19
1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle:
Heilig moet julle wees, want EK, YAHUVEH julle ELOHIM, is heilig.
3 Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en MY Sabbatte hou. EK is YAHUVEH
julle ELOHIM.
4 Begeef julle nie tot die afgode en maak vir julle geen gegote Elohims nie. EK
is YAHUVEH julle ELOHIM.
5 En as julle ‘n dankoffer aan YAHUVEH slag, moet julle dit so offer, dat julle
welgevalle kan vind.
6 Op die dag as julle dit offer en die dag daarna, moet dit geëet word; maar wat
tot die derde dag toe oorbly, moet met vuur verbrand word.
7 En as dit tog op die derde dag geëet word, sal dit ‘n onrein ding wees; dit
sal nie met welgevalle aangeneem word nie.
8 En hy wat dit eet, moet sy ongeregtigheid dra, want wat heilig is aan YAHUVEH,
het hy ontheilig. Daarom moet dié siel uit sy volksgenote uitgeroei word.
9 En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie
heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie.
10 Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou
wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat
oorbly. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
11 Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die
ander nie bedrieg nie.
12 En julle mag nie vals sweer by MY Naam en so die Naam van jou ELOHIM
ontheilig nie. EK is YAHUVEH.
13 Jy mag jou naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou
nie tot die môre toe bly nie.
14 Jy mag ‘n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie;
maar jy moet jou ELOHIM vrees. EK is YAHUVEH.
15 Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie
partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy
oor jou naaste oordeel.
16 Jy mag nie as ‘n kwaadspreker onder jou volksgenote rondloop nie. Jy mag nie
teen die lewe van jou naaste optree nie. EK is YAHUVEH.
17 Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie. Jy moet jou naaste vrymoedig
berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie.
18 Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees
nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. EK is YAHUVEH.
19 Julle moet MY insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar
nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee
soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.
20 En as ‘n man vleeslike gemeenskap het met ‘n vrou wat ‘n slavin is, vir ‘n
ander man bestemd, sonder dat sy ooit losgekoop of vryheid aan haar gegee is,
dan moet daar bestraffing plaasvind. Hulle mag nie gedood word nie, want sy was
nie vrygelaat nie.
21 En hy moet sy skuldoffer aan YAHUVEH bring by die ingang van die Tent van
Samekoms ‘n ram as skuldoffer;
22 en die priester moet met die skuldofferram vir hom versoening doen voor die
aangesig van YAHUVEH weens die sonde wat hy gedoen het; en hy sal vergifnis
ontvang vir sy sonde wat hy gedoen het.
23 En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle
hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees;
daar mag nie van geëet word nie.
24 Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ‘n heilige feesgawe aan YAHUVEH
wees;
25 en in die vyfde jaar mag julle hulle vrugte eet dit alles om hulle opbrings
vir julle meer te maak. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
26 Julle mag niks met bloed en al eet nie. Julle mag nie met verklaring van
voortekens of goëlery omgaan nie.
27 Julle mag die rand van julle hoofhare nie rond wegskeer nie. Ook mag jy die
rand van jou baard nie skend nie.
28 Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en
geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. EK is YAHUVEH.
29 Ontheilig jou dogter nie deur haar vir hoerery aan te hou nie, sodat die land
nie hoereer en die land vol skandelike dade word nie.
30 Julle moet MY Sabbatte hou en MY Heiligdom ontsien. EK is YAHUVEH.
31 Begeef julle nie tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê
nie. Soek hulle nie om julle deur hulle te verontreinig nie. EK is YAHUVEH julle
ELOHIM.
32 Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ‘n grysaard eer; en jy
moet jou ELOHIM vrees. EK is YAHUVEH.
33 En as ‘n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk
nie.
34 Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ‘n kind van
die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was
vreemdelinge in Egipteland. EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
35 Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat
nie.
36 Julle moet ‘n regte weegskaal hê, regte weegstene, ‘n regte efa en ‘n regte
hin. EK is YAHUVEH julle ELOHIM wat julle uit Egipteland uitgelei het.
37 Daarom moet julle al MY insettinge en al MY verordeninge onderhou en dit doen.
EK is YAHUVEH.
*~ Levitikus Hoofstuk 20 ~*
1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Jy moet ook aan die kinders van Israel sê: Elkeen uit die kinders van Israel
of uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat van sy kinders aan Molog gee,
moet sekerlik gedood word. Die volk van die land moet hom stenig.
3 En EK sal MY aangesig teen dié man rig en sal hom uitroei onder sy volk uit;
want hy het van sy kinders aan Molog gegee om MY Heiligdom te verontreinig en MY
heilige Naam te ontheilig.
