21
10 As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en YAHUVEH jou ELOHIM hulle in
jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer,
11 en jy onder die gevangenes ‘n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar
liefkry en haar as vrou vir jou neem,
12 dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar
naels knip.
13 En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en
haar vader en haar moeder ‘n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan
en met haar trou, en sy sal jou vrou wees.
14 En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat
gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard
behandel nie, omdat jy haar onteer het.
15 As ‘n man twee vroue het, een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie,
en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die
eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, (Mk 10:1-10)
16 dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die
eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun
van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie.
17 Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur
aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling
van sy krag: die eersgeboortereg is syne.
18 As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem
van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na
hulle nie luister nie,
19 dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy
stad en na die poort van sy woonplek,
20 en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig
en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en
dronkaard.
21 Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan
die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees.
22 En as in iemand ‘n sonde is wat die doodstraf verdien en hy gedood word en jy
hom aan ‘n paal ophang,
23 dan mag sy lyk nie aan die paal oornag nie, maar jy moet hom sekerlik dié dag
nog begrawe; want een wat opgehang is, is deur ELOHIM vervloek. En jy mag jou
land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee, nie verontreinig nie.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 22 ~*
1 Jy mag die bees van jou broer of sy stuk kleinvee nie sien ronddwaal en jou
vir hulle verberg nie; jy moet hulle sekerlik na jou broer terugbring.
2 En as jou broer nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy dit in jou
huis neem, en dit moet by jou wees totdat jou broer dit soek; dan moet jy dit
aan hom teruggee.
3 So moet jy ook doen met sy esel, en so moet jy doen met sy kleed, ja, so moet
jy doen met alles wat van jou broer wegraak, wat hy verloor en wat jy vind; jy
mag jou nie verberg nie.
4 Jy mag die esel van jou broer of sy bees nie sien val op die pad en jou vir
hulle verberg nie; saam met hom moet jy hulle sekerlik ophelp.
5 ‘n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek
nie; want almal wat dit doen, is vir YAHUVEH jou ELOHIM ‘n gruwel.
6 As jy op pad ‘n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met klein
voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die eiers
sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie.
7 Jy moet die moeder sekerlik laat wegvlieg, maar die kleintjies mag jy vir jou
neem, dat dit met jou goed kan gaan en jy die dae kan verleng.
8 As jy ‘n nuwe huis bou, moet jy ‘n leuning aan jou dak maak, sodat jy geen
bloedskuld op jou huis bring as iemand daarvan afval nie.
9 Jy mag in jou wingerd nie twee soorte saad saai nie, anders verval die volle
opbrings aan die heiligdom: die saad wat jy saai en die opbrings van die wingerd.
10 Jy mag nie met ‘n os en ‘n esel tegelyk ploeë nie.
11 Jy mag geen gemengde stof, wol en linne tegelyk, aantrek nie.
12 Klossies moet jy vir jou maak aan die vier hoeke van jou kleed waar jy jou
mee toemaak.
13 As ‘n man ‘n vrou neem en by haar ingaan en haar dan haat
14 en haar slegte dinge nagee en ‘n slegte gerug oor haar versprei en sê:
Hierdie vrou het ek geneem, en toe ek naby haar kom, het ek die maagdom nie aan
haar gevind nie,
15 dan moet die vader en die moeder van die dogter die bewys van die dogter se
maagdom neem en na die oudstes van die stad by die poort uitbring.
16 En die vader van die dogter moet aan die oudstes sê: Ek het my dogter aan
hierdie man as vrou gegee, maar hy het haar gehaat;
17 en kyk, hy het haar slegte dinge nagegee deur te sê: Ek het aan jou dogter
die maagdom nie gevind nie—maar dit is die bewys van my dogter se maagdom. En
hulle moet die kledingstuk voor die oudstes van die stad uitsprei.
18 Dan moet die oudstes van dié stad die man neem en hom tugtig
19 en hom ‘n boete van honderd sikkels silwer oplê en dit aan die vader van die
dogter gee, omdat hy ‘n slegte gerug oor ‘n jongmeisie van Israel versprei het.
Verder moet sy sy vrou wees; hy mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.
