32
3 En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die
land Seïr, die landstreek van Edom,
4 en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau,
sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly
tot nou toe;
5 en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer
dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë.
6 En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau
gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom.
7 Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom
was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel;
8 want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die
laer wat oorbly, vryraak.
9 En Jakob het gesê: o ELOHIM van my vader Abraham en ELOHIM van my vader Isak,
o YAHUVEH, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en EK
sal aan jou goed doen—
10 ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan U kneg bewys het;
want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.
11 Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang
vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.
12 U het tog self gesê: EK sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak
soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
13 En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, ‘n geskenk geneem
vir sy broer Esau:
14 twee honderd bokooie en twintig bokke, twee honderd skaapooie en twintig
ramme,
15 dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en
tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels;
16 en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy
dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat ‘n plek oop tussen trop en trop.
17 Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en
jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s’n is die goed daar
voor jou?
18 dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s’n. Dit is ‘n geskenk wat hy aan my
heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan.
19 En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat
agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle
hom kry—
20 julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink:
Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig
sien—miskien sal hy my in guns aanneem.
21 So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die
laer gebly.
22 En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy
elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek:
23 hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat
aan hom behoort het.
24 Maar Jakob het alleen agtergebly, en ‘n Man het met hom geworstel tot
dagbreek.
25 En toe HY sien dat HY hom nie kon oorwin nie, slaan HY hom op sy heupbeen,
sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met HOM.
26 Toe sê HY: Laat MY gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U
nie laat gaan nie tensy dat U my seën.
27 En HY vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob.
28 Toe sê HY: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het
geworstel met ELOHIM en met die mense en het oorwin.
29 Daarop vra Jakob en sê: Maak tog U Naam bekend! En HY antwoord: Waarom vra jy
tog na MY Naam? En HY het hom daar geseën.
30 Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het ELOHIM gesien van
aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.
31 En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pnuel verby was; en hy was mank
aan sy heup.
32 Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is,
tot vandag toe nie, omdat HY Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan
het.
*~ Genesis Hoofstuk 33 ~*
1 En Jakob het sy oë opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vier
honderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die
twee slavinne verdeel.
2 En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders
daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel;
3 maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig,
totdat hy by sy broer gekom het.
4 Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom;
en hulle het geween.
5 Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het
jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat ELOHIM uit genade aan u dienaar
geskenk het.
6 En die slavinne het nader gekom, hulle en hulle kinders, en hul neergebuig.
7 En Lea het ook nader gekom met haar kinders en hul neergebuig; en daarna het
Josef nader gekom en Ragel en hul neergebuig.
8 Daarop sê hy: Wat is jou bedoeling met daardie hele laer wat ek teëgekom het?
En hy antwoord: Om guns te vind in die oë van my heer.
9 Maar Esau sê: Ek het baie, my broer! Wat joue is, laat dit joue bly!
10 Toe antwoord Jakob: Ag nee, as ek nou guns in u oë gevind het, neem dan my
geskenk uit my hand aan. Want juis daarom het ek u aangesig te sien gekry soos
‘n mens die aangesig van ELOHIM sien, en u het behae in my gehad.
11 Neem tog my begroetingsgeskenk wat u aangebied is, want ELOHIM het my genade
bewys, en ek het volop. En hy het by hom aangehou, sodat hy dit aangeneem het.
12 Daarop sê hy: Laat ons opbreek en verder trek, en ek sal langs jou trek.
13 Maar hy antwoord hom: My heer weet dat die kinders swak is, en dat ek
lammerooie en melkkoeie by my het; as ‘n mens hulle net een dag ooreis, dan
sterf al die kleinvee.
14 My heer moet maar voor sy dienaar uit trek, en ék sal op my gemak trek na die
gang van die vee wat voor my uit gaan, en na die gang van die kinders, tot ek by
my heer in Seïr aankom.
15 Toe sê Esau: Laat my tog van die manskappe wat by my is, by jou laat staan.
En hy antwoord: Waarvoor dan? Laat my guns in die oë van my heer vind!
16 So het Esau dan dié dag teruggegaan padlangs na Seïr toe.
17 Maar Jakob het na Sukkot weggetrek en vir hom ‘n huis gebou en takkrale vir
sy vee gemaak. Daarom het hy die plek genoem Sukkot.
