Shabbat Shalom!
Sukkot / Fees Van Hutte
- hierdie week se Torah lees.


Levitikus 22:26–23:44

22

26 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
27 As ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok aankom, moet dit sewe dae lank onder sy moeder bly; maar van die agtste dag af en verder sal dit met welgevalle aangeneem word as ‘n vuuroffergawe aan YAHUVEH.
28 ‘n Bees of stuk kleinvee mag julle ook nie saam met sy kleintjie op een dag slag nie.
29 En as julle ‘n lofoffer aan YAHUVEH bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind.
30 Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is YAHUVEH.
31 Hou dan my gebooie en doen dit. Ek is YAHUVEH.
32 En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is YAHUVEH wat julle heilig,
33 wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n ELOHIM te wees. Ek is YAHUVEH.

*~Levitikus Hoofstuk 23~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van YAHUVEH wat julle moet uitroep as heilige samekomste dit is my feestye.
3 Ses dae lank kan werk gedoen word, maar op die sewende dag is dit ‘n dag van volkome rus, ‘n heilige vierdag; géén werk mag julle doen nie dit is ‘n sabbat van YAHUVEH in al julle woonplekke.
4 Dit is die feestye van YAHUVEH, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd.
5 In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van YAHUVEH;
6 en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van YAHUVEH; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.
7 Op die eerste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
8 Maar julle moet sewe dae lank aan YAHUVEH ‘n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
9 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
10 Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.
11 En hy moet die gerf voor die aangesig van YAHUVEH beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.
12 Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, ‘n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan YAHUVEH berei,
13 en die spysoffer wat daarby behoort, twee tiendes van ‘n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan YAHUVEH, ‘n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, ‘n kwart hin.
14 En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle ELOHIM bring. Dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.
15 Dan moet julle tel van die dag ná die Sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring sewe volle weke moet dit wees;
16 tot die dag ná die sewende Sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan YAHUVEH bring.
17 Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee tiendes van ‘n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan YAHUVEH.
18 Julle moet ook by die brood sewe jaaroud lammers sonder gebrek en een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet ‘n brandoffer aan YAHUVEH wees saam met die spysoffer en die drankoffers wat daarby behoort as vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH.
19 En julle moet een bokram as sondoffer berei. Ook twee jaaroud lammers as dankoffer,
20 en die priester moet hulle saam met die eerstelingsbrood as beweegoffer voor die aangesig van YAHUVEH beweeg saam met die twee lammers; dié moet aan YAHUVEH heilig wees, ten voordele van die priester.
21 En julle moet op daardie selfde dag uitroep: ‘n heilige vierdag moet dit vir julle wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Dit is ‘n ewige insetting in al julle woonplekke vir julle geslagte.
22 En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is YAHUVEH julle ELOHIM.
23 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
24 Spreek met die kinders van Israel en sê: In die sewende maand, op die eerste van die maand, moet dit vir julle ‘n rusdag wees, ‘n gedenkdag deur basuingeklank, ‘n Heilige vierdag.
25 Géén beroepswerk mag julle doen nie; maar julle moet aan YAHUVEH ‘n vuuroffer bring.
26 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
27 Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan YAHUVEH ‘n vuuroffer bring. (Jes 58:3,5)
28 En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ‘n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van YAHUVEH julle ELOHIM.
29 Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
30 Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit.
31 Julle mag géén werk doen nie; dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.
32 ‘n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Op die negende van die maand in die aand, van aand tot aand, moet julle jul sabbat hou.
33 En YAHUVEH het met Moses gespreek en gesê:
34 Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir YAHUVEH.
35 Op die eerste dag moet daar ‘n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.
36 Sewe dae lank moet julle aan YAHUVEH ‘n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ‘n heilige vierdag wees, en julle moet aan YAHUVEH ‘n vuuroffer bring. Dit is ‘n feestyd; julle mag geen beroepswerk doen nie.
37 Dit is die feestye van YAHUVEH wat julle moet uitroep as heilige vierdae om aan YAHUVEH ‘n vuuroffer te bring: ‘n brandoffer en spysoffer, ‘n slagoffer en drankoffers soos vir elke dag voorgeskrywe;
38 behalwe die Sabbatte van YAHUVEH en behalwe julle gawes en behalwe al julle geloftes en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan YAHUVEH gee.
39 Maar op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrings van die land insamel, moet julle die fees van YAHUVEH sewe dae lank vier; op die eerste dag is dit rusdag, en op die agtste dag is dit rusdag. (Ex 23:16)
40 En op die eerste dag moet julle vir julle vrugte neem van sierlike bome, met palmtakke en takke van digte bome en rivierwilgers, en sewe dae lank voor die aangesig van YAHUVEH julle ELOHIM vrolik wees.
41 En julle moet dit as fees van YAHUVEH sewe dae in die jaar vier. Dit is ‘n ewige insetting vir julle geslagte. In die sewende maand moet julle dit vier.
42 Sewe dae lank moet julle in hutte woon; almal wat in Israel gebore is, moet in hutte woon, (Sukkahs)
43 sodat julle geslagte kan weet dat Ek die kinders van Israel in hutte laat woon het toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het. Ek is YAHUVEH julle ELOHIM.
44 So het Moses dan die feestye van YAHUVEH aan die kinders van Israel bekend gemaak.

Numeri 29:12-16

12 En op die vyftiende dag van die sewende maand moet daar vir julle ‘n heilige samekoms wees; géén beroepswerk mag julle doen nie, maar julle moet sewe dae lank vir YAHUVEH ‘n fees vier.
13 En julle moet as brandoffer, as vuuroffer van lieflike geur aan YAHUVEH bring: dertien jong bulle, twee ramme, veertien jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle wees;
14 en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul van die dertien bulle, twee-tiendes vir elke ram van die twee ramme,
15 en een-tiende vir elke lam van die veertien lammers;
16 en een bokram as sondoffer, behalwe die voortdurende brandoffer, die spysoffer en die drankoffer wat daarby behoort.