25
1 Toe het YAHUVEH met Moses gespreek en gesê:
2 Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan MY ‘n offergawe moet bring; van
elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle MY offergawe bring.
3 En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en
koper;
4 en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar;
5 en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout;
6 olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van
speserye;
7 oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas.
8 Ook moet hulle vir MY ‘n Heiligdom maak, dat EK in hulle midde kan woon.
9 Volgens alles wat EK jou laat sien—die voorbeeld van die Tabernakel en die
voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.
10 Hulle moet dan ‘n ark van akasiahout maak. Twee en ‘n half el moet sy lengte,
en anderhalf el sy breedte, en anderhalf el sy hoogte wees.
11 En jy moet dit oortrek met suiwer goud, van binne en van buite moet jy dit
oortrek. En jy moet daaraan ‘n goue krans maak rondom.
12 En giet daarvoor vier goue ringe, en sit dit aan sy vier voete vas, só dat
twee ringe aan die een kant en twee ringe aan die ander kant is.
13 En maak draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud.
14 En steek die draaghoute in die ringe aan weerskante van die ark om die ark
daarmee te dra.
15 Die draaghoute moet in die ringe van die ark bly; hulle mag daar nie uit
weggeneem word nie.
16 Daarna moet jy in die ark die Getuienis sit wat EK aan jou sal gee.
17 Maak ook ‘n versoendeksel van suiwer goud. Twee en ‘n half el moet sy lengte,
en anderhalf el sy breedte wees.
18 Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee
ente van die versoendeksel.
19 En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een
stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente.
20 En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul
vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees;
die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees.
21 En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die ark moet jy die Getuienis
neerlê wat EK aan jou sal gee.
22 En daar sal EK met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee
gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal EK jou alles sê wat EK jou
vir die kinders van Israel sal beveel.
23 Maak ook ‘n tafel van akasiahout. Twee el moet sy lengte, en ‘n el sy breedte,
anderhalf el sy hoogte wees.
24 En trek dit oor met suiwer goud, en maak daarvoor ‘n goue krans rondom.
25 Maak daarvoor ook ‘n lys van ‘n handbreed rondom; en maak ‘n goue krans vir
die lys rondom.
26 En maak daar vier goue ringe voor, en sit die ringe vas aan die vier hoeke
van die vier pote.
27 Naby die lys moet die ringe wees as plekke vir die draaghoute om die tafel te
dra.
28 En maak die draaghoute van akasiahout, en trek dit oor met goud; daarmee moet
dan die tafel gedra word.
29 Maak ook sy skottels en sy rookpanne en sy kanne en sy bekers waarmee gegiet
moet word; van suiwer goud moet jy dit maak.
30 En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor MY Aangesig neersit.
31 Maak ook ‘n kandelaar (Menorah) van suiwer goud. Van dryfwerk moet die
kandelaar, sy voetstuk en sy stam gemaak word; sy kelkies, sy knoppe en sy
blomme moet, daarmee saam, uit een stuk wees.
32 En ses arms moet uit die sykante daarvan uitgaan: drie arms van die kandelaar
uit die een kant en drie arms van die kandelaar uit die ander kant.
33 Drie kelkies soos amandelblomme aan die een arm, ‘n knop en ‘n blom, en drie
kelkies soos amandelblomme aan die ander arm, ‘n knop en ‘n blom—so moet dit
wees aan die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
34 Maar aan die kandelaar self moet vier kelkies soos amandelblomme wees, met
knoppe en blomme:
35 daar moet ‘n knop wees onder die eerste paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n
knop onder die tweede paar arms wat daaruit uitgaan; en ‘n knop onder die derde
paar arms wat daaruit uitgaan—vir die ses arms wat uit die kandelaar uitgaan.
36 Hulle knoppe en hulle arms moet, daarmee saam, uit een stuk wees—alles saam
een stuk dryfwerk van suiwer goud.
37 Jy moet ook sewe lampe daarvoor maak, en hulle moet sy lampe opsteek en die
lig daarteenoor laat val aan die voorkant.
