Shabbat Shalom!
Matot Masei / Stamme Reise
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Jeremia 2:4-28; 4:1-2;

2

4 Hoor die woord van YAHUVEH, huis van Jakob, en alle geslagte van die huis van Israel!
5 So sê YAHUVEH: Watter onreg het julle vaders in MY gevind, dat hulle ver van MY afgewyk en agter nietige afgode aan geloop het en self nietig geword het?
6 En hulle het nie gesê nie: Waar is YAHUVEH wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons in die woestyn gelei het, in ‘n land van wildernis en kuile, in ‘n land van droogte en doodskaduwee, in ‘n land waar niemand deurtrek en waar geen mens woon nie?
7 En EK het julle gebring in ‘n land van tuine, om die vrugte en die goeie daarvan te eet; maar toe julle inkom, het julle MY land verontreinig en MY erfenis ‘n gruwel gemaak.
8 Die priesters het nie gesê: Waar is YAHUVEH nie? En die wat die wet handhaaf, het MY nie geken nie; en die vorste het teen MY oortree, en die profete het geprofeteer deur Baäl en agter dinge aan geloop wat geen voordeel bring nie.
9 Daarom sal EK nog met julle twis, spreek YAHUVEH; en met julle kindskinders sal EK twis.
10 Want gaan oor na die eilande van die Kittiërs, en kyk; en stuur na Kedar, en gee daar goed ag op; en kyk of so iets gebeur het:
11 of ‘n nasie sy gode verruil—wat nie eers gode is nie. Maar MY volk het sy heerlikheid verruil vir wat geen voordeel bring nie.
12 Verbaas julle hieroor, o hemele, en huiwer, verstyf heeltemal van skrik, spreek YAHUVEH.
13 Want MY volk het twee verkeerde dinge gedoen: MY, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.
14 Is Israel ‘n dienskneg? Of is hy ‘n bediende wat in die huis gebore is? Waarom het hy dan ‘n buit geword?
15 Die jong leeus het oor hom gebrul, hulle het hul stem laat hoor en van sy land ‘n woesteny gemaak; sy stede is verwoes, sonder inwoner.
16 Ook skeer die kinders van Nof en Tágpanhes jou die hoofskedel kaal.
17 Het jou verlating van YAHUVEH jou ELOHIM in die tyd toe HY jou op die pad gelei het, jou dit nie berokken nie?
18 Wat het jy dan nou te doen met die pad na Egipte, om die water van die Nyl te drink? En wat het jy te doen met die pad na Assur, om die waters van die Eufraat te drink?
19 Jou eie boosheid sal jou tugtig, en jou afkerighede sal jou straf; weet dan en sien dat dit verkeerd en bitter is dat jy YAHUVEH jou ELOHIM verlaat het, en dat MY vrees nie by jou is nie, spreek die Here, YAHUVEH van die Leërskare.
20 Want van ouds af het jy jou juk verbreek, jou stroppe stukkend geruk. En jy het gesê: Ek sal nie dien nie; want op elke hoë heuwel en onder elke groen boom gaan jy lê om te hoereer.
21 Nogtans het EK jou geplant as ‘n edele wingerdstok, as heeltemal egte saad; maar hoe is jy vir MY verander in wilde lote van ‘n vreemde wingerdstok!
22 Want al sou jy jou was met loog en baie seep vir jou neem, tog bly jou ongeregtigheid ‘n vlek voor MY aangesig, spreek die Here YAHUVEH.
23 Hoe kan jy sê: Ek is nie verontreinig nie; ek het nie agter die Baäls aan geloop nie? Kyk jou weg in die dal; weet wat jy gedoen het, jou vinnige jong kameelkoei wat rond hardloop!
24 ‘n Wilde-eselin, gewend aan die woestyn, wat in haar heftige begeerte die wind opsnuiwe—haar hittigheid, wie sal dit keer? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie; in haar maand sal hulle haar kry.
25 Hou jou voet terug, dat dit sy skoen nie verloor nie; en jou keel, dat dit nie dors word nie. Maar jy sê: Dit is tevergeefs, nee; want ek het vreemdes lief en sal agter hulle aan loop.
26 Soos ‘n dief in die skande kom as hy uitgevind word, so het die huis van Israel in die skande gekom; hulle, hulle konings, hulle vorste en hulle priesters en hulle profete,
27 wat vir ‘n stuk hout sê: Jy is my vader; en vir ‘n klip: Jy het my gebaar. Want hulle het MY die rug toegekeer en nie die aangesig nie. Maar in die tyd van hulle onheil sê hulle: Staan op en verlos ons!
28 Waar is dan jou gode wat jy vir jou gemaak het? Laat hulle opstaan as hulle jou kan verlos in die tyd van jou onheil; want volgens die getal van jou stede is jou gode, o Juda!

