Shabbat Shalom!
ACHAREI MOT – Na Dood / Kedoshim
- hierdie week se Torah lees.


Levitikus 16:1-18:30

16

1 En YAHUVEH het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van YAHUVEH nader gekom het;
2 en YAHUVEH het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die Heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want EK verskyn in die wolk op die versoendeksel.
3 Hiermee moet Aäron in die Heiligdom ingaan: met ‘n jong bul as sondoffer en ‘n ram as brandoffer.
4 Hy moet ‘n heilige linnerok aantrek en ‘n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ‘n linnegordel moet hy hom gord en ‘n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.
5 En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem.
6 Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en sy huis versoening doen.
7 Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van YAHUVEH stel by die ingang van die Tent van Samekoms.
8 En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir YAHUVEH en een lot vir Asásel.
9 Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir YAHUVEH op gekom het en hom as sondoffer berei;
10 maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van YAHUVEH gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.
11 Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is,
12 en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van YAHUVEH wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring.
13 En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van YAHUVEH, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie.
14 En hy moet van die bloed van die bul neem en dit met sy vinger op die versoendeksel aan die oostekant sprinkel; en voor die versoendeksel moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel.
15 Dan moet hy die sondofferbok slag wat vir die volk bedoel is, en sy bloed binnekant die voorhangsel bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die versoendeksel en voor die versoendeksel.
16 So moet hy dan vir die Heiligdom versoening doen vanweë die onreinhede van die kinders van Israel en vanweë hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; so moet hy dit ook doen vir die Tent van Samekoms wat by hulle te midde van hulle onreinhede woon.
17 En niemand mag in die Tent van Samekoms wees as hy ingaan om in die Heiligdom versoening te doen totdat hy uitkom nie en versoening gedoen het vir hom en vir sy huis en vir die hele vergadering van Israel.
18 Dan moet hy na die altaar uitgaan wat voor die aangesig van YAHUVEH is en daarvoor versoening doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok neem en dit rondom aan die horings van die altaar stryk
19 en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel. So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinhede van die kinders van Israel.
20 En as hy die versoening van die Heiligdom en die Tent van Samekoms en die altaar voleindig het, moet hy die lewendige bok laat aankom;
21 en Aäron moet sy twee hande op die kop van die lewendige bok lê en oor hom belydenis doen van al die ongeregtighede van die kinders van Israel en al hulle oortredinge, wat hulle sondes ook al mag wees; en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur ‘n man wat gereed staan, na die woestyn toe stuur.
22 So moet die bok dan op hom al hulle ongeregtighede na ‘n woeste land wegdra; en hy moet die bok in die woestyn los.
23 Dan moet Aäron in die Tent van Samekoms ingaan en die linneklere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die Heiligdom ingegaan het, en dit daar neerlê.
24 En hy moet sy liggaam op ‘n heilige plek in die water bad en sy klere aantrek. Dan moet hy uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk berei, om vir hom en vir die volk versoening te doen.
25 Ook moet hy die vet van die sondoffer op die altaar aan die brand steek.
26 En hy wat die bok vir Asásel weggedrywe het, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.
27 Maar die sondofferbul en die sondofferbok waarvan die bloed ingebring is om versoening te doen in die Heiligdom, moet hulle buitekant die laer uitbring; en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.
28 En hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in die water bad; en daarna mag hy in die laer kom.
29 En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.
30 Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van YAHUVEH rein word.
31 ‘n Dag van volkome rus (Shabbat) moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is ‘n ewige insetting.
32 En die priester wat gesalf en aangestel sal word om in die plek van sy vader die priesteramp te bedien, moet die versoening doen; en hy moet die linneklere, die heilige klere, aantrek
33 en versoening doen vir die Allerheiligste; ook moet hy vir die Tent van Samekoms en die altaar versoening doen, en vir die priesters en die hele volk van die vergadering moet hy versoening doen.
34 En dit moet vir julle ‘n ewige insetting wees om vir die kinders van Israel weens al hulle sondes een maal in die jaar versoening te doen. En hy het gedoen soos YAHUVEH Moses beveel het.

