11
1 En Jefta, die Gileadiet, was ‘n dapper held, maar hy was die seun van ‘n
hoer; en Gílead was die vader van Jefta.
2 En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot
word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe
nie, want jy is die seun van ‘n ander vrou.
3 Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en
ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek.
4 En ‘n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel.
5 Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van
Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob;
6 en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen
die kinders van Ammon.
7 Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit
my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in
die benoudheid sit?
8 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat
jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof
kan wees oor al die inwoners van Gílead.
9 Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om
teen die kinders van Ammon te veg en YAHUVEH hulle aan my oorgee, dan moet ek
julle hoof word.
10 Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: YAHUVEH sal hoorder wees tussen ons.
Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen.
11 So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom
as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die
aangesig van YAHUVEH in Mispa gespreek.
12 Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te
vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg?
13 En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta:
Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot
by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug.
14 En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van
Ammon
15 en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die
kinders van Ammon nie geneem nie.
16 Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot
by die Skelfsee en het by Kades gekom.
17 En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my
tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na
die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in
Kades gebly.
18 Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab
getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan
oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon
is die grens van Moab.
19 Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete,
die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek
na my plek toe.
20 Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het
al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel
geveg.
21 Maar YAHUVEH, die ELOHIM van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand
van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die
Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het.
22 En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by
die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem.
23 So het YAHUVEH, die ELOHIM van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel
uit verdrywe, en wil u dit in besit neem?
24 Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as ‘n besitting gee, en óns
alles wat YAHUVEH onse ELOHIM voor ons uit verdrywe, in besit neem nie?
25 En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab?
Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg?
26 Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Aroër met sy
onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, drie honderd jaar
lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie?
27 So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen
my oorlog te voer. Mag YAHUVEH, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders
van Israel en die kinders van Ammon!
28 Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van
Jefta wat hy hom laat weet het nie.
29 Toe het die Gees van YAHUVEH op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead en
Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy
deurgetrek na die kinders van Ammon.
30 En Jefta het aan YAHUVEH ‘n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders
van Ammon in my hand gee,
31 dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek
in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan YAHUVEH behoort, en ek sal dit
as ‘n brandoffer bring.
32 Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en
YAHUVEH het hulle in sy hand gegee.
33 En hy het hulle verslaan van Aroër af in die rigting na Minnit, twintig stede,
en tot by Abel-Kerámim—’n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder
is voor die kinders van Israel.
Hebreërs 9:1–28;
1 So het dan die eerste verbond sowel verordeninge vir die erediens asook sy
aardse heiligdom gehad.
2 Want die Tabernakel is so ingerig: die eerste, waarin die kandelaar was en die
tafel en die toonbrode, wat die Heilige genoem word;
3 en agter die tweede voorhangsel die Tabernakel wat genoem word die
Allerheiligste,
4 waarin ‘n goue wierookbak was en die ark van die verbond, rondom heeltemal met
goud oortrek, waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aäron wat
gebloei het, en die tafels van die verbond;
5 en daar bo-op die gérubs van die heerlikheid wat die versoendeksel oorskadu
het, waaroor nie nou afsonderlik gespreek kan word nie.
6 En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die
eerste Tabernakel ingegaan om die dienste te vervul,
7 maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder
bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit
onwetendheid begaan—
8 waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die Heiligdom nog
nie geopen is so lank as die eerste Tabernakel nog standhou nie.
9 Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en
offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan
maak nie,
10 omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en
vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.
11 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade,
het deur die groter en volmaakter Tabernakel wat nie met hande gemaak is nie,
dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,
12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met SY eie bloed, een
maal ingegaan in die Heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
13 Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die
verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,
14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees
aan ELOHIM sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die
lewende ELOHIM te dien.
15 En daarom is HY Middelaar van ‘n nuwe testament, sodat, terwyl daar ‘n dood
plaasgevind het vir die verlossing van die oortredinge onder die eerste
testament, die wat geroepe is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.
16 Want waar ‘n testament is, moet noodsaaklik die dood van die testamentmaker
aangekondig word;
17 want ‘n testament is geldig by sterfgevalle, aangesien dit nooit van krag is
so lank as die testamentmaker nog leef nie.
18 Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie;
19 want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig
is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi
wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel
20 en gesê: Dit is die bloed van die testament wat ELOHIM met die oog op julle
verorden het.
21 En hy het ook die Tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met
die bloed besprinkel.
22 En byna alles word met bloed gereinig volgens die wet, en sonder
bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.
23 Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur
hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers
as hierdie.
24 Want Christus het nie ingegaan in ‘n Heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld
van die ware nie, maar in die Hemel self om nou voor die aangesig van ELOHIM vir
ons te verskyn;
25 ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die
Heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie,
26 want dan moes HY dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af.
Maar nou het HY een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde
deur SY offer weg te doen.
27 En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,
28 so sal Christus ook, nadat HY een maal geoffer is om die sondes van baie weg
te neem, vir die tweede maal sonder sonde verskyn aan die wat HOM verwag tot
saligheid.