*~ Jeremia Hoofstuk 4 ~*


1 As jy jou bekeer, Israel, spreek YAHUVEH, bekeer jou tot MY; en as jy jou verfoeisels van MY aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.
2 Dan sal jy sweer: So waar as YAHUVEH leef! in waarheid, in reg en in geregtigheid; en die nasies sal hulleself in HOM seën en hulle in HOM beroem.

Mattheus 23:1-25:46;

1 Toe het YAHUSHUA die skare en SY dissipels toegespreek
2 en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses.
3 Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.
4 Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.
5 En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.
6 En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges
7 en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!
8 Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.
9 En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want Een is julle Vader, HY wat in die hemele is.
10 Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want Een is julle Leermeester: Christus.
11 Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.
12 Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.
13 Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.
14 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang.
15 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.
16 Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.
17 Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?
18 En: Elkeen wat sweer by die altaar—dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde.
19 Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?
20 Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is;
21 en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by HOM wat daarin woon;
22 en wie sweer by die Hemel, sweer by die troon van YAHUVEH en by HOM wat daarop sit.
23 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.
24 Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!
25 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.
26 Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.
27 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.
28 So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.
29 Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;
30 en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.
31 Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.
32 Maak die maat van julle vaders dan vol!
33 Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?
34 Daarom, kyk, EK stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,
35 sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.
36 Voorwaar EK sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.
37 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou EK jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!
38 Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!
39 Want EK sê vir julle: Julle sal MY van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is HY wat kom in die Naam van YAHUVEH!

*~ Mattheus Hoofstuk 24 ~*


1 En YAHUSHUA het uitgegaan en van die tempel vertrek, en SY dissipels het nader gekom om HOM die geboue van die tempel te wys.
2 En YAHUSHUA sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar EK sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
3 En toe HY op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na HOM en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van U Koms en van die voleinding van die wêreld?
4 En YAHUSHUA antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
5 Want baie sal onder MY Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.
6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.
7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.
8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.
9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van MY Naam.
10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.
11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.
13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
14 En hierdie evangelie van die Koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.
15 Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom—laat hy wat lees, oplet—
16 dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;
17 wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie;
18 en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.
19 Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.
20 En bid dat julle vlug nie in die winter of op die Sabbat mag plaasvind nie.
21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.
22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.
23 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie.
24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.
25 Kyk, EK het dit vir julle vooruit gesê.
26 As hulle dan vir julle sê: Kyk, HY is in die woestyn—moenie uitgaan nie; kyk, HY is in die binnekamer—moet dit nie glo nie.
27 Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die Koms van die SEUN VAN YAHUVEH wees.
28 Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.
29 En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.
30 En dan sal die teken van die SEUN VAN YAHUVEH in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die SEUN VAN YAHUVEH sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.
31 En HY sal SY engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal SY uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.
32 En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.
33 So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.
34 Voorwaar EK sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.
35 Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar MY Woorde sal nooit verbygaan nie.
36 Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die Hemele nie, maar net MY Vader alleen.
37 En net soos die dae van Noag was, so sal ook die Koms van die SEUN VAN YAHUVEH wees.
38 Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,
39 en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die Koms van die SEUN VAN YAHUVEH wees.
40 Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
41 Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.
42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
43 Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
44 Daarom moet julle ook gereed wees, want die SEUN VAN YAHUVEH kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.
45 Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?
46 Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind.
47 Voorwaar EK sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.
48 Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom—
49 en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink,
50 dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie;
51 en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