*~ Levitikus Hoofstuk 17 ~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met Aäron en sy seuns en met al die kinders van Israel en sê vir hulle: Dit is die saak wat YAHUVEH beveel het:
3 Elkeen uit die huis van Israel wat ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok in die laer slag of dit buitekant die laer slag,
4 en dit nie bring by die ingang van die Tent van Samekoms om aan YAHUVEH ‘n offer voor die tabernakel van YAHUVEH te bring nie as bloedskuld moet dit dié man aangereken word. Hy het bloed vergiet; daarom moet dié man uitgeroei word onder sy volk uit;
5 sodat die kinders van Israel hulle slagoffers wat hulle gewoon was om op die oop veld te offer, aan YAHUVEH by die ingang van die Tent van Samekoms na die priester kan bring en dit as dankoffers aan YAHUVEH kan slag.
6 Dan moet die priester die bloed teen die altaar van YAHUVEH by die ingang van die Tent van Samekoms uitgooi en die vet aan die brand steek as lieflike geur vir YAHUVEH.
7 En hulle mag nie meer hulle slagoffers offer aan die veldduiwels agter wie hulle aan hoereer nie. Dit moet vir hulle ‘n ewige insetting wees vir hulle geslagte.
8 En jy moet vir hulle sê: Elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ‘n brandoffer of ‘n slagoffer bring,
9 en dit nie by die ingang van die Tent van Samekoms bring om dit vir YAHUVEH te berei nie dié man moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
10 En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet teen die een wat die bloed eet, sal EK MY aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.
11 Want die siel van die vlees is in die bloed, en EK het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.
12 Daarom het EK aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.
13 En elkeen uit die kinders van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ‘n stuk wild of ‘n voël vang wat geëet mag word hy moet die bloed daarvan laat uitloop en dit met grond toemaak;
14 want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind. Daarom het EK aan die kinders van Israel gesê: Julle mag die bloed van enige vlees nie eet nie, want die siel van alle vlees is sy bloed; elkeen wat dit eet, moet uitgeroei word.
15 En elkeen wat aas eet of iets wat verskeur is, ‘n kind van die land sowel as ‘n vreemdeling, moet sy klere was en ‘n bad neem, en hy bly tot die aand toe onrein. Dan sal hy rein wees.
16 Maar as hy dit nie was nie en sy liggaam nie bad nie, moet hy sy ongeregtigheid dra.

*~ Levitikus Hoofstuk 18 ~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
3 Volgens die werke van die land van Egipte waar julle in gewoon het, mag julle nie doen nie; en volgens die werke van die land Kanaän waarheen EK julle bring, mag julle nie doen nie, en julle mag in hulle insettinge nie wandel nie.
4 MY verordeninge moet julle doen en MY insettinge hou om daarin te wandel. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
5 Hou dan MY insettinge en MY verordeninge wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. EK is YAHUVEH.
6 Niemand van julle mag naby sy naaste bloedverwant kom om die skaamte te ontbloot nie. EK is YAHUVEH.
7 Jy mag die skaamte van jou vader en die skaamte van jou moeder nie ontbloot nie: sy is jou moeder jy mag haar skaamte nie ontbloot nie.
8 Jy mag die skaamte van die vrou van jou vader nie ontbloot nie; dit is die skaamte van jou vader.
9 Die skaamte van jou suster, die dogter van jou vader of die dogter van jou moeder, in die huis of buitekant gebore haar skaamte mag jy nie ontbloot nie.
10 Die skaamte van jou seun se dogter of van jou dogter se dogter hulle skaamte mag jy nie ontbloot nie; want hulle is jou eie skaamte.
11 Die skaamte van die dogter van jou vader se vrou, wat deur jou vader verwek is sy is jou suster, haar skaamte mag jy nie ontbloot nie.
12 Jy mag die skaamte van jou vader se suster nie ontbloot nie; sy is jou vader se bloedverwant.
13 Jy mag die skaamte van jou moeder se suster nie ontbloot nie, want sy is jou moeder se bloedverwant.
14 Jy mag die skaamte van jou vader se broer nie ontbloot nie: jy mag nie naby sy vrou kom nie; sy is jou tante.
15 Jy mag die skaamte van jou skoondogter nie ontbloot nie; sy is jou seun se vrou: jy mag haar skaamte nie ontbloot nie.
16 Jy mag die skaamte van jou broer se vrou nie ontbloot nie; dit is die skaamte van jou broer.
17 Jy mag die skaamte van ‘n vrou en haar dogter nie ontbloot nie; haar seun se dogter en haar dogter se dogter mag jy nie neem om haar skaamte te ontbloot nie. Hulle is bloedverwante. Bloedskande is dit.
18 Jy mag ook geen vrou by haar suster as mededingster byneem om haar skaamte gelyk met die ander een, terwyl dié nog lewe, te ontbloot nie.
19 Ook mag jy nie naby ‘n vrou kom terwyl sy onrein is deur haar onreinheid, om haar skaamte te ontbloot nie.
20 En jy mag geen vleeslike gemeenskap met jou naaste se vrou hê om jou met haar te verontreinig nie.
21 En van jou kinders mag jy nie gee om vir Molog deur die vuur te laat deurgaan nie, dat jy die Naam van jou ELOHIM nie ontheilig nie. EK is YAHUVEH.
22 Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel.
23 En jy mag met géén dier vleeslike gemeenskap hê om jou daardeur te verontreinig nie. ‘n Vrou mag ook nie voor ‘n dier gaan staan om daarmee te doen te hê nie. Dit is ‘n gruwelike vermenging.
24 Verontreinig julle nie deur al hierdie dinge nie, want deur al hierdie dinge is die heidene verontreinig wat EK voor julle uit verdryf.
25 So het die land dan onrein geword; en EK besoek sy ongeregtigheid daaraan, sodat die land sy inwoners uitspuug.
26 Maar júlle moet MY insettinge en MY verordeninge onderhou en niks van al hierdie gruwels doen nie die kind van die land of die vreemdeling wat onder julle vertoef.
27 Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword.
28 Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was.
29 Want almal wat enigeen van hierdie gruwels doen die siele wat dit doen, moet uitgeroei word onder hulle volk uit.
30 Daarom moet julle MY ordening onderhou om niks te doen van die gruwelike insettinge wat voor julle gedoen is nie, dat julle jul nie daardeur verontreinig nie. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.