Shabbat Shalom!
Yitro / Jethro
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jesaja 6:1-7:6, 9:5-6;

6

1 In die sterfjaar van koning Ussía het ek YAHUVEH sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl SY Some die Tempel gevul het.
2 Serafs het bo HOM gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is YAHUVEH van die Leërskare. Die hele aarde is van SY Heerlikheid vol!
4 En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.
5 Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, YAHUVEH van die Leërskare, gesien!
6 Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool in sy hand, wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het,
7 en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.
8 Daarop hoor ek die stem van YAHUVEH wat sê: Wie sal EK stuur? En wie sal vir ONS gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.
9 En HY het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie.
10 Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie. (Mat 13:13-15)
11 Toe sê ek: Hoe lank, YAHUVEH? En HY antwoord: Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot ‘n wildernis,
12 en YAHUVEH die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die land.
13 En as nog ‘n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar soos by die terpentynboom en die eikeboom—as hulle omgekap word—’n stomp oorbly, so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.

*~ Jesaja Hoofstuk 7 ~*


1 En in die dae van Agas, die seun van Jotam, die seun van Ussía, die koning van Juda, het Resin, die koning van Aram, met Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem om daarteen oorlog te voer; maar hy kon nie daarteen veg nie.
2 Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! —het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.
3 En YAHUVEH het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,
4 en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie—weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália;
5 omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê:
6 Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak.

*~ Jesaja Hoofstuk 9 ~*

5 (9:4) Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is, dien tot verbranding, ‘n prooi van die vuur.
6 (9:5) Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die Heerskappy is op SY Skouer, en HY word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke EL, Ewige Vader, Vredevors—

Mattheus 19:16-26;

16 En daar kom een na HOM en sê vir HOM: Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?
17 En HY sê vir hom: Waarom noem jy MY goed? Niemand is goed nie, behalwe een, naamlik YAHUVEH. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.
18 Hy vra HOM: Watter? En YAHUSHUA sê—dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie;
19 eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (Ex 20:12-16; Lev 19:18; Deut 5:16-20)
20 Die jongman sê vir HOM: Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?
21 YAHUSHUA antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg MY.
22 Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.
23 En YAHUSHUA sê vir SY dissipels: Voorwaar EK sê vir julle dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van die hemele sal ingaan.
24 En verder sê EK vir julle, dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van ELOHIM in te gaan.
25 Toe SY dissipels dit hoor, was hulle baie verslae en sê: Wie kan dan gered word?
26 Maar YAHUSHUA het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by YAHUVEH is alle dinge moontlik.