Shabbat Shalom!
Pekudei / Berekeninge
- hierdie week se Torah lees.


Eksodus 38:21-40:38;

38

21 Dit is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.
22 En Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, het alles gemaak wat YAHUVEH Moses beveel het.
23 En saam met hom Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan, ‘n ambagsman en kunstenaar en kunswewer in pers en in purperrooi en in bloedrooi stowwe en in fyn linne.
24 Al die goud wat vir die werk gebruik is, by al die werk van die heiligdom—die goud wat as offer aangebied was, het bedra nege en twintig talente en sewe honderd en dertig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom.
25 En die silwer van die geteldes van die vergadering was honderd talente en duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom;
26 ‘n beka vir elke persoon, dit is ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom, van elkeen wat oorgegaan het na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, naamlik ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig man.
27 En die honderd talente silwer het gedien om die voetstukke van die heiligdom en die voetstukke van die voorhangsel te giet; honderd voetstukke vir honderd talente, ‘n talent vir ‘n voetstuk.
28 Maar van die duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels het hy kramme vir die pilare gemaak, en hy het hulle toppe oorgetrek en hulle van ringe voorsien.
29 En die koper wat as offer aangebied was, het bedra sewentig talente en twee duisend vier honderd sikkels.
30 En hy het daaruit die voetstukke van die ingang van die tent van samekoms gemaak en die koperaltaar en sy kopertraliewerk en al die gereedskap van die altaar;
31 en die voetstukke van die voorhof rondom en die voetstukke van die poort van die voorhof en al die penne van die tabernakel, ook al die penne van die voorhof rondom.

*~ Exodus Hoofstuk 39~*


1 Hulle het ook kunstige klere van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe gemaak om in die heiligdom te dien. Ook het hulle die heilige klere vir Aäron gemaak soos YAHUVEH Moses beveel het.
2 En hy het die skouerkleed gemaak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
3 En hulle het van die goud dun plate geslaan, en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en in die fyn linne—’n kunstige werk.
4 Hulle het daar skouerstukke aan gemaak wat aan mekaar vas was; aan die twee bo-ente was dit saamgevoeg.
5 En die band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, soos YAHUVEH Moses beveel het.
6 Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in kassies van goud, gegraveer soos op ‘n seëlsteen ingesny word, volgens die name van die kinders van Israel.
7 En hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene aan die kinders van Israel, soos YAHUVEH Moses beveel het.
8 Hy het ook die borstas van kunstige werk gemaak soos die werk van die skouerkleed; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
9 Dit was vierkantig; dubbel gevou het hulle die borstas gemaak; ‘n span sy lengte en ‘n span sy breedte, dubbel gevou was dit.
10 En hulle het daarin vier rye stene ingevul: ‘n ry met ‘n karneool, ‘n topaas en ‘n smarag was die eerste ry.
11 En die tweede ry: ‘n karbonkel, ‘n saffier en ‘n jaspis.
12 En die derde ry: ‘n hiasint, ‘n agaat en ‘n ametis.
13 En die vierde ry: ‘n chrisoliet, ‘n oniks en ‘n sardoniks; hulle is in kassies van goud vasgesit by hulle invulling.
14 En die stene was volgens die name van die kinders van Israel twaalf, volgens hulle name. Soos op ‘n seëlsteen uitgesny word, was hulle vir twaalf stamme, elkeen volgens sy naam.
15 Hulle het ook by die borstas gedraaide kettings gemaak, soos toutjies gedraai, van suiwer goud;
16 en hulle het twee goue kassies en twee goue ringe gemaak, en die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas bevestig,
17 en hulle het die twee goue toutjies aan die twee ringe aan die bo-ente van die borstas vasgemaak.
18 Maar die twee ander ente van die twee toutjies het hulle aan die twee kassies vasgemaak en dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed bevestig, aan die voorkant daarvan.
19 Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dié aan die twee onder-ente van die borstas bevestig, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
20 En hulle het twee goue ringe gemaak en dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed bevestig, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed.
21 En hulle het die borstas, met sy ringe, aan die ringe van die skouerkleed met ‘n pers toutjie vasgebind, sodat dit bo die band van die skouerkleed sou wees en die borstas nie van die skouerkleed kon afskuiwe nie, soos YAHUVEH Moses beveel het.
22 En hy het die mantel van die skouerkleed van wewerswerk gemaak, heeltemal van pers stof.
23 En die opening van die mantel was in die middel daarvan soos die opening van ‘n pantser; die opening het ‘n soom rondom gehad, dat dit nie sou skeur nie.
24 En aan die soom van die mantel het hulle granaatjies gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne.
25 Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, aan die soom van die mantel rondom, tussen die granaatjies in:
26 ‘n klokkie en ‘n granaatjie, ‘n klokkie en ‘n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom, vir die diens, soos YAHUVEH Moses beveel het.
27 Hulle het ook die rokke van fyn linne gemaak, van wewerswerk, vir Aäron en sy seuns;
28 en die tulband van fyn linne en die pronkmusse van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraad-linne;
29 en die gordel van fyn dubbeldraad-linne en van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, veelkleurige werk, soos YAHUVEH Moses beveel het.
30 Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op ‘n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN YAHUVEH.
31 En hulle het ‘n pers toutjie daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig, soos YAHUVEH Moses beveel het.
32 So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos YAHUVEH Moses beveel het; so het hulle dit gemaak.
33 En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke,
34 en die dekkleed van rooigeverfde ramsvelle en die dekkleed van robbevelle en die voorhangsel tot bedekking;
35 die ark van die Getuienis met sy draaghoute en die versoendeksel;
36 die tafel met al sy gereedskap en die Toonbrode;
37 die suiwer kandelaar (Menorah) met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy gereedskap en die olie vir die kandelaar;
38 verder die goue altaar en die salfolie en die reukwerk van speserye en die bedekking vir die ingang van die tent;
39 die koperaltaar en sy kopertraliewerk, sy draaghoute met al sy gereedskap, die waskom en sy voetstuk;
40 die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby behoort, en al die gereedskap vir die diens in die tabernakel van die tent van samekoms;
41 die kunstige klere, om in die heiligdom te dien, die heilige klere van die priester Aäron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien.
42 Net soos YAHUVEH Moses beveel het, so het die kinders van Israel die hele werk gemaak.
43 En Moses het die hele werk bekyk—en hulle het dit gemaak soos YAHUVEH beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.