18 En Jakob het behoue aangekom by die stad Sigem wat in die land Kanaän is, toe
hy van Paddan-Aram gekom het—hy het sy laer voor die stad opgeslaan
19 en die stuk grond gekoop waar hy sy tent opgeslaan het, van die seuns van
Hemor, die vader van Sigem, vir honderd geldstukke.
20 Daar het hy ook ‘n altaar opgerig en dit genoem: Die ELOHE van Israel is EL.
*~ Genesis Hoofstuk 34 ~*
1 En Dina, die dogter van Lea, wat sy vir Jakob gebaar het, het uitgegaan om die
dogters van die land te leer ken.
2 Toe Sigem, die seun van Hemor, die Hewiet, die vors van die land, haar sien,
het hy haar gegryp en met haar gemeenskap gehad en haar onteer.
3 En sy siel het verkleef geraak aan Dina, die dogter van Jakob; en hy het die
dogter liefgehad en na die hart van die dogter gespreek.
4 Sigem het ook met sy vader Hemor gespreek en gesê: Neem daardie dogter vir my
as vrou.
5 Toe Jakob dan hoor dat hy sy dogter Dina onteer het, was sy seuns by sy vee in
die veld; en Jakob het geswyg totdat hulle gekom het.
6 En Hemor, die vader van Sigem, het na Jakob uitgegaan om met hom te spreek.
7 En die seuns van Jakob het uit die veld gekom toe hulle dit hoor; en die manne
was gegrief en baie kwaad, omdat hy ‘n skanddaad in Israel begaan het deur met
die dogter van Jakob gemeenskap te hou: so iets mag nie gebeur het nie.
8 Toe spreek Hemor met hulle en sê: Die siel van my seun Sigem is verlief op
julle dogter: gee haar tog aan hom as vrou
9 en verswaer julle met ons: gee aan ons julle dogters, en neem vir julle ons
dogters.
10 Bly maar by ons woon, en die land sal voor julle oop lê; woon en trek rond
daarin en verwerf vaste besittings daarin.
11 En Sigem sê vir haar vader en haar broers: Laat my guns vind in julle oë, en
wat julle van my eis, sal ek gee.
12 Vra my ‘n baie groot koopprys en geskenk, en ek sal dit gee soos julle aan my
sê; gee my net die dogter as vrou.
13 Toe antwoord die seuns van Jakob vir Sigem en Hemor, sy vader, met
bedrog—hulle het so gespreek, omdat hy hulle suster Dina onteer het—
14 en sê vir hulle: Ons kan dit nie doen om ons suster aan ‘n man te gee wat die
voorhuid het nie, want dit sou ‘n skande vir ons wees.
15 Net op hierdie voorwaarde kan ons inwillig: as julle word soos ons deurdat
almal wat manlik is onder julle, besny word.
16 Dan sal ons ons dogters aan julle gee, en ons sal julle dogters vir ons neem;
en ons sal by julle woon en een (echad) volk word.
17 Maar as julle nie na ons luister om besny te word nie, dan neem ons ons
dogter en ons trek weg.
18 En hulle woorde was goed in die oë van Hemor en in die oë van Sigem, die seun
van Hemor.
19 En die jongman het nie versuim om dit te doen nie, want hy het sin gehad in
die dogter van Jakob, en hy was die mees geëerde in die hele huis van sy vader.
20 Toe gaan Hemor en sy seun Sigem na die poort van hulle stad, en hulle spreek
met die manne van hul stad en sê:
21 Hierdie manne lewe in vrede met ons; daarom, laat hulle in die land woon en
daarin rondtrek: die land lê mos alkante toe wyd voor hulle. Ons kan hulle
dogters vir ons as vroue neem, en ons sal ons dogters aan hulle gee.
22 Maar net op hierdie voorwaarde sal die manne inwillig om by ons te woon, om
een volk te word: as almal wat manlik is onder ons, besny word soos hulle besny
is.
23 Hulle vee en hulle besittings en al hulle diere—sal dit nie ons s’n wees nie?
Laat ons net inwillig, sodat hulle by ons kan bly woon.
24 En hulle het geluister na Hemor en na sy seun Sigem almal wat uit sy
stadspoort uitgegaan het; en almal wat manlik was, is besny, almal wat uit sy
stadspoort uitgegaan het.