*~ Mattheus Hoofstuk 25 ~*


1 Dan sal die Koninkryk van die Hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.
2 En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas.
3 En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie.
4 Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem.
5 En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.
6 En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!
7 Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed.
8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.
9 Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.
10 En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.
11 Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!
12 Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.
13 Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die SEUN VAN YAHUVEH kom nie.
14 Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou.
15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; en hy het dadelik op reis gegaan.
16 En die een wat die vyf talente ontvang het, het daarmee gaan werk en vyf ander talente gewin.
17 Net so het die een wat die twee ontvang het, self ook twee ander verdien.
18 Maar hy wat die een ontvang het, het in die grond gaan grawe en die geld van sy heer weggesteek.
19 En ná ‘n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en met hulle afgereken.
20 En die een wat die vyf talente ontvang het, kom en bring vyf ander talente en sê: Meneer, vyf talente het u aan my toevertrou; hier het ek vyf ander talente daarby verdien.
21 En sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
22 En die een wat die twee talente ontvang het, kom ook en sê: Meneer, twee talente het u aan my toevertrou; hier het ek twee ander talente daarby verdien.
23 Sy heer sê vir hom: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.
24 En die een wat die een talent ontvang het, kom ook en sê: Meneer, ek het u geken, dat u ‘n harde man is wat maai waar u nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar u nie uitgestrooi het nie;
25 omdat ek bang was, het ek gegaan en u talent in die grond weggesteek. Hier het u wat aan u behoort.
26 Maar sy heer antwoord en sê vir hom: Jou slegte en luie dienskneg, jy het geweet dat ek maai waar ek nie gesaai het nie, en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie.
27 Daarom moes jy my geld by die wisselaars gestort het, en ek sou by my koms wat aan my behoort, met rente ontvang het.
28 Neem dan die talent van hom weg en gee dit aan die een wat die tien talente het;
29 want aan elkeen wat het, sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.
30 En werp die nuttelose dienskneg uit in die buitenste duisternis; daar sal geween wees en gekners van die tande.
31 En wanneer die SEUN VAN YAHUVEH in SY Heerlikheid kom en al die heilige engele saam met HOM, dan sal HY op SY heerlike troon sit;
32 en voor HOM sal al die nasies versamel word, en HY sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei;
33 en HY sal die skape aan SY regterhand en die bokke aan SY linkerhand sit.
34 Dan sal die Koning vir die wat aan SY regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van MY Vader, beërf die Koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
35 Want EK het honger gehad, en julle het MY te ete gegee; EK het dors gehad, en julle het MY te drinke gegee; EK was ‘n vreemdeling, en julle het MY herberg gegee;
36 EK was naak, en julle het MY geklee; EK was siek, en julle het MY besoek; in die gevangenis was EK, en julle het na MY gekom.
37 Dan sal die regverdiges HOM antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
38 En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee?
39 En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
40 En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar EK sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van MY, het julle dit aan MY gedoen.
41 Dan sal HY ook vir dié aan SY linkerhand sê: Gaan weg van MY, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
42 Want EK het honger gehad, en julle het MY nie te ete gegee nie; EK het dors gehad, en julle het MY nie te drinke gegee nie.
43 EK was ‘n vreemdeling, en julle het vir MY nie herberg gegee nie; naak, en julle het MY nie geklee nie; siek en in die gevangenis, en julle het MY nie besoek nie.
44 Dan sal hulle HOM ook antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien of dors of ‘n vreemdeling of naak of siek of in die gevangenis, en U nie gedien nie?
45 Dan sal HY hulle antwoord en sê: Voorwaar EK sê vir julle, vir sover julle dit nie gedoen het aan een van hierdie geringstes nie, het julle dit aan MY ook nie gedoen nie.
46 En hulle sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.