Shabbat Shalom!
Bamidbar / In Die Wildernis
- hierdie week se profetiese leeswerk.


Hosea 1:10-2:20;

1

1 Die Woord van YAHUVEH wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel.
2 Die begin van wat YAHUVEH met Hoséa gespreek het; YAHUVEH het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou ‘n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van YAHUVEH afvallig te word.
3 Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom ‘n seun gebaar.
4 En YAHUVEH het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog ‘n klein tydjie, dan sal EK die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en ‘n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel.
5 Ja, in dié dag sal EK die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël.
6 Toe het sy weer swanger geword en ‘n dogter gebaar; en HY het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want EK sal MY verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie.
7 Maar oor die huis van Juda sal EK MY ontferm en hulle verlos deur YAHUVEH hulle ELOHIM, en EK sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie.
8 Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en ‘n seun gebaar.
9 En HY het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie MY volk nie, en EK sal nie julle s’n wees nie.
10 Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie MY volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende EL. (Jes 10:22, Rom 9:25-26)
11 Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël! (Jes 11:11-12, Jer 50:4-5)

*~ Hosea Hoofstuk 2 ~*


1 Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.
2 (2:1) Twis met julle moeder, twis; want sy is nie MY vrou nie, en EK is nie haar man nie, en laat sy haar hoerery van haar aangesig verwyder en haar owerspel van haar borste af weg.
3 (2:2) Anders sal EK haar naak uittrek en haar neersit soos op die dag van haar geboorte en haar maak soos ‘n woestyn, ja, haar stel soos ‘n dor land en haar van dors laat sterwe.
4 (2:3) En EK sal MY oor haar kinders nie ontferm nie, want hulle is kinders uit hoerery gebore.
5 (2:4) Want hulle moeder het in ontug gelewe, sy wat met hulle swanger was, het skandelike dinge gedoen; want sy het gesê: Ek wil my minnaars agternaloop wat my brood en my water, my wol en my vlas, my olie en my drank gee.
6 (2:5) Daarom, kyk, EK sal jou weg met dorings toemaak en om haar ‘n muur bou, sodat sy haar paaie nie sal vind nie.
7 (2:6) En sy sal haar minnaars agternaloop, maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou.
8 (2:7) Ja, sy het nie erken dat EK aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baäl gebruik het.
9 (2:8) Daarom sal EK MY koring terugneem in die oestyd en MY mos op die bepaalde tyd, en wegneem MY wol en MY vlas wat dien om haar naaktheid te bedek.
10 (2:9) EK sal dan nou haar skaamte ontbloot voor die oë van haar minnaars, en niemand sal haar uit MY hand red nie.
11 (2:10) En EK maak ‘n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar Sabbatte, ja, aan al haar feestye.
12 (2:11) En EK sal haar wingerdstok en haar vyeboom verwoes waarvan sy gesê het: Hierdie dinge is my hoereloon wat my minnaars my gegee het; en EK sal dit tot ‘n bos maak, en die wilde diere van die veld sal dit opeet.
13 (2:12) So besoek EK dan aan haar die dae van die Baäls toe sy vir hulle offerrook laat opgaan het en haar met haar neusring en haar halssierade versier en haar minnaars agternageloop het; maar MY het sy vergeet, spreek YAHUVEH.
14 (2:13) Daarom, kyk, EK sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek. (Eseg 20:35)
15 (2:14) Dan sal EK haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ‘n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.
16 (2:15) En in dié dag, spreek YAHUVEH, sal jy MY noem: MY man; en jy sal MY nie meer noem: My Baäl nie.
17 (2:16) Dan verwyder EK die name van die Baäls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.
18 (2:17) Verder sluit EK in dié dag vir hulle ‘n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde; ja, boog en swaard en oorlog sal EK verbreek uit die land, en EK sal hulle in veiligheid laat rus.
19 (2:18) En EK sal MY met jou verloof tot in ewigheid en MY met jou verloof in geregtigheid en in reg en in goedertierenheid en in ontferming.
20 (2:19) En EK sal MY met jou verloof in trou; dan sal jy (Aleph/Tav) YAHUVEH ken.

Mattheus 4:1-17;

1 Toe is YAHUSHUA deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.
2 En nadat HY veertig dae en veertig nagte gevas het, het HY naderhand honger geword.
3 En die versoeker het na HOM gekom en gesê: As U die Seun van ELOHIM is, sê dat hierdie klippe brode word.
4 Maar HY antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van YAHUVEH uitgaan.
5 Toe neem die duiwel HOM saam na die heilige stad en laat HOM op die dak van die tempel staan
6 en sê vir HOM: As U die Seun van ELOHIM is, werp Uself af; want daar is geskrywe: HY sal SY engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie. (Ps 91:11,12)
7 YAHUSHUA sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag YAHUVEH jou ELOHIM nie versoek nie. (Deut 6:16)
8 Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,
9 en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.
10 Toe sê YAHUSHUA vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: YAHUVEH jou ELOHIM moet jy aanbid en HOM alleen dien. (Deut 6:13)
11 Daarna het die duiwel HOM laat staan, en daar het engele gekom en HOM gedien.
12 En toe YAHUSHUA hoor dat Johannes in die gevangenis gesit was, het HY na Galiléa teruggegaan.
13 En HY het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali,
14 sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het:
15 Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene—
16 die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan. (Jes 9:1,2)
17 Van toe af het YAHUSHUA begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die Koninkryk van die Hemele het naby gekom.