4 En as die volk van die land hulle oë maar enigsins toemaak vir dié man as hy
van sy kinders aan Molog gee, sodat hulle hom nie doodmaak nie,
5 dan sal EK MY aangesig rig teen dié man en sy geslag, en EK sal hom en almal
wat agter hom aan hoereer om agter Molog aan te hoereer, uitroei onder hulle
volk uit.
6 En as ‘n persoon hom begewe tot die geeste van afgestorwenes en die geeste wat
waarsê om agter hulle aan te hoereer, sal EK MY aangesig teen dié persoon rig en
hom uitroei onder sy volk uit.
7 Toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want EK is YAHUVEH julle ELOHIM.
8 En onderhou MY insettinge en doen dit. EK is YAHUVEH wat julle heilig.
9 Want elkeen wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word. Hy het sy
vader of sy moeder gevloek. Sy bloedskuld is op hom.
10 En as iemand owerspel doen met ‘n man se vrou, owerspel doen met sy naaste se
vrou, moet hy en sy wat owerspel doen, sekerlik gedood word.
11 En as ‘n man met sy vader se vrou gemeenskap het, het hy die skaamte van sy
vader ontbloot. Hulle altwee moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op
hulle.
12 En as ‘n man met sy skoondogter gemeenskap het, moet hulle altwee sekerlik
gedood word. Hulle het ‘n gruwelike vermenging bewerk. Hulle bloedskuld is op
hulle.
13 En as ‘n man met ‘n manspersoon gemeenskap het soos ‘n mens met ‘n vrou het,
het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle
bloedskuld is op hulle.
14 En as ‘n man ‘n vrou en haar moeder neem, is dit ‘n skandelike daad; hulle
moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle
wees nie.
15 En as ‘n man vleeslike gemeenskap het met ‘n dier, moet hy sekerlik gedood
word, en die dier moet julle doodslaan.
16 En as ‘n vrou naby enige dier kom om daarmee te doen te hê, moet jy die vrou
en die dier doodslaan. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op
hulle.
17 En as ‘n man sy suster neem, sy vader se dogter of sy moeder se dogter, en hy
haar skaamte sien en sy sy skaamte sien, is dit ‘n skande. Daarom moet hulle
voor die oë van die kinders van hulle volk uitgeroei word. Hy het die skaamte
van sy suster ontbloot; hy moet sy ongeregtigheid dra.
18 En as ‘n man met ‘n vrou gemeenskap het wat onwel is, en haar skaamte
ontbloot hy het haar fontein ontbloot en sy die fontein van haar bloed dan moet
hulle altwee uitgeroei word onder hulle volk uit.
19 Ook mag jy die skaamte van jou moeder se suster en van jou vader se suster
nie ontbloot nie, want hy het sy bloedverwante ontbloot; hulle moet hul
ongeregtigheid dra.
20 En as ‘n man met sy tante gemeenskap het, het hy die skaamte van sy oom
ontbloot. Hulle moet hul sonde dra; sonder kinders sal hulle sterwe.
21 En as ‘n man sy broer se vrou neem, is dit bloedskande. Hy het die skaamte
van sy broer ontbloot; sonder kinders sal hulle wees.
22 Onderhou dan al MY insettinge en al MY verordeninge en doen dit, dat die land
waarheen EK julle bring om daarin te woon, julle nie uitspuug nie.
23 En julle mag nie wandel in die insettinge van die nasie wat EK voor julle uit
verdrywe nie; want al hierdie dinge het hulle gedoen; daarom het EK ‘n afsku van
hulle gekry.
24 En EK het vir julle gesê: Júlle sal hulle land in besit neem, en ÉK sal dit
aan julle as besitting gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. EK is
YAHUVEH julle ELOHIM wat julle van die volke afgesonder het.
25 Daarom moet julle ‘n onderskeid maak tussen die rein en onrein diere, en
tussen die onrein en rein voëls; en maak julleself nie ‘n gruwel deur diere of
deur voëls of deur enigiets wat op die aarde roer nie wat EK vir julle
afgesonder het deur dit onrein te verklaar.
26 En julle moet vir MY heilig wees, want EK, YAHUVEH, is heilig; en EK het
julle van die volke afgesonder om Myne te wees.
27 En as daar in ‘n man of vrou ‘n gees van ‘n afgestorwene is of ‘n gees wat
waarsê, moet hulle sekerlik gedood word. Hulle moet gestenig word. Hulle
bloedskuld is op hulle.