20 Maar as hierdie woord waarheid is: Die maagdom is aan die dogter nie gevind
nie—
21 dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring, en die
manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe, omdat sy ‘n skanddaad in
Israel begaan het deur in die huis van haar vader te hoereer. So moet jy dan die
kwaad uit jou midde uitroei.
22 As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet
hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou.
So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.
23 As ‘n dogter, ‘n jongmeisie, aan ‘n man verloof is, en iemand kry haar in die
stad en hou met haar gemeenskap,
24 dan moet julle hulle twee na die poort van dié stad uitbring en hulle stenig,
dat hulle sterwe; die dogter, omdat sy in die stad nie geskreeu het nie, en die
man, omdat hy die vrou van sy naaste onteer het. So moet jy dan die kwaad uit
jou midde uitroei.
25 Maar as die man die verloofde dogter in die veld kry en die man haar aangryp
en met haar gemeenskap het, moet die man wat met haar gemeenskap gehad het,
alleen sterwe;
26 maar aan die dogter moet jy niks doen nie: daar is in die dogter geen sonde
wat die dood verdien nie; want soos wanneer ‘n man teen sy naaste opstaan en hom
doodslaan, so is hierdie geval.
27 Want hy het haar in die veld gekry; die verloofde dogter het geskreeu, maar
daar was niemand om haar te help nie.
28 As ‘n man ‘n dogter, ‘n jongmeisie, kry wat nie verloof is nie, en haar
aangryp en met haar gemeenskap het, en hulle word betrap,
29 dan moet die man wat met haar gemeenskap gehad het, die vader van die dogter
vyftig sikkels silwer gee; en sy moet sy vrou wees, omdat hy haar onteer het; hy
mag haar nie verstoot solank as hy lewe nie.
30 ‘n Man mag die vrou van sy vader nie neem nie, en hy mag die kombers van sy
vader nie oplig nie.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 23 ~*
1 Hy wat deur verbryseling vermink of van wie die manlike deel afgesny is, mag
in die vergadering van YAHUVEH nie kom nie.
2 Geen baster mag in die vergadering van YAHUVEH kom nie; selfs sy tiende geslag
mag in die vergadering van YAHUVEH nie kom nie.
3 Geen Ammoniet of Moabiet mag in die vergadering van YAHUVEH kom nie; selfs
hulle tiende geslag mag nooit in die vergadering van YAHUVEH kom nie;
4 omdat hulle julle, by jul uittog uit Egipte, nie met brood en water op die pad
tegemoetgekom het nie; en omdat hy Bíleam, die seun van Beor, uit Petor in
Mesopotámië, teen jou gehuur het om jou te vloek.
5 Maar YAHUVEH jou ELOHIM wou nie na Bíleam luister nie; maar YAHUVEH jou ELOHIM
het vir jou die vloek in ‘n seën verander, omdat YAHUVEH jou ELOHIM jou
liefgehad het.
6 Jy mag hulle vrede en hulle geluk solank as jy lewe, vir ewig nie soek nie.
7 Die Edomiet moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want hy is jou broer; die
Egiptenaar moet jy nie as ‘n gruwel beskou nie, want jy was ‘n vreemdeling in sy
land.
8 Kinders wat vir hulle in die derde geslag gebore word, mag in die vergadering
van YAHUVEH kom.
9 Wanneer jy as leër teen jou vyande uittrek, pas dan op vir enigiets wat
verkeerd is.
10 As daar iemand by jou is wat weens ‘n voorval by nag nie rein is nie, moet hy
buitekant die laer uitgaan; hy mag nie in die laer inkom nie.
11 Maar as die aand aankom, moet hy hom in die water bad; en teen sonsondergang
mag hy in die laer inkom.
12 Jy moet buitekant die laer ‘n plek hê, en daarheen moet jy uitgaan.
13 En jy moet by jou gereedskap ‘n grafie hê; as jy dan buitekant gaan sit, moet
jy daarmee grawe en wat van jou uitgegaan het, weer toemaak.
14 Want YAHUVEH jou ELOHIM wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande
aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat HY niks skandeliks
by jou mag sien en HOM van jou afwend nie.
