ELOHIM; dan mag jy geen werk doen nie.
9 Sewe weke moet jy tel; vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan
geslaan word, moet jy sewe weke begin tel.
10 Dan moet jy die Fees van die Weke (Shavu'ot) hou vir YAHUVEH jou ELOHIM
ooreenkomstig die vrywillige offer van jou hand wat jy sal gee, namate YAHUVEH
jou ELOHIM jou sal seën.
11 En jy moet vrolik wees voor die aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM, jy en jou
seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte
is, en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat by jou is, op die plek wat
YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies om sy Naam daar te laat woon.
12 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf in Egipte was; en jy moet hierdie
insettinge sorgvuldig hou.
13 Die Huttefees (Fees van Sukkot) moet jy sewe dae lank hou as jy van jou
dorsvloer en jou wynpers insameling hou.
14 En jy moet vrolik wees op jou fees, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf
en jou slavin en die Leviet en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in
jou poorte is.
15 Sewe dae lank moet jy vir YAHUVEH jou ELOHIM fees hou op die plek wat YAHUVEH
sal uitkies; want YAHUVEH jou ELOHIM sal jou seën in al jou inkomste en in al
die werk van jou hande; en jy moet net maar vrolik wees.
16 Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van YAHUVEH jou
ELOHIM verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die Fees van die Ongesuurde
Brode (Fees van Matzah) en op die Fees van die Weke (Fees van Shavu'ot) en op
die Huttefees (Fees van Sukkot); en hulle mag nie met leë hande voor die
aangesig van YAHUVEH verskyn nie;
17 elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van YAHUVEH jou
ELOHIM wat Hy jou gegee het.
Numeri 29:35-30:1
35 Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n feestyd wees; géén beroepswerk mag
julle doen nie.
36 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH
bring: een bul, een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek;
37 hulle spysoffer en hulle drankoffers vir die bul, die ram en die lammers, na
hulle getal, volgens die voorskrif;
38 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, en die
spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.
39 Dit moet julle tot eer van YAHUVEH op jul feestye berei, behalwe julle
geloftes en julle vrywillige gawes, of dit al brandoffers is of spysoffers of
drankoffers of dankoffers.
40 En Moses het aan die kinders van Israel alles gesê net soos YAHUVEH Moses
beveel het.
*~Numeri Hoofstuk 30~*
1 En Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê:
Dit is die saak wat YAHUVEH beveel het: