Shabbat Shalom!
Shoftim / Rigters
- hierdie week se Torah lees.


Deuteronomium 16:18-21:9;

16

18 Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak.
19 Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het.
20 Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee.
21 Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van YAHUVEH jou ELOHIM wat jy vir jou sal maak nie.
22 Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat YAHUVEH jou ELOHIM haat, oprig nie.

*~ Deuteronomium Hoofstuk 17 ~*


1 Jy mag aan YAHUVEH jou ELOHIM geen bees of stuk kleinvee waaraan ‘n liggaamsgebrek, iets slegs, is, offer nie; want dit is vir YAHUVEH jou ELOHIM ‘n gruwel.
2 As by jou, in een van jou poorte wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, ‘n man of ‘n vrou gevind word wat doen wat verkeerd is in die oë van YAHUVEH jou ELOHIM deur SY verbond te oortree,
3 en ander gode gaan dien en voor hulle neerbuig, en voor die son of die maan of die hele leër van die hemel—wat EK nie beveel het nie—
4 en dit aan jou vertel word, en jy dit hoor, dan moet jy terdeë ondersoek instel, en as dit waarheid is, staan die saak vas, is hierdie gruwel in Israel gedoen,
5 dan moet jy dié man of dié vrou wat hierdie verkeerde ding gedoen het, na jou poorte uitbring—die man of die vrou—en jy moet hulle stenig, dat hulle sterwe.
6 Op die verklaring van twee getuies of drie getuies moet die veroordeelde gedood word; hy mag nie gedood word op die verklaring van een getuie nie.
7 Die hand van die getuies moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
8 As ‘n saak vir jou te swaar is om te beslis oor manslag, oor regsaansprake en oor verwonding—regsake in jou poorte—dan moet jy klaarmaak en opgaan na die plek wat YAHUVEH jou ELOHIM sal uitkies (Jerusalem);
9 en jy moet kom na die Levitiese priesters en na die regter wat daar in dié dae sal wees, en jy moet uitvra; dan sal hulle jou die geregtelike uitspraak te kenne gee.
10 En jy moet handel ooreenkomstig die uitspraak wat hulle jou te kenne sal gee, uit dié plek wat YAHUVEH sal uitkies (Jerusalem); en jy moet sorgvuldig doen net soos hulle jou sal leer.
11 Ooreenkomstig die wet wat hulle jou leer en volgens die regspraak wat hulle jou sê, moet jy handel; jy mag nie regs of links afwyk van die uitspraak wat hulle jou te kenne gee nie.
12 En die man wat vermetel handel, dat hy nie luister na die priester wat staan om daar YAHUVEH jou ELOHIM te dien, of na die regter nie—dié man moet sterwe. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.
13 En die hele volk sal dit hoor en vrees en nie meer vermetel handel nie.
14 As jy kom in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, en dit in besit neem en daarin woon en dan sê: Ek wil ‘n koning oor my aanstel soos al die nasies wat rondom my is,
15 dan moet jy sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat YAHUVEH jou ELOHIM sal verkies; uit die midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.
16 Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien YAHUVEH vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie.
17 Ook mag hy nie baie vroue aanskaf nie, dat sy hart nie afwyk nie; hy mag ook vir hom nie uitermate baie silwer en goud aanskaf nie.
18 En as hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ‘n afskrif van hierdie wet in ‘n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê;
19 en dit moet by hom wees, en hy moet al die dae van sy lewe daarin lees, dat hy kan leer om YAHUVEH sy ELOHIM te vrees deur al die woorde van hierdie wet en hierdie insettinge te hou, om dit te doen;
20 sodat sy hart hom nie verhef oor sy broers nie en hy van die gebod nie regs of links afwyk nie; dat hy die dae kan verleng in sy koninkryk, hy en sy seuns, onder Israel.

*~ Deuteronomium Hoofstuk 18 ~*


1 Die Levitiese priesters, die hele stam van Levi, mag geen deel of erfenis saam met Israel hê nie; van die vuuroffers van YAHUVEH en van SY erfdeel moet hulle eet.
2 En hy mag geen erfdeel hê onder sy broers nie; YAHUVEH is sy erfdeel soos HY hom beloof het.
3 En dit moet die reg van die priesters wees van die kant van die volk, van die wat ‘n slagoffer bring, of dit ‘n bees of ‘n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad en die twee kakebene en die maag gee.
4 Die eerstelinge van jou koring, jou mos en jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee moet jy aan hom gee.
5 Want YAHUVEH jou ELOHIM het hom uit al jou stamme uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van YAHUVEH, hy en sy seuns.
6 En as ‘n Leviet uit een van jou poorte kom, uit die hele Israel waar hy as vreemdeling vertoef, en hy na hartelus kom na die plek wat YAHUVEH sal uitkies,
7 dan moet hy dien in die Naam van YAHUVEH sy ELOHIM soos al sy broers, die Leviete, wat daar voor die aangesig van YAHUVEH staan;
8 ‘n gelyke aandeel moet hulle geniet, behalwe wat hy verkoop volgens familiebesit.
9 As jy kom in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, moet jy nie leer om volgens die gruwels van daardie nasies te doen nie.
10 Daar mag niemand by jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat deurgaan—wat met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie,
11 of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie.
12 Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir YAHUVEH ‘n gruwel; en om hierdie gruwels ontwil verdryf YAUVEH jou ELOHIM hulle voor jou uit.
13 Opreg moet jy wees met YAHUVEH jou ELOHIM.
14 Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, YAHUVEH jou ELOHIM het jou nie so iets toegelaat nie.
15 ‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal YAHUVEH jou ELOHIM vir jou verwek; na HOM moet julle luister—
16 net soos jy van YAHUVEH jou ELOHIM by Horeb gevra het toe jy op die dag van die vergadering gesê het: Ek kan die stem van YAHUVEH my ELOHIM nie langer hoor en hierdie groot vuur nie meer sien nie, anders sterf ek.
17 Toe het YAHUVEH vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het.
18 ‘n Profeet sal EK vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en EK sal MY Woorde in SY mond lê, en HY sal aan hulle sê alles wat EK HOM beveel.
19 En die man wat nie luister na MY Woorde wat HY in MY Naam spreek nie, van hom sal EK self rekenskap afeis.
20 Maar die profeet wat so vermetel is om ‘n woord in MY Naam te spreek wat EK hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.
21 En as jy in jou hart sê: Hoe sal ons die woord weet wat YAHUVEH nie gespreek het nie? —
22 as die profeet in die Naam van YAHUVEH spreek, en wat hy gesê het, gebeur nie en kom nie uit nie, dan is dit die woord wat YAHUVEH nie gespreek het nie; deur vermetelheid het die profeet dit gespreek; jy mag vir hom nie bang wees nie.

*~ Deuteronomium Hoofstuk 19 ~*


1 As YAHUVEH jou ELOHIM die nasies uitroei wie se land YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee, en jy hulle uit hul besitting verdrywe en in hulle stede en in hulle huise woon,
2 dan moet jy vir jou drie stede afsonder in jou land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee om dit in besit te neem.
3 Jy moet vir jou die pad regmaak en jou grondgebied wat YAHUVEH jou ELOHIM jou laat erwe, in drie dele verdeel, sodat elkeen wat ‘n doodslag begaan het, daarheen kan vlug.
4 En dit is die saak van hom wat ‘n doodslag begaan het, wat daarheen vlug, dat hy kan lewe: hy wat sy naaste sonder opset doodslaan, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie;
5 en hy wat saam met sy naaste in die bos gaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap, en die yster glip van die steel af en tref sy naaste, sodat hy sterwe—hy moet in een van hierdie stede vlug om in die lewe te bly;
6 sodat die bloedwreker hom wat ‘n doodslag begaan het, nie agtervolg as sy hart verhit is en hom inhaal—omdat die pad lank is—en hom doodslaan nie, terwyl hy die dood nie verdien het nie, omdat hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie.
7 Daarom gee ek jou bevel en sê: Drie stede moet jy vir jou afsonder.
8 En as YAHUVEH jou ELOHIM jou grondgebied uitbrei, soos HY aan jou vaders met ‘n eed beloof het, en jou die hele land gee wat HY beloof het om aan jou vaders te gee
9 —as jy sorgvuldig al hierdie gebooie hou wat ek jou vandag beveel om dit te doen, om YAHUVEH jou ELOHIM lief te hê en altyd in SY weë te wandel—dan moet jy vir jou nog drie stede by hierdie drie byvoeg,
10 sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee, en bloedskuld op jou kom nie.
11 Maar as iemand sy naaste vyandig is en hom voorlê en teen hom opstaan en hom lewensgevaarlik slaan, sodat hy sterwe, en hy in een van hierdie stede vlug,
12 dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal, en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee, dat hy kan sterwe.
13 Jou oog mag hom nie verskoon nie, maar jy moet die onskuldige bloed uit Israel wegdoen, dat dit met jou goed kan gaan.
14 Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie.
15 Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.
16 As ‘n kwaadwillige getuie teen iemand optree om van ‘n oortreding teen hom te getuig,
17 dan moet die twee manne wat die regsaak het, gaan staan voor die aangesig van YAHUVEH, voor die priesters en die regters wat daar in dié dae sal wees.
18 En die regters moet terdeë ondersoek doen, en is die getuie ‘n valse getuie, het hy vals teen sy broer getuig,
19 dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
20 En die ander moet dit hoor en vrees en nie meer verder by jou so iets verkeerds doen nie.
21 En jou oog mag nie verskoon nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.

*~ Deuteronomium Hoofstuk 20 ~*


1 As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want YAHUVEH jou ELOHIM wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou.
2 En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek;
3 en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie;
4 want dit is YAHUVEH julle ELOHIM wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee.
5 Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat ‘n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie.
6 En wie is die man wat ‘n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie.
7 En wie is die man wat hom met ‘n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie.
8 Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie.
9 En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word.
10 As jy naby ‘n stad kom om daarteen te veg, moet jy dit vrede aanbied.
11 En as dit jou ‘n antwoord van vrede gee en vir jou oopmaak, moet die hele volk wat daarin gevind word, aan jou dienspligtig wees en jou dien.
12 Maar as dit geen vrede met jou sluit nie, maar oorlog teen jou wil voer, moet jy dit beleër.
13 En YAHUVEH jou ELOHIM sal dit in jou hand gee, en jy moet al die manne daarin met die skerpte van die swaard verslaan;
14 net die vroue en die kinders en die vee en alles wat in die stad is—die hele buit moet jy vir jou roof; en jy moet die buit van jou vyande eet wat YAHUVEH jou ELOHIM jou gegee het.
15 So moet jy met al die stede maak wat baie ver van jou af is, wat nie by die stede van hierdie nasies behoort nie.
16 Maar van die stede van hierdie volke wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee, moet jy niks wat asem het, laat lewe nie.
17 Maar jy moet hulle heeltemal met die banvloek tref: die Hetiete en Amoriete, die Kanaäniete en Feresiete, die Hewiete en Jebusiete, soos YAHUVEH jou ELOHIM jou beveel het;
18 sodat hulle julle nie leer om te handel volgens al hulle gruwels wat hulle vir hul gode gedoen het, en julle teen YAHUVEH julle ELOHIM sondig nie.
19 As jy ‘n stad baie lank beleër deur oorlog daarteen te voer om dit te verower, moet jy sy bome nie verwoes deur die byl daarteen te swaai nie; maar jy mag daarvan eet en mag dit nie afkap nie; want is die bome van die veld dan mense, dat hulle deur jou in beleëring moet kom?
20 Net bome waarvan jy weet dat dit geen vrugtebome is nie, dié mag jy verwoes en afkap; en jy moet teen die stad wat teen jou oorlog voer, ‘n skans bou totdat dit val.

*~ Deuteronomium Hoofstuk 21 ~*


1 As hulle in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee om dit in besit te neem, een vind wat dood in die veld lê, sonder dat dit bekend is wie hom gedood het,
2 dan moet jou oudstes en jou regters uitgaan en die afstand meet na die stede wat rondom die een lê wat gedood is.
3 En die stad wat die naaste lê aan hom wat gedood is—die oudstes van dié stad moet ‘n jong koei neem waarmee nie gewerk is nie, wat nie in ‘n juk getrek het nie.
4 En die oudstes van dié stad moet die koei afbring in ‘n dal met standhoudende water waarin nie gewerk of gesaai word nie; en hulle moet daar in die dal die koei se nek breek.
5 Dan moet die priesters, die seuns van Levi, aankom; want YAHUVEH jou ELOHIM het hulle uitverkies om HOM te dien en om in die Naam van YAHUVEH te seën, en volgens hulle uitspraak moet elke saak van twis en verwonding afgehandel word.
6 En al die oudstes van dié stad wat die naaste woon aan hom wat gedood is, moet hulle hande was oor die koei waarvan die nek in die dal gebreek is;
7 en hulle moet verklaar en sê: Ons hande het hierdie bloed nie vergiet nie, en ons oë het dit nie gesien nie.
8 Doen versoening vir U volk Israel wat U, o YAHUVEH, verlos het, en laat geen onskuldige bloed op U volk Israel rus nie, en laat die bloedskuld vir hulle versoen word.
9 En jy sal die onskuldige bloed uit jou midde verwyder as jy doen wat reg is in die oë van YAHUVEH.