15 Jy mag ‘n slaaf wat van sy heer na jou ontsnap het, nie aan sy heer oorlewer
nie.
16 Hy moet by jou bly, in jou midde, in die plek wat hy in een van jou poorte
uitkies, waar dit vir hom goed is; jy mag hom nie verdruk nie.
17 Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie; en daar mag geen
skandseun uit die seuns van Israel wees nie.
18 Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van YAHUVEH jou ELOHIM as
enige gelofte offer bring nie; want dié altwee is vir YAHUVEH jou ELOHIM ‘n
gruwel.
19 Jy mag jou broer geen rente oplê nie, rente van geld, rente van eetware,
rente van enigiets wat ‘n mens teen rente uitleen nie.
20 Die uitlander mag jy rente oplê, maar jou broer mag jy geen rente oplê nie,
sodat YAHUVEH jou ELOHIM jou kan seën in alles waar jy jou hand aan slaan in die
land waarheen jy gaan om dit in besit te neem.
21 As jy aan YAHUVEH jou ELOHIM ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te
betaal nie; want YAHUVEH jou ELOHIM sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal
sonde in jou word.
22 Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie.
23 Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan YAHUVEH jou ELOHIM
vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het.
24 As jy in die wingerd van jou naaste kom, mag jy na hartelus volop druiwe eet,
maar in jou tas mag jy niks steek nie.
25 As jy in die ongesnyde graan van jou naaste kom, mag jy met jou hand are
afpluk; maar ‘n sekel mag jy nie swaai in die ongesnyde graan van jou naaste nie.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 24 ~*
1 As ‘n man ‘n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind
nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar ‘n skeibrief
skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur,
2 en sy uit sy huis uittrek en weggaan en ‘n ander man s’n word,
3 en dié laaste man haar haat en haar ‘n skeibrief skrywe en in haar hand gee en
haar uit sy huis wegstuur, of as dié laaste man sterwe wat haar vir hom as vrou
geneem het—
4 dan mag haar eerste man wat haar weggestuur het, haar nie weer neem, dat sy sy
vrou word nadat sy onrein geword het nie; want dit is ‘n gruwel voor die
aangesig van YAHUVEH, en jy mag op die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as
erfenis sal gee, geen skuld laai nie.
5 As ‘n man pas getroud is, hoef hy nie op kommando uit te trek nie, en hulle
moet hom in geen enkele opsig iets oplê nie; een jaar lank moet hy vry wees vir
sy huis en aan sy vrou wat hy geneem het, vreugde verskaf.
6 Niemand mag die handmeul of die boonste maalklip as pand neem nie, want hy
neem die lewe as pand.
7 As iemand betrap word wat ‘n persoon uit sy broers, uit die kinders van
Israel, steel en hom hard behandel en hom verkoop, dan moet dié dief sterwe. So
moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei.
8 Neem jou in ag by die plaag van melaatsheid om baie noukeurig te handel
volgens alles wat die Levitiese priesters julle sal leer; soos ek hulle beveel
het, moet julle dit sorgvuldig hou.
9 Dink aan wat YAHUVEH jou ELOHIM op die pad, by julle uittog uit Egipte, aan
Mirjam gedoen het.
10 As jy aan jou naaste enigiets leen, mag jy in sy huis nie ingaan om sy pand
te gaan haal nie;
11 buite moet jy bly staan, en die man aan wie jy geleen het, moet die pand vir
jou buitentoe uitbring.
12 En as hy ‘n arm man is, moet jy met sy pand nie gaan slaap nie.
13 Jy moet hom sekerlik teen sonsondergang die pand teruggee, dat hy in sy kleed
kan slaap en jou kan seën; en dit sal geregtigheid vir jou wees voor die
aangesig van YAHUVEH jou ELOHIM.
14 Jy mag ‘n arm en behoeftige dagloner uit jou broers of uit jou vreemdelinge
wat in jou land in jou poorte is, nie verdruk nie.
15 Op die dag self moet jy sy loon gee, sodat die son oor hom nie ondergaan nie—want
hy is arm en sy siel verlang daarna—dat hy nie teen jou tot YAHUVEH roep en dit
sonde in jou word nie.