38 Sy snuiters en sy bakkies moet van suiwer goud wees.
39 Van ‘n talent suiwer goud moet hulle dit maak—al hierdie voorwerpe.
40 En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg
getoon is.
*~ Exodus Hoofstuk 26 ~*
1 En die tabernakel moet jy van tien tentdoeke maak, van fyn dubbeldraad-linne
en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, met gérubs; as kunstige werk moet jy
dit maak.
2 Die lengte van elke tentdoek moet agt en twintig el wees en die breedte van
elke tentdoek vier el. Al die tentdoeke moet een maat hê.
3 Vyf van die tentdoeke moet aanmekaargewerk wees, die een aan die ander. En
weer vyf tentdoeke aanmekaar, die een aan die ander.
4 En jy moet lissies van pers stof maak aan die soom van die buitenste tentdoek
van die een stel. En so moet jy dit maak aan die soom van die laaste tentdoek
van die tweede stel.
5 Vyftig lissies moet jy aan die een tentdoek maak, en vyftig lissies moet jy
maak aan die rand van die tentdoek wat aan die tweede stel behoort. Die lissies
moet die een teenoor die ander wees.
6 Jy moet ook vyftig goue hakies maak en die tentdoeke saamvoeg met die hakies,
die een aan die ander, sodat die tabernakel een (echad) geheel is.
7 Ook moet jy doeke van bokhaar maak as ‘n tentseil oor die tabernakel: elf
tentdoeke moet jy dit maak.
8 Die lengte van elke tentdoek moet dertig el wees en die breedte van elke
tentdoek vier el: die elf tentdoeke moet een maat hê.
9 En jy moet vyf van die tentdoeke besonders aanmekaarwerk en ses van die
tentdoeke besonders. En die sesde tentdoek moet jy dubbel vou, aan die voorkant
van die tent.
10 En jy moet vyftig lissies maak aan die soom van die laaste tentdoek van die
een stel, en vyftig lissies aan die soom van die laaste tentdoek van die tweede
stel.
11 Jy moet ook vyftig koperhakies maak en die hakies in die lissies steek; en jy
moet die tent saamvoeg, sodat dit een geheel is.
12 En wat betref die oorhangende gedeelte aan die tentdoeke—die helfte van die
tentdoek wat oorskiet, moet oorhang aan die agterkant van die tabernakel.
13 En die el wat aan weerskante oorskiet in die lengte van die tentdoeke, moet
oorhang aan die sykante van die tabernakel, aan weerskante, om dit te oordek.
14 Jy moet ook vir die tent ‘n dekkleed van rooigeverfde ramsvelle maak en ‘n
dekkleed van robbevelle daar bo-oor.
15 Jy moet ook vir die tabernakel die regopstaande style van akasiahout maak.
16 Die lengte van die styl moet tien el wees, en anderhalf el die breedte van
elke styl.
17 Elke styl moet twee tappe hê wat met mekaar verbind is. So moet jy dit maak
vir al die style van die tabernakel.
18 En die style vir die tabernakel moet jy maak: twintig style aan die suidekant,
na die suide toe.
19 Jy moet ook veertig silwervoetstukke onder die twintig style maak: twee
voetstukke onder die een styl vir sy twee tappe en twee voetstukke onder die
ander styl vir sy twee tappe.
20 En vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig style
21 met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en
twee voetstukke onder die ander styl.
22 En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, moet jy ses style
maak.
23 Ook moet jy twee style maak vir die hoeke van die tabernakel, aan die
agterkant.
24 En hulle moet van onder dubbel wees, en net so moet hulle bo dubbel wees tot
by die eerste ring. So moet dit met altwee wees; hulle moet die twee hoeke vorm.
25 So moet daar dan agt style wees met hulle silwervoetstukke, sestien
voetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die
ander styl.
26 Jy moet ook dwarshoute van akasiahout maak: vyf vir die style van die een
sykant van die tabernakel
27 en vyf dwarshoute vir die style van die ander sykant van die tabernakel; ook
vyf dwarshoute vir die style van die agterkant van die tabernakel teen die weste.