25 Maar op die derde dag, toe hulle in die pyn was, neem die twee seuns van
Jakob, Símeon en Levi, broers van Dina, elkeen sy swaard, en hulle oorval die
sorgelose stad en slaan almal dood wat manlik was.
26 Hulle slaan ook Hemor en sy seun Sigem dood met die skerpte van die swaard;
daarna neem hulle Dina uit die huis van Sigem uit en vertrek.
27 Die seuns van Jakob het op die gesneuweldes afgekom en die stad geplunder,
omdat hulle hulle suster onteer het.
28 Hulle kleinvee en hulle beeste en hulle esels—wat in die stad en in die veld
was—het hulle weggeneem.
29 En al hulle goed en al hulle kinders en hulle vroue het hulle as gevangenes
weggevoer en as buit, en ook alles wat in die huise was.
30 Toe sê Jakob vir Símeon en Levi: Julle het my ontroer dat julle my gehaat
gemaak het by die inwoners van die land, die Kanaäniete en Feresiete, terwyl ek
‘n klein klompie is. As hulle hul teen my versamel, sal hulle my verslaan, en ek
sal verdelg word, ek en my huis.
31 Toe antwoord hulle: Hoe durf hy dan ons suster as ‘n hoer behandel!
*~ Genesis Hoofstuk 35 ~*
1 Daarna het ELOHIM vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon
daar; en bou daar ‘n altaar vir die EL wat aan jou verskyn het toe jy op die
vlug was vir jou broer Esau.
2 Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die
vreemde elohim wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan;
3 en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar ‘n altaar bou vir
die EL wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die
weg wat ek gegaan het.
4 Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde elohim wat in hulle besit was, en die
ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by
Sigem is.
5 En toe hulle weggetrek het, kom daar ‘n skrik van ELOHIM op die stede rondom
hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.
6 So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is dit is Bet-el—hy en
al die mense wat by hom was.
7 en hy het daar ‘n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat ELOHIM daar
aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.
8 En Debora, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant
Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween.
9 Toe verskyn ELOHIM weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en HY seën
hom;
10 en ELOHIM sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word
nie, maar Israel sal jou naam wees. En HY het hom Israel genoem.
11 Verder sê ELOHIM vir hom: EK is EL SHADDAI, die Almagtige. Wees vrugbaar en
vermeerder. ‘n Nasie, ja, ‘n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings
sal uit jou lendene voortkom.
12 En die land wat EK aan Abraham en Isak gegee het, sal EK aan jou gee; en aan
jou nageslag ná jou sal EK die land gee.
13 Toe het ELOHIM van hom af opgevaar op die plek waar HY met hom gespreek het.
14 En Jakob het ‘n gedenksteen opgerig op die plek waar HY met hom gespreek het,
‘n gedenksteen van klip, en daarop ‘n drankoffer uitgegiet en olie daarop gegooi.
15 En Jakob het die plek waar ELOHIM met hom gespreek het, Bet-el genoem.
16 Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog ‘n kort ent pad was
om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling.
17 En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees
nie bevrees nie, want dit is ook ‘n seun vir u.
18 En toe haar siel uitgaan—want sy het gesterwe—noem sy hom Ben-Oni (seun van
my smarte). Maar sy vader het hom Benjamin (seun van my krag) genoem.
19 So het Ragel dan gesterwe; en sy is begrawe op die pad na Efrat, dit is
Betlehem.
20 En Jakob het ‘n gedenksteen op haar graf opgerig; dit is die gedenkteken van
die graf van Ragel tot vandag toe.
21 En Israel het weggetrek en sy tent opgeslaan aan die ander kant van Migdal-Eder.
22 En terwyl Israel in dié land woon, het Ruben gegaan en met Bilha, sy vader se
byvrou, gemeenskap gehad. En Israel het dit gehoor. En die seuns van Jakob was
twaalf.
23 Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en
Levi en Juda en Issaskar en Sébulon.
24 Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin.
25 En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali.
26 En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser. Dit is die seuns van
Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.
27 En Jakob het by sy vader Isak gekom in Mamre, by Kirjat-Arba, dit is Hebron,
waar Abraham as vreemdeling vertoef het, en ook Isak.