16 Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders
gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.
17 Jy mag die reg van vreemdeling en wees nie verdraai nie en die kleed van ‘n
weduwee nie as pand neem nie.
18 Maar jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf was in Egipte en YAHUVEH jou ELOHIM
jou daaruit verlos het; daarom beveel ek jou om hierdie saak te doen.
19 As jy jou oes op jou land insamel en ‘n gerf op die land vergeet, mag jy nie
omdraai om dit te gaan haal nie; vir die vreemdeling, die wees en die weduwee
moet dit wees, dat YAHUVEH jou ELOHIM jou kan seën in al die werk van jou hande.
20 As jy jou olywe afslaan, moet jy nie agter jou in die takke rond soek nie;
vir die vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees.
21 As jy jou wingerd oes, moet jy agter jou nie skoon afoes nie; vir die
vreemdeling, die wees en die weduwee moet dit wees.
22 En jy moet daaraan dink dat jy ‘n slaaf was in Egipteland; daarom beveel ek
jou om hierdie saak te doen.
*~ Deuteronomium Hoofstuk 25 ~*
1 As daar tussen manne ‘n twis is en hulle na die gereg kom en die regters hulle
vonnis en die regverdige regverdig verklaar en die skuldige skuldig verklaar,
2 as dan die skuldige slae verdien, moet die regter hom laat lê en hom in sy
teenwoordigheid met ‘n aantal slae laat slaan ooreenkomstig sy skuld;
3 veertig slae mag hy hom laat gee, nie meer nie, dat hy hom nie verder met baie
slae bo dié laat slaan en jou broer voor jou oë veragtelik gemaak word nie.
4 Jy mag ‘n os nie muilband as hy graan dors nie.
5 As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy ‘n seun het, dan
mag die vrou van die oorledene nie daarbuite ‘n vreemde man s’n word nie; haar
swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar
sluit;
6 en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat
sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie.
7 Maar as dit die man nie beval om sy skoonsuster te neem nie, moet sy
skoonsuster na die poort opgaan na die oudstes toe, en sê: My swaer weier om sy
broer se naam in Israel in stand te hou; hy wil met my die swaershuwelik nie
sluit nie—
8 dan moet die oudstes van sy stad hom roep en met hom spreek; bly hy dan daarby
staan en sê: Dit beval my nie om haar te neem nie—
9 dan moet sy skoonsuster voor die oë van die oudstes na hom toe nader kom en sy
skoen van sy voet aftrek en in sy gesig spuug, en sy moet verklaar en sê: So
moet met die man gedoen word wat die huis van sy broer nie wil bou nie.
10 En sy naam moet in Israel genoem word: Die huis van die kaalvoet.
11 As manne met mekaar veg, die een met die ander, en die een se vrou aankom om
haar man te red uit die hand van die een wat hom slaan, en haar hand uitsteek en
hom by die skaamdele gryp,
12 dan moet jy haar hand afkap; jou oog mag nie verskoon nie.
13 Jy mag nie twee soorte weegstene, ‘n grote en ‘n kleintjie, in jou sak hê nie.
14 Jy mag in jou huis nie twee soorte efas, ‘n grote en ‘n kleintjie, hê nie.
15 Jy moet ‘n volle en regte gewig hê; jy moet ‘n volle en regte efa hê; sodat
jou dae verleng mag word in die land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou sal gee.
16 Want almal wat hierdie dinge doen, is ‘n gruwel vir YAHUVEH jou ELOHIM—almal
wat onreg doen.
17 Dink aan wat Amalek op die pad by julle uittog uit Egipte aan jou gedoen het,
18 hoe hy jou op die pad teëgekom het en by jou die agterhoede, al die swakkes
agter jou, verslaan het terwyl jy moeg en mat was, en hy ELOHIM nie gevrees het
nie.
19 As dan YAHUVEH jou ELOHIM vir jou rus gee van al jou vyande rondom, in die
land wat YAHUVEH jou ELOHIM jou as erfenis sal gee om dit in besit te neem, dan
moet jy die gedagtenis van Amalek onder die hemel uitdelg; vergeet dit nie.