28 En die middelste dwarshout moet in die middel van die style oordwars loop,
van die een ent na die ander.
29 En jy moet die style met goud oortrek; en hulle ringe, as plekke vir die
dwarshoute, moet jy van goud maak. Die dwarshoute moet jy ook met goud oortrek.
30 So moet jy dan die tabernakel oprig volgens die plan wat jou op die berg
getoon is.
31 Verder moet jy ‘n voorhangsel maak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe
en fyn dubbeldraad-linne. As kunstige werk moet jy dit maak, met gérubs.
32 En jy moet dit ophang aan vier pilare van akasiahout wat met goud oorgetrek
is en ook kramme van goud het en op vier silwervoetstukke staan.
33 En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die
Getuienis daar, binnekant die voorhangsel. En die voorhangsel moet vir julle ‘n
skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.
34 En jy moet die versoendeksel op die ark van die Getuienis neerlê in die
Allerheiligste.
35 En sit die tafel buitekant die voorhangsel, en die kandelaar teenoor die
tafel aan die suidekant van die tabernakel. Maar die tafel moet jy aan die
noordekant sit.
36 Jy moet ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking maak van pers en
purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk.
37 En maak vir die bedekking vyf pilare van akasiahout, en trek hulle oor met
goud; hulle kramme moet ook van goud wees; en jy moet daarvoor vyf
kopervoetstukke giet.
*~ Exodus Hoofstuk 27 ~*
1 Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; vyf el moet die lengte wees en vyf
el die breedte—vierkantig moet die altaar wees—en drie el sy hoogte.
2 En jy moet sy horings op die vier hoeke maak; sy horings moet, daarmee saam,
uit een stuk wees; en jy moet dit met koper oortrek.
3 En maak sy potte om die as te verwyder, ook sy skoppe en komme en vurke en
vuurpanne. Al dié gereedskap moet jy van koper maak.
4 Jy moet daar ‘n traliewerk aan maak, ‘n netwerk van koper, en aan die net vier
koperringe maak, aan die vier hoeke.
5 En jy moet dit onder die lys van die altaar bevestig, onderaan, sodat die net
tot by die helfte van die altaar kom.
6 Jy moet ook draaghoute vir die altaar maak, draaghoute van akasiahout; en trek
dit oor met koper.
7 En die draaghoute moet in die ringe gesteek word, sodat die draaghoute aan
altwee kante van die altaar is as hulle dit dra.
8 Jy moet dit hol, van planke, maak. Soos dit jou op die berg getoon is, so moet
hulle dit maak.
9 Jy moet ook die voorhof van die tabernakel maak. Aan die suidekant, na die
suide toe, moet daar vir die voorhof behangsels wees van fyn dubbeldraad-linne;
honderd el moet die lengte vir die een kant wees;
10 daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die
ringe van die pilare moet van silwer wees.
11 So moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd
el lank; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke. Die kramme en
die ringe van die pilare moet van silwer wees.
12 En in die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar behangsels
van vyftig el wees; daarby tien pilare en hulle tien voetstukke.
13 En die breedte van die voorhof aan die oostekant, teen sonop, vyftig el—
14 sodat daar vyftien el behangsels vir die een kant is, daarby drie pilare en
hulle drie voetstukke;
15 en vir die ander kant vyftien el behangsels, daarby drie pilare en hulle drie
voetstukke;
16 en vir die poort van die voorhof ‘n bedekking van twintig el, van pers,
purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk;
daarby vier pilare en hulle vier voetstukke.
17 Al die pilare van die voorhof moet rondom van silwerringe voorsien wees;
hulle kramme moet van silwer wees en hulle voetstukke van koper.
18 Die lengte van die voorhof moet honderd el wees en die breedte vyftig by
vyftig en die hoogte vyf el, van fyn dubbeldraad-linne, daarby voetstukke van
koper.
19 Aangaande al die gereedskap van die tabernakel, by sy hele bewerking, en al
sy penne en al die penne van die voorhof, hulle moet van koper wees.