28 En die dae van Isak was honderd en tagtig jaar.
29 En Isak het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is by sy volksgenote
versamel, oud en afgeleef. En sy seuns Esau en Jakob het hom begrawe.
*~ Genesis Hoofstuk 36 ~*
1 En dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom.
2 Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän: Ada, die dogter van Elon,
die Hetiet, en Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die Hewiet;
3 en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van Nébajot.
4 En Ada het vir Esau gebaar Élifas, en Basmat het gebaar Réhuel.
5 En Oholibáma het gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die seuns van Esau
wat vir hom gebore is in die land Kanaän.
6 Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis,
sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het,
en hy trek na ‘n land, wég van sy broer Jakob af;
7 want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle
vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie.
8 En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom.
9 Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die
gebergte Seïr.
10 Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou
van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau.
11 En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas.
12 En Timna was ‘n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas
gebaar Amalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau.
13 En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die
seuns van Basmat, die vrou van Esau.
14 En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon,
die vrou van Esau—sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag.
15 Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van Élifas, die
eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof
Sefo, die stamhoof Kenas,
16 die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Amalek. Dit is die
stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada.
17 En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die
stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde
van Réhuel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau.
18 En dit is die seuns van Oholibáma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die
stamhoof Jáelam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholibáma, die
dogter van Ana, die vrou van Esau.
19 Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom.
20 Dit is die seuns van Seïr, die Horiet, die eerste inwoners van die land:
Lotan en Sobal en Síbeon en Ana
21 en Dison en Eser en Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete, die seuns
van Seïr in die land Edom.
22 En die seuns van Lotan was Hori en Hemam; en die suster van Lotan was Timna.
23 En dit is die seuns van Sobal: Alwan en Manáhat en Ebal, Sefo en Onam.
24 En dit is die seuns van Síbeon: Aja en Ana. Dit is dié Ana wat die warm
fonteine in die woestyn gekry het toe hy die esels van sy vader Síbeon opgepas
het.
25 En dit is die seuns van Ana: Dison; en Oholibáma was die dogter van Ana.
26 En dit is die seuns van Dison: Hemdan en Esban en Jitran en Keran.
27 Dit is die seuns van Eser: Bilhan en Saäwan en Akan.
28 Dit is die seuns van Disan: Us en Aran.
29 Dit is die stamhoofde van die Horiete: die stamhoof Lotan, die stamhoof Sobal,
die stamhoof Síbeon, die stamhoof Ana,
30 die stamhoof Dison, die stamhoof Eser, die stamhoof Disan. Dit is die
stamhoofde van die Horiete volgens hulle stamme in die land Seïr.
31 En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar ‘n
koning geregeer het oor die kinders van Israel:
32 Bela, die seun van Beor, het geregeer in Edom; en die naam van sy stad was
Dinhába.
33 En ná die dood van Bela het Jobab, die seun van Serag, van Bosra, in sy plek
geregeer.
34 En ná die dood van Jobab het Husam, uit die land van die Temaniete, in sy
plek geregeer.
35 En ná die dood van Husam het Hadad, die seun van Bedad, wat die Mídianiete
verslaan het in die veld van Moab, in sy plek geregeer, en die naam van sy stad
was Awit.
36 En ná die dood van Hadad het Samla van Másreka in sy plek geregeer.
37 En ná die dood van Samla het Saul van Réhobot, aan die rivier, in sy plek
geregeer.
38 En ná die dood van Saul het Baäl-Hanan, die seun van Akbor, in sy plek
geregeer.
39 En ná die dood van Baäl-Hanan, die seun van Akbor, het Hadar in sy plek
geregeer; en die naam van sy stad was Pahu; en die naam van sy vrou was
Mehetábeël, die dogter van Matred, die dogter van Mésahab.
40 Dit is die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle geslagte, volgens
hulle woonplekke, met hulle name: die stamhoof Timna, die stamhoof Alwa, die
stamhoof Jetet.
41 die stamhoof Oholibáma, die stamhoof Ela, die stamhoof Pinon,
42 die stamhoof Kenas, die stamhoof Teman, die stamhoof Mibsar,
43 die stamhoof Mágdiël, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom,
volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die
stamvader van die Edomiete.