*~ Exodus Hoofstuk 40 ~*


1 Verder het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Op die dag van die eerste maand, op die eerste van die maand, moet jy die tabernakel van die tent van samekoms oprig.
3 En jy moet daarin plaas die ark van die Getuienis en die ark met die voorhangsel bedek.
4 Dan moet jy die tafel inbring en daarop regsit wat daarop behoort. Jy moet ook die kandelaar (Menorah) inbring en sy lampe opsteek.
5 En jy moet die goue altaar vir die reukwerk voor die ark van die Getuienis neersit. Dan moet jy die bedekking van die ingang van die tabernakel ophang.
6 Jy moet ook die brandofferaltaar voor die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neersit.
7 En jy moet die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar neersit en daar water in gooi.
8 En maak die voorhof rondom, en hang die bedekking aan die poort van die voorhof op.
9 Dan moet jy die salfolie neem, en jy moet die tabernakel salf en alles wat daarin is, en dit heilig met alles wat daarby behoort; en dit sal heilig wees.
10 Jy moet ook die brandofferaltaar salf met al sy gereedskap, en jy moet die altaar heilig, en die altaar sal hoogheilig wees.
11 Salf dan die waskom en sy voetstuk, en heilig dit.
12 Jy moet ook Aäron en sy seuns laat nader kom, na die ingang van die tent van samekoms toe, en jy moet hulle met water was.
13 Trek Aäron dan die heilige klere aan; en salf hom en heilig hom, dat hy vir My die priesteramp kan bedien.
14 Jy moet ook sy seuns laat nader kom en hulle die rokke aantrek.
15 Salf hulle dan, soos jy hulle vader gesalf het, dat hulle vir My die priesteramp kan bedien. En hul salwing moet vir hulle ‘n ewige priesterskap in hulle geslagte wees.
16 En Moses het gedoen net soos YAHUVEH hom beveel het; so het hy gedoen.
17 En in die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste van die maand, is die tabernakel opgerig.
18 En Moses het die tabernakel opgerig: hy het sy voetstukke neergesit en sy style daarop gesit en sy dwarshoute vasgemaak en sy pilare opgerig.
19 En hy het die tentseil oor die tabernakel gespan en die dekkleed van die tent daar bo-oor getrek, soos YAHUVEH Moses beveel het.
20 Verder het hy die Getuienis geneem en dit in die ark neergelê en die draaghoute aan die kant van die ark ingesteek, en die versoendeksel het hy bo-op die ark gesit.
21 Toe het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel tot bedekking opgehang en die ark van die Getuienis bedek, soos YAHUVEH Moses beveel het.
22 Hy het ook die tafel in die tent van samekoms neergesit, aan die kant van die tabernakel, teen die noorde, buitekant die voorhangsel.
23 En hy het die brood daarop gerangskik voor die aangesig van YAHUVEH, soos YAHUVEH Moses beveel het.
24 Hy het ook die kandelaar in die tent van samekoms gesit, teenoor die tafel, aan die suidekant van die tabernakel.
25 En hy het die lampe opgesteek, voor die aangesig van YAHUVEH, soos YAHUVEH Moses beveel het.
26 En hy het die goue altaar in die tent van samekoms neergesit, voor die voorhangsel,
27 en reukwerk van speserye daarop aan die brand gesteek, soos YAHUVEH Moses beveel het.
28 Hy het ook die bedekking van die ingang van die tabernakel opgehang.
29 En hy het die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neergesit, en hy het daarop die brandoffer en die spysoffer gebring, soos YAHUVEH Moses beveel het.
30 Hy het ook die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar gesit, en hy het daar water in gegooi om mee te was.
31 En Moses en Aäron en sy seuns het daaruit hulle hande en voete gewas.
32 As hulle ingaan in die tent van samekoms of nader kom na die altaar, het hulle hul elke keer gewas, soos YAHUVEH Moses beveel het.
33 Hy het ook die voorhof opgerig, rondom die tabernakel en die altaar, en die bedekking vir die poort van die voorhof opgehang. So het Moses dan die werk voltooi.
34 Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van YAHUVEH het die tabernakel vervul,
35 sodat Moses nie in die tent van samekoms kon ingaan nie, omdat die wolk daarop gerus en die heerlikheid van YAHUVEH die tabernakel vervul het.
36 En as die wolk van die tabernakel af optrek, het die kinders van Israel elke keer weggetrek op al hulle togte;
37 maar as die wolk nie optrek nie, dan trek hulle nie weg nie, totdat dit weer optrek. (Num 9:17-23)
38 Want die wolk van YAHUVEH was bedags op die tabernakel, en vuur was snags daarin, voor die oë van die hele huis van Israel, op al hulle togte.